Ondersteuning van onderwysers aanlyn: ’n onderhoud

  • 0

Onderwysers het ook ondersteuning nodig. Maar hoe gemaak as hulle op afgeleë plekke bly, of nie binne die omgewings waar hulle werk daardie broodnodige ondersteuning ontvang nie? Hier is 'n oplossing.

Lees 'n gesprek van Estelle Kruger met Christa van Staden oor Van Staden se artikel: Aanlynleeromgewings: ’n Sleutel tot die deurlopende professionele ontwikkeling van onderwysers

Hierdie artikel is jou tweede een oor aanlynleeromgewings.[1] Baie geluk met jou Facebook-blad RSA Onderwysers[2] – dit blyk baie gewild te wees by onderwysers. Hoe het die proses van jou eie denke en ervaring verloop om hierby uit te kom?

Dankie, Estelle – die groep blyk inderdaad gewild te wees. Sedert die skryf van die artikel het die groep verder gegroei en daar was vanoggend (8 November 2017) 12 453 lede.

Die idee vir ’n aanlynleeromgewing het tydens my PhD-navorsing nesgeskop. Ek wou aanvanklik ’n praktykgemeenskap vir beginneronderwysers by my skool skep, maar dit was bykans onmoontlik om ’n plek en tyd daarvoor gereël te kry. ’n Aanlyn omgewing kon die hindernisse oorbrug, maar Facebook het nog nie ’n groepvormingsfunksie gehad nie. Ek het Ning gebruik en eerder ’n groep vakonderwysers as navorsingsgroep gebruik. Anders as wat ek verwag het, het die onderwysers geen ander persoon genooi om aan te sluit nie. Ning het te duur geword en verskeie van die funksies weggeneem. Nadat ek my PhD voltooi het, het ek ’n lisensie vir my eie sosialenetwerkdiens (Arend) gekoop sodat ek in beheer van die tegnologie kon wees.

Ongeveer 800 onderwysers het aangesluit, maar van hulle het versoek dat ek Arend in toepassingsformaat omskep omdat hulle nie rekenaars het nie. Toepassingsontwikkeling is duur, daarom het ek besluit om eers die water te toets en die groep RSA Onderwysers op Facebook geskep. Facebook-groepe bied egter beperkte funksies, omdat dit nie vir leer ontwerp is nie. Sodra ek genoeg geld gespaar het, gaan ek Arend in toepassingsformaat laat ontwikkel. Intussen gebruik ek lesse wat ek geleer het om Arend meer gebruiksvriendelik te maak.

Jy meld dat die staat vereis dat sodanige webtuistes vir Suid-Afrikaanse onderwysers geïntegreer moet word. Is jy bewus van enige (ander) sodanige pogings?

Ek is nie bewus van enige sosialenetwerkdiens wat doelbewus geskep is om die deurlopende professionele ontwikkeling van onderwysers te fasiliteer nie. Daar is wel ’n aantal Facebook-groepe. Ek is bewus van ’n besigheid wat onderwysergroepe sesweekliks byeen laat kom, maar ek is nie bewus van enige navorsing oor die sukses van die model nie. As mens na die gebruik van RSA Onderwysers kyk, is dit beslis onvoldoende om so min byeen te kom. Ek verkies ’n model waar mense probleme in die praktyk bespreek – waar en wanneer hulle daarvoor kans kry.

Dink jy die feit dat duisende onderwysers in afgeleë gebiede wat nie toegang het tot internet nie, deur hierdie soort vernuwing verder geïsoleer kan word?

Nee, baie onderwysers sluit juis aan omdat daar niemand in hulle omgewing is wat hulle kan help nie. Ek dink juis aanlynleeromgewings bied ’n manier om onderwysers in afgeleë gebiede te bereik en by die groter Suid-Afrikaanse onderwysergemeenskap te betrek. Tegnologie is geduldig, en berg artefakte van gesprekke, en dus hoef onderwysers nie die hele tyd aanlyn te wees om saam te leer nie. Sodra iemand raad, hulp of leiding vra, is daar bykans altyd meer as een persoon gereed staan wat kan help om ’n probleem in ’n gedeelde praktyk op te los. Ek geniet dit altyd om te sien hoe vinnig die golwende kolletjies begin omdat dit aandui dat iemand besig is om te antwoord ...

Veronderstel jy was die hoof van die onderwysdepartement se afdeling oor heleskoolontwikkeling – hoe sou jy te werk gaan om hierdie soort transformasie van leer en onderrig deur inligtings- en kommunikasietegnologie te ontwerp, implementeer en bestuur?

Dit is een pos waarvoor ek glad nie aansoek sal doen nie. Ek geniet dit om met mense te werk wat wil en nie om mense te verplig om iets te doen waarteen hulle die hele tyd skop nie.

