Oom Thysie is beswaard

“Môre, Fransie,” sê oom Thysie oor die onderdeur.

Dit is Saterdag en ma is besig om vir ons drie seuns pap in te skep. Pa is al vroeg weg werk toe. Ma se naam is Fransina, maar die meeste mense op ons dorp noem haar Fransie.

“Môre Thysie, en wat bring jou só vroeg hier? Kom in.” Ma vra hom nie of hy koffie wil hê nie, óf om te sit nie; sy weet hy wil koffie drink en pap en melk eet.

“Stadig met die suiker en botter,” sê sy en maak haar oë groot vir ons drie terwyl sy vir oom Thysie koffie skink.

Oom Thysie is ’n oujongkêrel wat op die rant van die dorp in ’n klein platdakhuisie bly. Hy deel die karig gemeubileerde huisie met sy kat, Gemmer, en sy steekhaarbrak, Flenters. Die brak volg hom soos ’n skaduwee waar hy ook al in die dorp is. Almal ken vir oom Thysie en Flenters. Oom Thysie het nie ’n werk soos die ander ooms en pa nie. Pa sê oom Thysie is ’n kripvreter, want die goewerment sorg vir hom. Sommige mense sê oom Thysie se bontvarkie is weg; pa stem saam, maar ek is nie seker wat dit beteken nie.

Oom Thysie en Flenters is elke môre van vroeg af aan die gang. Hy gee sulke kort treetjies wanneer hy loop en partykeer praat hy met homself en dan beduie hy wild met sy arms. Soms steek hy in sy spore vas om ekstra te beduie terwyl hy praat, maar dit gebeur meesal net wanneer hy erg beswaard is. Flenters gaan sit dan en luister na hom terwyl hy sy koppie skeef draai en fyn tjankgeluide maak. Pa sê oom Thysie praat met homself omdat hy op ons dorp niemand kry wat slim genoeg is met wie hy kan praat nie.

Oom Thysie is lief om vir die vrouens te kuier; hulle is meer geduldig as die mans. Met deernis het hulle na sy probleme en griewe geluister en wanneer hy min of meer al die stories, goed of sleg, van die dorp vertel het, het hulle, ek is amper lus om te sê op ’n skelm manier, van hom ontslae geraak. Die vrouens het hom gevra om ’n brief te gaan pos, sulke soort van goed, of om ’n brood te gaan koop. Oom Thysie het altyd belangrik gelyk as hy flink stap om die takie te gaan verrig. Ma sê as die mans ook só fluks die takies verrig wat hulle gevra word om te doen, die vrouens baie meer sal kan verrig. Pa het net gesnork. Oom Thysie het geweet watter vrouens vroeg op is en wat vir hom koffie en vir hom en Flenters iets te ete sal gee. Vir hulle het hy altyd eerste in die môre besoek. Pa sê oom Thysie weet hoe om sy brood aan al twee kante te botter en te konfyt.

Ons dorp is meer ’n spoorwegdorp as ’n gewone dorp. Die meeste mense op die dorp werk dan ook vir oom Ben Wieletjies, soos die dorpenaars sê. Daar is ’n garage en ’n Pep Stores op die dorp, asook ’n koöperasie en ’n handelshuis. Hierdie winkels is glad nie oom-Thysie-vriendelik nie. By die garage wil hulle hom ’n oorpak aantrek; by Pep Stores wil hulle hom die bokse laat uitpak en by die koöperasie verwag hulle dat hy die meelsakke van die spoorwegtrokke moet aflaai. Oom Thysie is erg beswaard oor hierdie behandeling en vermy hulle soos die pes. Hy het vir ma gesê: “Fransie, hoe meer ek vir hulle sê ek is geborg; hoe meer wil hulle vir my werk gee en dan lag hulle ook vir my.” Toe pa dit hoor het hy vir ma gesê sy moet vir oom Thysie wys waar die spitgraaf en die tuinvurk is. Ma het vir pa gesê hy behoort hom te skaam.

Ons dorp het nie teerstrate nie, net grondpaaie en in die somer as dit droog is, is daar baie stof. Die huise lyk almal dieselfde, behalwe die paar huise teen die bult wat nie spoorweghuise is nie. Hier is ook nie bioskope nie. Net twee kafees; een in die dorp en een by die stasie. Die een by die stasie bestuur my ma se oudste suster. Die stasiemeester het vir ta᾿ Driesie die werk gereël nadat oom Andries dood verongeluk het. Hy was ’n rangeerder. Die grootmense sê dit het gereën en oom Andries moes gegly het en voor die trokke ingeval het; die ongeluk was glo te grusaam vir woorde. Die ongeluk het sewe jaar gelede gebeur. Oom Andries het vir ta᾿ Driesie met vyf kinders gelos, wat nog almal skoolgegaan het. Pa het gesê oom Andries kon nie ’n slegter tyd gekies het om te verongeluk nie en dat ta᾿ Driesie vir meneer Blom, die stasiemeester, ewig dankbaar moet wees, anders sou sy harde bene gekou het om die kinders groot en uit die huis te kry. Al haar kinders is nou groot en uit die huis, maar ta᾿ Driesie bestuur nog steeds die kafee. Ma sê sy is ’n voorslag.

