Onderhoud: Winelands, wealth and work: transformations in the Dwars River Valley, Stellenbosch

  • 0


Titel: Winelands, wealth and work: transformations in the Dwars River Valley, Stellenbosch

Samesteller: CS (Kees) van der Waal
Uitgewer: UKZN Press
ISBN: 9781869142605

Koop Winelands, wealth and work: transformations in the Dwars River Valley, Stellenbosch by kalahari.com

Die Suid-Afrikaanse wynlande is tegelykertyd skouspelagtig en skreiend, skatryk en brandarm. Kees van der Waal, samesteller van 'n studie omtrent die sosiale omstandighede van die Dwarsriver-vallei, vra hoe die mense van die omgewing – wynboer én plaaswerker – maniere vind om hulle daaglikse werklikhede te oorleef.

Naomi Meyer vra vir Van der Waal uit oor die boek Winelands, wealth and work: transformations in the Dwars River Valley, Stellenbosch (UKZN Press, 2014).

 

Foto: Nina Swart

Kees, waarom het jy die boek Transformations in the Dwars River Valley: Winelands, Wealth and Work saamgestel oor die wynlande, sy weelde en werk?

Naomi, dankie vir jou en LitNet se belangstelling in hierdie boek oor die lewe in ’n landelike deel van die Stellenbosch-munisipaliteit. Die boek was vir my die logiese eindpunt van ’n intellektuele reis saam met ander navorsers, van wie ’n hele aantal met ’n antropologiese of ’n verwante benadering werk. In 1986 het ek begin om gewone mense se ervaring van ’n landelike tuislandlewe, armoede, trekarbeid en ontwrigtende ontwikkelingsprojekte onder apartheid te bestudeer. Ek het egter in 2002 van Gauteng na Stellenbosch verhuis en moes my etnografiese werk in die Letaba-vallei van die Limpopo-provinsie noodgedwonge opskort. Ek het toe rondgesoek na ’n landelike gebied in die Wes-Kaap waar ek kon voortgaan om "van onder af" na transformasies in die samelewing te kyk. Landelike dorpies wat na die einde van slawerny rondom sendingkerke ontstaan het, het my aandag getrek. In 2003 het ek met navorsing in die Dwarsrivier-vallei begin, gerieflik naby aan Stellenbosch en duidelik ’n plek met groot transformasie-uitdagings. Boonop kon ek daar my veldwerk meesal in Afrikaans doen. Nagraadse studente het met verloop van tyd verskeie navorsingsprojekte daar aangepak met fondse wat die projek by die Nasionale Navorsing-Stigting ontvang het en ’n netwerk van gespreksgenote met ander navorsers wat op hul eie oor verwante tema’s in die gebied gewerk het, het geleidelik ontstaan. Teen 2008 was dit duidelik dat ons soveel studies oor die gebied gehad het dat dit tot ’n belangwekkende publikasie kon lei. Ons het oor ’n periode van vier jaar aan die samestelling van die boek gewerk, met die ondersteuning van die Universiteit van Stellenbosch.

Die omgewing waaroor die boek handel is baie spesifiek: dit handel oor die streek van die Dwarsrivier-vallei – vanaf die Helshoogtepas tot waar die vallei eindig teenaan die Bergrivier. Johannesdal is egter beswaarlik Johannesburg, of hoe? Wat maak van hierdie streek 'n soort mikrokosmos – of is dit eerder 'n unieke streek met unieke kwessies?

