Om handskoene van onkunde te vervang

  • 21

Twee nuusgebeure wat op direkte en indirekte wyse betrekking het op Suid-Afrikaanse skoolkinders se afgryslike swak vertoning in wiskunde en wetenskap, het my oog die afgelope vakansieseisoen gevang. Die een is die wyse waarop onderwysowerhede en die regering die power vaardighede van kinders in dié onontbeerlike vakke vir ’n ontluikende ekonomie wegpraat met allerhande verskonings wat geen verband hou met wat in ouerhuise en skole aangaan nie.

Tweedens het ’n fundamentele vraag oor hoe sag die handskoene moet wees waarmee vertroue in wonderwerke en die invloed en inmenging van religieuse praktyke op skoolprestasie in wiskunde en wetenskap beveg moet word, ter sprake gekom tydens ’n meningsverskil tussen twee wetenskaplikes van internasionale statuur. Peter Higgs, vader van die Higgs-boson-teorie, het Richard Dawkins, die voorste wetenskaplike kampvegter teen bygeloof en onsin, aangespreek oor sy kritiek teen religie en die dikwels buitengewone invloed wat dit op mense se denke het. Volgens Higgs is Dawkins te skerp uitgesproke krities oor religie en glo hy dit is teenproduktief. (Terloops, Higgs erken hy is self ongelowig.)

Die Higgs-boson het verlede jaar groot nuus gemaak toe wetenskaplikes by die Groot Hadron Versneller buite Genève in Switserland bekend gemaak het hulle het waarskynlik Higgs se byna vier dekades-oue teorie oor die ontstaan van die heelal as korrek bewys en dat ons nou die eerste keer behoorlik verklarings kan vind vir die ontwikkeling van materie. Weens ’n ongelukkige uitspraak deur die fisikus en Nobelpryswenner Leon Lederman wat die Higgs-boson as die God-partikel beskryf het, as sou dit ons die gedagtes van God kon laat lees tydens die skepping, het die Higgs-boson om al die verkeerde redes die nuus gehaal. ’n Oorwegend wetenskaplik ongeletterde falanks van redakteurs en joernaliste het plaaslik en oorsee weer eens in hul rapportering oor die ontdekking van die Higgs-boson bewys hoe swak die begrip van wetenskap in die media is.

Te midde van die glanspersoonlikheidskultuur van plaaslike tydskrifskouspele, die voortdurende aandag wat gegee word aan die menings van sieners, astrologiese voorspellings en ander abrakadabra-mymeraars, en die skrapping laat in 2012 deur Die Burger van “Wetenskap Vandag” – die enigste wetenskaprubriek in enige Suid-Afrikaanse media-instelling wat byna twaalf jaar lank lesers op hoogte gehou het van wetenskaplike ontwikkelings – stap die land se kinders voort op die toenemend uitdagende tegnologies- en wetenskapgeoriënteerde pad van die 21ste eeu met geen benul van hoe die heelal en die Aarde en lewe daarop werk nie. (Dat die media in Suid-Afrika plek het vir gereelde sport-, politieke, ekonomiese, kuns- en leefstylrubrieke, maar nie vir wetenskap in dieselfde formaat voorsiening maak nie, is nie net skandelik nie, maar vertel ’n eiesoortige verhaal van argeloosheid en sosiale onverantwoordelikheid.)

Was Higgs reg om Dawkins so skerp te kritiseer oor sy teenstand, dikwels hewig, teen die invloede wat bygeloof en wensdenkery op ons begrip van die werklikheid het? Dawkins, voormalige professor in die openbare begrip van die wetenskap aan die Universiteit van Oxford, het sedert die 1990’s die mantel van Darwin se bulhond by Thomas Henry Huxley in die bestryding van menslike bygeloof oorgeneem. Hier plaaslik het die vasklou aan die vrese wat ons vaders – in ouerlike, onderwys-, religieuse en mediagedaante – egter steeds hoogs suksesvol in generasies van Suid-Afrikaanse kinders se koppe ingeprent gebly.

Ek kan om verskillende redes nie met Higgs saamstem oor sy kritiek op Dawkins nie:

Jy bestry nie bygeloof deur saam met die aanhangers van astrologiese voorspellings in die bed te klim nie.

