Onderhoud: Op ’n dag, ’n hond deur John Miles

  • 0

john-miles-onderhoud

Op 'n dag, 'n hond
John Miles
NB-Uitgewers
ISBN: 9780798174329

Skrywers oor hul nuwe boeke: John Miles gesels oor Op 'n dag, 'n hond.

Hallo John, baie geluk met die verskyning van Op ’n dag, ’n hond. In ’n onderhoud met Louise Viljoen sê jy dat dit ’n neutrale titel is. Maar tog, op ’n dag, is die hond daar. Het hy hom, op ’n dag, aan jou kom opdring as woordlose karakter? En wil jy dié hond beskryf?

In die roman is die handeling deurgaans op die voorgrond, tog is dit nie hoofsaak nie. Die wedervaringe van die onderwyser het deurentyd lewensbeskoulike implikasies. Die goeie leser sal verplig voel om die karakters se aksies en keuse van optrede te interpreteer. Die hond word ook weldra meer as ’n gewone hond: hy kry figuurlike kwaliteite en simboolwaarde. Maar met die keuse van ’n titel is hierdie figuurlike aspekte glad nie uitgesonder of saamgevat nie. Daarom het ek gepraat van ’n neutrale titel, neutraal in die sin van die hond as letterlike feit in die verhaal. Die leser sal self bepaal of hy dalk agent van die onderwyser se gewete word. Nee, aan my het geen hond hom ooit kom opdring nie.

In hierdie onderhoud gesels jy oor hoe die mens nie aan die eie self kan ontsnap nie. So ook die karakter aan homself. Selfs die boeke wat jou karakter in hierdie storie gelees het, is ook die boeke wat jy gelees het. Hoeveel van jou hoofkarakter in hierdie boek is jy – of watter aspekte stem ooreen?

Aan die begin het ek op ’n spesifieke karakter besluit as die sentrum van die roman. Oor die tydperk van enkele dae word dinge wat hom te beurt val, uitgebeeld. Ja, natuurlik is dit ek as skrywer wat hom hierdeur stuur. En dit is die skrywer wat telkens die patrone van herhaling uitsonder. Maar dit sou naïef wees om my met die onderwyser te vereenselwig. Ek het nooit in Namibië skoolgehou nie, het geen huis op Oubaai nie, geen vrou van my is vermoor nie en ek het, jammer genoeg, nooit ’n affaire met iemand in Bloemfontein gehad nie. Ens. Die onderwyser is as karakter veel meer voorbeeldig as wat ek as mens is.

Chris van der Merwe skryf jare gelede oor Kroniek uit ’n doofpot en hy verwys na “faction”.

Word niefiksie dalk meer fiktief wanneer dit neergeskryf word? En is Op ’n dag, ’n hond fiksie of faction?  

Ek ken daardie begrippe, maar sou dit hoegenaamd nie op hierdie roman van toepassing maak nie. Die gewetenskwessies (of gebrek daaraan) wat by die onderwyser opduik, vorm geen begeleide toer deur my eie lewe nie. Selfs al sou dit ’n haarfyne weergawe van my eie wedervaringe wees, so what? Lei so ’n feit ooit tot ’n beter ervaring, begrip en waardering van die roman? Maak dit die roman beter of swakker?

Betreffend die verloop van die drie dae, wat my herinner aan ’n soort Ghost of Christmas past, present and yet to come: Wil jy dalk iets sê oor hierdie drie tydperke in die boek, of in die lewe?

Daar is al soveel gesê oor liniêre tydsverloop. In die gesprek met Louise Viljoen het ek gepraat van die hede as die skeppende moment wat die verlede abba. Soveel dinge wat die onderwyser in die hede ervaar, word snellers na die verlede; voortdurend ontstaan assosiasies met insidente in die verlede; die hede word ten dele ’n herbelewenis. Die toekoms bly moontlikheid, ’n potensiaal. Natuurlik kan ’n mens dit ook anders stel.

Tog, nog iets oor die vorige vraag: die verlede is nie net gewig nie. Daar is ’n bol wol van eie geleefde tyd, iets wat losgetorring kan word. Maar al die los drade dan?

Dit ignoreer jy gerieflik.

Die storie van Op ’n dag, ’n hond: Is dit ’n ondersoek na wie die oudonderwyser se vrou vermoor het? Of handel dit oor ’n hond se oordeel, ’n ondersoek na moraliteit?

Nee, dis geen misdaadverhaal nie. Die identiteit van die moordenaar is bekend en hy kry sy verdiende loon! Ja, dis ’n uitbeelding van ’n lewensbeskouing: die onderwyser probeer ’n goeie stoïsyn wees. Terselfdertyd is dit ’n proses waarin daar verantwoording gedoen word en daar speel die hond ’n leidende rol.

Vertel my wat jy dink van kans en toeval, en die lewe se verloop. Wat is die mens se verantwoordelikheid, indien enige?

Mense wat hulle lewens sien as die uitspeel van ’n voorafbepaalde plan het die voordeel van terugkyk. Toeval word in hierdie roman in so ’n mate beklemtoon dat ’n mens kan praat van ’n roman van die toeval. Maar hoe toevallig sake ook al verloop, bly die onderwyser verantwoordelik vir sy dade. Skrywers soos Camus het hierdie ironie voortreflik uitgewys: die lewe is nie jou skuld nie, maar jy bly moreel verantwoordelik.

Die hond is ’n Afrikaanse hond, wat ironies genoeg nie reageer op die naam Bluf of uitgespreek "blaf" nie. Maar blaf is tog ’n werkwoord in Afrikaans? Ieder geval, hy blaf nie op bevel nie. Hoe belangrik is naamgewing vir jou – vir honde, vir mense, vir plekke?

Die hond reageer as sy naam uitgespreek word soos hy dit geleer is. Die Engelse uitspraak van bluf is vir hom onbekend, daarom reageer hy nie daarop nie. Name ontkom nie aan die werkinge van toeval nie. Ek gaan nie met name om as ’n simboliese netwerk nie.

Is jy ’n hondeliefhebber? Hou van diere in die algemeen? Wat van katte?

Ek het respek vir alle diere – hulle is medereisigers.

Die slot, die Sisyphus-beeld: jy vertel dat dit nie vir jou net ’n negatiewe beeld is om die klip dag na dag teen die heuwel op te rol nie. Hoe dan so?

Die assosiasie met Sisyphus se “straf” is ’n moontlike assosiasie, ’n interpretasie wat ek as skrywer in ’n onderhoud genoem het. Dit word nie eksplisiet in die roman vermeld nie. Ek het dit geopper omdat die slot moontlik ’n element van herhaling inhou. En dis hoegenaamd nie negatief nie.

Bekendstelling: Onderhoud met Louise Viljoen

  • Foto van John Miles: Naomi Bruwer
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top