Is ons musiek outentiek? (Deel 2)

  • 4

In gesprek met Luna Paige: Globalisering en oorspronklikheid

In Deel 1 het ek met David Kramer, Anton Goosen, Amanda Strydom en Schalk van der Merwe gesels oor outentisiteit en die noodsaaklikheid daarvan in musiek. Ons het veral daarna gekyk binne ons Suid-Afrikaanse konteks. As ek deur van die lesers se kommentaar lees is dit duidelik dat daar uiteenlopende opinies oor hierdie onderwerp is. 

Baie voel dat ons Suid-Afrikaanse musiek nie werklik outentiek is nie en dat ons musiek as't ware voorgeskryf word deur platemaatskappye se voorafbepaalde idees van wat die massas wil hoor en wat in daardie raamwerk die meeste inkomste gaan genereer. Die uiteinde? ’n Onoorspronklike musiekfabriek. Ander voel weer dat geen kunstenaar werklik outentiek is nie, dat almal op een of ander wyse doen wat reeds gedoen is. 

Dit laat my onmiddellik dink aan ’n artikel wat Schalk Joubert een keer met my gedeel het. Dit gaan juis oor dié vraagstuk: As ’n mens leen by ander kunstenaars, is jy steeds oorspronklik? David Kramer spot en onthou een van Abraham de Vries se karakters wat sê: "Oom Boeta, as jy wil lieg, dan moet jy lieg dat ek kan glo!" In die artikel waarna Schalk Joubert my verwys het, bespreek ’n blogger/student by name Nancy Prager ’n essay wat TS Eliot geskryf het in reaksie tot ’n teaterstuk wat hy gaan kyk en geresenseer het. 

Die teaterstuk was geskryf deur Philip Massinger en dit wil voorkom of laasgenoemde baie gesteun het op die werk van William Shakespeare. Ek hou van, en stem nogal saam met, wat TS Eliot hier sê. Ek haal aan: "One of the surest tests [of the superiority or inferiority of a poet] is the way in which a poet borrows. Immature poets imitate; mature poets steal; bad poets deface what they take, and good poets make it into something better, or at least something different. The good poet welds his theft into a whole of feeling which is unique, utterly different than that from which it is torn; the bad poet throws it into something which has no cohesion. A good poet will usually borrow from authors remote in time, or alien in language, or diverse in interest."

TS Eliot

TS moedig dus nie kreatiewe diefstal aan nie, maar voel wel dat dit moontlik is om andere se werke na te boots en steeds oorspronklik te wees. Die oorspronklikheid lê in wat die kunstenaar met die werk doen. Neem hy die werk na ’n nuwe vlak? Maak hy die werk relevant tot sy tyd en plek? Stel hy die werk aan ’n nuwe en wyer gehoor bekend? Dra die kunstenaar se werk iets ekstra en nuuts by tot sy bron van inspirasie, die samelewing en sy kultuur? Ek dink byvoorbeeld aan die band Disturbed se weergawe van “The sound of silence”.

As jy “The sound of silence” google, is dit hulle musiekvideo wat heel bo vertoon, nie Simon & Garfunkel s’n nie. Waarom so gewild? ’n Heavy metal en hard rock band het ’n folk-ballade en treffer van sy tyd 50 jaar later tot onverwagse nuwe hoogtes geneem. Hulle het ’n liedjie wat in 1964 vrygestel is – en dalk nie so bekend is aan vandag se tieners nie – weer wêreldwyd in die kollig gebring. 

Op plaaslike vlak kan ons verwys na Chris Chameleon se Ingrid Jonker-toonsettings. Waarom was dit so populêr? Ingrid se werke was al voorheen getoonset, maar nie só nie. Dit is hoekom dit spesiaal was. 

Dink aan Mumford & Sons. ’n Britse band wat wêreldwyd bekend geraak het vir hul interpretasie van die Amerikaanse musiekstyl, Bluegrass. Soveel so dat hordes bands wêreldwyd dieselfde klank probeer naboots het – nie noodwendig met dieselfde sukses nie. Skielik het elke tweede band ’n ou op ’n banjo en ’n kick drum voor in die koor gehad.

