Onbedoelde poësie: Bernard Odendaal se Onbedoelde land

  • 0

Onbedoelde land van Bernard Odendaal is ’n lywige bundel en bevat 64 gedigte, byeengebring in vier onderafdelings wat 102 bladsye beslaan. Die eerste afdeling dra die titel “Harmonie, distrik Bloemfontein” en bevat nostalgiese verse oor die digter se jeug op ’n kleinhoewe. Hierdie verse behoort tot wat tans duidelik in Afrikaans “verliesliteratuur” genoem kan word. Die Afrikaner se verlies aan politieke mag het hom in die onsekerheid gedompel: oor die moontlikheid van sy bestaan in die hede in die Nuwe Suid-Afrika en op sy voortbestaan in die toekoms as deel van die veranderde samelewing waarvan hy ’n klein onderdeel geword het. Dit is die aanleiding tot die kwelvraag of hy slegs tydelik ’n land bewoon en bewerk het wat nooit werklik syne was nie. Soos die titel te kenne gee, is dit die deurlopende tema in Odendaal se bundel.

Die titel van die eerste gedig is ook die titel van die eerste afdeling: “Harmonie, distrik Bloemfontein”. Daarin roep die digter met die noem van plaasname soos Stillewoning, Uitkyk en Vergesog die eertydse harmonieuse bestaan op die kleinhoewe op. Die opnoem van die plaasname is ’n opvallende reminissensie aan Peter Blum se “Aftelrympie” met sy ironiese inslag, waar die plaasname – Kleinbegin, L’Avenier, Vyandsvlei, Skoongesig, Rusmysiel, Vredendal – in koeplet na koeplet geïroniseer word en op dié wyse die ondergrawing van die plaas suggereer en mits dien van die boer/Boer (dws die Afrikaner) wat sinds jare her geïdentifiseer is met sy plaas. (Hy was baas van sy plaas en heer van sy hoewe.) In die aanvangsgedig verskuif die klem na die oorlede vader, en die eerste afdeling is dan ook van vers tot vers ’n huldiging van die pa en van manlikheid as sodanig.

Die herinneringe wat Odendaal oproep, is aan ’n gewone gesin met ’n gewone leefwyse. Die Sotho-werkers is deel van die milieu wat hy herskep. Na die oorkoepelende inleidingsvers kry ons agtereenvolgens die evokasie van die melkery op die kleinhoewe (“Feite soos Pa se koeie”), die pluk van groente (“Pa se groente”) en die gesellige verkeer van die gesin (“Een lenteaand op die grasperk”). In “Feite soos koeie” (’n lastig-opsetlike titel nav die idioom ’n feit soos ’n koei) word die koeie beskryf soos wat hulle kraal toe kom. Die tweede strofe begin met die treffende reëls: “Later tongklap, troetelfluit ntate Pule Metsing/ hul die skemer melkstal binne …” In al die strofes word op Bontlies gefokus wat in strofe 3 liefdevol gemelk word deur ntate Pule met sy “kop teen haar flank”, en die gedig eindig op die skokmededeling van die pa wat in die staldeur verskyn en aankondig dat Bontlies die volgende dag geslag word “saam met ’n voervark”.

Hierdie gedig, wat een van die mees geslaagdes in die eerste afdeling is, lê ook die swakhede van die bundel bloot. Die verse neig deurgaans om bewerend en beskrywend te wees deurdat die digter se woordkeuse nie daarop gerig is om die betekenisnuanses van woorde te aktiveer deur nie net te beweer nie, maar ook veral te impliseer. ’n Gedig bereik sy effek deur dinge met ’n ompad te sê. Sekere poëtiese vormingewingsmiddele staan tot beskikking van die digter om indirek meer te sê as wat die woorde direk beweer: die metafoor, die simbool, die literêre verwysing, ’n inherente spanning wat geskep en opgelos word. Die groot tekortkoming in Odendaal se poësie is dat hy – of sy ek-spreker – direk aan die woord kom en sy gevoelens, gedagtes, oortuiginge en dies meer sonder omhaal uitspreek.

