Is ons musiek outentiek? (Deel 1)

  • 7

In gesprek met Luna Paige: Luna Paige gesels met Schalk van der Merwe, Anton Goosen, Amanda Strydom en David Kramer oor outentisiteit.

As ek aan Bruce Springsteen dink, dink ek Amerika. Ek dink Americana, folk-rock. Ek dink werkersklas. Hardwerkend. Outentiek.

Springsteen meen outentisiteit is ’n huis vol spieëls, bloot ’n refleksie van ons invloede en ons persoonlike geskiedenis.

Wat presies is outentisiteit? En is so iets werklik moontlik in ’n moderne era waar tegnologie en globalisme kunstenaars se persoonlike ervaringswêrelde handomkeer verander het? Kan ons werklik sê dat ons diverse plaaslike musiekbedryf ’n outentieke weergawe van homself is?

Ek moes by die HAT gaan draai:

ou͘-ten-tiek’: geloofwaardig, oorspronklik; onvervals
ou-ten-ti-si-teit’: egtheid, oorspronklikheid

Die algemene mening oor outentisiteit is dat dit ’n reis na selfverwesenliking insluit, dat dit ’n toestand vry van eksterne invloed is. Dat die kunstenaar skep vanaf ’n plek van eerlikheid en integriteit teenoor die self. Tog leef ons nie op eilande nie. Veral nie in ’n kapitalistiese samelewing nie. Hoe onbeïnvloedbaar kan ons werklik wees?

David Kramer

David Kramer stem ooreen met Springsteen. Volgens hom is outentisiteit ’n uitdrukking van waar jy vandaan kom, jou lewenservaringe en jou reaksie tot jou omgewing. Ek onthou ’n gesprek met Kramer by Kunstekaap waar hy genoem het hoe belangrik dit is dat jy as liedjieskrywer weet hoe die skoene lyk wat die mense oor wie jy sing. Jy moet weet hoe die skaduwees in hulle strate val. Die woorde het my bygebly. Want een ding is seker, wanneer David Kramer oor ’n karakter sing, kan ons hom voor ons sien, amper asof ons hom self ken. Ons weet waar hy vandaan kom.

Anton Goosen

Anton Goosen is een van ons land se meesters in liedjieskryf. Nes Kramer, het hy die vermoë om die alledaagse sensories te verpak – en die luisteraar in tyd, gevoel en plek te verplaas. Hy is ’n man wat sy mense ken. “A keen observer.” Volgens Anton voldoen ’n kunstenaar aan die definisie van outentisiteit indien hy/sy getrou is aan homself en solank pretensie en nabootsing uitgesluit is.

Amanda Strydom

In die klassieke wêreld word musiek dikwels as outentiek beskryf indien die werk en die komponis herkenbaar is. Ek gebruik die klassieke verwysing om een so herkenbare Suid-Afrikaanse kunstenaar uit te lig. Amanda Strydom. Sy het ’n internasionale genre haar eie gemaak, haar stempel afgedruk en seker gemaak dat die luisteraar binne die eerste paar akkoorde van enige van haar opnames, weet dit is sy wat sing. Volgens Strydom beteken outentiek vir haar iets anders as die gewone. Sy glo dit is juis die kunstenaars wat kies om nie die kudde te volg nie, maar hul eie koers wat outentiek is. Sy noem wel dat dit ’n smal, maar bevrydende weg is. Ons weet wel die pad kan smal wees. “My pa het dikwels Tretchikoff as voorbeeld gebruik. Hy het my dikwels gevra of ek in ’n wêreld van supply and demand ’n Van Gogh of ’n Tretchikoff wil wees. Een het geskep wat die massas wou hê en een het sy eie kop gevolg. Een kon kos op die tafel sit en erkenning in sy eie leeftyd geniet, terwyl die ander ’n arm man moes sterf. ’n Mens kan raai watter pad my pa graag wou hê ek moes stap. Daar was tye wat ek gewonder het of hy nie dalk ’n punt beet het nie.”

