Onderhoud met Ingrid Glorie: Deelnemers van Week van de Afrikaanse roman 2017 bekend

  • 0

5Die name van die Afrikaanse skrywers wat in September en Oktober op ’n literêre avontuur deur die Lae Lande gaan, is bekend. Naomi Meyer gesels met Ingrid Glorie, koördineerder van die derde Week van de Afrikaanse roman.

Hallo Ingrid! Ek hoor die derde Week van de Afrikaanse roman word gehou van 29 September tot 8 Oktober 2017. Ek dog die Week is ’n tweejaarlikse gebeure. Die laaste een het in 2016 plaasgevind. Hoekom so gou al weer ’n nuwe ronde?

Hallo Naomi, lekker om met jou te gesels! Jy is reg. In beginsel is daar elke twee jaar ’n Week van de Afrikaanse roman. Ons het begin in 2014 en ons het verlede jaar, in 2016, die tweede edisie beleef. So mens sou dink die derde Week moet dan in 2018 plaasvind… Maar in 2016 het ons in Nederland ook die terugkeer van die Festival van het Afrikaans gesien, nou onder ’n nuwe naam: die Afrikaanse Kultuurfees Amsterdam (AKA). So skielik was daar toe twéé groot byeenkomste rondom Afrikaans in die Lae Lande. Dit was wonderlik, maar dis jammer om in een jaar twee feeste te hê en dan die volgende jaar niks nie. En natuurlik was dit ook ’n dubbele belasting vir ons borge. So nou het ons besluit om in 2017 weer ’n Week te organiseer. Van dan af sal dit telkens in die onewe jare gehou word (2017, 2019 …) en die AKA in die ewe jare (2018, 2020 …). Dis kort dag om weer ’n volledige Week van de Afrikaanse roman te organiseer, en ons is dan ook versigtig in ons ambisies. Maar ons het vandat ons in 2014 begin het, heelwat ondervinding opgedoen en ’n lekker netwerk opgebou. Ons hoop ons partnerorganisasies in Nederland en Vlaandere, ons borge én die gehore sal ons by hierdie vinnige stap ondersteun.

En nou … Moenie ons verder in spanning laat nie! Ek hoor die deelnemers van die Week van de Afrikaanse roman 2017 is bekend?

ingrid-winterbach-brenda-veldtman

Ingrid Winterbach (Foto: Brenda Veldtman)

Hulle is! Die skrywers wat gaan deelneem, is Willem Anker, Amy Jephta, Rudie van Rensburg en Ingrid Winterbach. Dan kom ook Suzie Matlhola van die ATKV se Afrikaans-in-Soweto-projek saam. En niemand minder nie as Andries Bezuidenhout gaan ons feeskunstenaar wees! Dit is gedugte skrywers, sprekers en kunstenaars. Wat die groep vir my nog meer interessant maak, is dat daar ’n hele paar dubbeltalente by is. Dit beteken ons kan verbindinge lê met die wêreld van die musiek, die teater, die beeldende kuns én die akademie. Vir die Week om suksesvol te wees, gaan dit ook nie net om optredes voor ’n so groot moontlike gehoor nie. Die kontakte wat die skrywers opdoen, die uitwisseling met Nederlandse en Vlaamse kollegas en die blootstelling aan alles wat Nederland en België op kulturele vlak te biede het, is net so belangrik. Ek kan nie wag om te sien waartoe dit alles gaan lei nie!