Dit is albei: die streek is ’n unieke omgewing met ’n kombinasie van grondeienaars se landgoedere en werkers se nedersettings wat hul herkomste en identifiserings koester en wie se geskiedenisse oor ’n periode van 330 jaar intiem verstrengel is. In die laaste paar dekades vind daar groot prosesse van verandering plaas wat soortgelyk is aan dié wat nasionaal en globaal sentraal staan in debatte oor sosiale verandering, ontwikkeling en ekonomiese transformasie. Na die einde van slawerny het Pniël teen 1840 as ’n kerk- en skooldorp vir vrygelate slawe tussen die wyn- en vrugteplase ontwikkel. Lanquedoc is teen 1902 as ’n plaaswerker-nedersetting gestig toe Cecil John Rhodes die vallei se plase, insluitend Boschendal, aangekoop en ’n florerende landbou-industrie gevestig het. Johannesdal en Kylemore is uitbreidings van Pniël. Na Rhodes, het die groot mynmaatskappye, De Beers en later Anglo American, die plase besit. Toe Anglo American sy sakeryk verskuif na London, het ’n swart-bemagtigingsgroep die plase aangekoop en die waarde daarvan omgesit in ’n realisering van die grondwaarde met ’n eksklusiewe eiendomsontwikkeling gerig op die elite-mark. Die feit dat die werkers uit hul huise en ’n hostel op die plase oorgeskuif is na ’n huisprojek op Lanquedoc het die beleggers goed gepas. Solms-Delta is nog ’n wynplaas in die gebied met ’n goeie museum wat die lang geskiedenis van slow violence uitbeeld. Die groot gaping tussen die reuse mynmaatskappye, grondbaronne en werkers kom baie duidelik in die vallei na vore. Die werkloosheid en agterstande word nou aangespreek deur ontwikkelingsprojekte van verskillende soorte wat belangrike, meer algemene, sosio-ekonomiese prosesse en benaderings na vore bring. Wat in die vallei gebeur is onder andere die prosesse van de-agrarianisation (landbou-vermindering), gedwonge verskuiwing, afsetting van plase af, vermindering van werksgeleenthede, nuwe vorme van paternalisme, verhoging van ongelykheid deur gentrification (nuwe eiendomsontwikkeling vir die rykes), die sosiale problematiek van verstedeliking van landbou-werkers en so aan. Om hierdie probleme aan te spreek het die grondeienaars ontwikkelingsprogramme in die vallei ontwerp wat egter nie al die probleme kan aanspreek nie en uitermate kwesbaar is weens hulle afhanklikheid van kapitaalwins.

 

Foto: Nina Swart

Die wynlande is mooi. Die toeriste spandeer tyd hierso. Hoekom die streek problematiseer?

Dit is wat sosiale wetenskaplikes doen: om verby die prentjie op die poskaart holisties na mense se ervaring te kyk. Dit is een ding om deur die gebied te ry en iewers ’n glas wyn te gaan drink. Dis iets anders as jy oor maande en jare mense se ervarings opteken en van naby af die sosiale prosesse probeer volg. Dan sien jy dat sommige mense baat by die veranderinge, ander hul sekuriteit van werk en behuising verloor en daarteen in opstand kom. Jy sien dat ongelykheid toeneem en dat ontwikkelingsprojekte wat van kapitaalwins afhanklik is nie volhoubaar is in tye van ekonomiese krisis nie. Die vrae wat na vore kom is: wat is spesifieke groepe in die vallei se posisie en ervaring van verandering? Hoe vind ruimtelike beplanning in die vallei plaas en wie se belange word daarmee gedien? Hoe reageer die inwoners op dit wat verpak word as "ontwikkeling" en wat is die kwessies wat mense hieroor verdeel? Hoe druk mense hulle gevoelens oor identiteit en sekuriteit uit in kollektiewe optrede? Wat gebeur as klasseverskille in die vallei na vore kom wanneer mense met verskillende agtergronde naby mekaar moet woon? Hoe kry hierdie prosesse gestalte in erfenis-monumente, verhale en sosiale strukture? Hoe pas mense aan by nuwe omstandighede en wat is die rol van sport, die bestryding van misdaad en ’n verskeidenheid van kerke in hierdie prosesse?

'n Deurlopende tema in hierdie boek is die tema van teenstrydighede en ambivalensie: skoonheid versus ellende, weelde versus armoede. Watter tema staan vir jou sentraal tot hierdie studie?