Schalk van der Merwe

Dan praat Schalk van der Merwe oor outentisiteit. Eers vra ek hom of hy dink outentisiteit is belangrik in kuns. “Ja”, antwoord hy. “En vir sukses?” glimlag ek. Sy antwoord is vir my snaaks: “Nie eers talent is nodig vir sukses nie!”

Soos Amanda ook tereg sê: “Daar is hordes kunstenaars wat baie suksesvol is (finansieel én wat gewildheid betref) wat glad nie outentiek is nie. Ek dink net dat oorspronklikheid, andersheid, varsheid, meer uitstaan teenoor die middelmatige.” Sy erken ook dat smaak verskil, dat daar plek is vir almal onder die son, dat sommige gehore daarvan hou om verras te word, terwyl ander die bekende verkies. “Dis seker ’n gevoelsding,” sê sy.

Dit laat my onmiddellik dink aan Denis Dutton (kunsfilosoof) se verskillende omskrywings van outentisiteit. Hy verwys na nominale en ekspressiewe outentisiteit, en na die outentisiteit van ervaring. Die eerste twee omskrywings sluit baie aan by dit wat David, Schalk, Amanda en Anton sê – dat die opregtheid en eerlikheid van ’n kunstenaar se uitdrukking noodsaaklik is en dat die kunstenaar se werk herkenbaar moet wees. Ek wil graag fokus op die laasgenoemde verwysing naamlik ‘ervaring’, want elke musikant het ’n luisteraar nodig.

Outentisiteit en gemeenskap gaan hand aan hand. Dit is belangrik dat die luisteraar die konteks van die kunstenaar se bedoelinge verstaan en dit kan tog soms gebeur dat die luisteraar nié belangrike aspekte van die werk verstaan nie. Dit kan ’n baie ongemaklike situasie wees, vir beide kunstenaar en gehoorlid. Dit is seker hiér waar kultuur ’n rol begin speel.

Op internasionale vlak kan ons verwys na musiekgenres soos blues en punk. Beide hierdie genres was spesifiek gekoppel aan ’n sekere tyd, plek, kultuurgroep en sosio-ekonomiese omstandighede. Hierdie musikante het musiek gemaak wat die essensie van sekere gemeenskappe se ervaringswêrelde vasgevang het. Dit was moeilik vir persone uit ander kultuur- en sosio-ekonomiese groepe om hierdie musiekstyle na te boots en outentiek te laat klink. 

Volgens Schalk het dit gegaan oor hoe hulle gespeel het, waar hulle vandaan gekom het en wat die agtergrond van die musiek was. Dit was hierdie elemente wat veroorsaak het dat die musiek met die wyer gemeenskap geresoneer het. Blues uit die onderdrukte swart Amerikaanse gemeenskappe. Punk uit die werkersklas in Brittanje – ’n kultuurgroep wat moeg was vir die onrealistiese glansryke beeld wat die glamrock groepe van die sewentigs uitgestraal het. Schalk noem dat die musiek nie altyd crowd pleasers was nie, teen die hoofstroom geswem het, maar iets van die tyd vasgevang het en ook tydloos was.

Rosa Keet

Op plaaslike vlak verwys Anton na ’n tyd toe baie ouer weergawes van die FAK-liedjies eintlik vertalings van Duitse (dink “O, Boereplaas”) en Amerikaanse (“Sarie Marais”) oorsprong was. David verwys ook na die tyd waarin Country en Western groot was in Suid-Afrika, ’n nabootsing van outentieke Amerikaanse musiek. Dit was volgens Goosen en Kramer eers tydens die Musiek en Liriek Beweging in Suid-Afrika (1979) dat oorspronklike liedjies uit eie bodem (in Afrikaans) gekom het. Waarom juis in 1979?

Anton skryf die beweging aan die inisiatief van Merwede van der Merwe, Rosa Keet en ’n paar ander toe. Die Musiek en Liriek Beweging was volgens Anton ’n doelbewuste beweging om die standaard van Afrikaanse musiek te verhoog. “In retrospek was dit soos ’n Rubicon wat oorgesteek is.” Die kernfokus was om substansiële lirieke te produseer.

