Oor Afrikaans en sy veelbesproke voortbestaan: ’n mening

  • 14

’n Mens lees gereeld in die media – sowel tradisioneel as elektronies – in lesersbriewe, rubrieke, meningsartikels en dergelike oor die huidige stand van Afrikaans. Die gestelde standpunte val hoofsaaklik in twee groepe uiteen:

Eerstens is daar die groep wat ek die populistiese menings noem. Die Shorter Oxford English Dictionary definieer ’n populis as onder meer iemand (veral ’n politikus) wat daarna streef om te spreek tot die sieninge van gewone mense of om sulke sieninge te verteenwoordig. In die konteks hiervan is dit menings wat deur hopelik welmenende leke gehuldig word, nie noodwendig deur taalkundiges en bepaald dié met kennis van die sosiolinguistiek nie.

Hulle is dus gewoonlik seker mense wat omgee vir hulle moedertaal, maar wat nie die nodige vakkennis het nie. In ’n uitstekende reaksie op so ’n taalpopulistiese brief deur ene Taurus Fatigatus onlangs in Media24-koerante het Wannie Carstens die baba pront op sy naam genoem: “Dit is moeilik om met iemand te redeneer wat klaarblyklik nie weet waarvan hy praat nie.”

Die standpunte wat in hierdie groep gestel word, is gewoonlik óf dié van mense soos bogenoemde moeë bul, wat nie meer oor die voortbestaan van Afrikaans wil praat nie en skynbaar ook nie juis bekommer word deur die bedreigings waardeur Standaardafrikaans in die gesig gestaar word nie, óf dié van mense wat meen dat alles blink en plesierig vir Afrikaans is, want kyk net hoe gewild is “Afrikaanse musiek” (wat dit ook al alles insluit), kyk hoeveel Afrikaanse kunstefeeste is daar, kyk net hoeveel Afrikaanse boeke word geskryf en so meer.

Mense in hierdie groep is nie noodwendig anti-Afrikaans nie, maar het skynbaar reeds aanvaar dat Standaardafrikaans se tyd verby is, en dat nie net Suid-Afrika nie, maar groot dele van die wêreld Engels as die internasionale taal van kommunikasie, die handel, die wetenskap en so meer gebruik. Hoe gouer ons dus ophou weerstand bied en maar verengels en klaarkry, hoe beter vir almal en hoe meer “bemagtig” ons kinders sal wees.

Tweedens is daar die menings van die groep wat die nodige vakkennis van die ontstaan en verval van tale het, wat die waarde van moedertaalonderrig in byvoorbeeld begripsontwikkeling besef, of wat besef wat dit gekos het om ’n standaardvariëteit van Afrikaans te ontwikkel, een wat kan kers vashou by enige ander ontwikkelde taal in die wêreld. Sulke standpunte is gewoonlik feitelik en/of waarskuwend van aard.

Diegene wat hierdie standpunte stel, word dikwels uitgekryt as taalbulle, taalstryders of mense wat teruggryp na die verlede toe Afrikaans ’n bevoorregte posisie beklee het. Hulle word gewoonlik regstreeks of onregstreeks verwyt dat hulle nie die nuwe taalbedeling in Suid-Afrika wil aanvaar nie, of selfs dat hulle, meer as ’n eeu later, steeds ’n Boereoorlogmentaliteit het. So nie word gesê dat Suid-Afrika tans groot probleme te bowe moet kom en dat ’n gewroeg oor Afrikaans dus onvanpas en onnodig is.

Ek sluit my graag by hierdie tweede groep aan, nie omdat ek ’n kundige op die gebied van die sosiolinguistiek of moedertaalonderrig is nie – allermins, trouens – maar omdat ek oortuig is van die waarde van die behoud van Standaardafrikaans en omdat ek verreweg die grootste deel van my beroepsloopbaan met die praktiese toepassing en gebruik van Standaardafrikaans gemoeid was en gevolglik ’n besef het van hoeveel daar in die ontwikkeling van Standaardafrikaans gegaan het.

Ek wil my nie hier begewe in ’n argument oor die ontstaan van Afrikaans, wie daarin die grootste rol gespeel het, wie die grootste bydrae gelewer het, wat gedoen moes gewees het of nie gedoen moes gewees het nie, en so meer nie. Met die wysheid wat terugskouing bring, kan daar heelwat in dien verbande gesê word. Die feit van die saak is dat daar in die 20ste eeu ’n standaardvariëteit van Afrikaans ontstaan het of geskep is waarin alle aspekte van die staatsbestel en die maatskaplike lewe bedryf kon word. Dit is oor hierdie standaardvariëteit wat ek dit het.