Vir my staan die kompleksiteit en ongelykheid van die ervaring van ontwikkeling baie sentraal. Die gevolge van groot ekonomiese veranderinge tref die armste mense die hardste. Die omstredenheid van groot planne wat beloftes van werkskepping en verbetering van lewensomstandighede inhou word duidelik met verloop van tyd. Die kernvraag is: watter soort ontwikkeling vind plaas in ’n landelike gebied, watter faktore dryf dit en wat is die gevolge daarvan? Wat is die rol van landbou en eiendomsontwikkeling daarin en maak dit voorsiening vir ’n holistiese benadering wat almal insluit? Die boek ondersoek hierdie vrae en kyk byvoorbeeld na die verskille tussen die ambisieuse Boschendal Sustainable Development Initiative en die meer kleinskalige en inklusiewe benadering op Solms-Delta.

 

Foto: Nina Swart

'n Digter soos Nathan Trantraal het al genoem dat hy besef die mense oor wie hy skryf (bewoners van die Bishop Lavis van sy jeug) nie die lesers is van sy gedigte nie. Vir wie is jou boek geskryf/saamgestel?

Die boek is gerig op die lesende publiek en daarom het ek ’n kopie aan die plaaslike biblioteek in die vallei gegee waar skoolkinders dikwels werkstukke oor hulle leefomgewing moet saamstel. Ek glo die boek is redelik toeganklik geskryf en dit is die lekker van etnografie dat dit daarna strewe om naby aan mense se ervaring te kom. Die hoofstuk van Lou-Marie Kruger oor die trauma’s wat vroue ervaar is eintlik ’n ongelooflike stuk letterkunde en die geskiedenis-hoofstuk van Tracey Randle sal enige leser met ’n interesse in die Kaapse geskiedenis aanspreek. Plaaslike inwoners van die vallei en die ontwikkelingsbeplanners gaan nie noodwendig met mekaar saamstem oor alles wat die boek na vore bring nie, maar dit is te verwagte. Die groot getal pragtige kleurfoto’s in die boek, wat Nina Swart geneem het, is kunswerke in eie reg en het ’n direkte visuele impak wat die skoonheid van die vallei uit ’n landskapsoogpunt (op afstand) relativeer aan mense se alledaagse ervaring van sosiale woonruimte, lae inkomste en maatskaplike problematiek (met die skerpte en direktheid van naby-opnames). Ja, die boek bied iets vir ’n groot verskeidenheid van lesers.

Elke streek in die wêreld bestaan uit 'n komplekse sisteem van mense. In hierdie boek word verwys nie net na die plaaswerker nie, maar ook na sy meisie of vrou, wat uitgelewer is aan swak mediese sorg en dalk die intieme gebeurtenis van 'n bevalling op byna onmenslike maniere moet beleef omdat daar nie geld is vir beter nie. Die middelklas-leser voel onafwendbaar moedeloos en of hy van hierdie omstandighede wil wegvlug. Is die enigste verdedigingsmeganisme nie maar om afgestomp te raak, soos in elk geval dikwels in die Suid-Afrikaanse samelewing gebeur, eerder as om betrokke te raak nie? Wat is die doel van die boek?

Naomi, die etnografiese weergawe van menslike ervaring in die Dwarsrivier-vallei beoog om insig by die leser te bewerk ten opsigte van die menslikheid, geskiedenis en strewe van die inwoners. Insig kan lei tot betrokkenheid. Neem byvoorbeeld die armste deel van die vallei, Die Gif, waar ’n groep plakkergesinne in ellendige omstandighede woon. Daardie mense het nie net probleme en ’n lae sosiale status nie, maar ook ’n waardigheid en ’n strewe na beter omstandighede. Elke keer wanneer ek die mense van Die Gif besoek, besef ek weer dat die ongelykheid van ons samelewing en die afsluiting van sosiale groeperings van mekaar van ons grootste probleme is. Ons kan dit waag om betrokke te raak en saam met mede-burgers die uitdagings van ons samelewing te aanvaar en met ons beperkte middele demokraties te beplan vir verbetering van omstandighede. Hoe kan ons mekaar se naastes wees, om dit Bybels te stel. Elkeen moet uit die aard van die saak besluit wat hy of sy in ’n situasie kan doen en voor kans sien. Die betrokkenheid van Solms-Delta by die werkers op die plaas is ’n verhaal van hoop: dit bou op klein suksesse en groei organies. Ek dink dat bewustheid van die sosio-ekonomiese realiteite kan lei tot kritiese bevraagtekening van alles wat nie mense se waardigheid en selfstandigheid bevorder nie. Dit is nie aanvaarbaar dat ons aan weerskante van die armoedelyn afgestomp raak van mekaar nie. ’n Mens kan betrokke raak by die uitdagings van armoede en ongelykheid tot die mate waarin dit moontlik is om waarde toe te voeg. Die voordeel daarvan is dat jy meer tuis voel in jou eie land. Die boek kan bydra tot insig wat kan lei tot betrokkenheid, maar dis ’n persoonlike keuse.

