Oor Afrikaans op Stellenbosch

  • 13

Fanie Cloete het die volgende kommentaar geskryf na aanleiding van Johann Rossouw se artikel: In praise of the community of dirty hands: a response to Robert Greig, Marlene van Niekerk and Stephanus Muller

Dit bly steeds vreemd dat die debat oor die toekoms van Afrikaans op Stellenbosch so selektief gefokus word op net sekere aspekte daarvan wat nie altyd die kernaspekte is nie, en dan belangriker aspekte ignoreer. Dit illustreer die subjektiewe en normatiewe aard van die voorkeure van mense wat aan hierdie gesprekke deelneem en waarvan niemand regtig heeltemal kan ontsnap nie.

Een van hierdie kernfaktore wat in die meeste gevalle in hierdie gesprekke vreemd oor die hoof gesien word, is die finansiële en ekonomiese dryfkragte agter bestuursbesluite in enige organisasie, ongeag ander sogenaamde normatiewe kulturele, maatskaplike en politieke oorwegings. Dis egter nie die stelsel van prestasiebestuur wat Johann Rossouw blameer vir die huidige taaldilemma op Stellenbosch nie. Ek vind sy argument in hierdie opsig vreemd, omdat die korporatiewe benadering tot universiteitsbestuur eerstens nie uniek is aan Stellenbosch nie, maar ’n feit is by alle universiteite deesdae, en tweedens omdat ek nie enige direkte oorsaaklike verband tussen daardie bestuursbenadering en die taalvraagstuk op Stellenbosch sien nie.

’n Universiteit is nie ’n welsynsorganisasie wat volledig afhanklik is van skenkings nie, hoewel skenkings ’n baie belangrike rol speel om potensiële bedryfstekorte te verminder. Selfs al sou ’n universiteit as ’n welsynsorganisasie beskou word, moet ook welsynsorganisasies hulle boeke laat klop deur hulle uitgawes tot die omvang van hulle inkomste te beperk. Dit geld ook vir enige individu wat selde al sy/haar prioriteite in die praktyk kan laat realiseer as gevolg van ’n tekort aan hulpbronne. As ek my kinders graag na ’n eksklusiewe private Afrikaanse skool wil stuur, maar dit nie kan bekostig nie, het ek geen ander keuse as om hulle na ’n ander, meer bekostigbare skool te stuur wat die naaste daaraan kom om in my behoeftes te voorsien nie. Dit kan selfs beteken dat ek hulle na ’n dubbelmedium onderriginstelling moet stuur. Dit beteken nie ek versaak my kulturele plig teenoor my “volk” nie, maar bloot dat ek op hierdie tydstip nie kan bekostig om te doen wat ek baie graag wil doen nie.

Daar was en is wel politieke druk op Stellenbosch om meer mondelinge onderrig in Engels te gee ten einde nie swart Suid-Afrikaners uit te sluit nie (let wel, net mondelinge onderrig in die klas, want die res van die onderrighulpmiddels is feitlik reeds oorwegend in Engels beskikbaar en die studente hoef ook nie in Engels te reageer as hulle nie wil nie). As mens dit egter vir doeleindes van my argument voorlopig buite rekening laat en vir eers net die huidige ekonomiese en finansiële werklikheid aanvaar dat die aanvraag vir Afrikaans op alle openbare universiteite oor die hele land om verskillende redes toenemend verminder, terwyl die aanvraag vir onderrig in Engels betekenisvol vermeerder, is die prentjie anders.

Wat ook al die historiese en huidige redes waarom minder studente deesdae onderrig in Afrikaans verkies en dit meer in Engels verkies, kan enige universiteitsbestuurder wat sy sout werd is, nie anders as om die implikasies hiervan te verreken en by hierdie werklikheid aan te pas as dit nie verander kan word nie. Dis dus nie ’n Stellenbosch-probleem nie, maar ’n algemene probleem vir alle universiteite, soos dit ’n algemene probleem is vir enigeen wat bitter graag sy/haar normatiewe doelwitte wil bereik maar dit nie op hierdie tydstip in die praktyk kan bekostig nie.

