Om vry uit te stap  

  • 2

Poppedoks Klopper woon in ’n rooi woonwa by ’n kampeerterrein digby Boksburgmeer. Poppedoks se hande is lomp, maar gewillig, en sy doen alles self in haar huisie op wiele. Dit is hoe Mammie haar geleer het en Mammie het haar reg grootgemaak. ’n Gehekelde lappie op die bedkassie, gedroogde sewejaartjies netjies in ’n glaspotjie gerangskik, effekleurige uitpofblinders, ’n jong varingplantjie in ’n leë koffieblik op die piepklein eetkamertafel. En ses handgeverfde eierkelkies en ’n keramiekteepot in die vorm van ’n olifantjie met pienk slurp – alles sorgvuldig op die kroegyskas gerangskik. Ag, en sy wou nog die geskulpte windharp teen die dak hang, maar haar kort bene laat haar nie toe om so hoog by te kom nie. Sy sou so graag ’n geelkanarie hier wou aanhou in ’n hokkie met gietwerk van fancy krulletjies en draaitjies. En Poppedoks sal haar Angel noem. Dink net, om elke oggend wakker te word van ’n hemelse getjirp in jou ore. Of selfs ’n gestreepte katjie wat uitgestrek op die slaapbank lê en sy voorpootjies skoonlek. Maar mister Benson, die eienaar van die kampeerterrein, sê net altyd: “Ek soek nie kruipende of vlieënde ongediertes hier nie, hoor julle my? Netnou kom staan die gesondheidsinspekteur hier en blaas in my nek. Sommer ’n vuil gewoonte hierdie om diere te wil staan en aanhou.” En hy skiet die wasprop wat hy uit sy oor gegrou het by die oop venster van die kantoorgeboutjie uit.

Sedert die maatskaplike werker vir Mammie en Pappie, albei verswakte bejaardes, na ’n versorgingsoord gestuur het, moes Poppedoks leer om self klaar te kom. Eers het sy as versorger in die kindersaal van die Tambo Gedenkhospitaal gewerk, maar toe sy na drie maande nog steeds nie geweet het hoe om ’n koorspen en ’n elektroniese weegskaal te gebruik nie, het die matrone vir haar ’n pos in die linnekamer geskep waar sy skoon en vuil linne moet sorteer. Te lekker die reuk van skoon linne, byna soos babapoeier en blouseep.

Die son het so pas oor die meer opgekom. Met ’n gezoem-zoem val die brommers haar karavaan binne. ’n Gesellige samesyn van asblikrowers. Uitgevreet sit hulle op die kanttafeldoek en wag dat Poppedoks haar roosterbrood en konfyt moet klaar eet.

“Sie, jy!” Poppedoks lig die vlieëplakkie op en klaks-klaks teen die tafeldoek. “Verdomp, suka wena, gaan sit op iemand anders se bolip!” En sy swaai haar hande verwoed in die lug rond sodat die vel van haar boarms ’n trillende golfpatroon vorm. (Poppedoks se toesighouer by die hospitaal, Gladys Dlamini, sê altyd “suka wena” as die mense voor haar by die dienshysbak indruk.) Partykeer deel Gladys haar kos met Poppedoks. Spinasie, mieliegruis, hoender – alles op ’n oop vuur by Gladys se plakkershut gekook.

Hygend staan Poppedoks op, stoot die kampstoeltjie agtertoe en waggel na die waskom met koue water langs haar opvoubed om haar gesig af te spoel. Vandag moet sy mooi lyk, want vandag is dit Sondag en elke Sondagmiddag gaan eet sy by haar ma se jongste broertjie, oom Jimmy. Die seëlring wat sy by oom Jimmy vir haar mondigwording gekry het, span styf teen haar linkerringvinger. Groot woord daardie, “mondigwording”. Saggies praat sy met haarself: “Moodigwoding. Of is dit nou mondigwooding?”