Miskien is dit nodig om vlugtig weer iets oor ’n standaardvariëteit – hier ter sake is Standaardafrikaans – te sê. Die standaardvariëteit is nie die variëteit van ’n bepaalde groep sprekers nie, maar wel ’n variëteit wat sosioëkonomiese waarde het, wat kommunikasie tussen en met sprekers van verskillende variëteit makliker maak, en wat die taalgemeenskap in sekere opsigte saambind. Dit is tipies in hoë mate gestandaardiseer (beskik dus oor bepaalde norme en standaarde), word in onderwysinstellings onderrig en is meestal die voorkeurvariëteit vir skriftelike taal. Hieruit vloei dat, soos Ernst Kotzé tereg sê, die vraag nie is wie se variëteit die standaardvariëteit is nie, maar wel waarvoor dit gebruik word. Taalwetenskaplik word alle variëteite as gelykwaardig beskou, maar die standaardvariëteit word deur die taalgemeenskap aanvaar as die mees geskikte vir sekere kontekste en gebruike, waartoe hy hom beter leen as ander variëteite. Dit is die sogenaamde hoër funksies van regering, die onderwys, regspraak, die wetenskap, formele dokumente en so meer.

Dit is redelik algemene kennis dat skriftelike Afrikaans in die 18de en 19de eeu slegs sporadies voorgekom het en wel in talle verskillende vorme – in die madrassas van die Kaap selfs in Arabiese skrif. Twee gebeurtenisse in die vroeë 20ste eeu het egter ’n deurslaggewende rol in die ontstaan van Standaardafrikaans gespeel.

Die eerste hiervan was dat veral MT Steyn en JBM Hertzog op die Nasionale Konvensie wat tot die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika gelei het, toegesien het dat die “grondwet” van die Unie, die Zuid-Afrika Wet, 1909, bepaal het dat Hollands (wat later Afrikaans ingesluit het) en Engels nie net teoreties gelyke status geniet het nie, maar dat “[a]lle akten, verslagen en verrichtingen van 't Parlement worden in beide talen gehouden, en wetsontwerpen, wetten en kennisgevingen van algemeen publiek gewicht of belang door de Regering van de Unie uitgegeven, zijn en geschieden in beide talen” (art. 137).

Dié Wet en sy opvolgers het dus die praktiese toepassing van die teoretiese gelykheid vereis, ’n bepaling wat (ook provinsiaal) feitlik onveranderd gegeld het tot die aanvaarding van die sogenaamde Tussentydse Grondwet, 1993. Dié het wel elf amptelike tale as (teoreties) gelyk erken, maar die vereiste van praktiese toepassing het weggeval.

Soos uit bostaande aanhaling blyk, was die amptelike tale Engels en Hollands, omdat skriftelike Afrikaans in daardie stadium nog uiters onvas was. Afrikaanssprekendes het meestal ’n soort taal geskryf wat kwalik as “Hooghollands” bestempel kan word, maar wat ook nie Afrikaans was soos ons dit ken nie. Ten einde skriftelike Afrikaans te bevorder, het die organisasie wat vandag die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns heet, besluit om die spelling en skryfwyse van Afrikaans te standaardiseer.

In 1917 – vanjaar ’n honderd jaar gelede – het die eerste Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) toe onder die vaandel van die Akademie verskyn. Daarin het die samestellers (TH le Roux, DF Malherbe en JJ Smith) onder meer die volgende gesê:

Die feit dat daar geen algemeen erkende spelsisteem van Afrikaans was nie, het die beoefening van ons taal totnogtoe veel in die weg gestaan. So was dit onmoontlik om skoolboeke op te stel in Afrikaans, en daarmee uitvoering te gee aan die besluite van die verskillende Provinsiale Rade, solang als daar geen spellingeenheid was nie. Die hek was toe. Nou is die hek oop. Nou kan ons voorsien in die nasionale behoeftes van ons volk, en daardeur ons onderwijs gesond maak. Laat iedereen van ons dus meewerk, na beste kragte, aan die opbouwing van ons taal: die enigste middel waardeur ons volksindividualiteit kan bewaar blij; die draer van die geestelike selfstandigheid van ons volk.

Bostaande aanhaling het klaarblyklik sterk nasionalistiese ondertone, maar as ’n mens dit eers eenkant laat – dit is ’n ander gesprek – blyk sekere belangrike aspekte van ’n standaardvariëteit daaruit en uit bogenoemde bepalings van die Uniegrondwet en sy opvolgers tot voor die 1993-Grondwet. Dit sluit die volgende in:

(i)      Daar moet nie slegs amptelike erkenning van die gelykberegtiging van amptelike tale wees nie. Dit moet ook op alle owerheidsvlakke prakties toegepas word, anders bly die gelykberegtiging bloot ’n prysenswaardige wetsbepaling.

(ii)      Om te kan ontwikkel, moet ’n standaardvariëteit ’n gestandaardiseerde skrifstelsel en ander taalnorme hê.

(iii)     Ten einde suksesvol as standaardvariëteit te funksioneer, moet dit onderrig word en moet dit van owerheidsweë gebruik word.

