Ontdekkingsreisiger

  • 0

Uitvlug. Soos ’n uitvlug uit Egipte, kies hy koers na wat hy glo die enigste beloofde land is. Die motorfiets brom opgewonde. Hy raak nostalgies as hy die geluid hoor.

Weg! Dis waarheen hy gaan as die vraende nuuskierige agies hom agternasit. Hy gaan weg. Sommer ver weg!

Toe hy nog jonk en dwaas was, het drie enkele klokslae die uitvlug aangekondig. Gryp na jou rugsak. Sweterige, bewende hande, diep versteek in sy baadjiesakke. Vinnige treë, nie te ooglopend nie, knars op die gruis. Weg van die gesels. Weg van die geskinder. Tussen die mense lê net vrae, die wolke en gras aanvaar die stilles. Die woorde op bruin, verbleikte blaaie veroordeel nie.

Plekkie gekry. Presies drie tree weg van die eikeboom. Voel-voel. Die gras nog effens klam.

“Ag, wie gee om?” brom hy. Sy lewe bestaan uit retoriese vrae. Val neer. Opsetlik hard en hoorbaar. Die gras kielie sy been, rugsak stut sy nek. Die gemaklikste bed suid van die onderwysstelsel. Hy loer na die groepies mense. Wanneer hul oogkontak maak, kyk hy weg.

Hy het vriende. Genoeg! Hulle raas, skree en stamp hom in rigtings waarheen hy vrees om te gaan. Sy vriende roep hom toe hy die saamgebinde bruin blaaie onder sy vingers voel. Hy laat sy vingerafdrukke agter en begin lees. Sy oë vlieg oor die bladsye. Woorde, sinne, nuwe wêrelde kom maak nes in sy gedagtes soos elke letter insink. Sy vriende raak stil, die geskinder verdwyn. Hy kyk net af en toe rond, maar ek weet hy is lankal  nie meer hier nie.

Tussen blaaie, tussen lyne is hy die held. Hy red die meisie. Die perfekte, one and only waarvan nie net hy alleen droom nie. Hy toor Harry Potter weg, want niemand weet hy is verlief op Emma Watson nie. Niemand weet van sy pa nie. Niemand weet waar sy gesin bly nie en niemand weet waarom sy ma aande om huil nie. Niemand weet van die graf by die ou begraafplaas wat hy kon voorkom het nie.

En soos ek hier sit en hom versigtig dophou, weet ek, niemand weet regtig wie Chase Terblanche is nie. Hy weet ook nie. Hy dink hy is ’n tekening in ’n comic boek, hy dink hy red die aarde van aardverwarming en hy dink hy rev sy motorfiets hard genoeg dat hy as ’n bad boy bestempel kan word.

Maar die waarheid is… Chase Terblanche is ’n outcast, ’n ou siel en ’n tweegesig. Nee, dis nie wat die mense sê nie. Ook nie wat die onnies dink nie. Chase vertoon goed, ten spyte van sy geskiedenis. Chase gee goed voor. Sy toneelspel is van hoogstaande gehalte. Hy word sonder blik of bloos prefek en kaptein van al wat ’n sportspan is. Chase vang harte met skoenlappernette en gooi  hulle van seëkranse af.

Chase Terblanche is nie wie hy voorgee om te wees nie. Maar wie is?

Al wat ek verseker weet, is hy weet nie wie hy is nie. Nie op ’n grasperk agter ’n boek nie en nie as ’n 21-jarige op ’n motorfiets nie. Die hartseer is dat boeke ’n laaste bladsy het en selfs die N1 êrens doodloop. Ek weet wie Chase is, maar hy sal hom nie juis aan my steur nie, want ek is die girl next door en hy die sogenaamde bad boy.

Toe die klok lui, slaan hy die boek toe. Sug swaar en staan op. Ek loer lank na hom. Probeer hom uitpluis. Maar die enigste slotsom waartoe ek kom, is dat ons almal ’n Chase Terblanche in ons het. Want is ons almal nie maar net ontdekkingsreisigers op soek na onsself nie?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top