Slim kêrel, daai oom Jimmy. Vir onderwyser geleer by die Potchefstroomse Onderwyskollege en na jare se diens in die onderwys ’n pandjieswinkel op die been gebring in Germiston digby die Burgersentrum en die ou Willem Cruywagen-hospitaal. Ná tant Gesie se dood glo dik geraak vir die spul in Potch, veral vir die Doppers met hulle droefgeestige onderlippe. Die aanmatigende houding van ryksmanskinders en skoliere as oom Jimmy met ’n geroeste Cortina-bakkie by Die Bult stop om brood by die kafee te koop. “Lyk asof hierdie mense met ’n kurkprop in hulle holle rondloop,” het oom Jimmy eendag gesê. Om nie eens te praat van die tortelduiwe wat alles beskyt nie. En die Pampoenboere wat dwergbeeldjies uit oom Jimmy se tuin wegdra nadat hulle die Elgro Hotel in Wolmaransstraat op horings geneem het. Maar toe die klein merries van die netbalspan begin kla oor hoe hy hulle in die kleedkamer afloer, het hy vinnig sy goedjies gepak en by ’n ekskollega in Vereeniging gaan bly.

“Genoeg is genoeg, Malie, ek kom terug Germiston toe! Genugtig, kyk, so kan ’n Christenmens nie aangaan nie. Het jy en Gielie dalk vir my slaapplek? Sal julle losies betaal.”

“Maar, natuurlik, broer. Jimmy, jy weet ek kan ook nie so vroualleen hier klaarkom nie. Moet Gielie self was en draai en voer. Die gangreen aan sy bene raak nou lelik en die dokters het nie veel hoop nie. Maar ek kan mos nou nie ons broer op straat uitsit nie.”

“Dan sien ek julle volgende maand”, en hy plak die foon beduiweld neer. “Nou waarvoor wil Gielie nie hospitaal toe gaan nie?” mompel oom Jimmy. “Die Here weet, ek het lank met Gesie gesukkel voordat sy dood is. Sommer net so, sonder om dankie te sê vir alles.”

Oom Jimmy kan hom tog so opwerk oor dinge. Een Sondag gedurende ’n familiesaamtrek by Boksburgmeer, het hy die Rapport woedend eenkant gesmyt. “‘Radikale ekonomiese transformasie’? Kak, man! Dit is net ’n verskoning van hierdie regering om ons wittes se swaarverdiende geldjies te steel en pensioenfondse te melk. Diefstal, sê ek vir julle, niks anders as diefstal nie. En waarvoor het ons wit mense in hierdie land in papbroeke ontaard en in onwillige slawe wat die nuwe bewindhebbers se gatte moet blink lek vir ’n plekkie in die son? Ja, die massas in hierdie land weet ons sidder van die vrees. Nou is dit óns wat moet sê: ‘Ja, baas; nee, baas; goed, baas; aikôna, baas.’ Hulle neuk met ons wit velle. En wat maak ons? Versier koeke, rangskik blomme vir die kerk, klets oor patrone vir ’n matriekafskeidrok en never mind of Mammie en Pappie van hulle grocery-geld moet afknyp om vir sussie se duur kleresmaak te betaal nie.” Verslae het die res van die familie hom aangekyk en gevoel hoe die braaiwors en stywepap dik word in hulle kieste. Tant Malie maak haar mond oop, maar sê niks nie. Ingedagte skud sy sigaretas af in die bak aartappelslaai en wikkel met haar tong teen haar kunsgebit.

Ook groot woorde daardie: “radikale ekonomiese transformasie”. Poppedoks weet nie eintlik wat dit beteken nie. Het seker maar iets te make die goewerment se planne om meer geld vir die oumensies en armes in die land te gee. Reken, dan kan Mammie ’n nuwe loopraam bekostig en Pappie kan dalk sy stasiewa wat in tant Malie-hulle se agterplaas staan, laat regmaak. Oom Jimmy sal hulle natuurlik moet rondry na Checkers, na die roadhouse, ag sommer orals heen. En Poppedoks sal spesiale kantgordyntjies vir die stasiewa maak en dan sal hulle Potch toe ry, sommer net vir die lekkerte. Dan sal ons sien wie op hulle neuse kyk. Miskien kan hulle ook ’n draai maak by Gladys in Vosloorus, en terwyl die stasiewa stadig deur al die stowwerige straatjies ry, sal hulle Wilson-toffies vir almal uitdeel. En Poppedoks sal geklee in haar lemoenoranje valletjiesrok die skaterende kinders soos die Queen van Engeland toewuif.

