Onder die makadamiabome: V&A met Einstein-kompetisie-wenner Theunis Smit

  • 0

theuniswenner650

Theunis Smit, ’n doktorsgraadstudent in plantproduksie en grondkunde aan die Universiteit van Pretoria, het die derde prys in die Einstein-kompetisie verower. Naas sy studies, is hy ook ’n tegniese adviseur vir makadamiaboere in die Laeveld en in KwaZulu-Natal, wat hom die geleentheid bied om navorsing te doen wat werklik tot landbou bydra – en nie net daarop gemik is om in ’n mooi gedrukte proefskrif op sy ma se koffietafel te sit nie. Sy inskrywing lui:

theunis_weninskrywingDie projekbestuurder van die kompetisie, Imke van Heerden, het hom oor hierdie navorsingsprojek uitgevra. 

Theunis, wat is die mees fassinerende aspek van jou projek, en was daar enige bevindinge wat jou verras het?

My huidige navorsingsprojek, wat fokus op die waterverbruik van makadamias, is ongelooflik fassinerend. Wat dit so fassinerend maak, is die feit dat dié tipe werk nog nooit vantevore op makadamias gedoen is nie en elke brokkie inligting daarom is iets om oor huis toe te skryf.

As deel van my navorsing het ek vier makadamiabome met naalde en termometers toegerus. Om die toerusting in die bome te kry moes ek ’n baie dun boorpunt gebruik om gate in die bome te maak. Die naalde en termometers is toe in die gaatjies geplaas om sodoende sapvloeilesings te kan neem. Ek het baie goeie lesings gekry, maar een van die vier bome het elke keer al die naalde en termometers uit sy stam uit gedruk. Dit was vir my metafories oor hoe ’n mens altyd daarna moet streef om nie soos almal rondom jou te wees nie.

Watter gereedskap is altyd in ’n grondkundige se rugsak?

Water en sonbrandroom is tien teen een van die belangrikste komponente van ’n grondkundige se rugsak. Wat gereedskap betref, is ’n graaf, ’n emmer, bruin papiersakkies en natuurlik ’n selfoon met ’n goeie kamera van die belangrikstes.

theunisonderhoudcollage1
Hoekom het jy besluit om jou studie aan Tukkies se Departement van Plant- en Grondkunde te voltooi?

Die Universiteit van Pretoria, en spesifiek die Departement van Plant- en Grondkunde, is steeds een van die top landbou-instellings in Suid-Afrika. Die departement het ook ’n jare lange verhouding met die Waternavorsingskommissie (WNK) wat die meeste van die befondsing vir ons projekte verskaf. As gevolg van die voortdurende ondersteuning van die WNK het die departement al van die land se beste waterspesialiste opgelewer. Siende dat ek self eendag ’n kenner op dié gebied wil wees, kan ek net daarby baat om deel van so ’n waternavorsingspan te wees.  

Wat wil jy doen nadat jou studie afgehandel is?

Ek dink nie dat my navorsing regtig ooit ’n einde sal hê nie. Sodra ’n mens begin ondersoek instel, begin jy besef dat daar te veel onbeantwoorde vrae is. Ek sal graag steeds vir my huidige werkgewer (Mayo Macs) wil werk en gebruik maak van dié platform om boere by te staan in die moeilike tye wat voorlê.

Wat sou jy graag eendag wou bereik?

Ek wil graag gesien word as ’n wêreldkenner op die gebied van watergebruik en -besparing. Ek sal ook graag my eie besigheid wil begin, moontlik ’n kwekery of iets soortgelyk.

Het jy dalk raad vir skoliere wat dit oorweeg om jou studierigting in te slaan, en watter aanlegte bevoordeel mens in hierdie studieveld?

Wanneer jy inskryf vir ’n landbougraad, moet jy maar weet dat iemand vir jou gaan vra of jy eendag wil gaan boer en of jou pa ’n plaas het. Alhoewel ek ’n groot liefde vir landbou het en nie sal omgee om ’n plaas te hê nie, is die studierigting baie meer navorsinggeoriënteerd as wat die meeste mense besef. Die landboubedryf het baie nuwe bloed nodig en die vraag na jong navorsers, veral wat Afrikaanssprekend is, is baie hoog.

Ek glo nie dat enige spesifieke aanlegte nodig is nie, behalwe dat jy ’n nuuskierige individu moet wees. Jy moet ook passievol daaroor wees om ’n verskil te wil maak in die volhoubaarheid van skaars natuurlike hulpbronne.

theunisonderhoudcollage2
Wat dink jy is die belang van wetenskaplike navorsing op jou spesifieke gebied asook die uitbou van Afrikaans as wetenskapstaal?

Navorsing in Suid-Afrika is van kritieke belang! Die makadamiabedryf groei eksponensieel, wat tot gevolg gehad het dat Suid-Afrika die grootste makadamiaprodusent van 2014 en 2015 was. Die probleem is dat alhoewel ons baie trots is hierop, ons baie min van die gewas weet. Die hoeveelheid geld wat aan navorsing spandeer word, is ook nie genoeg om al die vrae wat ons het te beantwoord nie. Navorsing in die geheel het verskeie uitdagings wat ons nie gou gaan oorkom nie, en kommunikasie van navorsingsresultate aan die publiek is een van die grootste uitdagings. Wanneer hierdie resultate dan aan iemand in sy moedertaal oorgedra word, begryp hy werklik en kan hy dit dan in sy besigheid, hetsy boerdery of andersins, toepas.

Hoekom het jy vir die Einstein-kompetisie ingeskryf?

Ek was nie van plan om vir die kompetisie in te skryf nie, aangesien die meeste van my navorsing in Engels gedoen word. My verloofde sê egter gereeld vir my dat ek verengels het en het my daarom uitgedaag om my staal in Afrikaans te wys.

Ek het die kompetisie baie geniet en was verbaas deur al die kreatiewe opsommings wat studente ingestuur het. Dit het talle navorsers ook die geleentheid gebied om ’n bietjie kreatief te wees, aangesien hulle soms as bleeksiele kan voorkom.

Laastens, hoe voel dit om ‘n wenner te wees?

Dit sal ek eers vir julle kan beantwoord wanneer ek my PhD-proefskrif ingedien het.

Lees ook:

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top