(iv)     Die hele sprekersgemeenskap moet meewerk aan die benutting en voortdurende uitbouing van die standaardvariëteit, en moet die waarde daarvan verhoog deur dit op alle terreine van die maatskaplike lewe aan te wend.

(v)     Saam maak die standaardvariëteit en die ander variëteite die taalgeheel uit, en dit is ’n belangrike kultuurdraer.

Om dit metafories voor te stel, kan ’n mens seker die taal as geheel met ’n boom vergelyk: die stam is die standaardvariëteit waaruit al die takvariëteite, wat verskillende vorms kan aanneem, spruit. Wanneer die stam aangetas word, sal die takke mettertyd ook siek word en dalk afsterf.

Volgens die 2011-sensus is Afrikaans – algemeen gesproke – die derde grootste huistaal volgens sprekergetalle. Dit sluit die huistaalsprekers in Namibië en Zimbabwe en die wye gebruik van die taal as lingua franca uit. Daarbenewens is Standaardafrikaans ’n volledig ontwikkelde kultuur- en wetenskapstaal wat toepassing gevind het op elke denkbare terrein van die staatsbestel en die maatskaplike lewe van sy sprekers. Hy beskik oor die terminologie vir elke vakgebied, is volledig geskik vir onderrig en opleiding op elke vlak, kan hom handhaaf in die handel, die landbou, die regspleging, die politiek, die kunste, die wetenskap en tegnologie, en noem maar op.

En tog word sy voortbestaan tans op hierdie vlakke bedreig. Verskeie redes kan hiervoor aangevoer word.

Eerstens is daar wat soms glottofagie genoem word. Letterlik beteken dit ‘die opeet of verslind van ’n taal’, maar dit word gewoonlik gedefinieer as die absorpsie of vervanging van ’n mindere taal deur ’n oorheersende taal. ’n Mens hoef kwalik oor die rol van Engels in die “nuwe” Suid-Afrika uit te wei. Dit het in feitlik alle hoër funksies van taal – alle tale – in Suid-Afrika die oorheersende taal geword, enersyds omdat dit die gemeenskaplike kommunikasietaal, hoe geradbraak ook al, in ’n veeltalige land geword het, maar andersyds ook omdat owerhede op alle vlakke nie juis veel doen om hulle grondwetlike plig ten opsigte van die ander amptelike tale na te kom nie.

Vermoedelik word wetgewing wel in twee tale gepubliseer, soos die Grondwet vereis. Dit is egter moeilik om te kontroleer, want die toegang wat ek tot veral e-uitgewers van wetgewing gehad het, het my nie toegelaat om te sien in watter tale wetgewing (sowel primêr as ondergeskik) gepubliseer word nie. Daarvoor sou ’n mens waarskynlik die Staatskoerante waarin die wetgewing afgekondig word, ter hand moet hê.

In watter mate wetgewing in die amptelike Afrikatale ooit gebruik word, kan ek glad nie raai nie; dit is wel duidelik dat die stelsel waarvolgens die gebruik van ’n ander amptelike taal as Engels vir wetgewing gebruik word, die gebruik van Afrikaanse wetgewing benadeel. Die rede hiervoor is dat byvoorbeeld ’n parlementswet in sowel Engels as Afrikaans bestaan, maar dat ondergeskikte wetgewing daarkragtens dan nie ook in Engels en Afrikaans afgekondig word nie, of dat wysigings aan so ’n wet nie ook in Engels en Afrikaans aangebring word nie. Deur albei hierdie faktore word regslui en enigiemand anders wat die betrokke wetgewing moet raadpleeg, toenemend gedwing om die Engelse teks te gebruik, want dit is die teks wat beslis volledig sal wees. Selfs die Grondwet, 1996, wat aanvanklik in al elf amptelike tale beskikbaar gestel is en waarkragtens Suid-Afrika elf amptelike tale het, is ná sewentien wysigingswette nie meer volledig in Afrikaans beskikbaar nie.

Die gevolg is natuurlik dat wetgewing in enige ander taal as Engels eintlik maar net ’n kniebuiging na daardie ander taal is waardeur die owerheid ’n grondwetlike plig nakom.

Onlangs het die hoofregter ook ex cathedra aangekondig dat die notuleringstaal (“language of record”) in Suid-Afrikaanse howe voortaan slegs Engels sal wees. Ons word verseker dat beskuldigdes en getuies in howe steeds die taal van hulle keuse mag gebruik, maar daar is ook duidelike blyke dat die gehalte van tolkwerk in howe dikwels veel te wense oorlaat.

Die Grondwet vereis ook die instelling van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT), wat wel gedoen is, maar sedert die vertrek van sy eerste HUB, Cynthia Marivate, het daar bloedweinig, indien enigiets, uit daardie oënskynlik totaal nuttelose instelling gekom.