Stellenbosch-universiteit word ongelukkig die ergste van alle universiteite hierdeur geraak as gevolg van sy geskiedenis. Johann Rossouw se realistiese aanvaarding van die belangrike negatiewe impak van apartheid op die huidige taaldilemma op Stellenbosch behels ’n baie verfrissende realisme wat feitelik korrek is. Tot vroeg in die 1990’s was beide Afrikaans en Engels in beginsel erkende amptelike onderrigtale op Stellenbosch ingevolge die Privaatwet op die Universiteit van Stellenbosch, hoewel Afrikaans die oorheersende mondelinge taal van onderrig voorgraads was (let wel, nie nagraads nie, en nie wat voorgeskrewe materiaal betref nie). In ’n blatante poging om Afrikaans te probeer verskans teen die dreigende politieke oorname van die land deur die ANC het die universiteitsbestuur egter op daardie tydstip die steeds witbeheerde parlement oortuig om Engels te skrap, sodat slegs Afrikaans toe die amptelike onderrigtaal ingevolge die Privaatwet op die Universiteit van Stellenbosch geword het. Met ander woorde: direk in stryd met die toenemende neiging dat die aanvraag vir Afrikaans op universiteite verminder, besluit Stellenbosch se universiteitsbestuur om net in Afrikaans te begin klas gee, ten spyte van die feit dat nagraadse onderrig op daardie tydstip reeds grootliks in Engels geskied het. ’n Kernfiguur in die bestuur op daardie tydstip het persoonlik teenoor my erken dat hy ’n algemene strategie op verskillende terreine volg om die ANC te wys dat “die Boere nie voor hulle sal swig nie”. Enige verwysing na “transformasie” op kampus is verder ook gedurende daardie tyd deur die universiteitsbestuur ontmoedig. Hierdie doelbewuste politieke manipulasie om Afrikaans statutêr te probeer verskans, was natuurlik ’n tipiese apartheidstrategie wat op daardie tydstip reeds as mislukking bewys was.

Nou sit die huidige universiteitsbestuur met die gevolge van hierdie abortiewe politiekeweerstandstrategie. As die privaatwet op die universiteit nie in die vroeë 1990’s gewysig was nie, sou beide Engels en Afrikaans vandag steeds amptelike onderrigtale op Stellenbosch gewees het, en sou die beskerming van Afrikaans as afnemende taal van onderrig baie makliker gewees het en waarskynlik met baie minder drama gepaard gegaan het. Ten spyte van hierdie regspunt is die finansiële en personeel-implikasies van hierdie benadering egter steeds onhoudbaar. Ek het byvoorbeeld onlangs ’n spesiale aparte voorgraadse module aangebied vir 10 studente wat dit in Afrikaans verkies uit ’n klas van 90, omdat dit in dieselfde tydgleuf as die Engelse klas moes geskied. Daarvoor is ek addisioneel markverwant vergoed. As dit die geval in die meeste lesings was, sou dit finansieel eenvoudig nie volhoubaar wees om dit so te doen nie. Dan skop my argument hier bo weer in: al wil mens dit bitter graag doen, is dit in die praktyk onbekostigbaar as Afrikaanse ouers en instellings nie daad by woord voeg en dit deur groter finansiële ondersteuning moontlik maak nie.

Ongeag al die taal-, kulturele, maatskaplike en politieke argumente wat so gereeld in hierdie debatte aangeroer word, is die onvermydelike gevolgtrekking dus dat die toekoms van Afrikaans by Stellenbosch en ander instellings net so goed is as die bereidwilligheid van Afrikaanse ouers en instellings wat nie net behoort te kla oor die kruipende verengelsing van histories “Afrikaanse” kampusse nie, maar iets meer daadwerkliks daaraan doen. Die kritieke massa van studente wat Afrikaans op universiteit verkies, is eenvoudig te klein en afnemend om Afrikaanse onderrig naas Engels op groot skaal te kan aanbied, tensy meer Afrikaanssprekende studente en addisionele fondse hiervoor gevind word. Dis die taak van die “kleiner wordende” Afrikaanse gemeenskap in die land, want die staat is reeds onder te veel ander prioriteitsdruk om geld hiervoor te gee. Boonop het die blatante apartheidsmanipulasie van vorige universiteitsbestuurders om Afrikaans te eksklusief te hou op Stellenbosch, onnodige en kontraproduktiewe politieke weerstand by die na-apartheidsregering tot gevolg gehad wat die voortsetting van Afrikaans as onderrigtaal waarskynlik nou meer bedreig as wat aanvanklik sou gebeur het.