Indien dit wel my taak word, sou ek Facebook-groepe gebruik om groepe vir skole te skep omdat dit goedkoop is en maklik is om te gebruik. Ek sou enkele mentors aanstel om leer te fasiliteer en ’n groep vir die mentors skep waar hulle weer by mekaar kan leer. So ’n transformasie kan bykans onmiddellik geskied, aangesien dit minimum finansiële insette vereis. Dit kan egter maksimum opbrengste lewer, omdat onderwysers aan aktiwiteite kan deelneem ongeag tyd- en plekverskille.

Jy meld dat die staat vereis dat genoegsame geleenthede voorsien moet word van aktiwiteite in erkende Afrikatale – is jy bewus van enige soortgelyke geleenthede wat aanlyn in genoemde tale geskep word? In ’n ideale wêreld: hoe sou jy daartoe kon bydra dat ook dít ontwikkel word?

 ’n Vinnige soektog op Facebook met die trefwoord onderwyser (in Afrikatale vertaal) het blaaie vir onderwysers opgelewer. Twee hiervan is:

Ek beskou blaaie nie as ’n doeltreffende metode om ’n leergemeenskap te bou nie. Plasings van bladeienaars geniet voorkeur en plasings van ander word in ’n kolom versteek. Ek moet byvoorbeeld gereeld gaan soek waar my plasings op blaaie gaan wegkruip het.

In ’n ideale wêreld sou ek groepe vir elke taalgroep skep en mentors aanstel om leer te fasiliteer. Die wêreld is egter nie ideaal nie, daarom bring ek tans onderwysers van enige taalgroep in RSA Onderwysers byeen. Dit sou wonderlik wees as Facebook die vertaalfunksie ook vir Afrikatale moontlik maak. Ons het die funksie gister getoets.

Etricia Looij Vd Merwe[3] (’n internasionale onderwyseres) het ’n boodskappie in ’n Europese taal getik. Reg onder die boodskap kan mens op sien vertaling kliek om die boodskap in die taalvoorkeur van jou Facebook-groep te lees.

Ons groep se taalvoorkeur is Afrikaans, dus kon ek die boodskappie in Afrikaans lees. Die vertaling is nog nie perfek nie, maar dit kan kommunikasie tussen onderwysers van verskillende taalgroepe verbeter.

Gideon,[4] ’n onderwyser van Barberton, het ’n boodskappie in ’n Afrikataal geskryf. Daar is egter geen skakel waarop gekliek kan word om die boodskap te vertaal nie.

Ons het dit self vertaal dat ons darem weet wat geskryf word. Dink net hoe sal onderwysers wat die tale aanbied saam kan leer as dit vertaal kon word.

Dit is duidelik dat jou Facebook-blad en jou navorsing daarop gerig is om onderwysers se innerlike motivering te verhoog en hulle (subtiel) op hul eie selfgerigte leer te laat fokus. Hoe maak jy nuwe (moontlike) deelnemers bewus van hierdie metaleer wat plaasvind?

Onderwysers neem nie deel as hulle aangeval word nie; dit veroorsaak eerder dat hulle groepe verlaat. Daarom maak ek onderwysers gereeld daarop bedag dat hulle sag met mekaar moet werk. Hierdie kultuur is reeds gevestig, maar dit is tog nodig om hierdie reël gereeld onder die onderwysers se aandag te bring omdat ’n gemiddeld van 1 000 nuwe lede per maand aansluit. Anders as wat mens sou verwag, is dit soms nodig om vir onderwysers te sê dat elkeen op sy eie mening geregtig is. En veral dat die persoon wat die plasing gemaak het, self sal besluit watter raad gevolg gaan word en watter nie. Dit het al gebeur dat ’n onderwyser die groep weens ’n opmerking verlaat. Dit is maklik om te sien, want die blou skakel is dan grys. Dan kontak ek die onderwyser maar, vra wat pla en nooi hom of haar om terug te kom. Die meeste kom terug.

Hoe sou jy die volgende terme kortliks (miskien in slegs omtrent 25 woorde) aan moontlik belangstellende (maar oningeligte) deelnemers verduidelik?

Digitale beskaafdheid

Die gebruik van beskaafde taal wanneer mens aanlyn aan gesprekke deelneem.

Genetwerkte leer

Die leer wat plaasvind wanneer jy iemand vra om jou te help as jy nie weet hoe om iets te doen nie en hy of sy bied kennis, inligting, raad, leiding, ondersteuning, ervaring of konkrete bronne aan om jou te help om die probleem op te los.

E-praktyknetwerke

’n Netwerk van verhoudings wat ontstaan wanneer iemand ’n vraag in ’n aanlynomgewing vra en ander met behulp van opmerkings en emotikons daarby betrokke raak.

Watter soort kritiek kry jy oor jou Facebook-blad? Hoe hanteer jy dit?

