Oom Jans, die kelnerin en die subteks

  • 1

Foto: Jans Rautenbach – Dromer, baanbreker en auteur / Jans, droomsaaier – Sy memoirs, deur Martin Botha / Deborah Steinmair, Genugtig! uitgewers, 2006, 131 pp + 89 pp, ISBN 0958488029

Dit was ‘n stil twee-uur-die-middag-sessie by die kykNET Silwerskermfees. Die middagete “rush” was verby en die kelners en ander vrywilligers was besig om die koffie en ander versnaperings reg te kry. Ek het eintlik net ingehol om ‘n vinnige koffie te gryp. Daarna sou ek my na een van die gesprekke toe haas. Dit was ‘n ou laai van my by dié fees. Ek sal nog ‘n vinnige onderhoud ná ‘n fliek met ‘n rolspeler doen, of ná ‘n spesifieke gesprek, en dan weer by ‘n vinnige geleentheid insluip. Maar tussenin moet ek eers ‘n koppie koffie of ‘n glas water gryp.

Ek het skaars my suiker ingeroer of ek kyk op en sien ‘n man wat self besig is om koffie te kry. Dis Jans Rautenbach. Die lewende legende self. Ek het die jaar vantevore my eerste onderhoud met hom gedoen. Anders sou ek beslis in sweet uitgeslaan het soos wat ek daar staan.

Die niksvermoedende kelnerin oorhandig egter net die koffie aan hom en sê-vra met ‘n groot glimlag: “Hoop dit gaan goed?”

Oom Jans sug, skud maar net sy kop en sê: “Nee, eintlik gaan dit nie so goed nie.”

Ek hou hom fyn dop. Dit is op dié betrokke aand van 2014, die laaste aand van die Silwerskermfees, die eerste vertoning van sy rolprent Abraham. Dis die eerste rolprent wat hy in 30 jaar vervaardig het. So ek raai hy is effe senuweeagtig oor hoe die gehoor daarop gaan reageer. Almal koester sulke hoë verwagtings vir die fliek, en selfs vir ‘n prentjieskepper met sy ervaring is dit seker ‘n stresvolle las om op mens se skouers te dra.

Maar die kelnerin, ‘n jong wit Afrikaanse meisie, is salig onbewus hiervan. Dalk neem sy aan dat die filmfees met al sy dinge hierdie oom moeg maak, want sy antwoord hom dadelik. “Ag, toemaar, dis amper verby.”

Oom Jans skud net sy kop. “Nee, nee, dit is nog lank nie verby nie.”

Ek glimlag binne myself en probeer om, soos wat dit ‘n onsigbare toeskouer betaam, dit nie openlik te wys nie.

Die meisie, wat seker as ‘n vrywilliger by die fees werk, voel haar genoop om oom Jans op te beur. Sy bied vir hom een van die lekkernye op die tafel aan. “Wat van ‘n stukkie koek? Dit laat my altyd beter voel.”

Oom Jans skud net sy kop en sê kalm: “Nee dis baie suiker. Suiker is nie goed vir ‘n ou man soos ek nie.” Hy sug weer terwyl hy peinsend aan sy koffie teug.

“Dis tog Oom se laaste dag?!”

Oom Jans se oë raak groot. “Ek hoop nie so nie!”

Duidelik het sy daarna verwys dat dit die laaste dag van die rolprentfees is, maar oom Jans het sekerlik besluit om die draak te steek met hierdie jong student en dit laat lyk of hy dit geïnterpreteer het asof sy hom vertel dat dit sy laaste dag op aarde is. Die volgende rolprentvertoning wat ek sou bygewoon het, is lank reeds vergete. Hiérdie is die éintlike fliek wat voor my afspeel.

Ek grawe rond vir ‘n beskuitjie op die tafel. Dit is mos wat goeie ekstras in ‘n toneel uit ‘n rolprent of sepie doen. Hulle kry iets om hul mee besig te hou sodat die twee eintlike karakters tussen wie die toneel afspeel, nie agterkom hulle staan eintlik net daar en afluister nie.