Ons sien hierdie tendens ook in hip hop en ander digitale musiekstyle. Hierdie kunstenaars leen graag by liedjieskrywers, bands en sangers uit die verlede. Hulle aanhangers word dikwels op dié manier vir die eerste keer blootgestel aan kunstenaars en hulle liedjies uit die verlede. Sommige musiekliefhebbers is oorkrities teenoor die digitale musiekera. Baie sien dit nie as outentieke musiek nie. Tog dink ek aan ’n lesing wat ek onlangs bygewoon het. Dit was ’n lesing aangebied deur een van die lektore van die Berklee College of Music (vanaf Amerika). Sy naam is Prince Charles Alexander. Hy het ook al saam met Mary J Blige en Destiny's Child gewerk. Die lys is lank. ’n Geldige punt is gemaak ..."We live in the digital era. Everything we do is based on technology. Why wouldn't we embrace technology when creating art and music? Wouldn't it be unwise to exclude oneself from this as an artist who lives in the digital era?"

Prince Charles Alexander, Berklee College of Music, US

Ek moes my kop effe laat sak, want ek was self een van diegene wat oorkrities teenoor die digitale musiekera was. Maar hoe meer mens begin krap, soek en luister, hoe meer besef ’n mens dat dit ’n lewendige kreatiewe era is wat gaan bly. Die eerste kommersiële digitale musiektoerusting is al in die laat 70's gebruik. Mense maak al vir meer as 40 jaar so musiek. 

Die Akai MPC60 – ’n gewilde hip hop sampler in die 80's

Miskien moet ons begin om tegnologie te omarm en in ons musiek te inkorporeer. Daardie selfde Berklee-dosent het genoem hoe baie talentvolle musikante hul van elektroniese musiek in die 80's gedistansieer het. Die gevolg? Nie-musikante het die geleentheid aangegryp, die bedryf oorgeneem en multi-miljoenêrs geword. "Imagine what electronic music would sound like today if the real musicians embraced the technology 30 years ago." Miskien sou dit nie nodig gewees het om lirieke, melodieë en riffs te gaan leen by liedjieskrywers en bands uit die verlede nie!

Maar ek wyk nou af. Wat ek graag vir myself wil afvra is hoe globalisering outentisiteit beïnvloed. In die vorige gesprek het ons vasgestel dat outentisiteit gewoonlik gepaard gaan met ’n spesifieke kultuur, plek en tyd. Maar hoe gemaak in die global village van ons, waar ons blootgestel word aan soveel ander kulture, plekke en musiekstyle? Ons hoef nie meer te identifiseer met slegs dit waarmee ons bekend is of waar ons vandaan kom nie – ons kan nou identifiseer met kultuurgroepe en musiekstyle van kunstenaars wat op ander kontinente woon. Danksy die einste digitale era wat so baie kunstenaars nog graag kritiseer.

Globalisering is nie meer ’n nuwe term nie. Die konsep het veral vlam gevat in die 60's. Volgens die HAT kan globalisasie, oftewel globalisering as volg omskryf word:

Glo-ba-li-sa'sie / globalisering:

Wêreldwye integrasie agv gesofistikeerde kommunikasie en die samewerking op die terrein van veral wêreldhandel en die finansiële markte.

Globalisering mik dus om ekonomiese groei te bevorder deur handel tussen nasies te stimuleer. Daar is kenners wat meen dat die proses nie werklik plek maak vir kulturele diversiteit nie en dat daar nog baie werk gedoen moet word om volhoubare ontwikkeling, vreedsame naasbestaan en die behoud van kulture te verseker. 

Ons weet almal dat hierdie tendens ’n lelike en ’n mooi kant het. Die ideaal vs die realiteit. Ja, globalisering stel mense bloot aan produkte en kennis wat veel verder as hul eie landelike grense en politiek strek. Globalisering stel mense in staat om inligting uit te ruil, te kommunikeer en besigheid oor duisende kilometers te doen. Ons is skielik nie meer afgesonder nie en ons beskou onsself as ingelig. 

Tog weet ons ook dat dit uiteindelik meer gaan oor profyt as oor kulturele integrasie. Ons weet dat kleiner kultuurgroepe ly onder die meer dominante kultuurgroepe wat wêreldmedia beheer. Die uiteinde is kulturele stroping ten einde ’n groter, meer homogene, verbruikersvriendelike en winsgewende "produk" te skep. Dieselfde geld vir die musiekbedryf.

Die wêreldwye popkultuur en sosiale media maak seker dat verbruikers vermaak word en ontspan deur direkte daaglikse gratis en/of spotgoedkoop toegang tot hul idols en hul musiek te kry. ’n Interessante nuwe tendens is die Koreaanse popoplewing ook bekend as “K-pop”. Tieners van dwarsoor die wêreld (ook hier in Suid-Afrika) is nou totaal versot op die jong tienersterre van Korea en kan direk met hulle gunsteling sterre kontak hou via sosiale media. Goodbye Justin Bieber. Mens raak opgewonde oor die idee, tot jy na die musiek luister en agterkom dat dit nie veel anders as pop of boy bands van ouds is nie. Dit is wel in ’n ander taal en kweek ’n nuwe belangstelling onder die jeug in die kennismaking met Oosterse tale en kultuur. 