Die meeste mense sal ook bekend wees daarmee dat indien ’n mens nie toevallig bekend is met die primêre taal van die persoon wat jou in die breë owerheidsdiens moet help nie, alles verder waarskynlik in Engels sal geskied. Dink maar byvoorbeeld aan oproepe na die Inkomstediens, waar ’n mens wel sekere keuses kan uitoefen, maar sodra jy deur die blikstemme gewerk het, word jy in kennis gestel dat die Inkomstediens jou slegs in Engels kan help.

Bostaande is bloot ’n voorbeeld van hoe die owerheid ’n wesenlik eentaalbeleid toepas – gewis deels ook om praktiese redes – maar die effek daarvan is dat die “ondergeskikte” tale eenvoudig verslind of ingesluk word.

’n Tweede rede vir die bedreiging van Afrikaans is die verengelsing van onderwys op al drie vlakke. Hierin speel die owerheid ook ’n rol, want daar is al hoe meer druk op Afrikaanse skole en hulle beheerliggame om “tweetalig” te word, dit wil sê om naas Afrikaans ook Engels as voertaal in te voer, ’n proses wat baie maklik met verloop van tyd tot Engelseentaligheid lei. Sodanige druk word heel dikwels ’n rassekwessie, omdat skole wat hulle teësit en stry om Afrikaans te bly, as rassisties bestempel word.

Daarteenoor het ek nog nooit gehoor van enige eentalige onderwysinstelling op enige onderwysvlak wat ’n ander taal as Afrikaans – hetsy Engels of ’n Afrikataal – as voertaal gebruik, waarop druk uitgeoefen of wat gedwing is om “tweetalig” te word nie.

Die verengelsing van die onderwys kan egter nie sonder meer net aan die owerheid gewyt word nie. Natuurlik speel staatsubsidies ’n rol, en ten einde hulle fondse daarmee aan te vul volg baie Afrikaanse instellings seker maar die weg van die minste weerstand en aanvaar dus maar Engels as “medevoertaal”. Die verengelsing moet egter ook aan ander faktore toegeskryf word.

’n Mens kan maar net wonder hoe groot die rol van politieke korrektheid of dans na die pype van die huidige bewind in sulke keuses is.

Een so ’n rede is dat andertalige ouers toenemend die mite begin glo dat hulle hulle kinders ’n guns bewys deur hulle in Engels te laat skoolgaan of verder te laat studeer. Dit ondanks talle studies wêreldwyd wat wys op die voordele van moedertaalonderrig. Afgesien daarvan dat dit bewys is dat kinders makliker ingewikkelde konsepte in hulle moedertaal snap, vergeet ouers skynbaar maklik dat leerders of studente se prestasie negatief beïnvloed word omdat dit dikwels vir hulle moeiliker is om in Engels te formuleer – en dit geld meermale tot op doktorale vlak. En dit verreken nog nie eens die feit dat die kanse besonder groot is dat so ’n leerder of student nie deur ’n moedertaal-Engelssprekende onderrig sal word nie. Die gevolge daarvan vir die Engels wat die leerder of student uiteindelik besig, is vir my as taalpraktisyn maar alte dikwels duidelik.

Die hartseer verhaal van al die voormalig Afrikaanse hoëronderwysinstellings wat reeds volledig verengels het of met rasse skrede aan die verengels is, hoef nie hier herhaal te word nie.

Ek is bereid om te wed dat geen student wat die afgelope eeu in Afrikaans skoolgegaan en verder gestudeer het, bloot deur daardie feit in die wye wêreld gepootjie is nie. In die huidige tyd van die internet, sosiale media, TV en maklike wêreldwye kommunikasie is mense bowendien baie meer blootgestel aan Engels as wat selfs dertig, veertig jaar gelede die geval was.

Die verengelsingstendens is ook nie beperk tot onderwysinstellings nie. Onlangs het die voormalige Afrikaanse Handelsinstituut sy naam verander in Small Business Institute, skynbaar sonder ’n Afrikaanse alternatief. Die rede wat aangevoer is, is dat die organisasie nie meer eksklusief Afrikaans is nie en dus andertalige lede het. Daarmee het die organisasie die stereotipe bevestig dat Afrikaanssprekendheid noodwendig eksklusiwiteit beteken en dat Afrikaanssprekende mense van nature laer trek. Dit is natuurlik onsin, want net soos die taal self, wat elemente van alles en nog wat bevat, sluit Afrikaanssprekendes mense van allerlei herkomste in. Bowendien het die organisasie ’n gulde geleentheid laat verbygaan om te demonstreer dat ’n Afrikaanstalige organisasie trots op sy taalherkoms kan wees én twee- of selfs meertalig kan funksioneer.