Jy beskerm nie onskuldige skoolmeisies wat veg vir die regte van hul geslag om skool te gaan en loopbaangerigte opleiding te ondergaan, teen die koeëls en pangas van frenetiese en bygelowige Middeleeuse mans deur hulle na “vriendeliker en meer verdraagsame” omgewings te verwyder nie – want wat word dan van die vrouens en skoolmeisies wat agterbly in Pakistan en Afganistan?  En van hulle wat op soortgelyke wyse in Saudi-Arabië en ander Midde-Oosterse lande – en ook op ander wyses in Afrika en in Westerse lande – stry teen geslagsdiskriminasie wat gegrond is op tradisie en geloofsoortuigings?

Jy maak nie die invloed van sjamane en sogenaamde nostradamies-siener-van-rensburgiaanse filosowe wat die toekoms en die verlede kwansuis kan voorspel en verklaar ongedaan deur aan kinders en mediaverbruikers te vertel hierdie sogenaamde wysgere het die waarheid in pag nie.

Jy verwater nie kinders se kosbare tyd om opleiding in wiskunde en wetenskap tydens skoolure te ontvang deur hulle aan gebedsessies bloot te stel wat geen snars verband hou met die werklikheid wat die wetenskap en wiskunde deur middel van waarneming, eksperimentering en bewyse probeer verklaar nie.

Jy kweek nie ’n denkkultuur by kinders deur die aanvaarbaarheid by hulle in te hamer en te verkondig dat dit wat jy nie nóú kan verstaan en verklaar nie, aan een of ander vreemde raaisel van een of ander onbewese godheid se raadsplan toegeskryf moet word nie.

Jy kweek nie ’n kultuur van nuuskierigheid en belangstelling in wetenskaplike ontdekkings en wiskundige verklarings deur te ontsnap na ’n benadering waarin moeilike vrae wat gestel word, liefs vermy en selfs onderdruk moet word nie.

Jy skep nie mededingende burgers deur kinders gevange te hou in die gedagtestrominge van argaïese boeke terwyl jy hulle ook en veral behoort bloot te stel aan Darwin se The origin of species en byvoorbeeld Simon Singh se Big bang en Dawkins se The magic of reality nie.

Jy skep nie ’n wen-nasie deur onkundige en onopgeleide en bygelowige onderwysers voor klasse in lewenswetenskappe te laat staan en evolusie as “net ’n teorie” te beskryf in plaas van ’n wetenskaplike feit nie – en dan sommer willens en wetens sommer evolusie uit die sillabus te haal wanneer jy as skoolhoof of onderwyser nie daarmee saamstem nie (al verraai dit jou totale onkunde oor wat ’n wetenskaplike teorie is). Opsommend: jy sluit nie kompromieë met mense wat liewer glo in wensdenkery as bewyse nie.

Ek het in 2011 in ’n resensie in Beeld, Die Burger en Volksblad oor Hans Pietersen se uitstekende – en ongelukkig te min gelese boek juis deur die mense op wie dit gerig is – Die vrese van ons vaders: Geloof, onderrig en die Afrikanerkind (Griffel Media, 2011) verwys na twintigjaaroue navorsing deur prof Anastassios Pouris, direkteur van die Instituut vir Tegnologiese Innovasie aan die Universiteit van Pretoria, oor die wetenskapgeletterdheid van Suid-Afrikaners. In twee studies wat in 1991 en 1993 in die South African Journal of Science verskyn, bevind Pouris 32% van die land se inwoners glo astrologie is “baie wetenskaplik”, met ’n verdere 31% wat glo dis “soort van wetenskaplik”. In ’n verdere vraag trek 54% die stelling dat die menslike spesie uit vroeëre spesies ontwikkel het, in twyfel.

In my resensie het ek opgemerk dat “grootmense so totaal en skrikwekkend oningelig is, is erg genoeg maar toe Pouris sy studie uitbrei na ’n ondersoek onder 400 wit en 400 swart tieners tussen die ouderdomme 13 en 20, is die resultate ewe ontstellend: By nie een van die etniese groepe het ’n meerderheid van meer as 50% geglo dat die mens uit vroeëre spesies ontwikkel het nie. In die lig van Pietersen se boek, is dit selfs meer insiggewend dat Afrikaanse kinders die onkundigste van al die etniese groepe was oor die waarheid van wetenskaplike bevindings: net 29% het geglo bogenoemde stelling is waar, maar die syfers vir ander groepe onder tieners was nie veel beter nie – Engels (39%), Sotho (48%), Zoeloe (38%), Tswana (43%) en Xhosa (48%).”

