Onderhoud, program en inligting: kykNET Silwerskermfees 2015

  • 1

silwerskermfees15.650

Die kykNET Silwerskermfees vind vanjaar vanaf 26 tot 29 Augustus in Kaapstad plaas.

Wim Steyn, uitvoerende vervaardiger van IdeaCandy (en betrokke by die kykNET Silwerskermfees) en Ilza Roggeband, wat die medianavrae hanteer, beantwoord Naomi Meyer se vrae.

ilza600

Ilza Roggeband (foto: Naomi Bruwer)

Ilza, die kykNET Silwerskermfees is om die draai. Wat maak jou opgewonde van vanjaar se fees?

Wie kan nié opgewonde raak oor ‘n filmfees in Kampsbaai nie? Daar is soveel films waarna ek uitsien, dis amper moeilik om enigsins uit te sonder. Ek kan wel sê dat ek my bes gaan probeer om al 15 die nuwe kortfilms en die agt nuwe vollengtefilms op die fees te sien. Daar is ook ‘n paar van die bestaande films, veral die dokumentêre films, wat ek baie graag wil sien. Die kykNET Silwerskermfees is werklik ‘n Cannes-filmfees in die kleine.

Wim, ek herken op die vollengtefilm-program sekere titels wat al gespeel het, soos Ballade vir ‘n Enkeling en Treurgrond. Wat is nuut en wat is nie?

Daar is een deel van die program wat gewy word aan reeds bestaande werk. Hierdie films word ook ingeskryf en gaan ook deur ‘n keuringsproses en is, soos Ballade en Treurgrond, al voorheen gesien. Daar is egter baie nuwe werk. Onder die vollengtefilms is daar een dokumentêr wat sy wêreldpremière het – Boere op die Aardsdrempel – en dan sewe verdere vollengtefilms. Daar is ook 15 nuwe kortfilms.

Wim, die kortfilms is almal nuut en ons het baie jong talent in die land. Hoe is besluit watter films hier vertoon word vanjaar?

Daar was vanjaar net oor die 200 konsepinskrywings gewees en die keuring is deur verskeie keuringspanele behartig. Twee-en-twintig van die inskrywings is gekies om in ‘n teksontwikkelingsfase in te beweeg in samewerking met mentorspanne – Hanneke Schutte en Danie Bester in Johannesburg en Regardt van den Bergh en Louw Venter in Kaapstad. Daar is toe vir ses weke geskaaf en geskuur en toe is 15 gekies wat deur kykNET befonds is en onder leiding van die mentorspanne vervaardig is. Hierdie 15 kortfilms se premières is by die kykNET Silwerskermfees te sien en ook in Januarie op kykNET op kanaal 144.

wimsteyn600

Wim Steyn

Wim, kan enigiemand kom kyk of is dit net bedoel vir mense in die filmbedryf?

Die kykNET Silwerskermfees is oop vir almal, maar is geskep met die doel om die bedryf ‘n plek te gee om eerlik en openlik met mekaar te kan praat en werk aan eweknieë te wys. Ook om talent te ontdek en opwindende nuwe werk te sien.

Ilza, wat is die logistiek: Waar koop mens kaartjies? Kan mens net opdaag, en waar en wanneer is dit?

Die kykNET Silwerskermfees is van 26 tot 29 Augustus by The Bay Hotel in Kampsbaai. Kaartjies is beskikbaar by Ticketpro (www.ticketpro.co.za), maar mense moet vinnig spring. Daar is gerugte dat kaartjies reeds op die swartmark van hande verwissel ...

Besoek kyknet.dstv.com of www.facebook.com/silwerskermfees vir nog inligting.

Laai die program hier af.

 

 

 

  • 1

Kommentaar

  • Die Silwerskermfees gee suurstof aan ons Afrikanerwortels en ons jong talent is besig om te blom plaaslik en oor die waters. Dankie vir wonderlike stories en toegewyde kunstenaars wat ons stories lewend hou!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top