“Net ’n bietjie coral pink lipstick is al wat jy nodig het,” het Mammie dikwels vir Poppedoks gesê. Wil darem nie hê die mense moet sê: “Onse, maar kyk hoe opgetert is die kind” nie. Oom Jimmy het laat weet dat hy Poppedoks teen elfuur kom haal. Tant Malie-hulle eet vroeg op Sondae; sy wil tog nie oom Gielie onnodig vermoei nie. Onder die peperboom digby die kaartjieskantoor van die kampeerterrein sal oom Jimmy in sy blou Cortina-bakkie sit en wag.

Traag sluit Poppedoks die karavaandeur en voel hoe haar dom vingers oor mekaar gly. Versigtig trap sy met haar pofferige kindervoetjies om nie oor die graspolle en molshope buitekant haar karavaan te struikel nie. Sy stap verby die kaartjieskantoor, maak asof sy nie vir mister Benson sien nie, en haal haar beste sandale uit ’n papiersak – dié met die lae kurkhakkies en oranje straps. Sy leun teen die rooibaksteenmuur van die kantoor en trek haar sandale aan.

Dan voel sy dit: ’n gegorts wat vanuit die binneste van haar maag opstoot. Sy voel hoe haar maag op ’n pynlike knop saamtrek – soos op Maandagoggende as juffrou Kritzinger haar met die bordpasser oor haar bobene geraps het omdat sy nie haar tafels kon opsê nie. Of soos in die huishoudkundeklas as die ander meisies vir haar gelag het oor die verbrande rotskoekies. Of wanneer sy deurmekaar geraak het met die breiwol en hekelgare. “Siestog,” het die onderwysers dikwels in die personeelteekamer gevra, “is dit waar dat sy met die naelstring om die nek gebore is? En dat sy vir maande daarna in die suurstoftent moes lê?” En dan voeg juffrou Conradie, die Afrikaansonderwyseres, by: “Die stomme kind is so gewillig, vat altyd blommetjies vir al haar onderwysers. Maar die kind het so ’n verbeelding aan haar. Het eendag in my klas gesit en heeltyd sulke verwronge en naakte stokmannetjies gesit en teken. Foeitog, ook seker maar alleen so sonder enige maats.”

’n Warm bries kom vanaf die meer aangewaai en swiep teen Poppedoks se blinkgestrykte tentrok. Sy maak die koperknip van haar knyphandsak oop, vroetel rond vir ’n sneesdoekie en vee haar voorkop daarmee af. Sy voel hoe oom Jimmy vir haar kyk, déúr haar kyk met sy “goggabie-oë”. Pappa het altyd gesê oom Jimmy het “gogga-oë” en hy gee nie om hoe geleerd oom Jimmy is nie, maar daardie slinkse kyk, en sy kamtige planne om tweedehandse Hoover-stofsuiers en opgebruikte spanners te wil kom verkoop hier in Germiston klink vir hom nie reg nie. “Oudonderwyser? Oudskelm, as jy my vra”, en dan klop Pappie sy pyp uit in die ou potplant op die stoep.

Poppedoks voel hoe haar maag opeens bedaar en wag dat oom Jimmy vir haar die deur moet oopmaak.

Die bande van die bakkie gly stil oor die blinkwarm teerpad. Hulle ry verby die begraafplaas, die skadu’s van sipresbome wat half oor die pad buk, ’n bus op pad na die AGS-kerk in Beyerspark. ’n Vrou met kind in ’n stootwaentjie, elkeen met ’n roomys in die hand.

Oom Jimmy skuif nader aan Poppedoks, knyp haar liggies teen die bobeen. Sy voel hoe ’n klammigheid tussen die velvoue van haar lieste opdam, byt op haar onderlip en rol haar duime oor mekaar. Op die radio sing Bruce Springsteen:  

Hey, little girl, is your daddy home?
Did he go and leave you all alone?
I got a bad desire.
Oh-oh-oh I’m on fire.

Oom Jimmy het altyd gewag totdat hy en Poppedoks alleen was, of op ’n plek waar niemand hulle kan sien nie. Partykeer sommer onder die druiweprieel by hulle ou huis in Cinderella as Mammie-hulle Sondagmiddae gaan rus. Nooit gevra nie, sommer net gevat, oor die borsies gestreel wat te klein is vir haar groot lyf, gevroetel net waar hy kon. Dom, dik en lelik. Wie sou haar in elk geval glo? Selfs die skoolhoof het net sy kop geskud en gelag. “Ai, die stomme kind, sy praat so onsamehangend, ek weet nooit eintlik wat sy vir my probeer sê nie.” En oom Jimmy het dit geweet – “What happens in the family, stays in the family.”