“Woon Oom ook die fees by?” vra die meisie vriendelik.

“Jy kan maar so sê, ja,” antwoord oom Jans – die beskermheer van die Silwerskermfees sedert kykNET die eerste keer die fees in 2011 aangebied het.

Haar oë helder op. Uiteindelik het sy iets waaroor sy met dié oom kan gesels.

“So wat doen Oom in die bedryf?” vra sy ewe onskuldig.

“Ek is ‘n regisseur,” antwoord oom Jans en neem nog ‘n sluk van sy koffie.

“O, regtig?” vra sy. En sy steek haar voet verder in haar mond. “Ek het al báie van hulle hierdie week ontmoet.” By ‘n fees waar daar 12 kortfilms bekendgestel word, en daar daagliks minstens drie eerste vertonings oftewel premières van rolprente plaasvind, is dit heel moontlik.

Ek loer vir oom Jans. Hy sug net weer voordat hy droog opmerk: “Ja, almal dink mos deesdae hulle is regisseurs.”

Dit was nogal ‘n groot onderwerp van die gesprekke by die betrokke jaar se fees. Van Regardt van den Berg tot Darrel Roodt, en veral die veteraanredigeerder Ronelle Loots (wat al vir onder meer Katinka Heyns en Koos Roets gewerk het), het opgemerk dat die nuwe tegnologie die tendens meegebring het dat rolprentmakers al hoe jonger begin regisseurs word, in stede daarvan dat hulle eers deur die leerskool gaan en hulself van onder af opwerk deur hulle eers in ‘n ander hoedanigheid op die rolprentstel te bekwaam.

Die meisie het nou éérs spoed gevang. “So het Oom ook ‘n fliek hier? Watse flieks het Oom al gemaak?”

Oom Jans, wat nog die hele tyd bewus was van my teenwoordigheid daar, loop nou na my toe, sit sy hand op my skouer en sê vir haar: “Hierdie dame is baie slim. Sy is ‘n nagraadse student en ‘n joernalis by RSG. Sy weet baie van Suid-Afrikaanse flieks af. Sy sal jou alles vertel wat jy wil weet.” Hy sit sy leë koppie neer voordat hy vir haar vra: “Wat is jou naam?”

Sy stel haarself aan hom voor en vertel hom in ‘n paar woorde van haarself, terwyl die ander jong kelner, wat die hele tyd langsaan haar gestaan het en ook nes ek alles besigtig het, hom tot my wend. Dit is ‘n manstudent wat as ‘n vrywilliger by die fees werk. “Wie ís hy?” fluister hy vir my terwyl hy met sy oë na oom Jans kyk, wat nog besig is om met die meisie te gesels.

“Dis Jans Rautenbach,” antwoord ek.

“Wie?” vra hy.

“Jans Rautenbach. Een van die grootste regisseurs wat ons land tot nóg toe gehad het.”

Die jong man lig sy skouers ontkennend. “Ek het nog nooit van hom gehoor nie.”

Oom Jans het intussen die meisie gegroet en is al amper by die deur van die vertrek. Hy lig sy hand en wuif vir my. “Sien jou later, Van Vuuren.”

Ek lig my hand in erkenning. By die grootste Afrikaanse filmfees in die land. By die énigste volwaardige Afrikaanse filmfees …

Dit laat dit my nou dink aan die oomblik in die 2016-Hollywood-rolprent Steve Jobs toe ‘n joernalis vir Jobs vra wie Alan Turing is. Jobs het net sy kop geskud, en geantwoord: “In a sense he invented the modern computer. But if you have to ask me who he is, he won’t form part of our marketing campaign anymore.”

  • 1

Kommentaar

  • Susann Viljoen Vlok

    Jans Rautenbach het die wêreld vir ons oopgemaak. Hy was The Pied Piper. Dankie oom Jans dat jy ook jou hart vir ons oopgemaak het sodat ons ons harte vir ander kan oopmaak. Dankie vir jou laaste boodskap in "Abraham". Ons gaan jou mis.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top