  • 13

Kommentaar

  • André Badenhorst

    Hierdie argument is al tot vervelens herhaal (en beantwoord). Dit kink steeds vir my maar bloot na lui eendimensionele leunstoeldenke wat uitloop op 'n gevry na ryk eentalige wit Engelssprekende studente ten koste van die plaaslike opheffingsprojek van geleentheidsarme Afrikaanssprekendes. En dit ironies nogal met die finansiële hulp van 'n hoogs ideologiese regering "vir die armes". Nee wat, verbeeldingloos en gemaklik.

    Terloops, waar is die relevante universiteit se verklaring en standpunt oor die huidige krisis rondom die president? Die bestuur was darem bitter vinnig met die "black facing" insident, maar wat dan nou? Ikeys is hulle weer een voor.

  • Breyten Breytenbach

    My reaksie teenoor Prof. Cloete se artikel: (1) Indien 'n universiteit dan slegs as besigheid bedryf word, waarom dit tooi in die toga van 'universiteit'? (2) Hoe durf u voorgee dat daar nog iets van 'n gelyke kans vir Afrikaanstaliges sou wees indien die ouers en ander instansies meer gjelt sou gee... terwyl daar ook maar géén begin van 'n aanduiding is dat daar oorleg gepleeg sou word met hierdie goedgelowige melkkoeie om te verseker dat 'n interaktiewe ruimte vir Afrikaans gewaarborg kan word nie? (Nog 'n kenmerk van fascisme - die 'kragdadigheid' wat in feite vir die idiote sê: "So what?" En: "Give! Give! Give!"); (3) Hoe lyk dit met 'n bietjie ruggraat, Prof. Cloete? Of sommer net 'n skootjie etiese verbeelding? En ek bedoel nie van die soort waarmee u kollega, die filosoof Van Niekerk so ruim te koop loop nie. Of sien u die 'pragmatisme' as 'n soort moraliteit?

    Kommentaar verkort - LitNet

  • Johannes Comestor

    Fanie Cloete sit sy berugte veldtog teen Afrikaans voort. Dit is nie Afrikaanssprekendes wat gewillig moet wees om ekstra vir onderrig in Afrikaans te betaal nie. Hulle betaal reeds meer as hulle deel aan belasting om hulle op sodanige onderrig geregtig te maak. Dit is die regering wat sy plig teenoor Afrikaanssprekendes in dieselfde mate as teenoor Engelssprekendes moet nakom. Subsidiering van slegs 'n enkele onderrigtaal is die regering se manier om Afrikaans uit te faseer. 'n Oorweging wat deurgaans verswyg word, is dat universiteite deur besparing (naas owerheidsubsidiering van Afrikaans) baie meer ten bate van Afrikaans kan vermag.

  • 'n Mens wonder of die druk op Afrikaans veel minder sou gewees het in die afwesigheid van apartheid. Selfs kolonialisme en die veragte wit vel (wat natuurlik nie so blank is nie) se bydrae is waarskynlik marginaal. Inderdaad, sonder kolonialisme en apartheid was daar waarskynlik nie 'n standaard-Afrikaans nie. Die stryd wat inheemse tale in Europa voer teen "globish" en "steenkolenengels" onderstreep hierdie gedagte-rigting. Die beheptheid met apartheid en rassisme blaas miskien die vure aan, is 'n gerieflike slaansak, maar is nie noodwendig suiwer oorsaaklik nie.

  • Pieter Cloete

    Daar is twee dinge wat prof Fanie nie in aanmerking neem nie. Die eerste is die gemanipuleerde aanvraag vir Engels (as gevolg van die werwingsbeleid wat onder die druk van die regering se transformasieteikens swig) en die demografie van die Wes-Kaap wat minstens een Afrikaanse universiteit regverdig. Dan is daar ook nie meer 'n noemenswaardige Afrikaanse aanbod wat Engels as die enigste alternatief laat, selfs vir studente wat deur slegs Engelse onderrig akademies benadeel word.