Soos ek gesê het, ons dorpie is maar stil. Al wat ’n bietjie lewe in die dorp bring, is wanneer die passasierstrein van De Aar na Kaapstad (wanneer ek groot is wil ek in Kaapstad gaan bly) in ons dorp kom stilhou en die volgende dag weer van Kaapstad na De Aar hier kom stilhou. Partykeer klim daar van ons dorp se mense op die trein, wat op ander plekke gaan bly en partykeer klim mense van ander plekke af, wat in ons dorp kom bly. Die passasierstrein stoom ons dorp gewoonlik in wanneer dit al sterk skemer is. Wanneer dit vakansie is gaan ons kinders op die perron staan om vir die mense wat met die trein ry te kyk en vir hulle te waai. Partykeer gee ta᾿ Driesie vir ons lekkers sonder dat ons daarvoor betaal. Oom Thysie en Flenters is ook altyd klokslag daar; hy wag gló vir iemand wat belangrik is, maar dit lyk nie of die iemand opdaag nie. Oom Thysie sal op die perron ronddraai en later in die stasiekafee gaan sit totdat ta᾿ Driesie vir hom ’n koppie koffie gee en daar sal hy bly sit totdat die trein weer ry.

“Fransie, wat is verstrooid en verslons? Kan ’n mens verstrooid en verslons wees?” vra oom Thysie wanneer hy gaan sit.

“Ek verstaan nie,” sê ma wanneer sy die beker koffie voor oom Thysie neersit. “Wie het dit gesê?”

“’n Jong meisie het dit vir Driesie in die stasiekafee so gesê en toe kyk sy vir my. Toe sê Driesie vir haar die dorp se mense is nie vriendelik nie en sy moet teruggaan na die dorp waar sy vandaan kom.”

“Thysie, nee, ek weet nie waarvan jy praat nie. Gebruik jou tyd en vertel vir my alles soos jy dit gesien en gehoor het,” sê ma toe sy die bord pap voor oom Thysie neersit.

“Fransie, die meisiekind het met haar koffers in die kafee ingeloop. Sy het vir niemand dag gesê nie en by ’n tafel gaan sit en ’n koppie koffie bestel. Toe sy dit klaar gedrink het, het sy na Driesie geloop om te betaal en Driesie het haar gevra hoe die koffie gesmaak het. ‘Seker maar oukei,’ het die meisiekind gesê. Sy het vir Driesie mevrou genoem. Toe vra sy vir Driesie hoe is die mense van die dorp. Vir haar lyk hulle maar verstrooid en verslons en toe kyk sy na my. Driesie het vir haar gevra hoe is die mense van die dorp waar sy vandaan kom. Die meisiekind sê toe: ‘Mevrou, hulle is baie onvriendelik en ander is sommer nors.’ Toe sê Driesie vir haar die mense van ons dorp is nét so nors en onvriendelik en dat sy eerder maar moet teruggaan na haar dorp toe.”

Oom Thysie het vir ’n rukkie, diep ingedagte na die botter gekyk wat in ’n geel straaltjie van die warm pap afloop. toe skud hy sy kop en sê: “Fransie, ek verstaan iets nie lekker nie.”

“Wat verstaan jy nie lekker nie?”

“Driesie het vir die meisiekind gesê ons dorp se mense is ongeskik en onvriendelik. Maar sy vergeet dat daar eergister ook ’n meisiekind met haar koffers in die kafee kom koffie drink het. Die kind het almal vriendelik gegroet en gesê die koffie is baie lekker. Sy het ook vir Driesie gevra hoe die mense van ons dorp is en toe sê Driesie: ‘My kind, hoe is die mense van die dorp waar jy vandaan kom?’ Toe sê sy: ‘Tannie, my dorp se mense is baie vriendelik en lieftallig. Ek is baie spyt dat ek daar moes weggaan.’ En toe sê Driesie: ‘My kind, die mense van die dorp is net so vriendelik en lieftallig soos jou dorp se mense. Jy sal baie lekker hier bly.’ Sy kan mos nie vir die een só sê en vir die ander een anderster sê nie, sy jok mos vir een.”

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top