 

Foto: Nina Swart

Klein-Europa, hoor Kapenaars dikwels van die streek waaroor hierdie boek handel. Tog het die Marikana-stakings in 2012 tog dalk oorgespoel na die wynlande, of hoe sou jy dit beskryf? Is hier 'n verband?

Inderdaad is die ongelykheid in die vallei besonder hoog (dink bv aan die mense in Die Gif teenoor die grondeienaars van Boschendal en Solms-Delta). Histories: boere teenoor die slawe wat hulle besit het, later die arbeiders wat in koloniale en apartheidstye as onmondiges behandel is. Vandag nog is die verskille in onderwysvlakke, inkomste en status baie hoog in die vallei. Dit is verstaanbaar dat die ongelykhede omgesit kan word in arbeidsonrus. Die vallei was oor die algemeen redelik vreedsaam, maar verskillende konflikte en breuklyne het na vore gekom ten spyte van die idilliese voorkoms van die streek. Die mense van Pniël het in die vroeg-20ste eeu ’n hofstryd teen die NG Kerk gevoer ten einde groter selfstandigheid en seggenskap oor hul eie gebied te bekom. Sommige mense op die plase en in Lanquedoc wat ’n paar jaar gelede verontreg gevoel het weens die omstrede toewysing van huise, moes deur hofbevele uit hul huise gedwing word en protesoptogte na Boschendal was ’n illustrasie van die ontevredenheid oor afleggings en uitsluitings. Aangesien daar minder seisoensarbeiders van buite die vallei in diens geneem word, is die polarisasie tussen werkers en werkgewers minder skerp as op ander plekke, maar nog steeds is hierdie verhoudings potensieel ontvlambaar. Werkloosheid, minimumlone en die gehalte van munisipale dienste is moontlike bronne vir ontevredenheid. Verder is die verwagtings wat die Boschendal-ontwikkelingsprojekte geskep het iets wat bestuur moet word. Die 5% van die inkomste uit grondverkope wat vir ’n gemeenskapsfonds bedoel is, het nog nie gerealiseer nie. Tog is progressiewe idees en filantropie juis in hierdie vallei toegepas: in 1900 is die goeie arbeiderwonings wat deur Sir Herbert Baker rondom die idee van ’n garden city ontwerp is ’n goeie voorbeeld daarvan en op dieselfde manier is die ontwikkelingsprojekte van Solms-Delta ’n aanduiding van wat gedoen kan word om mense se omstandighede te verbeter.

Hoe verstaan jy die erflating van verlies (Tracey Randle) en die tydsame geweld van eeuelange armoede (Lou-Marié Kruger) in jou eie woorde?

Hierdie twee hoofstukke hou met mekaar verband, want die strukturele geweld van die verlede het ’n akkumulatiewe effek gehad en gaan vandag nog voort. Die erflating van verlies verwys na die koloniale en apartheidsgeskiedenis. Die Khoi wat in die vallei gewoon het, is deur koloniste ontneem van hulle reg tot die gebruik van die grond, terwyl slawe uit die Ooste en uit Afrika na die wyn- en koringplase gebring is om daar sonder waardigheid te werk en te sterf. Vrygelate slawe kon nog steeds geen grond besit nie en was saam met ander arbeiders afhanklik van die paternalisme van die kerk en grondeienaars. Swart werkers uit die Oos-Kaap is in ’n hostel sonder hulle gesinne as trekarbeiders gevestig en was soos die ander werkers uitgelewer aan die lae lone wat aan plaaswerkers betaal is. Byna tien jaar na die demokratisering van die land is die besluite oor die werkers se toekoms in Anglo American se kantore in Johannesburg geneem en is sommige gesinne onderwerp aan afsetting van die plase of uitsetting uit die huise wat hulle in protes beset het. Die siklus van armoede, swak onderwys en ontmagtiging het tot die verinnerliking van ’n lae sosiale status by sommige mense gelei en dit, weer, het bygedra tot drank- en dwelmafhanklikheid, misdaad en geweld teen vroue.