Hierdie tendens blyk ook baie duidelik in die reklamewese. Waar Afrikaanse media (van watter aard ook al) in die verlede aangedring het op Afrikaanstalige advertensies, gebeur dit al hoe minder – waarskynlik om (begryplike) ekonomiese redes. Daar is skynbaar geen begrip by adverteerders nie dat indien hulle ’n bepaalde taalgroep se klandisie en dus hulle geld wil hê, hulle reklame suksesvoller sal wees in die taal van diegene wat hulle wil oortuig om hulle te ondersteun en dat hulle boonop hofliker teenoor die betrokke taalgroep sal wees. Dan is daar ook ’n groep adverteerders wat wel die voetval voor byvoorbeeld Afrikaans doen, maar die norme en standaarde van die taal so verkrag dat dit ’n belediging word.

Die derde bedreiging vir Afrikaans spruit regstreeks voort uit die tweede (verengelste opleiding). Iemand wat in Engels skoolgegaan het en naskoolse beroepsopleiding in Engels gehad het, gaan sy/haar beroep grotendeels in Engels beoefen. Hoe suksesvol sal ’n onderwyser of dosent wat in Engels skoolgegaan en sy tersiêre vakopleiding in Engels ontvang het, in Afrikaans kan les gee? Hoe suksesvol sal ’n mediese dokter of prokureur sy Afrikaanssprekende pasiënte of kliënte kan bedien? En hoe minder onderwys en opleiding in Afrikaans geskied, hoe minder handboeke word gepubliseer (of kan weens die koste gepubliseer word) en hoe minder terminologie word voortdurend geskep om aan nuwe vereistes te voldoen, en hoe minder dít gebeur, hoe moeiliker word Afrikaanse onderwys en opleiding. Dit word ’n kringloop wat homself voed.

’n Vierde bedreiging is myns insiens ook glottofagies van aard maar hang terselfdertyd saam met die onderrig van Standaardafrikaans en die gesindheid van baie moedertaalsprekers teenoor hulle taal. Dit wil voorkom asof sprekers al hoe minder kennis van die idioom van Afrikaans het en dan dink hulle solank hulle Afrikaanse woorde gebruik, dit Afrikaans is. Baie van hierdie segswyses het al so ingang gevind dat dit nie meer uit die taal geweer kan word nie. Op hierdie wyse vreet die wolwe in skaapsklere dus Standaardafrikaans op. ’n Paar lukraak gekose voorbeelde om te illustreer:

  • to take on (an opponent / a problem, etc.) word om (jou opponent / ’n span/ ’n probleem) *aan te vat in plaas van te pak, te takel, aan te pak, te speel teen, die hoof te bied,
  • to lie in word om *in te lê in plaas van om laat te slaap, laat te (bly) lê, laat op te staan
  • to run a business / computer program word om ’n besigheid/program te *hardloop in plaas van om ’n saak/onderneming/besigheid te bestuur, te bedryf, ’n rekenaarprogram te laat loop
  • to be homesick word sommer die jongmense sal baie *huissiek word (gehoor op kykNet) in plaas van sal baie (huis toe) verlang
  • the first to become a heart surgeon word die eerste *om ’n hartchirurg te word in plaas van die eerste wat ’n hartchirurg geword het

Op hierdie wyse word die idioom van Standaardafrikaans dermate aangetas dat mense eintlik maar Engels praat, maar net met Afrikaanse woorde.

Benewens die gevolge van die verval of marginalisering van Standaardafrikaans wat reeds hier bo genoem is, is daar ook die kwessie van ’n Afrikaanse kultuur. Hier is dit belangrik om te onthou wat Unesco sê: “Cultural heritage does not end at monuments and collections of objects. It also includes traditions or living expressions inherited from our ancestors and passed on to our descendants, such as oral traditions, performing arts, social practices, rituals, festive events, knowledge and practices concerning nature and the universe or the knowledge and skills to produce traditional crafts.” (http://languagesindanger.eu/book-of-knowledge/language-and-culture/)

Kundiges wys op die noue verband tussen taal en kultuur, wat taal ’n besonder belangrike kultuurdraer maak. Gaan die taal verlore, gaan die kultuur meestal ook verlore. eNCA het onlangs selfs berig dat indien die inheemse Afrikatale bly agteruitgaan omdat hulle sprekers so dikwels Engels en selfs Afrikaans verkies vir sake-, onderwys- en selfs politieke doeleindes, die land se stabiliteit bedreig word deur die gepaardgaande kultuurverval (https://www.enca.com/south-africa/sa-indigenous-languages-on-decline).

Dit is verstaanbaar in die lig van wat die Terminologiekoördineringseenheid van die Europese Parlement sê, naamlik dat taal nie net as ’n instrument vir die oordrag van inligting gebruik word nie, maar dat dit ook ’n simboliese stelsel is waardeur simboliese werklikhede deur diskoers geskep en gevorm kan word, soos waardes, persepsies en identiteite (http://termcoord.eu/2017/03/what-is-the-relationship-between-language-and-culture/).