Hoe geldig is Pouris se bevindings vandag? Ek het geen twyfel nie min het verander die afgelope twintig jaar nie. Dink maar aan die onverkwiklike debat onder Afrikaanssprekendes wat in 2009 plaasgevind het toe “die steeds alomteenwoordigheid van onwettige godsdiensindoktrinasie van kinders in veral Afrikaanse staatskole voorbladnuus was. Ek was deel van die groep wat hierteen beswaar gemaak het, maar het weens ’n onverkwiklike veldtog van beledigings en viktimisasie – ook deur ’n bekende Afrikaanse koerantredakteur wat kant gekies het vir die oningeligtes – onttrek aan ’n veldtog wat deur Pietersen verder gevoer is om skoolhoofde en onderwysers wat die skolewet bly oortree aan die kaak te stel, het ek toe in my resensie geskryf.

As Desember 2012 se bekendmaking van Suid-Afrika se graad nege-leerders se beroerde wiskunde en wetenskapvaardighede in vergelyking met ander lande as maatstaf geneem word, word Pietersen se boek ’n selfs baie groter waarskuwing – ’n dringende “wekroep tot Afrikaanse ouers, skoolhoofde en onderwysers dat onkunde van die omvang wat Pouris se studies aangetoon het, tot ernstige nadeel van die ontwikkeling van kinders is wat in ’n wetenskaplike en tegnologiese eeu hul weg moet vind”.

As Pietersen se boek nie in 2011 op elke Afrikaanse skoolhoof en wetenskaponderwyser se leeslys was nie omdat hulle hul ore liewer wou sluit en wou bly glo in blote wensdenkery en die wetenskap steeds eenkant bly skuif het, wys die 2012-resultate dat ’n drastiese kopskuif in skole, maar ook in ouerhuise nou behoort plaas te vind – en dat Pietersen se Vrese van ons vaders in 2013 dringend gelees behoort te word. Dit help nie AfriForum en Solidariteit en ander “Afri-bendes”, soos Pietersen hierdie soort Afrikaanse druk- en belangegroepe tereg gedoop het, skep Afrikaanse akademies en ander instellings waarin dieselfde ou wensdenkery maar net weer opnuut in ’n ander gewaad geklee word omdat beswaar teen die huidige onderwysbestel gemaak word nie.

Dít bly steeds die soort psigiese koppesnellery wie se bedenklike invloed die Dan Roodts, Steve Hofmeyrs, Pieter Mulders, die Sofars en die Abel Malans op die Afrikaanse denkwêreld en Afrikaanse kinders loslaat en wat die Jan-Jan Jouberts, Amanda Gouwse, Adriaan Bassons, Lizette Rabes, Dave Peplers, Anton van Niekerks en Antjie Krogs met vuis, spoeg of heilig-geseënde woord bydam.

Onlangse sensussyfers in Wallis en Engeland toon dat een in vier lede van die bevolking in daardie lande nie meer in ’n skeppende godheid glo nie, ’n skerp styging sedert die vorige sensus toe die persentasie net meer as 14 persent was. Dit wys dat dit nie meer ’n skande is om ongelowig te wees nie en dat mense nie meer beangs is om as agnostikus of ateïs “gebrandmerk” te word nie. Dr Jurie van den Heever, die Stellenbosse paleontoloog en ghoeroe van Karoo-fossiele, wys juis in sy voorwoord tot Pietersen se boek dat hierdie reg ook in skole erken moet begin word:

“Die staatskool is … nie meer die plek waar enige godsdiens voorkeurbehandeling mag kry nie. Om dit te ignoreer is ’n oortreding en dié vergryp vorm ’n belangrike deel van hierdie boek. Ons huidige grondwet bied godsdiensvryheid aan alle Suid-Afrikaners. Dit beteken nie net dat jy ongestoord in die god van jou keuse kan glo nie en dit beteken ook dat jy nie in ’n god hoef te glo nie. Om nie-godsdienstig te wees, is ’n keuse wat ewe veel respek verdien as om een of ander god te aanbid.”