BTS, ’n "K-pop"-band, is die eerste van sy soort om op die VK en Duitsland se trefferlyste te verskyn.

So wonderlik soos direkte, daaglikse, gratis of spotgoedkoop toegang tot jou gunsteling internasionale band/popster is, het dit ook ’n negatiewe impak op plaaslike musiek. Om plaaslike musiek te ondersteun, verg meer moeite en kos meer geld. Vandaar die moontlike afname in ondersteuning van plaaslike musiek en musiekteaters (’n tendens waarmee ons veral hier in Suid-Afrika sukkel).  

So hoe gemaak? Hoe benut ons die “onvermydelike nuwe verbruikerswêreld” en al sy foefies waarbinne ons moet skep om oorspronklike musiek te bly maak? Hoe gaan mens met integriteit te werk binne hierdie global village wat soveel verwagtinge, of eerder so ’n spesifieke “kultuur” by sy verbruikers skep? Want kom ons wees eerlik, verbruikers word beïnvloed, verbruikers word lui en hul smaak is soms so wisselvallig soos die homogene produkte wat aan hulle gevoer word. En kunstenaars is onder geweldige druk om aan hierdie verwagtinge te voldoen indien hulle ’n bestaan wil voer en rekeninge wil betaal soos die res van hul wêreldgenote.

Wall-e blobs

Daar is wel ’n moontlike positiewe tendens wat kop uitgesteek het. Mens kan daaroor debatteer  of dit te danke is aan globalisering en of dit gebeur het in reaksie tot globalisering. En dit is die wedergeboorte van die plaaslike industrie. Dink maar aan die Proudly South African handelsmerk op produkte. 

Dink aan die terugkeer na slagterye, bakkerye, mikro-brouerye, koffie-roasteries en plaaslike keramiek. Dit is amper asof verbruikers al hoe meer begin wegwyk van massaproduksie en meer outentieke/oorspronklike produkte opsoek. Dit is asof hulle moeg raak daarvan om die gesiglose man se sakke vol te stop. Hulle soek iets waarin hulle hulself kan herken. 

Kan ons sê dat die tendens ook te bespeur is in die musiekbedryf?

Schalk van der Merwe voel dat oorspronklikheid meer en meer belangrik raak. Dat mense daarna hunker, juis as gevolg van massaproduksie. "Weskus-snoek, Velddrif-bokkoms, Boland-wyne" – mense resoneer daarmee. Volgens Schalk het mense diep ervaringe met musiek as hulle die konteks daarvan verstaan: "... al gaan dit oor plekke waar jy nog nooit was nie." As voorbeeld hiervan noem hy ’n band met die naam Tinariwen. Hulle is afkomstig van die Sahara-woestyn in Noord-Mali. Hierdie band se lede het grootgeword in vlugtelingkampe, was rebelle en het uiteindelik hul AK47's vir kitare verruil. Hul Wes-Afrikaanse musiekstyl is beïnvloed deur hul blootstelling aan bootleg-plate van bands soos Jimi Hendrix, Led Zeppelin en Bob Dylan. Dit is juis die unieke fusion van style wat die musiek internasionaal “herkenbaar” en populêr gemaak het. Tog bly hul musiekstyl uniek.

Kramer verwys na Paul Simon wat ook soms gaan leen het by ander kultuurgroepe. Dit was wel vir hom belangrik om die klank outentiek te hou wanneer hy gaan leen het.  Hy het saam met musikante gaan werk wat meesters van hul eie style was, binne hulle eie gemeenskappe en in hul eie ateljees. Hy het onder andere gaan werk saam met musikante van Jamaica en ons weet goed hy het hier in Suid-Afrika ook kom draai. Maar so het ook hy gesorg dat hy sy eie unieke stempel op die style afgedruk het. 

Paul Simon en Sting is beide kunstenaars wat wêreldstyle omarm het.

David Kramer voel dit is belangrik om kontak te maak en saam met musikante wat ’n sekere musiekstyl ontwikkel het te werk as ’n mens daardie tipe musiekstyl wil verken en in jou eie musiek wil inkorporeer. Ons dink maar aan sy samewerking met Taliep Pietersen. "We had different skills. He informed me about his work and I shared my skills. It was a sharing process. One of investigating, discovering. It was art." 