Die inisiatief het begin as ’n vier-episode televisieprogram en was onder die regie van Merwede van der Merwe. Dit het kunstenaars soos Laurika Rauch, Des Lindberg, Sias Reinecke en Mynie Grove ingesluit. Anton het opgetree as musiek-adviseur. Merwede was ook verantwoordelik vir die eerste Afrikaanse musiekvideo’s in die laat sewentigs. Rosa Keet het die Musiek en Liriek konsep in ’n verhoogproduksie omskep en by die Markteater op die planke gebring. Die musiek was uiteenlopend en het getoonsette gedigte (soos bekend aan Laurika Rauch), Afrika-klanke, Clarabelle van Niekerk en Anton Goosen se werk ingesluit. Koos du Plessis was natuurlik een van die bekende liedjieskrywers uit dié beweging. Later het David Kramer en Amanda Strydom ook bygekom. Die publiek was reg daarvoor. Soos David ook genoem het, was dit ’n tyd waarin liedjieskrywers begin skryf het oor plaaslike onderwerpe, oor dinge wat hulle na aan die hart lê. Die benadering en die klank was meer local. En gehore het dit opgeraap.

Jannie du Toit

“Soos die Afrikaners maar is, moes ’n simposium gehou word om oor die beweging te gesels, en vandaar het die ‘luisterliedjie’ voortgespruit” (’n naam waarvan Anton nie vreeslik hou nie). Hy noem dat The Star daarna verwys het as New Wave Afrikaans. Dit is eers met die latere werke van Jannie du Toit, Anton Goosen en David Kramer wat sosiale kommentaar bygekom het. Anton noem dat die vier kunsrade op daardie stadium die beweging ondersteun het en menigte konserte gefinansier het. “Dit was ’n ontploffing van nuwe musiek, veel groter as wat die Voëlvry-beweging (sy naloper) was.” 

Die Musiek en Liriek Beweging het die weg gebaan vir alternatiewe kunstenaars soos Koos Kombuis, Kerkorrel en Bernoldus Niemand wat protesmusiek begin skryf het ten tye van die politieke ommeswaai in Suid-Afrika. David verwys ook na die fase, die Voëlvry-beweging as een wat liriekgewys verandering gebring het alhoewel hy voel die musikante nie op musikale vlak werklik iets nuut gelewer het nie. In 2007 reeds het hy sy misnoeë met die eksklusiwiteit van dié “alternatiewe” Afrikaanse rockmusiek in ’n LitNet-onderhoud met Andries Bezuidenhout, uitgespreek. Soos Andries Bezuidenhout dit stel in sy artikel – het die Voëlvry-beweging nie daarin geslaag om die “ander” te konsidereer nie. Fokus was meer op die politieke “self”, as op die groter geheel. 

Bernoldus Niemand

En vandag? Ek is van mening dat daar nie tans veel van ’n poging deur kunstenaars aangewend word om ons huidige tyd, plek en omstandighede in ons musiek vas te vang nie. Dit voel soms vir my asof, veral in die wit Afrikaanse gemeenskappe, soveel as moontlik gedoen word om “ongemaklike” onderwerpe te vermy. Ek het meer en meer begin soek na kunstenaars wat iets te sê het, wat nie net Europese en Amerikaanse musiektendense naboots nie. Die vraag is natuurlik of dit werklik nodig is om alewig iets te moet sê? Dan herinner ek myself aan die treffende stelling van David Kramer: “It is the artists’ responsibility. If you’re not an artist, it wouldn’t concern you.” Kan ons werklik met eerlikheid glo dat nou nié ’n tyd is om iets te sê nie? Amanda meen sy sal altyd oor sosiale kwessies skryf, maar probeer die balans tussen die meer gewigtige en ligter liedjies handhaaf wanneer sy ’n produksie saamstel. “Ons is ’n vuisvoos nasie. Dis tyd vir salf en pleisters.” Soos David ook erken: “… musiek vertolk verskeie rolle. Ons kry onder andere dansmusiek, polities gedrewe musiek, ontspannende musiek en soveel ander soorte. Nie alle musiek is liriekgedrewe en gemik om ’n individu aan die dink te sit nie. Dit is wel belangrik dat die musiek met dieselfde integriteit en eerlikheid geskep word.”