 

Foto: Nina Swart

Dis nie net die werkers wat swaarkry nie. Swaarkry lyk vir elkeen in sy omstandighede verskillend. 'n Skatryk wynboer kan geweldige verliese ly en moet omsien na die belange van baie geslagte plaaswerkers wat dalk nie almal meer kies om op sy plaas te werk nie, maar geen ander heenkome het nie. Is hier oplossings? Is oplossings die oogmerk?

Inderdaad, swaarkry is verskillend en gaan met mense se omstandighede gepaard. Absolute armoede en absolute weelde het elk sy eie dinamika. Grondeienaars en boere is baie lugtig vir grondeise en eise op die reg tot bewoning wat deur die wetgewing oor landelike toegang tot woonplek ondersteun word. Die oplossings is dalk nie so gewild nie, maar na geslagte van arbeiders se uitbuiting kan grondeienaars nou nie meer net hul verantwoordelikheid teenoor hul afhanklike werkers vermy nie. Dit was juis hierdie regte wat Anglo American en Solms Delta genoop het om behuising aan die werkers te voorsien. Die vraag is of ons mekaar as gelyke mede-burgers beskou en burgerskapregte aan almal ondersteun. ’n Ander aspek is die feit dat swaarkry op baie maniere na vore kom. Die Afrikanerboere wie se plase in die 1890s deur Rhodes uitgekoop is, het noodgedwonge ’n ander heenkome moet soek omdat hulle wingerde deur ’n plantpes vernietig is. Rhodes het nie eintlik lank van sy nuwe belegging kan geniet nie weens sy swak gesondheid. ’n Amerikaanse antropoloog, Crapanzano, het in die 1980s ’n etnografiese studie oor die blankes van Franschhoek gedoen en die boek veelseggend Waiting genoem. Dit verwoord die sielkundige depressie van blankes voor die oorgang na demokrasie. Onderdrukking en ongelykheid bring nie vreugde vir enigiemand nie. Selfs die bestaan agter elektriese heinings waaraan die nuwe elite-inkommers vandag noodgedwonge tydens die proses van gentrification onderworpe is, is nie ’n rede tot vreugde nie. Die oplossing lê in ’n groter betrokkenheid by mekaar, in verhoudings, soos die skrywer-filosoof Edouard Glissant dit gestel het met verwysing na die proses van kreolisering.

In Theo Kemp se boek Skool word die stremmende effek van godsdiens in skole aangeraak as mense eerder ander wil reg bid as om daadwerklike rehabiliteringsinstansies in te span om dwelmverslaafdes by te staan. In hierdie boek word die rol van die evangelistiese kerk bekyk. Maar moet die kerk net gekritiseer word vir sy houvas of word hier ook prysenswaardige werk gedoen deur 'n instansie wat immers iets probeer doen?

Kerke het almal ’n uitdaging om die dilemma van die verhouding tussen bid en werk (ora et labora) aan te spreek. Kerklede in die vallei baat op baie maniere by die kerkgesentreerde netwerke en die sosiale en religieuse krag van geloofsbande. In Pniël en Kylemore is die kerk fisies in die midde van elke geloofsgemeenskap te vinde, mense groepeer hulle woonwyke rondom hulle kerkgeboue en kerke organiseer selfs sportspanne. Kerkleiers neem die inisiatief ten opsigte van gemeenskapspolisiëring in die vallei. In baie gevalle is die kerk dus die kernidentiteit van die dorpsgemeenskappe en fasiliteer dit talle ander inisiatiewe. Soos elders is die probleem soms dat ’n kerklike organisasie so dominant is in die lewe van mense dat hulle eksklusief oor hulle kerk en sy grense dink.

 

Foto: Nina Swart

Solms-Delta en Boschendal word as gevallestudies uitgesonder. Waarom spesifiek hierdie wynplase?