Taliep Pietersen en David Kramer

Volgens Anton Goosen is diverse Suid-Afrika uniek in die sin dat ons nie soos in baie ander lande een homogene klank het nie. Dit is wat ons kultureel interessant maak. Ek dink wel, en stem ook saam met Schalk van der Merwe, dat daar nog steeds ’n mate van bevolkingsapartheid bestaan en dat elke groep slegs vir sy eie mense skep en optree. Sommige sal argumenteer dat dit ook reg is so. Ek wil ’n klip in die bos gooi: dink net hoe wonderbaarlik opwindend dit kan wees as ons van hierdie klanke en style en die kunstenaars wat dit bemeester het aan mekaar kan voorstel en aanmoedig om saam te skep. Slegs as dit ’n organiese en dringende behoefte raak. Nie ’n geforseerde projek soos wat ons dikwels by Afrikaanse kunstefeeste sien nie. Dit moet van die kunstenaars self af kom. En die publiek in hulle beurt moet oop en ontvanklik daarvoor wees. 

Kan ons dan miskien afkom op ons eie Suid-Afrikaanse klank? Soos Kramer tereg sê: "Art is about a quest for identity, a quest for who you are and who you want to become." ’n Belangrike missie vir Suid-Afrika. Hy noem dat dit die kunstenaar se verantwoordelikheid is om te bly groei. "If you are not an artist, it wouldn't concern you." Ek lag wanneer hy verwys na die comfort zone. Ek lag, want ek ken dit so goed. Ons almal (en ek dink veral hier in Suid-Afrika) sit stewig in ons gemaksones vas. "It is uncomfortable to get out of that. It is fun playing with your friends." 

Vergeet die global village! Wat van ’n South African village? Daar is so baie om mee te woeker. 

Eers dan voel ek het ons werklik iets om aan die groter wêreld te bied. ’n Ware klank wat ons s’n is en niemand anders s’n nie. Dan het ons nie geswig onder die gesiglose man se duim nie. En bied ons juis vir die wêreld wat hy wou hê toe hy besluit het om sy deure vir alle kulture en nasies oop te maak. 

Ons almal weet wat die impak van Paul Simon se Graceland was. Ons almal weet hoe die wêreld daardie CD opgeraap het juis omdat dit die bekende met die onbekende vermeng het. Ons kan ook nie ontken dat inheemse Suid-Afrikaanse stemme, ritmes en klanke universeel mooi en aansteeklik is nie. Dink Mango Groove, Johnny Clegg en Freshly Ground – ’n handjie vol musikante wat besluit het om diversiteit in Suid-Afrika te omarm. En kyk waar het dit hulle gebring. Veel verder as soveel ander plaaslike groepe wat op internasionale vlak probeer het om aan te pas by die meer homogene "globale" klank en tendense.

Johnny Clegg en Savuka op Amerikaanse TV

Ek dink hier is meer vrae as antwoorde. As liedjieskrywer en sangeres is dit vrae wat ek myself moet afvra en is dit belangrik dat die publiek ook hieroor redeneer en debatteer, veral vir die behoud en vooruitgang van die plaaslike musiekkultuur. Uit van die kommentaar op die vorige artikel was dit so hartseer om te sien hoe maklik die publiek kunstenaars/mense wat skep kan kritiseer.

Dis altyd snaaks om te sien hoe vinnig kritiek kom wanneer ’n kunstenaar sukses bereik. Sodra iemand die kruin van sukses bereik, juis omdat hy/sy uniek en oorspronklik was – so vinnig word die kunstenaar ’n “brand” – ’n produk wat gehandhaaf moet word en wat moet aanhou gee wat sy verbruiker vereis. Dit is gewoonlik dan wanneer die wolwe uitkom en jou outentisiteit begin bevraagteken. Soos David Kramer tereg sê: "You have to start imitating yourself." Die kruin laat nie veel ruimte vir nuutskepping of verandering nie (’n voorvereiste vir enige goeie kunstenaar)!  

Kramer noem dat dit min gebeur dat ’n kunstenaar meer as een tipe sukses in Suid-Afrika behaal. "There are so many amazing possibilities in South Africa. But there are so many bubbles we don't want to move away from."

Dit is ’n werklike uitdaging om binne die konteks van alles wat hier bo genoem is, uniek en vars te begin en te bly. Let's face it. Money makes the world go round. En daarsonder kan ’n kunstenaar nie baie ver kom nie. Passie kan jou ver vat, ja. As jy genoeg dryfkrag het, ondersteuning het, as jy visie het. As jy elke nou en dan ’n chord met die publiek strike. As jy eindeloos eerlik, slim en hard werk. As jy jouself uitdaag. En as jy bly veg om daardie iets spesiaal te skep.

Daardie iets wat niemand werklik kan ontken nie, omdat dit raak waar raak saak maak. 