Die taal bly star, betogend, onsubtiel. Die digter wend wel pogings aan om poëtiese krag aan sy woordgebruik te verleen. Dit doen hy veral deur die skep van ongewone werkwoorde, meesal deur ’n bekende woord in ’n ongewone werkwoordelike funksie te gebruik of ’n bekende werkwoord in ongewone verband. Die eerste keer slaag dit met tongklap en troetelfluit, maar dit word baie gou ’n hinderlike maniërisme. Ons kry ’n opstapeling in “Een lenteaand op die grasperk” as broer Pieta ’n biertjie oop-“tjirts”, die sterre “poustert” en die volmaan almal “aangaap”. Verdere voorbeelde is: die “roepe” van die Jangroentjie “snoer” tot krale (p 20); Worcestersous word “geblerts” (p 24); die swembad “leep” deur die ruite “blou van oog” (p 31); die wind “vlaag” buite (p 47); die jong pa het die kinders “toekombers” (p 71); ’n gesprek “snater” by die ete (p 73); die roepe van kinders “vink” (p 83); sterre “blerts” (p 96). Die gebruik van hierdie stylmiddel kom neer op niks anders as mooiskrywery nie. Dié mooiskrywery kry verder iets weeks deur Odendaal se oordadige gebruik van verkleinwoorde; in die volgende voorbeeld weer as werkwoord waarvoor die digter so ’n groot voorliefde het: die voëls “kwinkeleertjies” (p 18). Daarbenewens het ek aangeteken: melkies (p 15), pipetjielyf (p 20), koeltjies (p 40), fluisterbriesie (p 41), pasellatjies en lappies (p 69).

Wat ’n pynlike teenstrydigheid in die bundel is, is dat die verheerliking van manlikheid in so ’n week idioom geskied. Die vader het as patriarg die “buitekamers” op Harmonie “lewenslustig bevolk” met vyf seuns wat darem gekwalifiseer word as “helaas droomverlore” (tot teleurstelling van die vader?). Dié gedig vra onmiddellik om met TT Cloete se gedig "Ballade van die patriot” vergelyk te word, ’n vergelyking wat die Odendaal-vers nie deurstaan nie. Soms word die verheerliking van manlikheid ’n aanstootlike chauvinisme. Die digter het – gelukkig! – die manlike lyn voort kon sit, soos die afdruk van ’n gesinsfoto bevestig. Waar sal ’n mens nou die digter se vrou anders verwag as “langs” haar “singer-naaimasjien” (“heemkunde”)? Terwyl daar na ’n plaat van die “pokkel Schubert” se “Winterreise” geluister word” (waarom die denigrering van dié groot liederkomponis?), “bly” die huilerige ma van die digter, wat trane “dep” soos wat sy daagliks “snesies” “frommel”, hulle “honds bedien”. In “Prulwerk” beskryf die digter die moeder in “rigor mortis”. Die tyd het sy vertekening voltooi nadat hy eers die moeder se “ingetoë lyf waaruit armsvol seuns/ gepynstuip moes word”, “barokkig verplomp” het.

Hierdie gedig is een van die sterkste voorbeelde van die teenpool van Odendaal se mooiskrywery: ’n bewuste “demasque der schoonheid”; ’n strewe na anti-estetisering. Dit is ’n legitieme poëtiese praktyk, maar in sy anti-estetisering bly Odendaal, helaas, steek in die banale. Die meisie in sy weergawe van adolessente-erotiek heet “Koekie” (“Koekie trou”). Kan dit alledaagser en platvloerser? Op haar kon die seuns hulle drifte botvier: “Daar’s gewed wie sy hand kon vou/ om haar vol tiet; gestry hoe ruig haar skaambaard staan.” Die spreker onthou nie meer haar regte naam nie en Odendaal verlaat hom op Peter Blum se “Ballade van getroude bemindes” om, soos Blum, ’n spel te speel met meisiename: Elsabé, Isabeau, Ursula. Maar daar is in Odendaal se gedig geen sprake van die skuldgevoel by die spreker soos by Blum oor sy eertydse meisies wat kennelik nie ontkom het aan die knelgreep van ’n tradisionele bruilof en ’n konvensionele huwelik nie. Die konvensionele en die manlike word so sterk waardeer in Odendaal se bundel dat sy gedigte oor geweld in die huidige Suid-Afrika, teen die agtergrond van sy ironisering van die apartheidsbestel, nie oortuig nie.

Daar is enkele verdienstelike verse in die bundel: “Harmonie, distrik Bloemfontein”, “Boemelgety”, “Piekniek, miskien 1971”, “Elegie om ’n ou paar goeie skoene”, “Dam van Trane, Bloemfontein”, “Lê in die son” (wat Odendaal te danke het aan die Nederlandse digter Hans Andreus), “Daeraadslied”.

My geheelindruk van die bundel is dat dit poësie bevat wat nie bedoel was om reeds gepubliseer te word nie; dit het gevra om strenger gekeur en nog aan gewerk te word. Die verse kort dissipline en dus konsentrasie, sodat dit verval in direkte bewering wat ’n vrye loop neem en selde uitgelig word na die vlak waarop die gedig ’n meerderwaarde verkry deur die beeldende krag van die woord.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top