Hierdie twee wynplase verteenwoordig twee kontrasterende benaderings tot ontwikkeling. Boschendal se program is groot, kapitaalintensief en kwesbaar weens onvoorspelbare swak beleggings wat die gevolg was van die ekonomiese krisis van 2008. Hierdie program het met die vermindering van werksgeleenthede en die verskuiwing van mense gepaard gegaan. Die fokus het van landbou na eiendomsontwikkeling geskuif en allerlei sosiale newe-effekte gehad wat nie voorsien was nie. Die kontras met Solms-Delta is gedeeltelik die skaal van die projekte. In Boschendal se geval is 3000 mense verskuif en die bestaande dorpies (’n totaal van ongeveer 12 000 mense) is almal potensieel bevoordeeldes van 5% van die wins wat uit die eiendomsverkope gemaak kan word. By Solms-Delta is daar nie meer as 200 arbeiders en hul afhanklikes nie en vind die projekte inkrementeel plaas met direkte positiewe gevolge. Hierdie projekte is minder van die mark en meer van filantropie afhanklik. Verder is die holistiese benadering van Solms-Delta met die klem op musiek, sport, onderwys en ander vorme van bemagtiging uniek in die land en ’n positiewe voorbeeld wat elders gevolg kan word.

Dink jy daar is enigiets wat gedoen kan word om toekomstige oproer in die wynlande te verhoed?

Uit die aard van die saak is gesprek, onderhandeling en deelnemende probleemoplossing die aangewese weg. As daar ’n bereidwilligheid is om almal se menswaardigheid en welwees te bevorder, kan die streek die leiding neem in Suid-Afrika se arbeidsverhoudinge soos wat reeds op heelwat van die progressiewe plase gebeur. Konfrontasie is nie onafwendbaar nie.

 

Foto: Nina Swart

Is dit oproer in die wynlande wat mense behoort te vrees, of is dit eerder iets anders? Wat behoort die strewe te wees – van elke mens in die streek?

Almal kan bydra om groter gelykheid en inklusiwiteit te bevorder. Almal kan die gevolge van geslagte se uitbuiting en ontmagtiging help aanspreek. Wat gevrees moet word is selfsug, ongenaakbaarheid, polarisasie, ’n hartelose houding teenoor medeburgers en die onwil om uit die geskiedenis van onderdrukking en ongelykheid te leer.

As hierdie boek 'n roman was, wie was die antagonis en wie die protagonis? Anders gestel: is dit voor die hand liggend wie die slagoffer is of is dit dalk elkeen wat die streek bewoon, binne sy konteks?

Die protagonis is elkeen wat iets doen aan sy of haar omstandighede en na ander mense uitreik. Dit sluit die arm vrou met haar sjebien in, asook die plaasbestuurder wat probleemoplossend in gesprek is met sy werkers, die eienaar wat sy rykdom aanwend tot voordeel van meer as sy eie gesin, die werker wat goeie werk lewer en die dominee wat geestelike leiding verskaf. Die antagonis is die persoon wat eie profyt en voordeel bo alles stel, wat onbetrokke, selfsugtig, materialisties en ongevoelig is oor die welwees van mense rondom hom of haar.

 

Foto: Nina Swart

Die titel van die boek is baie positief, maar het daar inderdaad inherent transformasie in die streek plaasgevind?

