“Ons is ’n waterskaars land”

  • 1

Die Burger beweer dat sowat 16 storms oor ’n paar dae wat elk tot sowat 150 mm reën lei, nodig is om die Theewaterskloofdam weer vol te maak. Daar was vir hierdie week ’n 36-uur-storm voorspel. As 150 mm in werklikheid in die opvangsgebied van die dam val, dan kan die damvlak van 13% tot 18% styg.

Menán van Heerden het met Hermann Stehle, siviele ingenieur in die Dams & Hydro-afdeling by Pro-Plan Consulting Engineers in Krugersdorp, gesels om meer oor die bestuur van die waterkrisis in die Wes-Kaap uit te vind.

Hoe beïnvloed Wes-Kaapse weerpatrone die bestuur van die waterkrisis? Is die weerpatrone tans te onvoorspelbaar om die waterkrisis voldoende te bestuur? Dus: kan daar op reënwater staatgemaak word?

Die kern van die probleem is dat ons ’n waterskaars land is – nou nog meer as ooit tevore. Aardverwarming is ’n realiteit wat die hele wêreld in die gesig staar en dus kan ons waarskynlik al hoe meer droogtes te wagte wees. Alhoewel onvoorspelbare weerpatrone ’n invloed het, kan behoorlike beplanning vir die toekoms deur damingenieurs en kenners op die gebied van waterhulpbronnebestuur baie doen om die land, en spesifiek die Wes-Kaap, voor te berei vir sulke droogtes. Daar kan op reënwater staatgemaak word as die regering genoeg geld beskikbaar sal stel om nuwe damme te bou en bestaande damme te rehabiliteer en te verhoog. Daar moet ook ’n poging aangewend word om die bedryf en instandhouding van hierdie damme op te skerp.

Met streng waterbeperkings, sal die waterkrisis dus meer effektief bestuur kan word indien die damme groter gemaak word en meer damme gebou word?

Vir seker. Hoe meer stoorkapasiteit jy het, hoe groter is die waarskynlikheid dat daar in die behoeftes voorsien kan word, veral vir langer periodes tydens ’n droogte. Daar is nog potensiaal vir damme bou in die land en ook in die Wes-Kaap. Uit ’n omgewingsoogpunt is dit egter nie altyd ideaal om damme te bou nie, aangesien dit ’n noemenswaardige impak op die natuur kan hê. Dit is ook baie duur om nuwe damme te bou, maar as die vraag na water baie groot is, dan sal die geld vir nuwe damme beskikbaar gestel moet word.

Daar moet ernstig daarna gekyk word om bestaande damme se volvoorraadkapasiteit te verhoog. Sulke projekte is goedkoper en in die meeste gevalle redelik eenvoudig. Daar is ’n paar basiese faktore om in gedagte te hou wat watervoorsiening betref:

  • Die damme verloor oor die jare heen van hulle stoorkapasiteit weens opbou van slik.
  • Periodieke onderhoud aan damme (bv kleppe ens) is nodig om te verseker dat hulle hul funksie kan bly verrig.
  • Suid-Afrika verloor jaarliks miljoene liter water in munisipale verspreidingstelsels as gevolg van lekkasies, en die Wes-Kaap is nie uitgesluit nie. Alhoewel baie munisipaliteite al begin het om die probleem te hanteer, is daar nog baie wat gedoen kan word.

Party damme moet rehabilitasie ondergaan om te verseker dat hulle funksioneel bly – dit is ook uiters noodsaaklik uit ’n damveiligheidsoogpunt, aangesien damme hoërisiko-strukture is. Tesame met hierdie rehabilitasieprojekte kan ook na kapasiteitsverhoging gekyk word – dus “twee vlieë met een klap”. Vanuit ’n grootmaatbergingsoogpunt sal dit definitief ’n bydrae lewer om die waterkrisis die hoof te bied.

Tans bestaan daar in die Departement van Water en Sanitasie ’n damveiligheidsrehabilitasieprogram. Die doel van hierdie program is om die risikovlakke van bestaande damme wat onaanvaarbaar hoog is na aanvaarbare vlakke af te bring deur die nodige veranderinge aan die damwalstruktuur aan te bring. Daar is al ongeveer 40 damme landwyd op hierdie program voltooi. ’n Voorbeeld van ’n damverhoging wat in die Wes-Kaap beplan word, is Clanwilliamdam.

Staar Kapenaars jare se vooruitsig van waterkrisisbestuur in die gesig? Wat is die mees effektiewe langtermynoplossings in terme van infrastruktuur in ’n droogtesiklus?

Dit hang natuurlik sterk af van die weerpatrone (waarvan ek nie ’n kenner is nie). Volgende jaar kan byvoorbeeld weer ’n baie nat jaar wees wat tot gevolg kan hê dat die damme weer vol loop. Hierdie is wel ’n wekroep om te besef dat sulke droogtes waarskynlik meer in die toekoms kan voorkom (ek verwys na die welbekende verskynsel van aardverwarming). Die beste is om nou hieruit te leer en dit te gebruik as ’n basis om vir toekomstige droogtes te beplan. Die beplanning moet nou begin en die oplossings moet so gou as moontlik geïmplementeer word. Die kenners op die gebied van damingenieurswese en waterhulpbronnebestuur moet geraadpleeg word (die meeste van hierdie kenners is tans in die privaatsektor of reeds afgetree).

Ons land is oor die algemeen ’n waterskaars land en ons moet voortdurend na nuwe moontlikhede soek om te verseker dat ons nog genoeg water sal hê. Ons huidige infrastruktuur gaan moet opgegradeer word, nuwe damme gaan gebou moet word en ander opsies, soos ondergrondse waterbronne en ontsouting, sal ondersoek en oorweeg moet word.

Is noodplanne om water van elders met vragmotors aan te ry realisties? Word hierdie noodmaatreël as die laaste plan van aksie beskou?

Dit is gewoonlik die laaste plan van aksie. Ek glo vas dat goeie beplanning gewoonlik die oplossing tot toekomstige noodsituasies is. In die verlede was die destydse Departement van Waterwese bekend vir hul sterk ingenieurskorps en spesifiek hul beplanningsafdeling wat die hedendaagse tekort aan water al destyds voorspel het. Dus is die infrastruktuur wat ons nou tot ons beskikking het, die gevolg van die vorige generasies van damingenieurs wat vooruit beplan het. Die Departement van Water en Sanitasie sal ’n daadwerklike poging moet aanwend om te verseker dat die kennis wat daar nog tans op die gebied van damingenieurswese bestaan, oorgedra word aan die jonger generasie ingenieurs wat die verantwoordelikheid van die voorsiening van grootmaatwateropberging sal moet oorneem in die nabye toekoms. Beplanning vir die toekoms is ’n gespesialiseerde veld wat al hoe meer in die departement afgeskeep word.

  • 1

Kommentaar

  • Hans Richardt

    Wel, in Calvinia ry hul water 500 km ver aan. Daar is 150 km ver vanaf Calvinia 'n dam. Uitdaging is om tonnels deur berge te kry vir pyplyn, agv koste. Is dit die moeite werd vir inwoners van 10 000 in Calvinia of moet 150 jarige dorp net sterf?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top