Om 'n wêreldbeeld te vertaal

  • 1

“[T]he intrinsic value of a work of literature is by no means sufficient to ensure its survival. That survival is ensured by rewritings. If a writer is no longer rewritten, his or her work will be forgotten.” (Lefevere 1992:112)

Verlede week was ek baie gelukkig om ’n week lank ’n kursus in literêre vertaling by die Departement Afrikaans-Nederlands by die Universiteit Stellenbosch by te woon.Ek het baie geleer, maar veral één ding: dat literêre vertaling ’n baie ingewikkelde proses is wat nie net praktiese nie maar ook etiese vraagstukke opper.

Waarom sê ek literêre vertaling is ’n moeilike tema?

By verlede jaar se Mail & Guardian literêre fees in Newtown in Johannesburg het Breyten Breytenbach en Patrick Chamoiseau oor hierdie selfde tema gesels. Weer eens was ek ’n gelukkige toeskouer wat so vinnig as moontlik die woorde wat uit hierdie twee groot geeste se monde gekom het, in my notaboekie neergepen het. Darem gooi ek nooit ’n notaboekie weg nie en kan ek die aanhaalbare woorde van Breytenbach vir hierdie week se rubriek inspan.

Breytenbach het tydens hierdie geleentheid onder andere beweer dat letterkunde byna niks met taal te make het nie, maar eerder met die emosionele verhouding wat ons met die wêreld het. Letterkunde weerspieël dus veel meer ’n emosionele wêreldbeeld as wat dit ’n stel tekens en sinne is wat ’n boodskap moet kommunikeer.

Om hierby aan te sluit, het Chamoiseau op treffende wyse die tradisionele rol van die vertaler met die kolonialis vergelyk. Om deursigtigheid te skep, moet die vertaler dikwels die taal van die teks wat hy vertaal, verander, sodat dit leesbaar en helder kan wees. Maar as ons Breytenbach kan glo en kan beweer dat letterkunde hoofsaaklik nie oor taal gaan nie, maar oor die representasie van, en die verhouding met, die wêreld, sou mens kon beweer dat die vertaler nie net die taal nie maar ook die wêreldbeeld van die skrywer verbuig of verwring sodat die teks meer toeganklik en leesbaar kan wees. Die vertaler versend in die vertaalproses universele waardes – soms ten koste van die heterogeniteit en “andersheid” van die teks. Op dié manier word die teks van sy kulturele identiteit gestroop. Eerder (en dit beweer Breytenbach én Chamoiseau) behoort vertaling die plek te wees waar die leser kulturele andersheid te siene kry – dit moet dus in plaas van te “domestiseer”, vervreem.

Tog beweer die digter en vertaler Daniel Hugo tydens verlede week se werkswinkel dat die “vervreemdingseffek” van vertaling slegs teoreties is. Want wie sal nou ’n boek koop wat soos ’n vertaling lees?

Dit het my laat wonder: In watter mate moet die kennis, agtergrond en behoeftes van die beoogde doeltaallesers in ag geneem word wanneer mens vertaal? En wat van die vertaling van Nederlands na Afrikaans – twee tale wat bedrieglik naby aan mekaar is, maar met nietemin groot kulturele afstand? Tot watter mate moet daar kulturele aanpassings gemaak word? Kan mens hierdie kulturele aanpassings as ’n tipe “kolonisasie” tipeer? As letterkunde nie oor taal gaan nie, maar oor emosionele verhoudings; hoe kan mens ’n wêreldbeeld vertaal?

Dit, dus, in ’n baie beknopte neutedop die “groot probleem met literêre vertaling” wat ook tydens verlede week se kursus herhaaldelik opgekom het. Op hierdie vrae het ek egter geen finale antwoord nie, behalwe dat die vertaler moet soek na ’n fyn balans tussen lojaliteit teenoor die skrywer en inagneming van die leser.

Ook is ek geneig om met Breytenbach saam te stem dat letterkunde veel meer as net “taal” is wat “’n boodskap” kommunikeer. Indien die vertaler hiervan bewus kan wees, sal sy veel meer probeer doen as om die taal en die boodskap van die teks te vertaal. Sy sal dus nie aan lesers dit wat hulle nié weet nie, oordra deur die woorde van een taal deursigtig in ’n ander taal te maak nie. Maar sy sal dit vir haar lesers moontlik maak om, deur te lees, na die onbekende, die onduidelike te beweeg. In hierdie geval is dit die ritme, die kleur, die tekstuur, dit wat nié gesê word nie, wat belangrik word. Die vertaler het dan nie die verantwoordelikheid om verhale te vertel nie, maar om dit wat nié gesê kan word nie, dit wat onverstaanbaar is, oor te dra. Want kan ons nie geraak, verander, getransformeer word deur dit wat ons juis nié kan verstaan nie?