Bezuidenhout verwys wel in sy artikel na ’n paar musiekgroepe wat hul klank en stem gebruik het om iets oor ons huidige tyd, plek en ervaringe te weerspieël. Hy verwys in 2007 na Riku Lätti, die Melktert Kommissie en Fokofpolisiekar. Vir my staan Fokofpolisiekar uit. Ek het hul impak beleef. Dit het nie as sulks met my geresoneer nie, máár ek kon voel en sien hoe hul musiek en lirieke met die jeug geresoneer het, en dit was verfrissend om te sien dat ’n orkes ’n sekere demografie in Suid-Afrika so kon raak. Schalk van der Merwe skryf dit toe aan “… die dringendheid van die musiek, die intensie en die eerlikheid in hoe hulle hulself uitgedruk het. Jy weet hoe lyk en voel die jeug van Bellville …” Stilisties was die musiek nie uniek nie, maar dit was uniek in Afrikaans.

Fokofpolisiekar

Schalk lig ’n interessante onderwerp oor hedendaagse Afrikaanse musiek. Dit is vir my belangrik om dit te noem omrede ons hier oor gemeenskap praat, en ’n gemeenskap van musiekondersteuners het ons nodig. ’n Kritiese gemeenskap. ’n Gemeenskap wat kan onderskei tussen koring en kaf. ’n Gemeenskap wat ’n beweging kan dryf in ’n tyd waar verandering noodsaaklik is. Die régte soort verandering. Schalk raak dié onderwerp ook in sy boek aan – die konsep van gelokaliseerde kultuur teenoor internasionale kultuur. Volgens hom word die uniekheid van die individuele kultuur altyd onder druk geplaas deur die globale proses. Hy praat oor kulturele dedifferensiasie. In Suid-Afrikaanse konteks verwys hy na die alomteenwoordige vrees dat Afrikaans as taal gaan erodeer in ’n multi-kulturele Suid-Afrika en globaliserende wêreld. “Dit is ’n teer punt vir baie mense – die plek van die taal.” Ons weet dat daar ’n paar kunstenaars is wat juis hierdie vrees uitbuit en polariserende kuns kweek wat verdere politics of the self aanhits. “Soveel word vergewe in populêre Afrikaanse musiek, net omdat dit in Afrikaans is. Mense mis die punt en besef nie dat dié musiek uiteindelik skadelik is vir die kultuur nie,” meen van der Merwe. “Bygesê, daar is Afrikaanse kunstenaars wat ongelooflik is, maar is hulle altyd aan die serving end van openbare waardering? Soms. Maar nie altyd nie.”

Schalk meen die publiek moet meer krities begin luister – net soos hulle krities kies tussen drie produkte op die winkelrak. “Hoe meet jy die waarde van ’n musikale produk? En is jy so krities teenoor jou musiekkeuse soos jy is teenoor die produkte/ handelsmerke wat jy kies? Op dié stadium wil dit voorkom of ’n mooi melodie en ’n lekker beat aan die orde van die dag is.”

So waarna om dan te kyk, indien dan nie net na melodie en ritme nie? Van der Merwe meen dat mense resoneer met outentieke dinge. Dink maar aan Weskus-snoek, Velddrif-bokkoms, Boland-wyn. Hy verwys ook na die impak van Kramer se Karoo Kitaar Blues. “Dit het ’n diep ding in mense wakker gemaak.” Kramer beskryf hoe groot manne emosioneel geroer was deur die konsert. “It was roots music.” Onontkenbaar. “It brought out suppressed memories of growing up on a farm, of women raising them and never acknowledging these people who impacted their lives. The music created catharsis. The same happened with District 6. Authenticity is vital. Not faking it. Doing it because you honestly want to do it – regardless of the outcome.”

Wilna Snyman het op ’n slag in reaksie tot ’n musiekblyspel wat sy bygewoon het, gesê hoe verfrissend dit was in die “… see van middelmatigheid”. Die woorde het my bygebly. Die oorspronklike en die onoorspronklike sal altyd daar wees. Die gehoor sal altyd daar wees.