Is daar al iets bekend oor die invulling van die program?

amy-jeptha

Amy Jephta

Nee, nog niks definitiefs nie. Ons gee onsself twee maande om die program saam te stel. Met die Week van de Afrikaanse roman werk dit mos so dat ons eers die skrywers nooi en dat ons vervolgens plaaslike organisasies vra om ’n byeenkoms met die skrywers te organiseer. Verlede jaar het ons byvoorbeeld saamgewerk met die Universiteit van Amsterdam, die Letterkundige Museum in Den Haag en Vlaams-Nederlands Cultuurhuis deBuren in Brussel. Dit is waar dat ons ’n groot deel van die fondse vir die reis- en verblyfkoste van die skrywers van Suid-Afrikaanse borge kry. Maar die plaaslike vennote in Nederland en Vlaandere gee vir ons ’n saal, publisiteit, ’n redaksie, ’n moderator, lig en klank … Eenvoudig álles wat nodig is om ’n byeenkoms prakties moontlik te maak. Dit is ’n “skenking” wat al gou ’n paar duisend euro werd is.

Wat nuut is, is dat die skrywers tot dusver altyd net in Amsterdam tuisgegaan het. Ook wanneer ons in België opgetree het, het ons laataand nog vanuit Leuven of Brussel teruggery Amsterdam toe. Om op een vaste plek te bly, het ’n sekere rus in die warrelwindprogram gegee. Maar die lang afstande was natuurlik ook uitputtend. Hierdie jaar, vir die eerste keer, begin ons in Nederland en trek ons halfpad deur die Week België toe. Ek dink dis ’n goeie manier om te wys dat Nederland en Vlaandere ’n gelykwaardige aandeel in die Week het.

suzie-mathlola

Suzie Matlhola

Ek merk op jy praat van “ons”. Ek onthou jy het die Week in 2014 byna stoksielalleen begin. Wie is hierdie “ons” van wie jy praat?

andries-bezuidenhout-zw

Andries Bezuidenhout

Bly jy vra! Ná daardie eerste edisie in 2014 het al hoe meer mense in die Week begin glo. Karen Vegt, wat vroeër by Sasnev in Pinelands gewerk het, was van die begin af betrokke as IT-deskundige. Jente Rhebergen, wat al ’n hele paar keer vir studies in Suid-Afrika was en wat die mooiste Afrikaans praat, het in 2014 gehelp met vervoer en sy het van toe af ontwikkel as my regterhand vir die Nederlandse deel van die Week. Van hierdie jaar af gaan Laura Engels, student aan die Universiteit Gent, my werk as koördineerder in Vlaandere oorneem. En dan kom Marisa Botha, ’n letterkundige van NMMU (PE) wat vir twee jaar in Amsterdam gevestig is, ook by. Dit is die “harde kern”. Verder is daar mense op wie se kennis en ondervinding ons enige tyd kan staat maak, soos Ingrid Scholtz van Stichting Afrinetwerk, Corinne Vuijk van Mozaïek Uitgewers en Frank Judo van die Vlaams Zuid-Afrikaanse Cultuurstichting. En daar is nóg. Verder is daar troue vrywilligers soos Maurice Jorissen en Elize Zorgman, wat help met logistiek en “hand-en-spandiensten”. Ons is niks sonder hulle nie!

Ek kom agter dis vir party mense moeilik om te verstaan die Week behoort nie aan een spesifieke organisasie nie. Ek het al gelees mense dink die Week is ’n projek van dese of gene universiteit of van ’n ander kulturele instelling. Maar dis nie waar nie. Die Week behoort ook nie aan een land of een stad nie. Soos dinge nou staan, is ons maar net ’n klompie vrywilligers wat bereid is om ’n groot deel van ons tyd in hierdie projek in te sit. Die feit dat ons onafhanklik is, stel ons in staat om met énige uitgewer, universiteit, boekwinkel, teater of biblioteek saam te werk.

Vir my is die uitbreiding van die span natuurlik ’n groot verligting. Nou het die Week ’n kans om ook in die toekoms te oorleef. Dis ook gesond om van verskillende kante insette te kry. Ek verwag daar sal, in die manier waarop die Week georganiseer word, al hoe meer ruimte kom vir kreatiwiteit en verdieping.

Klik hier vir meer inligting oor die Week van de Afrikaanse roman.

  • Foto's: verskaf
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top