Aanvanklik het ek die volgende funksie gebruik om ongeveer 20 onderwysers by te voeg wat Facebook voorgestel het.

Indien die persoon die groep verlaat, kom sy of haar naam weer op. So gebeur dit toe dat ek ’n onderwyseres vir die tweede keer by die groep voeg. Sy het vir my ’n boodskap gestuur waarin sy my behoorlik die kop gewas het omdat sy nie belangstel om deel van die groep te wees nie.

Tot op datum het ek geen negatiewe kritiek van buite af gekry nie, selfs nie toe die groep oop was en almal kon lees waaroor ons gesels nie. Ek het wel onlangs tong-in-die-kies kommentaar gekry op ’n plasing waarin ek die onderwysers versoek het om hulle pos te redigeer om kru woorde te verwyder. ’n Onderwyser wou weet wat ek as kru taal bestempel, toe antwoord ek dat alle taal wat jy nie in ’n onderhoud sou gebruik nie, onvanpas is en dat dit woorde wat met die weer verband hou, insluit.

Die onderwysers self is die rede waarom ek hierdie vrywilligerstaak opgeneem het. Ek sien nie kans om self weer te gaan skoolhou nie. So bly ek deel van die stelsel. Ek kry gereeld boodskappe soortgelyk aan hierdie een op die muur: “Dankie Christa van Staden. Dit is vir my lekker om te 'luister' na almal se verskillende sienings en benaderings. So kan ons almal iets van mekaar leer. Jy doen uitstekende werk. Wel gedaan.”

Ek beskou dit nie as werk nie – ek leer elke dag saam met hulle. Ek het onlangs gevra waarom onderwysers van RSA Onderwysers hou en Stoffie van Dyk[5] het as volg geantwoord:

Sulke boodskappe maak dit die moeite werd om seker te maak dat onderwysers by mekaar kan leer.

Is daar enige nuwe idees oor navorsing op jou horison?

Ek is tans besig met ’n artikel oor hoe ’n groep afstandstudente ’n WhatsApp-groep gebruik het terwyl hulle e-portefeuljes saamgestel het. Dosente skop nogal teen WhatsApp omdat hulle nie hulle persoonlike inligting wil uitgee nie. Hierdie eenvoudige tegnologie het my werkslas verlig omdat ek leer in groepsverband kon fasiliteer.

Ek beplan om meer navorsing oor die gebruik van tegnologie in hoër onderwys te doen, veral om te verstaan hoe dit gebruik kan word om uitval- en druipsyfers te verlaag. Ek sou ook meer navorsing oor die gebruik van e-portefeuljes in afstandhoëronderwys wou doen.

Het jy enige praktiese raad vir onderwysers wat hierdie onderhoud en artikel lees oor hoe om deel van hierdie aanlynleeromgewing te raak?

Alle onderwysers wat Afrikaans magtig is, kan hier kliek om aan te sluit. Alhoewel ons in Afrikaans gesels, beantwoord ons ook navrae in Engels.

  • Raak betrokke. Jy kan aanvanklik emotikons gebruik om jou gevoelens uit te druk, maar dit is noodsaaklik dat onderwysers woorde gebruik om inligting, kennis, raad, leiding, ondersteuning en ervaring te deel om te help om probleme in ’n gedeelde praktyk op te los.
  • Vra gerus, daar is altyd iemand wat kan help.
  • As ’n vraag sensitief is, plaas ek dit met liefde namens jou.

Die groep is aanvanklik vir onderwysers geskep, maar ek aanvaar primêre opvoeders (ouers) wat met tuisonderrig besig is, dosente, verteenwoordigers van unies en veral onderwysstudente. Die studente gebruik die groep om met ervare onderwysers te gesels en word so deel van die onderwysergemeenskap nog voordat hulle die beroep betree.

Dit is wonderlik om deel van hierdie onderwysergemeenskap te wees. My hart gaan uit na onderwysers wat onder baie moeilike omstandighede hulle werk moet doen en steeds gereed staan om te help as ’n wildvreemde onderwyser raad vra. Soms kan ek maar net troos en ondersteun as ek ’n privaatboodskappie kry waarin ’n onderwyser vertel hoe sy of hy deur leerders, ouers, kollegas en selfs onderwyserleiers geboelie word.

[1] Die eerste artikel verskyn op http://www.litnet.co.za/ontleding-van-sosiogramme-metode-om-die-doeltreffendheid-van-genetwerkte-leer-n-skoolgebaseerde-wiskundevakgroep-te-ondersoek.

[2] https://www.facebook.com/groups/ArendPLG/?ref=group_header.

[3] Etricia het toestemming gegee dat ek die voorbeeld kan gebruik.

[4] Gideon het toestemming gegee dat ek die voorbeeld te gebruik.

[5] Stoffie het toestemming gegee dat ek die plasing as voorbeeld gebruik.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top