Voor ons nie hierdie ingesteldheid in skoolklaskamers en ouerhuise, maar ook in die media in 2013 begin volg nie, sal ons kinders se vermoë om wiskunde en wetenskap op aanvaarbare internasionale vlak te kan bemeester steeds agterweë bly. Om Suid-Afrika mededingend as ingenieurs- en wetenskapsland te laat presteer, behoort die feit dat die land vier Nobelpryswenners vir vrede en twee in letterkunde opgelewer het, maar ’n skamele een – Max Theiler – in drie wetenskapkategorieë die afgelope 112 jaar (en dit solank as 62 jaar gelede), genoeg waarskuwingsligte oor dié donker suiderland te laat aangaan. Sagte handskoene om bygeloof te beveg, het duidelik nie gewerk nie. Is dit nie tyd om wensdenkery te bestry deur die handskoene te vervang met wapens van wetenskaplike en wiskundige kundigheid wat onkunde doeltreffend ’n uitklophou kan toedien nie?

George Claassen is die skrywer van Geloof, bygeloof en ander wensdenkery (Protea Boekhuis) en medesamesteller met Frits Gaum van God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles (Tafelberg-uitgewers).

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 21

Kommentaar

  • Chris du Plessis

    Ek het hierdie artikel baie interessant gevind, maar tog ’n paradoks van sy inhoud. Tog interessant dat iemand wat veg vir die erkenning van wetenskap en wiskunde en gelyke erkenning van alles, so onverdraagsaam is teenoor godsdiens? My afleiding uit hierdie stuk is dat jy moet kies, dit is of wetenskap en wiskunde, of die Christendom? Growwe veralgemenings maak Christene vyande van wetenskap, omdat een skool van wetenskaplikes se teorie oor evolusie as die enigste waarheid voorgehou word. Tog interessant dat die skrywer nie ook erken dat vele wetenskaplikes nie met hierdie TEORIE saamstem nie, en dit is hoekom dit ’n teorie genoem word. DIt is verder ook opmerklik dat die groep in Suid Afrika met die hoogste wetenskaplike en wiskundige kennisvlakke (waaruit wereldgesogte kernfisikuste, dokters, ingenieurs en ander wetenskaplikes ontwikkel het) juis die groep is wat nie oor die afgelope dekades die evolusie teorie aangehang het as die enigste waarheid nie, maar wat grootliks vanuit ’n "gelowige" perspektief met wetenskap en wiskunde omgegaan het. Dit is dus nodig dat die skrywer sy hand diep in sy eie boesem steek as hy praat van eenogig na wetenskap en wiskunde kyk - realiteit oor dekades wys die teendeel!

  • George Claassen

    Chris du Plessis skryf: "Tog interessant dat die skrywer nie ook erken dat vele wetenskaplikes nie met hierdie TEORIE saamstem nie, en dit is hoekom dit ’n teorie genoem word. DIt is verder ook opmerklik dat die groep in Suid-Afrika met die hoogste wetenskaplike en wiskundige kennisvlakke (waaruit wêreldgesogte kernfisikuste, dokters, ingenieurs en ander wetenskaplikes ontwikkel het) juis die groep is wat nie oor die afgelope dekades die evolusie teorie aangehang het as die enigste waarheid nie, maar wat grootliks vanuit ’n "gelowige" perspektief met wetenskap en wiskunde omgegaan het."

    Nee, evolusie is nie net 'n teorie nie. Lees gerus die omvattende wetenskaplike lektuur deur vooraanstaande wetenskaplikes soos Ernst Mayr, Jerry Coyne, William Hamilton, Richard Dawkins en honderde ander oor waarom Daniel Dennett in sy boek Darwin's dangerous idea evolusie as 'n "universal acid" beskryf wat deur alle denke vreet. Chris, lees gerus Coyne se briljante boek, Why evolution is true, net om mee te begin.