  • conrad steenkamp

    Die taalbeleid tesame met die toelatingsbeleid voorveronderstel 'n dalende aanvraag vir Afrikaans. Dit gaan hier om die afwesigheid van politieke wil, nie 'n kwynende behoefte aan Afrikaans nie - veral oor die US se onvermoë (ongewilligheid) om plek te maak vir (veral) Afrikaanssprekendes uit behoeftige gemeenskappe. Flou verskonings in die aangesig van oorweldigende bewyse. Loutere sofisme.

  • Marietjie Luyt

    OK, mense. Dis nou (korporatiewe) Bestuur aan die woord hier. Probeer 'n bietjie uitpluis hoe sy/hul (kollektiewe) intellektuele en kulturele verwysingsveld daar uitsien. Watter waardes word vooropgestel, en watter word geïgnoreer of negeer?
    Die arme akademici wat deesdae aan die "McUniversity model of homogenized product delivery" moet voldoen! Dié beskrywende aanhaling haal ek uit 'n artikel deur ene Henry Martin Lloyd wat onlangs in 'n artikel in die Los Angeles Review of Books verskyn het https://lareviewofbooks.org/article/in-praise-of-slowness/. Deesdae se effektiewe en winsgedrewe universiteite is nie bevorderlik vir die soeke na insig of wysheid nie, reken hy.
    Oorspronklike denke deur individue is dus uit, soos koekies in die weeshuis. Dis immers nie versoenbaar met al die "uitkomstes" wat Universele Bestuur vooraf bepaal het nie.
    En hier te lande, kan jy nou vir Bestuur blameer as hulle kollektief vra: Hoe de hel is uitkomstes in 'n wilde en ontembare taal soos Afrikaans meetbaar? Hoe is dit moontlik om te bepaal of 'n spesifieke Afrikaanse akademikus se werkverrigting as 'n 3 of 'n 4 aangeslaan moet word? En wat sukkel julle in elk geval nog in this day and age met Afrikaans? Nee, los die Taal en maak dit asseblief tog vir ons moontlik om doeltreffend te bestuur!

  • Marietjie Luyt

    Na al dié gefilosofering, skrap maar alles. Ek sit en bedink nou my Magnum Opus hieroor, wat ek moontlik op 'n later stadium aan julle gaan stuur. Maar op die oomblik is dit vir my duidelik die betoog lei nie juis iewers heen nie.

    Vriendelike groete
    Marietjie

  • Fanie Cloete, Emeritus professor: Universiteite van Stellenbosch en Johannesburg, Kaapstad

    Ek het die gesprek maar 'n tydjie laat loop om die tendens van kommentare te sien voor ek antwoord. Lyk my die tendens bly maar dieselfde as wat ek in my openingsparagraaf aangeroer het, nl baie selektiewe fokusse op die emosionele kulturele aspekte van die onderwerp soos in die verlede, en bitter weinig oor die meriete van my ekonomiese en koste-effektiwiteitsargumente. Trouens daardie aspekte word steeds heeltemal geïgnoreer in al die kommentare, waarskynlik om verstaanbare redes: daar is nie eintlik teenargumente nie. Net versugtings en eise dat die staat se prioriteite verander om Afrikaans finansieel beter te ondersteun en ’n onwilligheid om te aanvaar dat die huidige probleem ’n lang politieke geskiedenis het wat die huidige regering redelik onwillig maak om dit te doen.
    Dit is nodig om Afrikaans te bevorder op universiteit as daar ’n groot genoeg aanvraag daarvoor is, en daar is baie praktiese maniere om dit te doen. Ongelukkig het mens die wil en fondse nodig om dit effektief te doen. Dis interessant dat ons bereid is om self heelwat ekstra te betaal vir beter gesondheidsdienste in private klinieke in plaas van na openbare hospitale te gaan, vir beter privaatskole as openbare skole en vir ons eie private sekuriteit waar die polisie dit nie kan verskaf nie. Ons betaal dus ekstra vir wat ons meen ’n beter gehalte lewe en toekoms sal wees. Die feit dat ons nie bereid is om iets ekstra te betaal of te doen om ons eie taal op universiteit te bevorder nie, illustreer weereens die selektiewe aard van hierdie argumente.
    Dit lyk my tyd sal maar moet leer dat dit nie altyd moontlik is om die werklikheid aan te pas by mens se begeertes of idees nie, al het daardie begeertes of idees baie meriete, soos ek dit eksplisiet in my artikel stel. Mens kan egter baie meer konstruktiewe bydraes maak tot die bevordering van Afrikaans op Stellenbosch deur addisionele hulpbronne daarvoor te probeer help mobiliseer eerder as om soos Don Quichot maar net herhaaldelik emosionele en politieke windmeulens uit frustrasie te probeer aanval.