Volgens die Linguistic Society of America gaan ’n groot deel van die kulturele identiteit van ’n sprekersgemeenskap verlore wanneer sy taal verlore gaan omdat taal ’n kragtige simbool van so ’n groep se identiteit is. Baie van die kulturele, geestelike en intellektuele lewe van ’n sprekersgemeenskap word deur middel van sy taal beleef – van gebed, mites, seremonies, digkuns, die retoriek en tegniese woordeskat tot alledaagse begroetinge, geselsstyle, humor, maniere om met kinders te praat en woorde vir gewoontes, gedragspatrone en emosies. (https://www.linguisticsociety.org/content/what-endangered-language)

Dit is dus duidelik dat indien die Suid-Afrikaanse bevolking grotendeels verengels ten koste van nie net Afrikaans nie, maar van alle inheemse tale, veel verlore sal gaan wat kulturele rykdom en diversiteit en wetenskaplike kennis betref.

My standpunt is dus dat alle Afrikaanssprekendes moet streef na die behoud en voortgaande uitbouing van Standaardafrikaans op elke terrein waarop die taalgemeenskap hom kan laat geld. Ons moet dus ons Afrikaanse onderwys, media, reklamewese, letterkunde, organisasies, handelsinstellings, en dergelike beskerm, want as dit nie geskied nie, sal ons taal verval tot ’n omgangstaaltjie wat net geskik is vir gemoedelike samesyn. En wat ’n groot deel van wie ons is, van ons ryk en diverse kultuur, van ons geskiedenis, van al ons geestesgoedere sal dan nie ook verval nie.

Natuurlik sal Afrikaans nie uitsterf voordat die laaste spreker daarvan nie gesterf het nie, en solank dit nog nie gebeur het nie, sal variëteite van Afrikaans ook bly voortbestaan. As die standaardvariëteit egter verdwyn omdat die sprekers van Afrikaans en owerhede (in die breedste moontlike sin van die woord – dus ook op plaaslike en organisatoriese vlak) nie meer waarde daaraan heg om dit in hoër funksies te gebruik en dit teen die oormag van ander tale (veral Engels) te beskerm nie, sal ook die variëteite van Afrikaans toenemend vervaag en gepidginiseer of gekreoliseer word.

Afrikaans is inderdaad ’n pêrel van groot waarde wat verdien om bewaar te word. Dit is ’n taak wat alle Afrikaanssprekendes vir hulself moet stel sáám met die aanpak van al die ander probleme waarvoor Suid-Afrika te staan gekom het.

  • 14

Kommentaar

  • Matthys Strydom

    Natuurlik wil ons nie net hê Afrikaans moet oorleef nie - selfs ook nie net dat dit moet groei nie. Dit moet bly ontwikkel. En dit kan nie gebeur sonder 'n gesonde Standaardafrikaans nie. Daar moet dus genoeg moeders wees wat Standaardafrikaans kan oordra.
    Die realis raak erg benoud wanneer geluister word na die taal wat die gemiddelde toekomstige moeders tans praat.

  • Pardon my ignorance. Moet 'n taal gekoppel word aan ('n) politiek om sy voortbestaan te regverdig?

    • Hannes Deetlefs

      Die probleem is werklik die feit dat elke taal in sig selfs 'n kultuurdraer is. Onthou vir Prof Higgins en sy mening oor die VSA: "In some places English even dissappears. Well, in America they haven't used it for years ..." Na die Tweede Wêreldoorlog het die nuwe geslagte in Duitsland geweier om van die ongelooflike skat van Duitse liedere - wat niks te doen gehad het met politiek nie, maar deur die mense tydens die Derde Ryk graag gesing is - eenvoudig te ignoreer. En dit is die groot probleem: As die hele wêreld net een taal moet praat, sal dit maar bra swakkerige Engels wees, en die swak Engels sal een ding nie wees nie, 'n kultuurdraer. "The Queen would say" "se voet": In Namibië skryf en praat hulle sonder meer "Nenglish", vol foute en einenaardighede soos "heroines" en "heros". En die ingewikkelste en heerligste gedigte en liedere en skrifte in einige taal vervaag en vervlak na 'n Englese "I love you jay, jay jay..." en "Prys die Heer met blye galme..." word eenvoudig "rock my soul ..."

  • Gustaf Claassens

    Prakties en insiggewend, 'n goeie bydrae oor die belangrikheid van, en al die "hoekoms" van Standaardafrikaans. Sonder 'n stewige en gesonde stam sal takke van die 'Afrikaanse boom" nie die gure elemente van ons tyd (kan) oorleef nie. Eenvoudige logika.