    Noem vir my asb. die gerekende SA wetenskaplikes waarna jy verwys wat evolusie as net 'n teorie beskryf. My artikel probeer juis aantoon dat solank ons besig is om kinders in klasse besig te hou met dinge wat niks met die wetenskap en wiskunde te doen het nie in plaas daarvan om behoorlike onderrig in wetenskap en wiskunde te gee, ons kan vergeet om 'n wennasie te word wat kan voorsin in ons ernstige tekort in ingenieurs, medici en wetenskaplikes. En, Chris, begin gerus lees oor wat evolusie is voordat jy onwetenskaplike uitsprake daaroor maak. Lees gerus ook Francis Collins, 'n gelowige wetenskaplike, se boek, The language of God. Hoewel ek hoegenaamd nie met sy aannames wat rus op geen bewyse dat God bestaan nie saamstem nie, beklemtoon Collins juis dat evolusie geldige wetenskap is en dat Christene wat dit wil ontken, hul eie saak oneindig skade aandoen.

    En doen tog asb. die moeite om Hans Pietersen se boek te lees. Sonder vooroordeel en sonder oogklappe.

  • Pienkes du Plessis

    Neem asb deeglik daarvan kennis dat ek en die naïewe kommentator Chris du Plessis nie familie is nie!

  • François Verster

    Beste Chris

    "Dit is verder ook opmerklik dat die groep in Suid Afrika met die hoogste wetenskaplike en wiskundige kennisvlakke [...]"  Hé? Wat het die ander "groepe" dan aangehang? Evolusie? Jou stelling laat dit klink asof dit "juis' die groep is, en NET hulle, en nie ander groepe nie. Jy weet tog dat daar massas mense in SA is wat nie eens weet wat evolusie is nie – en meeste van hulle kom seker nie uit "die groep" wat jy uitlig nie. Bygesê, baie wat met groot oortuiging verklaar hulle weet wat evolusie behels, weet nie, en klou vas aan strooi soos dat Darwin beweer het die mens was eers ’n aap.

    Om mense se menswaardigheid te respekteer – ook diegene wat van jou verskil – het ek geen probleem nie en ek vermoed ook dat ’n "hard liner" houding aan enige kant as onverdraagsaamheid gesien word en mense dan afskrik wat dalk nog besluiteloos was. Tog het ek empatie met mense wat al keelvol is vir onlogiese en argaiese pseudo-filosofiese, tot-vervelens-toe-her-uitgebraakte retoriek wat ontbloot staan van alle bewyse en destyds uitgedink is om goedgelowiges in toom te hou. Wanneer dit, soos Claassen dit stel, mense terughou en erger, kan ek tog verstaan dat hy teen die mure wil uitklim. 

    Wat ek self ook nie kan begryp nie is hoe mense tevrede is om wydsbeen oor twee wêrelde te staan en amper skisofrenies kan glo in dinge wat ander mense beweer bestaan, en dit wat jy selfs kan sien bestaan. Vrees vir die onbekende doen skynbaar vreemde dinge aan mense. 

    En nou, terwyl daar seker ’n paar is wat vir my gaan begin bid, wil ek hulle by voorbaat bedank en aanprys vir die medemenslikheid, want  dis ongelukkig iets wat eintlik nie so volop is onder gelowiges as mens sou dink nie: dit lyk asof hulle nie verder as die eerste gebod kom nie, hoewel die tweede so hoog opgegee word.

    As mense net oop is vir oortuiging (nie moontlik vir dogmatiese mense nie), en doen aan ander wat hulle hulle aan hulself gedoen wil hê (daar's hy – die ontwykende tweede gebod) behoort almal in vrede te kan leef. Dan sou mens selfs van ware demokrasie kon praat!

  • George,

    Net so een of twee korreksies wat jy so vining en ongesiends wil laat verby gaan ;

    1. “…waarskynlik Higgs se byna vier dekades-oue teorie oor die ontstaan van die heelal as korrek bewys en dat ons nou die eerste keer behoorlik verklarings kan vind vir die ontwikkeling van materie.” Dit is goed jy gebruik die woord “waarskynlik” in dié sin, maar dan volg jy dit “nonchalant” op met “…dat ons die eerste keer behoorlik verklarings kan vind vir die ontwikkeling van materie…” Nee-nee, jy bedoel dat daar verdere hipotese en teorieë gevorm gaan word gegrond op die “waarskynlikheid” van die “aanname” van die Higgs-Boson partikel (wat terloops nog glad nie bewys is nie). Onthou jy nog Duitswester se vragie “Wat het ontplof in die big bang?”