    • Die hulpbronne wat spesifiek vir Afrikaans geskep is ( bv Jan Marais?), word lustig geplunder. Hoeveel meer? Dit is in elk geval belaglik om te dink dat fondse wat ekstra ingepomp word gaan help dat Afrikaans skielik in aparte lesingsale parallel met globish as voertaal gebruik sal word. Dit sal Afrikaans meer help om te vergeet van Stellenbosch en eerder Solidariteit te befonds.

  • Wilhelm Fourie

    Breyten Breytenbach ontmasker Cloete se pseudo-argumente vir presies wat hulle is! Om van Afrikaanse ouers te verwag om meer te betaal en dalk 'n ruimte vir Afrikaans te kry, is soos om lotto-deelname as 'n alternatief vir 'n pensioenfonds te propageer.

  • Jochie van der Merwe

    @Fanie Cloete
    As ek jou reg verstaan, is die rede vir die afskaling van Afrikaans aan die US:
    1. Die daling van die aanvraag na onderrig in Afrikaans tot so 'n mate dat dit nie finansieel sin maak om voort te gaan met ten minste mondelinge onderrig in Afrikaans nie.
    2. Die regering het 'n renons in een van die land se amptelike landstale weens die sondes van die voorvaders en sonder daarom daardie spesifieke taal, en gevolglik ook die taalgemeenskap, uit vir kwaadwillige benadeling. Dit manifesteer dan in 'n aandrang om die taal wat uitgesonder word vir spesiale benadeling, Afrikaans, moedswillig uit te rangeer.

    Die vrae wat ontstaan uit hoofde van die sake wat jy te berde gebring het is:
    1. Waarom het daar nou skielik so 'n drastiese verlaging in die aanvraag na mondelinge onderrig in Afrikaans op kampus plaasgevind? Dit moet 'n baie onlangse verwikkeling wees. Wat is hierdie verwikkeling?
    2. Waarom het die Universiteitsbestuur besluit om 'n feitlik onomkeerbare verandering in 'n fundamentele aspek van die onderneming se korporatiewe kultuur, naamlik die uitfasering van Afrikaans as mondelinge onderrigtaal, aan te bring ter wille van 'n gier van 'n regering wat slegs tydelik van aard is? Dit is baie moeilik om te verklaar hoe hierdie gedienstigheid aan 'n tydelike regeringsgier voorrang moet geniet bo die langtermyn belange van die breë gemeenskap vir wie die Universiteit bestaan en aan wie se behoeftes hy veronderstel is om te voldoen.

    Die genoemde gemeenskapsbelange is die volgende: As die gemeenskap se taal deur ideologiese vertrapping verskraal word deur hom te stroop van sy akademiese funksies, gaan die kultuurgemeenskap gelaat word met 'n komieklike tweederangse taal waarin hulle hulleself slegs om die braaivleisvuur en op kultuur feeste kan uitdruk. Diesulkes sal noodgedwonge die vernedering moet smaak om hulleself in 'n tweede taal te moet uitdruk wanneer hulle wil saamgesels oor binnebrandenjins, werwels, turbulensie modelle, rekening aansuiwerings, en dies meer.