Volgende week ’n paar konkrete wenke oor die vertaling van letterkunde.

Opwindende onlangse boeke wat van Nederlands na Afrikaans vertaal is en beslis aangekoop kan word:

 Bo is dit stil, Gerbrand Bakker, in Afrikaans vertaal deur Daniel Hugo

Reinaard die Vos, Henri van Daele, in Afrikaans vertaal deur Daniel Hugo

Kom in, dit vries daar buite, poësie van Alfred Schaffer, vertaal deur Daniel Hugo

Jo Speedboot, Tommy Wieringa, in Afrikaans vertaal deur Zandra Bezuidenhout

Rigtingbedonnerd: Op die spoor van die Afrikaner post–‘94, Fred de Vries, in Afrikaans vertaal deur Zandra Bezuidenhout

Tirza, Arnon Grunberg, in Afrikaans vertaal deur Lina Spies (binnekort beskikbaar).

Die Aandete, Herman Koch, in Afrkaans vertaal deur Daniel Hugo:

Lekker week, lekker lees
Rentia

 

Die kursus is aangebied deur Wium van Zyl, Ingrid Glorie en Ilse Feinauer, met gaslesings deur Susan van der Ree, Daniel Hugo, Zandra Bezuidenhout en Lina Spies.

  • 1

Kommentaar

  • Rentia Bartlett-Möhl sê: "Op hierdie vrae het ek egter geen finale antwoord nie, behalwe dat die vertaler moet soek na ’n fyn balans tussen lojaliteit teenoor die skrywer en inagneming van die leser."

    Ek stem saam met hierdie stelling. Ek vertolk "inagneming van die leser" as: 'n gedig so te vertaal dat die leser dit ervaar as poësie in sy eie taal en nie as iets wat styf en ongemaklik is soos iemand wat jou taal swak praat nie. Maar daar is ook baie te sê vir Breytenbach en Chamoiseau se houding: "Eerder (en dit beweer Breytenbach én Chamoiseau) behoort vertaling die plek te wees waar die leser kulturele andersheid te siene kry – dit moet dus in plaas van te 'domestiseer', vervreem."

    'n Voorbeeld hiervan is my vertaling uit Sweeds van 'n Tomas Tranströmer gedig.

    Uit die eiland 1860
    Een dag toe sy wasgoed was op die pier
    styg die fjord se koue op in haar armsen in haar lewe.
    Haar trane vries tot 'n bril.
    Die eiland lig homself op aan sy gras
    en die haring-vlag waai in die diepte.
    (Tårarna frös till glasögon.
    Ön lyfte sig själv i gräsetoch
    strömmingsfanan vajade i djupet.)

    II
    En waterpokkies swerm op hom neerslaan neer op sy gesig.
    Hy lê en staar na die plafon.
    Hoe het dit nie opgeroei deur die stilte nie.
    Die ewig vloeiende vlek van nou
    die ewig bloeiende punt van nou.

    Vir die gemiddelde Afrikaanse leser is daar 'n hele paar dinge wat "vreemd" is in die gedig. Die vrou wat wasgoed was op die pier in die fjord - en die koue wat so skerp is dat dit haar trane vries "tot 'n bril". En wat is 'n haring-vlag?

    In 1844 het Swede en Noorweë 'n unie van die twee state gevorm. Hulle het 'n gesamentlike vlag saamgestel wat verskeie kleure bevat het. Dit het die mense herinner aan "haringslaai" - fyngekapte haring met eiergeel, groen pietersielie, eierwit en rooi beeet. Die vlag het toe in die volksmond die "haringvlag" geword - "strömmingsfanan". Die "unievlag" is uiteindelik in 1905 afgeskaf.

    Die vertaler van hierdie gedig (ek) het probeer om die leser hierdie "vreemde" dinge te laat beleef, maar om dit te doen in 'n taal wat gemaklik en doeltreffend is. Die taal moet "onsigbaar" wees sodat die leser nie aan die woorde dink nie, maar net die wêreld van die gedig kan beleef.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top