Die bakkie hou stil in tant Malie-hulle se agterplaas. Tant Malie sit op die agterstoep en doof haar klaargerookte sigaret in ’n pers asbakkie wat sy as trougeskenk by Mammie gekry het. Sy kyk verby oom Jimmy, soengroet vir Poppedoks op die wang. “Kom, kind, gaan sê dag vir oom Gielie, en dan kom help jy my om komkommerslaai te maak en die tafel te dek. Ons eet sommer hier in die kombuis.”

Die gordyne is nog dig toegetrek in die slaapkamer. Iets ruik soos TCP-mondspoelmiddel en bloekomolie. Poppedoks loop tot by die bed, steek haar hand uit na oom Gielie en vryf liggies oor sy kop. Hy maak sy oë oop. “Dag, kind, vergewe my tog, sommer halfpad deur die erediens op die radio aan die slaap geraak. Die ou bene het so gepla gisteraand; ek slaap maar min deesdae, maar jy lyk ook nie te vars nie, kind. Jy moet maar praat as daar iets is wat pla.” Poppedoks knik instemmend, sug en trek die kamerdeur saggies toe.

Die dakwaaier in die kombuis draai moeisaam teen die middaghitte in en ’n stilte neem besit van die huis. Poppedoks voel hoe die stoel onder haar uitgeswete lyf kraak as sy vorentoe leun om haar moeë arms op die kombuistafel te laat rus. Sy eet stadig, stoot die bak met broodpoeding met haar elmboog uit die pad. Sy’s tog nie lus vir ’n groot geëtery vandag nie.

Tant Malie steek ’n sigaret aan en kyk ondersoekend na Poppedoks. “En waarvoor eet jy so langtand vandag, kind? Toemaar, seker maar die hitte. Ek sal vir jou ekstra inskep vir later. Moet net nie weer my Tupperbak verloor soos laas nie, hoor jy? En moenie dat die meide by die werk al jou kos opeet nie. Ons kan nie vir hulle ook nog sorg nie, dit moet hulle eie nasie maar doen.”

Weer voel Poppedoks hoe haar ingewande by haar lyf wil uitklim, hoe haar maag weer en weer op ’n knop trek as oom Jimmy die kardeur vir haar oopsluit. Poppedoks sien hoe tant Malie vir haar waai in die kantspieëltjie van die bakkie. “Sal groete stuur vir oom Gielie, wil hom tog nie nou wakker maak nie!” skree tant Malie agterna.

“Lus vir ’n roomys, Poppedoks?” vra oom Jimmy en hy streel oor Poppedoks se boarm. Poppedoks voel hoe haar maag rammel en swaarder en swaarder word. Iets binne haar wil losskeur as oom Jimmy se vingers onder haar boude inskuif. Sy druk haar knieë styf teen mekaar, bedek haar gesig in haar hande, voel hoe haar lyf van onder soos ’n wond oopskeur. Die verstikkende walm van stoelgang op oom Jimmy se vingers, op die skaapwoloortreksel van die passasiersitplek wat afloop teen die goue troupand aan sy regter ringvinger. Oom Jimmy se neusvleuels beweeg vinnig heen en weer en hy sluk, kyk nie een keer na Poppedoks nie. Poppedoks klim uit, wag nie dat oom Jimmy vir haar die deur oopmaak nie

Hoe het sy hier gekom? Die kampeerterrein, woonwaens, rondawels, tente wat met sorg opgeslaan is, die brak reuk van water, van gloeiende houtskool. Bekende gesigte, vreemde gesigte wat haar agterna kyk. Poppedoks voel hoe die water by die stortkompleks warmder en warmder word, hoe dit uiteindelik brand en deur haar vel priem en alles wat ooit vuil was, wegspoel. Sy druk haar vuis in haar mond, smoor haar eie gekerm. En sy weet oom Jimmy sal nooit weer die kardeur vir haar oopmaak nie, nooit weer aan haar vat nie.

  • 2

Kommentaar

  • Sjoe, Chris, wat 'n stuk werk! So baie loop met die las van 'n oom Jimmy, maar dit word mos nie uit die familie gepraat nie. Baie dankie vir die insig en die verwoording daarvan.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top