Oor Angus se taalles van 9 deser

  • 4

Angus ... Angus ... Angus ...  Jy sê dieselfde goed oor en oor.  Methinks the lad doth explain too much. 

Natuurlik kan een taal nie in ’n ander een verander nie, niemand het dit ook gesê nie.  Ek het gesê soos Afrikaans reeds op vele terreine verdwyn het, is hy ook besig om as spreektaal te verdwyn. Afrikaans is in die proses om oorgeneem te word – of vervang te word – deur Engels, net soos Engels die Walliesers, Iere en Skotte se tale oorgeneem het.

Die Keltiese tale het toe nie geput uit Engels om sterker tale te word nie soos jy beweer besig is om met Afrikaans te gebeur. Jy sê ek, anders as jy, maak stellings sonder bewyse.  Ek het jou mos die bewys gegee hoekom ek beweer Engels wurg Afrikaans dood; die toenemende aantal Engelse woorde, en swak Afrikaanse spreekwyse,  is ’n klinkklare bewys.  Dit is nou benewens die feit dat Afrikaans totaal en al verdwyn het vanaf etikette, uithangborde ens en vanuit alle parke en vakansie-oorde en dies meer.  Jy sê “issie” hy word ’n nuwe taal.  Ander kere weer sê jy die Engelse woorde maak Afrikaans ’n sterker taal.  Lyk my jy kan nie eintlik besluit of ’n nuwe taal in wording is en of Engels nou besig is om Afrikaans te versterk nie.  Dis duidelik jy stry net omdat stry stry is.

Jy sukkel met die begrip “grammatika” net soos met dié van leenwoorde.

Vat nou vir Abel.  Hy’s meganies aangelê, hy maak sy vriende en bure se strykysters, karre, grassnyers, yskaste en wasmasjiene reg.  Hy ken meeste van die name van die onderdele glad nie maar as hy iets uitmekaargehaal het weet hy wat die funksie van elke onderdeel is en, dié wat vervang moet word, vat hy winkel toe en sê vir hulle daar hy soek só ding.  Dié gaan sit hy dan terug in die ding wat hy besig is om reg te maak.  Hy is ’n nutsman maar hy’s taamlik onkundig oor die nomenklatuur van kombuisapparaat en tweeslagenjintjies.

Dan kry jy Ben.  Hy’s ‘n uitstekende gholfspeler en om ’n bal meters en meters te dryf, of met ’n setyster in die putjie te rol, pas hy klein- en grootspierkoördinasie toe.  Hy ken nie die name van daardie spiere nie, of die name van die vashegtingspunte van daardie spiere aan sy skelet nie maar dit verhoed hom nie om daardie spiere sodanig aan te wend dat hy ’n barshou gholf speel nie.  Hy hoef nie vertroud te wees met fisiologie-nomenklatuur om sy spiere te kan gebruik nie.

En dan kry jy Eben.  Hy’t sy moedertaal aan moedersknie geleer maar hy is nou al groot en is verplig om te praat, te lees en te skryf in sy daaglikse omgang met mense.  Hy gebruik selfstandige naamwoorde, byvoeglike bysinne, werkwoorde en al die goed op die regte plekke sonder dat hy weet wat hierdie woorde en sinne se grammatikale terme is.  Hy kommunikeer, met ander woorde span grammatika en woordeskat in, sonder enige kennis van grammatika-nomenklatuur, soos meeste van ons maar.

Jy kan nie ’n taal praat sonder grammatika nie, net soos jy nie gholf kan speel sonder spiere nie, of enjintjies kan regmaak sonder onderdele op die regte plekke nie – die kennis van grammatikaterme, of spiername, of onderdeelname het respektiewelik niks te doen met gesels, gholf of herstelwerk nie.

Jy verwar grammatika-nomenklatuur met grammatika; die dat jy goed sê soos “taalkundiges bestudeer die taal en skryf dan ‘n grammatika vir daardie taal.” Niemand skryf vir ’n bestaande taal ’n grammatika nie; hulle teken die reeds bestaande grammatika net op.

As jy ’n taal leer deur slegs blootstelling (soos ’n kind byvoorbeeld aan moedersknie) dan leer jy die grammatika saam met die woordeskat.  As jy al groot is en wil ’n taal aanleer het jy nie die tyd om ’n moeder in daardie taal te gaan soek en vir vier of vyf jaar aan haar knie te gaan sit nie.  Dan kry jy iewers die opgetekende grammatika wat dan noodwendig meebring dat jy met die grammatikaterme in aanraking sal kom (op dieselfde manier as wat jy maar jou motor se handleiding moet bestudeer as jy hom self wil regmaak).

Jou stelling “Grammatika leer jy nie aan moedersknie soos jy [Jan Rap] beweer nie. Jy hoef ook nie grammatika te ken om ʼn taal te kan praat, soos jy beweer nie. Grammatika is slegs daar vir die student van ʼn taal” is verkeerd.  Jy leer juis die grammatika (en die woordeskat), hetsy aan moedersknie of op welke manier ook al, anders kan jy die taal nie praat nie.

Groetnis

Jan Rap

 

  • 4

Kommentaar

  • Beste Jan,
    Dit spyt my dat ek linguistiese begrippe oor en oor verduidelik het. Ek het maar gedink jy stel belang in taalstudie, maar dat jy sekere begrippe nie mooi verstaan nie. Ek kan egter sien dat jy nie die nodige kennis, en die praktiese ondervinding het van linguistiese navorsing nie. Die ken van ʼn moedertaal, en om ʼn taal as skoolvak te bestudeer het, is nie genoeg nie. Die manier waarop veral Duits as derdetaal aangebied word op skool, kan die wanindruk skep dat taal en grammatika een is, en dis nie die geval nie. Geen taal het ʼn grammatika nie, slegs ʼn sisteem, wat onbewus deur die mens aangeleer word. Dit verkry slegs ʼn grammatika wanneer ʼn taalgeleerde dié sisteem bestudeer en dit grammaties beskryf.
    Waarom ek so graag wou hê dat jy die regte taalinsig moet verkry, weet ek nie; miskien is dit jou belangstelling. Ek besef nou dat jy om lewe en dood sal volhou dat taal en grammatika een is, en al weet jy naderhand dis verkeerd, sal jy daarmee volhou; dis moeilik om trots te sluk.
    Eintlik maak dit ook nie saak wat Jan Rap glo en hoe Jan Rap taal sien nie; dit sal beslis geen opskudding in die linguistiekwêreld veroorsaak nie.
    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top