David sê ’n kunstenaar moet soek: “It is a quest. To find out who you are and what you want to become, where you are with your work and where you want to go with it. It is uncomfortable to get out of your comfort zone. It’s nice playing with your friends.”

Gehore moet begin waag. Moet ook begin soek tussen al die strome van klanke en beelde waarmee hulle elke dag gebombardeer word. Die gemeenskap moet weer honger raak vir kuns. Eerlike en opregte kuns.

Ek het doelbewus nie gepraat oor al die ander musiekstyle en -tendense in Suid-Afrika nie. Ons kom daarby uit in my opvolg-artikel. Ons tyd, ons plek, ons storie sluit daardie musikante, kunstenaars, style en tendense in. Dis tyd dat ons uit ons gemaksones klim. Dis tyd dat ons buite die kring begin speel. Idees uitruil. By mekaar leer. Ons storie vind. Ons stem vind. Ons Suid-Afrikaanse klank vind. Dit is tyd dat ons dit op óns manier begin doen.

Kom lees binnekort verder aan Deel 2, wanneer ek weer met David Kramer, Amanda Strydom, Schalk van der Merwe en Anton Goosen praat oor tegnologie, globalisme en multi-kulturele Suid-Afrika en die impak daarvan op musiek, en so ook ons plaaslike bedryf.


 

  David Kramer is ’n skrywer, vervaardiger, regisseur, liedjieskrywer en sanger. Hy het pas ’n CD getiteld Wakkerslaap vrygestel. Hy hanteer die regie van Laurinda Hofmeyr se nuutste projek Afrique Mon Désir (Afrika my Verlange) en werk aan ’n nuwe teaterstuk wat 2018 die lig sal sien.
 

Schalk van der Merwe is ’n bekende baskitaarspeler vir Delta Blue, Gerald Clark, Bed on Bricks en Karen Zoid. Hy doseer geskiedenis by die Universiteit van Stellenbosch. Na die voltooiing van sy PhD, het Schalk die boek On Record oor populêre Afrikaanse musiek en samelewing gepubliseer (2017).

Die uitgewers is African Sun Media.

  Anton Goosen is die Liedjieboer en radio-persoonlikheid. Hy het pas sy nuutste CD, Padkos, vrygestel.
 

Amanda Strydom is ’n liedjieskrywer en sangeres, dramaturg en aktrise wat spesialiseer in kabaret en televisie.

Aanhangers kan uitsien na haar musiekproduksie So onder deur die maan wat op 21 Desember by Oude Libertas te siene is.

 

Luna Paige is ’n liedjieskrywer, sangeres, vervaardiger en eienaar van Iluminar Productions.

Foto's: verskaf

Lees ook:

Is ons musiek outentiek? (Deel 2)

Luna Paige 
Musiek

"Baie voel dat ons Suid-Afrikaanse musiek nie werklik outentiek is nie en dat ons musiek as't ware voorgeskryf word deur platemaatskappye se voorafbepaalde idees van wat die massas wil hoor en wat in daardie raamwerk die meeste inkomste gaan genereer."

  • 7

Kommentaar

  • Maryna Pieterse

    'n Verfrissende en insiggewende artikel met verseker van ons beste oorspronklike musiekkunsternaars met wie die onderhoude gevoer was. Sien uit na Deel Twee.

  • Daar is NIKS nuuts onder die son nie. En wanneer dit by "outentiek Afrikaans" kom, nog minder. Die kunstenaars wat in die artikel genoem word, is volgens my mening derivate of "afgeleides" van die Dylans, die Cohens en Piafs. Hul bydrae tot Afrikaanse musiek is en was belangrik, maar om hul voor te hou as modelle van outentiekiteit is vergesog.

  • Etienne Viviers

    Skryf asseblief nog meer oor outentisiteit in jou opvolg-artikel. Dit is BAIE waardevolle inligting vir ons musikoloë wat navorsing doen. Daar is 'n massiewe diskoers oor outentisiteit en musiek wat alreeds bestaan, maar tot die beste van my wete het nog niemand daaroor in die konteks van Afrikaanse musiek geskryf nie. Jou idees is belangrik.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top