  • LeRoi Steenkamp

    Die beste gedig ooit
    Is iewers in die dapper ure van die nag
    Sommer so
    Terloops en astrant
    "off the record” geskryf
    Deur ’n persoon sonder agendas of struktuur
    Tussen ’n prêm en poering
    Sonder voorbedagte rade
    Sonder systappe en “window dressing”
    Sommer net so tussen jou blaaie en oë
    Om jou te laat besef dat fancy woorde lui is
    Dit neem lank om niks te sê nie
    Ons samelewing het so kompleks geword
    Dat ons nie meer eenvoudige woorde kan grootmaak
    Soos ’n weggooi-lammetjie nie
    Ons kan nie meer dans met die heerlikheid van die lewe
    Sonder om vooraf die steps te memoriseer nie
    Wat het van die brutale deernis geword wat jou jou hart laat uitstort
    Of het ons die kraan toegedraai om water te bespaar?

    Die beste gedig ooit is dalk hierdie een wat jy nou lees
    Dalk omdat jy besef dat jy ‘n wilde hart het en ‘n siel wat wil anker gooi in hierdie gedig
    Dalk omdat jy ‘n rustige hart het en wil droom saam met hierdie gedig soos blare wat oor die pad vlug
    Dalk omdat jy besef dat daar wel volmaaktheid in ‘n gedig, en ook die lewe, bereik kan word.
    Al wat nodig is, is denke
    Drome
    En ’n “nogtans”-mentaliteit
    Die lewe loop nie op stelte of in pantoffels nie, dis hard, dis wild, dis erg, dis skrikwekkend, maar
    NOGTANS
    is dit so verslawend dat daar skaars tyd vir iets anders is.

    Sonder Afrikaans sou hierdie gedig nooit bestaan het nie!

  • Helize van Vuuren
    Helize van Vuuren

    Heini Kotze, taal, alle tale, IS onontkomelik "gekoppel" aan 'n politieke bestel. Dink aan Duits. En dis hierdie "koppeling" wat een van die jammerlike oorsake is v taalsterfte (saam met politieke mag of gebrek daaraan, plus sosiale status van die stigma wat assosiatief by sprekers meespeel). Soos d Khoisan sosiolinguis Anthony Traill oortuigend aangetoon het in studie na studie van die sterfte of teloorgang van 29 Khoi- en San-tale. Plus goeie tweetaligheid by sprekers van 'n taal "gekoppel" aan meer politieke mag, en minder stigma of selfs hogere sosiale status. Dink Engels. En dan begin die verskuiwing, en geleidelike of sprongsgewyse verwaarlosing van die moedertaal tot later net 'n yl, armetierige dun en gaterige grys lappie. Vir niemand bruikbaar of aantreklik nie. Bloot 'n kuriosum. Vergete in 'n ou kombuis ...

    • Francois Verster

      Goed gestel, Tom, en Helize ook. As 'n taal akademies en legitiem (as amptelike taal) verdwyn, verdwyn hy ook. Ek lees in Die Burger van 1967 oor 'n man wat vlot Afrikaans praat, maar "met 'n Spaanse aksent" - een van die trekkers na Argentinie, destyds. Na 10 jaar is Afrikaans in hulle kerke deur Spaans vervang, lui die berig. Dit was in 1967. Kan enige van hulle daar nou nog Afrikaans praat? 60 jaar dus, en Afrikaans is vergete daar. Die idee dat Afrikaans sal voortleef "as dit nog gepraat word," is absurd. Nou, die groot vraag: hoeveel Afrikaanssprekendes gaan nog na 60 jaar van nou af in SA wees? Ons dalende bevolkingsgetalle suggereer dat ons oor 30 jaar net 1,5% van die bevolking gaan wees. So, ons moet maar doen wat ons kan, terwyl ons kan.

  • Hannes Deetlefs

    Sommer 'n gediggie van my wat alles opsom:
    “Afrikaans is trots, springlewendig, twis en stry, sing en lag in vrolike, kleurige, geurige beelde:
    Fantasties beskrywend, “tuinslang” vir “pyp” is voorbeeld van sy onmeetlike woordeweelde!
    Rugsteunend is woorde van geloof, van sterkte en hoop, wat siekes en swakkes opbeur.
    In alles is Afrikaans tuis, dit kan dig en bid, troos, grappig of dreigend klets, skinder en versteur.
    *Klein Ondeug, moeders sorg en skat, haar lus, haar las, haar vreug
    Aangrypend die krag, die helder, suiwer klank van iedere woord verheug!
    Altyd volmaak: Die taal se woorde dans parmantig en speel, van heelhartige emosies gedrewe,
    Natuurlik en propvol geesdrif, borrelend vrolik, kragtig en kielierig spontaan of volkome verhewe:
    So gee die uitgekryte, vergruisde en verdoemde taal dag vir dag woorde vir ons ganse lewe.
    Is jy dalk die duiwel in, neerslagtig weer, ongelukkig, sonder hoop? Is jou hart baie seer?
    Sien, Afrikaans is kragdadig en ryp, ook daarvoor is daar woorde wat kielie en knyp:
    Dan is woorde soos ‘deksels’, ‘eina!’, ‘sjoe’, ‘tjankbalie’, ‘ditsem’, ‘aitsa’ en ‘siestog’ gevra,
    In verdigsels of ‘wolhaarstories’ vertel jy langdradig wat jou in jou lewe so vreeslik, so triestig pla.
    Eie die dubbele ‘nie’, want met ‘Nie meer nie!’ hou jy op met kla en jy sê ‘Ja-nee’ vir jou ‘Ja!’
    Treffend is die Afrikaanse woord in klank, in duidelikheid en mening,
    Altyd vir alles gereed, van vloek tot gebed, versoening en seëning.
    Alles word netjies en presies en klankvol bewoord, in die geroesemoes van ons lewe vasgepen:
    Lewendigheid, erns en spot, hoop, geloof en krag is dit wat Afrikaans altyd weer sal laat wen!