Die begrip transformasie is nie noodwendig positief nie, dit verwys in hierdie konteks na strukturele sosio-ekonomiese verandering. Die geskiedenis van die vallei dui daarop dat daar in elke generasie groot veranderinge plaasgevind het wat aanpassings geverg het. Die verskuiwing van landbou na eiendomsontwikkeling in die jongste tyd lewer miskien wel ’n geldelike wins vir ’n klein aantal eienaars en beleggers op, maar hou ook aansienlike nadele in vir die groot getalle mense wat oor generasies in die landbou betrokke was. Die akkumulasie van kapitaal deur ’n aantal eienaars kan in ’n bepaalde sin ’n transformasie wees, soos die skuif van winsbejag in die hande van ’n groot mynmaatskappy na ’n nuwe swart elite, maar dit spreek nog nie die behoeftes van duisende ander mense aan wat van landbou-gebaseerde lone afhanklik was nie. Daar is reeds enkele inisiatiewe wat die nadele van die groot ekonomiese transformasie (van landbou na eiendoms-ontwikkeling) versag. Die Boschendal Treasury Trust is besig om volhoubare projekte daar te stel, al het die verwagtings van groot strome geld en werksgeleenthede nie gerealiseer nie. Die projekte van Solms-Delta is ook ’n totale positiewe transformasie vir die individue wat daarby betrokke is. Die vraag is dus: watter soort transformasie is besig om plaas te vind? Wie baat en wie verloor? Hou die verskuiwing van wyn na luukse wonings vir almal positiewe gevolge in? Word nuwe en bestaande weelde gedeel of vererger dit die ongelykhede in die samelewing? Word nuwe werksgeleenthede geskep of word mense op nuwe maniere uitgebuit? Kan mense hulle potensiaal verwesenlik as gevolg van die transformasie wat plaasvind?

Die foto's in die boek beeld nie die gewone wingerde uit wat mens in toerismebrosjures vind nie. Waarom is hierdie foto's gekies?

Nina Swart se foto’s is professionele kunswerke wat aansluiting vind by die komplekse werklikhede wat in die teks aangespreek word. Haar foto’s en enkele ander is gekies weens die treffende illustrasie wat dit bied van die omstandighede in die vallei wat wissel tussen hoop en wanhoop. Die visuele trefkrag van hierdie illustrasies vertel die verhaal op sy eie manier, verby die oppervlakkige afstandelike en veilige soort foto’s wat ons nie vermoei met mense se direkte ervaring nie. Soms lê die waarde van die foto presies in die besonderhede wat dit uitlig: die eenvoudige wonings van die plakkers in Die Gif, die werker wat sy ou stukke draadheining by die voormalige hostel kom haal om sy beeste mee te kan toespan en die tekens van uitsluiting wat ’geen toegang’ uitspel deur ’n slot aan ’n hek te wys waar nuwe eiendoms-ontwikkeling landbou gaan vervang. Ander foto’s moet meer direk saam met die inhoud van die teks verstaan word, soos die monumente van Pniël en die uitbeelding van ’n beplande dorpie in die nuwe eiendoms-ontwikkeling.

 

Foto: Nina Swart

'n Saak het baie kante. Insgelyks, soos die vorige vraag oor die foto's: hoe is die onderafdelings van hierdie boek bepaal?

Ja, ons het basies twee groepe hoofstukke in die boek, voorafgegaan deur ’n inleiding en historiese oorsig en afgerond met ’n slothoofstuk. Die eerste groep hoofstukke handel oor die intervensies en transformasies wat in die vallei plaasvind, veral in die vorm van ruimtelike beplanning en ontwikkelingsprojekte. Die ander groep hoofstukke deel ’n fokus op die effek van die intervensies en hoe mense daarop reageer, onder andere die psigologiese uitwerking en verwerking van trauma, die benutting van ekonomiese geleenthede en die rol van charismatiese godsdiens in die aanpassing by nuwe omstandighede. Die slothoofstuk spreek die dilemma aan van die teenstelling tussen die beloftes van ontwikkeling en die negatiewe gevolge van uitsluiting en mislukking wat dikwels daarmee gepaard gaan.

Hoe affekteer hierdie studie/boek die res van die land, indien hoegenaamd?

Soos die vallei, is die hele Suid-Afrika in groot prosesse van sosio-ekonomiese transformasie betrokke met weinig duidelikheid oor die uiteinde van huidige prosesse en die politieke implikasies daarvan. Daar is oral vordering ná 1994 in terme van behuising, maatskaplike ondersteuning en dienste, maar die probleem van werkloosheid, spanning in arbeidsverhoudings en protes oor infrastruktuur is terselfdertyd algemeen in die land. Die uitdagings van werkskepping en onderwysverbetering is landwyd sleutelveranderlikes om die negatiewe gevolge van onderdrukking, onteiening, verdeeldheid en uitsluiting in terme van ras en kultuur aan te spreek. Groot ontwikkelingsdoelstellings en –planne is in plek, maar die globale kragte wat plaaslike vordering inhibeer is nasionaal en in die wynland dieselfde.