    Jou voorstel dat die land se Afrikaanssprekendes, bo en behalwe die belasting en universiteitsgelde wat hulle moet betaal, om een-of-ander rede uitgesonder moet word vir verdere bydraes om dieselfde voorreg te geniet as Engelsprekendes, skrei teen die beginsel dat alle Suid-Afrikaners geregtig is op gelyke behandeling; dis verstommend agterbaks.

  • Fanie Cloete, Emeritus professor: Universiteite van Stellenbosch en Johannesburg, Kaapstad

    Antwoord aan Jochie van der Merwe:
    Ja, dis hoofsaaklik ’n aanvraag-aanbod situasie wat vir enige organisasie essensieel is. Die huidige regering se bestedingsprioriteite sluit verder die grootskaalse befondsing van alle ander tale naas Engels uit, of mens nou daarvan hou of nie. Dis die politieke realiteit en is natuurlik oa beïnvloed deur die afdwinging van Afrikaans op nie-Afrikaanssprekendes in die apartheidera. So kom die apartheidskuikens maar ongelukkig huis toe om te broei.
    Sg Afrikaanse universiteite was verder eintlik ook die afgelope twee dekades almal tog wel tweetalige universiteite omdat baie voorgraadse klasse dalk in Afrikaans geskied het maar daardie taalkomponent klein was in vergelyking met al die ander (veral nagraadse klasse), studiemateriaal en interaksie tussen studente en dosente wat ook in Engels was waar nodig. Dit sluit UP, UOVS en PU in.
    Die afname in Afrikaanssprekende studente aan die tradisionele sg ‘Afrikaanse’ universiteite het al twee dekades gelede duidelik begin word. Daar is geen enkele algemeen-aanvaarde verklaring daarvoor nie. Verklarings wissel van een of meer van die volgende: Toenemende emigrasie van baie Afrikaanssprekende ouers, Afrikaanssprekende kinders wat na Engelse skole gestuur word, Afrikaanse kinders wat eerder na Engelse universiteite gaan om hulle beter te probeer posisioneer vir die werksituasie, Afrikaanssprekendes wat nie geld het vir verdere studies nie en/of na skool gaan werk, en Afrikaanssprekende studente wat net onverklaarbaar verminder/verdwyn. Daar is steeds geen afdoende duidelikheid oor ander verklarings of redes hiervoor nie.
    Ek verduidelik in my aanvanklike artikel dat dit hoofsaaklik deur finansiële oorwegings op sg ‘Afrikaanse’ universiteite afgedwing is, wat soms ook deur sekondêre politieke oorwegings beïnvloed kon gewees het, veral omdat dit in praktyk Swart studente wat nie Afrikaans voorgraads verstaan het nie, uitgesluit het. Dit word oa in sekere kringe gesien as diskriminerende rasse-uitsluiting wat onder die dekmantel van taal gedoen word. Dis weereens een van die ongelukkige negatiewe gevolge van apartheid wat Afrikaans deesdae steeds verdag maak. Ongelukkig het ek self ervaar dat daar gevalle in die verlede was waar konserwatiewe dosente aan sekere akademiese departemente of in die bestuur van hierdie universiteite juis Afrikaans gebruik het om hulle kampusse nie te laat ‘verswart’ nie. Dis dan ook in sekere gevalle in die verlede deur konserwatiewe wit Afrikanerpolitici uitgebuit vir dieselfde redes. Mens hoop hierdie verskuilde agendas word nie steeds nagestreef nie. Die hoofrede waarom Afrikaanse aanbiedinge egter verminder is omdat die aanvraag na Engelse aanbiedings vergroot en die vir Afrikaans verminder en dit nie koste-effektief is om aparte klasse vir klein groepies Afrikaanssprekende studente aan te bied nie, soos ek hierbo self ervaar het.
    Ongelukkig is dit die skuld van Afrikaanse organisasies, ouers en kinders self, as die aanvraag na Afrikaanse klasse op universiteit verminder. Ek vra weer die vraag hoekom ons bereid is om ekstra te betaal vir beter sekuriteit, skole, klinieke en hospitale maar nie vir Afrikaanse onderrig op universiteit nie. Dis huigelagtig.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top