Om hulde te bring aan Koos Prinsloo

  • 0

Die beste manier om hulde aan Koos Prinsloo te bring, is om sy verhale weer te lees – en om agter te kom hoeveel ontdekkings daar nog gemaak kan word. Of Koos altyd self bewus was van hoe die tekste in Slagplaas (1992) op mekaar inspeel, of hoe ’n toevallige verwysing later betekenisvol sal blyk te wees, sal niemand ooit weet nie. Ek vermoed dat hy by die skryf van hierdie bundel ’n nuwe kreatiewe sfeer betree het waarin allerlei invalle en stukkies los inligting algaande hulle plek gevind het in ’n speelse netwerk. Nie om dowe neute nie is Slagplaas al ’n soort roman-in-fragmente genoem.

In “Klaarpraat”, byvoorbeeld, krap die skrywer wat desperaat sy verhaal probeer voltooi, chaoties in sy klein argief rond. Drie boeke val uit die kas: Denis Overbye se Lonely Hearts of the Cosmos, Paul Feyerabend se Farewell to Reason en Jacques Monod se Chance and Necessity. Op die oog af is dit ’n inkoherente gebeurtenis en die versoeking is daar om eenvoudig verder te lees.

Maar kom ons kyk weer. Feyerabend argumenteer in sy polemiek teen mense soos Karl Popper dat alle wetenskaplike kennis toevallig ontstaan; dat ’n mens net één ding met sekerheid kan sê oor die proses wat tot kennis lei: “anything goes”. Monod, wat in 1965 die Nobelprys vir Fisiologie ontvang het en Jerzy Kosinski se groot vriend was, skryf in sy boek dat die ontstaan van lewe op aarde heeltemal onvoorspelbaar was. Dit was, wetenskaplik gesproke, ’n “singularity”, iets wat nie deur enigiets wat daaraan voorafgegaan het, bestem kon word nie. En in Overbye se boek figureer Alex Vilenkin, tans direkteur van die Tufts-universiteit in Massachusetts se Instituut vir Kosmologie. Sy teorie is dat die heelal uit niks ontstaan het – nie uit die leë ruimte of uit ’n fisieke vakuum nie, maar uit niks.

So verkry die verwysing in “Klaarpraat” na Once Upon A Time, ’n muurskildering van Keith Haring in New York (wat Koos self tydens sy besoek aan dié stad ook gefotografeer het), ’n verrassende nuwe en – om dit geleerd uit te druk – metafiksionele betekenis. “Daar was eendag ’n skrywer”, eendag was daar ’n verhaal – net soos daar eendag ’n wetenskaplike ontdekking gemaak is, of die lewe eendag ontstaan het, of die heelal eendag uit die niet te voorskyn gekom het.

Die boeke wat so toevallig uit die skrywer se versameling te voorskyn kom, skep boeiende interpretasiemoontlikhede. Die liefdesverhaal in “Klaarpraat” begin as Hannes ’n haelgeweer in die nag afvuur: Prinsloo se spottend-heroïese variasie op die “big bang”, ook ’n toespeling op die orgasme wat in die verhaal nooit saam met Frank bereik word nie.

Die korrelasie tussen die begin van die verhaal en die oerknal het vir die aanvanklik baie selfvoldane skrywer van “Klaarpraat” verontrustende implikasies. Hoe toevallig die oerknal ook al was, wat daarná gebeur, geskied in ooreenstemming met wetenskaplike wetmatighede. Net so vereis die verhaal wat met die afvuur van die haelgeweer begin, ’n gestruktureerde verloop en ’n einde wat ook die finale bevrediging van die “fyndraai” sal word. Die bevrediging van daardie einde word ten spyte van alle ingrype van die alter ego, Die Skrywer, in “Klaarpraat” nooit bereik nie, miskien ook omdat die werklike einde van hierdie en van alle verhale nie die klein dood nie, maar die groot dood sal wees.

Dis maar een voorbeeld van Prinsloo se vermoë om self die kleinste besonderhede verrassend tot ’n mens te laat spreek. By die bestudering van sy manuskripte sien ’n mens hoe party van sy interessantste grepe voortgevloei het uit een of twee briljante ingewings. In die eerste versies van “Die wond” verskyn daar omtrent geen stukkies tussen hakies nie. Maar by die hersiening voeg Prinsloo parenteses by. Dit word ’n versteuring van die vertelsituasie, ook ’n manier waarop die verteller al hoe meer die wêreld van die karakters spekulatief betree, ander moontlike perspektiewe verken, en uiteindelik ’n humaniserende ingryp doen deur hulle almal in die droom te verenig.

Te midde van al die bohaai oor Prinsloo se behandeling van Die Pop Ster in “Nawoord” het geen leser, sover ek weet, nog gesien dat die verhaal ’n parodie op die Evangelies is nie. Op twee uitsonderings na het al die karakters Nuwe Testamentiese name. X, die selfmoordenaar, skilder homself as ’n parodiese Christus-figuur en op sy begrafnis maak die dominee potsierlike toespelings op die Bybelse sterfgeval. Die verteller stel homself epistemologies op in ’n posisie soortgelyk aan dié van die Evangeliste, wat op grond van karige inligting, oorlewering, gerugte en spekulasies sin en samehang aan die verhaal van ’n sterfte probeer gee.

“Nawoord” is een van die baie verhale in Prinsloo se latere werk met die geaardheid van ’n parodie. Die voorkoms van sulke parodiese tekste is die eindpunt van ’n ontwikkeling wat al in sy eerste bundel, Jonkmanskas (1982), begin. Prinsloo het tot die Afrikaanse letterkunde toegetree met ’n sterk-ontwikkelde literêr-historiese bewussyn, wat aangesluit het by die aanwesigheid van die grootvader se teks as provokasie aan die “jongman” in “By die skryf van aantekeninge oor ’n reis”.

Terwyl daar in die eerste bundel nog ’n poging is om die grootvadersteks te verwerk, sal Prinsloo al hoe meer teen daardie teks inskryf en homself daarvan wegskryf. Tog sal die betutteling en geweld van daardie teks nooit heeltemal vergete raak nie. Nuwe grootvaders en vaders, nuwe vorme van verswyging en onderdrukking en daarmee saam ’n volgehoue woede en behoefte aan bevryding sal Prinsloo se verdere ontwikkeling as skrywer kenmerk.

Dit is in die lig van Prinsloo se werk as geheel moontlik om te sê dat die “jonkmanskas” – die beeldskone en begeerde erfstuk waarin ’n mens sal versmoor – ook die Afrikaanse letterkunde is. As daar eenmaal van daardie meubelstuk afskeid geneem is, begin dié soort “verraad” waarvan Milan Kundera praat in ’n definisie wat Prinsloo as motto vir Slagplaas oorweeg het: “betrayal is breaking ranks and moving off into the unknown” – ’n “unknown” wat ook vir die een wat op weg is daarheen, sy verskrikkings moet inhou. Hierdie proses loop uit op Slagplaas: ’n bundel waarin Prinsloo sy talent tot die uiterste en byna roekeloos inspan om ’n vorm te vind wat adekwaat is aan sy visie van die wêreld as slagplaas van manlike geweld, liefdeloosheid en emosionele ontreddering. Koos sou homself kon herken in die woorde van die jong Kafka in ’n brief aan sy vriend Oscar Pollack: ons moet ’n byl vind waarmee ons die bevrore see in onsself kan oopbreek.

<< Terug na Koos Prinsloo Miniseminaar <<

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top