 

Foto: Nina Swart

Jy het vantevore in ander dele van die land gewoon en ook daar studies gedoen. Hoe het hierdie een vir jou verskil, of wat was dieselfde/raakpunte?

Ja, ek het vanaf 1986 tot 2013 ’n etnografiese studie oor transformasie in die voormalige Gazankulu-Bantustan in die Limpopo-provinsie gedoen en werk nou aan ’n boek wat die uitkomste van daardie langtermyn-navorsing saamvat. Die groot verskil met die wynland is dat die armoede en agterstande in Limpopo baie erger is en dat die voordele van onderwys vir ’n baie langer tyd in die kerkdorp Pniël beskikbaar was. In albei gebiede is daar werksverliese as gevolg van veranderinge in die landbou-produksieprosesse. In die aanpassings wat mense in albei gebiede maak by verslegtende ekonomiese omstandighede is die druk op geslagsverhoudings en generasie-verhoudings duideliker in Limpopo. Veranderinge in hierdie verhoudings is veral duidelik in gevalle van sosiale konflik. Die comrades in Limpopo het voorheen heksejagte teen bejaardes georganiseer, nou is dit jong werklose mans wat aan die kortste ent trek wanneer hulle as verdagte misdadigers in boendoehowe gestraf word. Ook in die wynland is daar ’n bewuste optrede teen verdagtes soos dwelmafhanklikes en kriminele deur buurtwagte en straatkomitees. In albei gebiede is die beloftes en die realiteit van ontwikkelings-intervensies dikwels in botsing met mekaar en lei dit tot verset deur die benadeeldes. Om die effek van strukturele verandering in die lewe van mense en hulle reaksie daarop te verstaan is my etnografiese werk in Limpopo sterk op die mikrovlak van die alledaagse lewe gerig. Ek dink dat die twee projekte albei gebaat het by my ervaring van wat twee redelik uiteenlopende omgewings is, maar wat terselfdertyd binne dieselfde groter nasionale strukture bestaan.

Toegerus met alles wat jy van hierdie streek (of dalk hierdie land) weet en heel persoonlik: waarom nog hier bly?

Sjoe, jou vrae laat ’n mens diep nadink. Hierdie vraag lei my in die eerste plek na die dieper kennis en hopelik insig wat hierdie studies vir my gebring het, afgesien van die akademiese vlak van kennis. Eksistensieel bring antropologiese navorsing ’n mens nader aan die sosiale realiteite van die land en sy inwoners. My kennis van die geskiedenis, van die mense waar ek as navorser soveel gasvryheid en warmte beleef het, en my eie ervaring, versterk my besef van verbondenheid met mede-Suid-Afrikaners. Ek besef dat ek bevoordeel is deur en deelgeneem het aan die politieke proses met al sy ingewikkelde teenstrydighede en nie onbetrokke kan bly nie. My rol kan wees om by te dra tot groter begrip van die sosiale prosesse in die land, veral soos dit uit die oogpunt van armer mense in terme van hoop en wanhoop beleef word. Ek dink nogal dat die kontraste in ons samelewing en die konfrontasie met die uitdagings in die land lei tot onvermydelike keuses en geestelik gesond kan wees as die uitdagings aanvaar word. Vir my, as ’n belydende Christen, beteken dit ’n voortdurende refleksie oor my plek in die samelewing en ’n stryd teen die neigings tot rassisme en uitsluiting wat in onsself en rondom ons bestaan. In makker omstandighede, elders, is die moontlikhede vir daardie soort geestelike groei net nie dieselfde nie. Konfrontasies met kontrasterende registers van menswees en verhoudings kan meehelp om bevrydend te dink en doen ten spyte van omstandighede en eie beperkings.

Alle foto's is in die Kylemore-omgewing deur Nina Swart geneem en ook deur haar aan LitNet verskaf. Sommige van die foto's verskyn in die boek. Ander verskyn nie in die boek nie, maar is visueel so kragtig dat gebruik daarvan by die onderhoud onafwendbaar was.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top