    Uit my boek: "Boertjie"

  • Wilhelm Fourie

    Hierdie is 'n skitterende artikel in elke opsig! Hopelik gaan meer mense begin besef wat werklik verlore sal gaan indien Afrikaans (en Standaardafrikaans) ophou bestaan. Dit sal onmoontlik wees om eendag weer 'n akademiese Afrikaans te vestig. Wanneer dit weg is, is dit WEG!

  • Helize van Vuuren
    Helize van Vuuren

    Vir Heini, ter inligting …
    Oor die sterfte van tale (die omstandighede waarin dit plaasvind, die sosio-politieke druk waaronder dit plaasvind), het Anthony Traill in 1996 verhelderend geskryf. Hy het dit gedoen aan die hand van die uitgestorwe /Xam (die heel eerste taal in die suiderland). Geldig vir alle taaldood. Dit is net so geldig vandag vir Afrikaans (die jongste taal in die suiderland). En kristalhelder duidelik vir wie kan hoor ... Traill se stuk staan in Pippa Skotnes (red) se boek Miscast: Negotiating the presence of the bushmen, bll.161-183. Die beduidende subtitel lui (in vertaling): "Die geweld van die storm" [The rush of the storm].
    Die hooftitel, "!Khwa-Ka Hhouiten Hhouten” is vervreemdend omdat niemand meer die /Xam begryp of praat nie, net soos baie Afrikaanse lesers op aanlynblaaie alreeds volgens eie segge nie meer verwikkelder Standaardafrikaans met ’n groot woordeskat kan begryp nie. Die afwaartse gly het lankal begin.
    Hier is Traill se simptome vir dié fatale wegvreet-siekte in ’n gedoemde taal. Let veral op die selfstandige naamwoorde (“vernietiging”, “verbrokkeling”, “uitwissing”, “staking”, “stigmatisering”, “verlies”, “inkrimping”):
    A. Die omstandighede wat taalsterfte veroorsaak (sosio-kultureel-polities):
    1) vernietiging van die sosiale omstandighede nodig vir taalhandhawing
    2) ‘n hoë graad van tweetaligheid
    3) kulturele verbrokkeling
    4) uitwissing van sprekers/
    5) staking van moedertaal-oordrag
    6) stigmatisering van die moedertaal in die houding van andertalige groepe waarmee die sprekers in aanraking kom
    B. Die talige reaksie van sprekers van ’n gestigmatiseerde taal:
    - verlies aan taallojaliteit
    - taalverskuiwing
    - taal-inkrimping

    • Johannes Comestor

      Helize, dit lyk asof al hierdie faktore by die Afrikaanssituasie ter sake is. In sommige gevalle in buitensporige mate. 'n Faktor wat bygevoeg kan word, is onwilligheid by instansies om Afrikaanse taalstryders toe te laat om hulle saak te stel.

  • Hans Richardt

    Standaardafrikaans sal bly lewe, al is dit in Orania. Daarom dat Orania met dringendheid werk aan hul Akademia.

  • Helize van Vuuren
    Helize van Vuuren

    Afrikaans net in Orania is soos die laaste sprekers van !Ora in die uithoeke van die suiderland … met ’n treurige beriggie dekades later in die Weekly Mail:

    Mrs Johanna Hendrina van Rensburg, 104 years old, the last speaker of that once vibrant hybrid Cape-Dutch tongue, called "Afrikaans" [in translation the name means "of Africa"] (1876-2076), died last night. With her demise we bemoan the earlier death of all our other indigenous languages (29 San and Khoi languages, plus Afrikaans), and the exotic, long lost worlds they represented in cultural knowledge of the land, indigenous medicine, myths, and now extinct animals and plants. Huge archives of indigenous knowledge systems died down with them. (At least we still have thirty Nama speakers in a primary school on the Gariep border. It is reported that on St Helena there are still five aged Afrikaans speakers, although this rumour could not be confirmed at the time of going to press, due to irratic telephone lines to that outpost. )
    May her soul rest in peace.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top