 

  David Kramer is ’n skrywer, vervaardiger, regisseur, liedjieskrywer en sanger. Hy het pas ’n CD getiteld Wakkerslaap vrygestel. Hy hanteer die regie van Laurinda Hofmeyr se nuutste projek Afrique Mon Désir (Afrika my Verlange) en werk aan ’n nuwe teaterstuk wat 2018 die lig sal sien.
 

Schalk van der Merwe is ’n bekende baskitaarspeler vir Delta Blue, Gerald Clark, Bed on Bricks en Karen Zoid. Hy doseer geskiedenis by die Universiteit van Stellenbosch. Na die voltooiing van sy PhD, het Schalk die boek On Record oor populêre Afrikaanse musiek en samelewing gepubliseer (2017).

Die uitgewers is African Sun Media.

  Anton Goosen is die Liedjieboer en radio-persoonlikheid. Hy het pas sy nuutste CD, Padkos, vrygestel.

 

Luna Paige is ’n liedjieskrywer, sangeres, vervaardiger en eienaar van Iluminar Productions.

Lees ook:

Is ons musiek outentiek? (Deel 1)

Luna Paige
Musiek

"Gehore moet begin waag. Moet ook begin soek tussen al die strome van klanke en beelde waarmee hulle elke dag gebombardeer word. Die gemeenskap moet weer honger raak vir kuns. Eerlike en opregte kuns." Luna Paige gesels met Schalk van der Merwe, Anton Goosen, Amanda Strydom en David Kramer.

  • Foto's: verskaf
  • 4

Kommentaar

  • Helena Welthagen

    Om iets "ouds" te neem en werklik nuut te maak is 'n kuns. Ons het skeppende kunstenaars nodig!

  • Ek het so baie om te sê.
    Ja, ek aanvaar dat dit moeilik is werklik outentiek te wees en dat ons almal staan op iemand anders se skouers. Maar daar is tog steeds so iets soos eerlike musiek en dan opgesmukte kommersiële druk.
    As musikant wat ook my eie goed skryf, toonset, speel en sing het ek 'n kleintjie dood aan die “kitssterre” wat oornag beroemd word op programme soos Idols, The Voice, America's got talent ens. Geen wonder dat Elton John en Paul McCartney gesê het dat hierdie soort kitssensasie die musiekwêreld groot skade berokken.
    Dis bloot ten beste plagiaat en soms voel ek diefstal.
    Wat ons eie musiek ter plaatse betref is daar ook skimme. Ons is 'n nasie van 55 miljoen mense waarvan 4.5 miljoen wit en weer ietsie meer as die helfte hiervan Afrikaanssprekend (as huistaal) is. Dis om en by 5%.
    Vanwaar dan die hipotese van SA-musiek? Inderwaarheid is outentieke SA musiek die Township-genres, kwaito en ander sub-tipes. Inderwaarheid boks tradisionele Afrikaanse musiek ver bo sy eie gewig en kan nie as verteenwoordigend van SA Pty Ltd beskou word nie. Afrikaanse musiek is 'n klein onderdeel van ons potpourri van smake en lê seker vierde of vyfde op die groter publiek se trefferlys.
    En dan praat ek nie eers van die Afrikaanse platemaatskappye wat aanhou om swak 'baby chocolate' gemors aan die luisterpubliek op te dis nie. Dis 'n skande en ons jongmense val daarvoor. Hulle word groot met 'n verwronge idee van wat goeie musiek is en met hul koopkrag hou hulle hierdie sikofantiese platemakers in besigheid. Dis om van te huil!
    Hoed af vir outentieke ouens soos Kramer, Goosen ,Clegg en 'n paar ander. Maar gesien in die SA-konteks verteenwoordig hulle net 'n fraksie van musiekliefhebbers.

    • Hello Charl
      Ek stem so baie met jou saam. Dit is juis om die rede dat ek dink integrasie tussen musikante (met integriteit natuurlik) broodnodig is sodat ons mekaar en dan ook ons aanhangers aan ons onderskeie musiekstyle kan blootstel. Integrasie op die verhoog = integrasie in die gehoor. Dis al hoe ek sien dinge kan verander en ons SA musiek volwaardig kan begin verstaan en omarm.

  • Baie interessant en insiggewend. Ook angswekkend, en ek wonder of dit nie ook van toepassing is op die Afrikaanse uitgewersbedryf nie: " ... dat ons musiek (boeke) as't ware voorgeskryf word deur plate(uitgewers)maatskappye se voorafbepaalde idees van wat die massas wil hoor (lees) en wat in daardie raamwerk die meeste inkomste gaan genereer."

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top