    2. “…onkundige en onopgeleide en bygelowige onderwysers voor klasse in lewenswetenskappe te laat staan en evolusie as “net ’n teorie” te beskryf in plaas van ’n wetenskaplike feit nie..” George jou ou kansvatter! Dat jy nou wragties jou eie skrywes wil ondersteun deur te beweer evolusie is ‘n bewysde wetenskaplike feit! Dít terwyl die teendeel al telkemale bewys is! Maar terwyl jy nou so uitgesproke is, gee gou-gou vir ons die bewysde verduideliking van hoekom dit dan is dat jul (evolusioniste) se  beweerde oorspronklike partikel wat miljoene-der-miljoene jare terug gevorm het en oor miljoene jare heen gedupliseer het in identiese partikels, elke identiese partikel besluit het (per toeval of dan deur natuurlike seleksie) om elkeen uiteindelik te evolueer in iets heeltemaal verskillend van mekaar! En terwyl jy besig is gee sommer vir ons die bewysde verduideliking, dat as ons van Sjimps ge-evolueer het, waar presies is die oorgangs “wesens” dan is (siende dat daar nog Sjimps is – terloops, hulle het seker stilgestaan en wil nie evolueer in mense nie!) en hoekom ons dan nog ander Primate kry?

    Jy sien George – Dit is verbasend dat dit juis dié skole is met ‘n Christelike basis en Christelike beginsels is wat by vêre die top presteerders in wiskunde, wetenskap, biologie, ens. opgelewer het en dat dit juis ook hierdie kinders is wat by uitstek op universiteite reg oor die wêreld presteer om top wetenskaplikes, ingenieurs, dokters, ens. te word. Hoekom, dink jy is dit so? Omdat hulle van kleins af die waarheid en betroubaarheid van die Almagtige God se Woord en Skeppingsdade geleer is en die Heilige Gees hulle bewaar van die leuen van die wêreld se “evolusie-godsdiens” en dat hulle ten volle in staat is om op skool en univeristeit, elke keer die leuen van evolusie raak te sien en dit met die minagting wat dit verdien, te verwerp. Jy sien, dié kinders ondersoek en vra juis vrae oor die evolusie-godsdiens wat nie verduidelik kan word nie (en ook nooit sal nie) en aanvaar nie die teorieë en hipotsese  as “bewys” nie – omdat dit nie is nie!.

    Maar ou George, jy en diesulkes, sal aanhou probeer – en julle sal kom en gaan (dit gaan al eeue lank só) maar julle sal nooit nêrens kom nie ( Ooo,...die geroep en geskreeu van die Baäl/Evolusie-godsdiens priesters! Skree harder – sny dieper met die pot skerwe!...).

    Sterkte

    Dolf

  • Dolf en Chris: Daar is nie een moderne PhD. bioloog wat ontken dat lewe ge-evoleer het nie. Indien daar is. laat weet ons van hulle.

    Verder is daar (huidiglik) nie een (herhaal NIE EEN) wetenskaplike bewys wat evolusie as vals bewys nie. Indien daar is, is dit 'n deurbraak wat tot 'n kits Nobel prys sal lei.

    Daarteenoor is daar tot datum meer as 445 000 eweknie ge-evalueerde navorsingsartikels in die planeet se top wetenskapjoernale wat konsekwent en kumulatief evolusie bewys - wat strek oor sowat 150 jaar.

    Evolusie is ONAFHANKLIK bewys uit minstens 9 dissiplines in die natuurlike wetenskap. Dit is een van die bes bewese wetenskaplike teoriee wat verspot maklik falsifiseerbaar is. 

    Waar haak julle vas? Glo julle byvoorbeeld nie dat spesiasie plaasvind nie? Of wat is die issue?

  • 'n Waansinnige dwepery het 'n gevestigde nywerheid geword.

    Rasionele denkers word versimpel om hulle stil te hou.

    Die aanvaarde norm van menswees is om die wonder van die verstand te onderdruk.

     

  • François Verster

    Goei genade ... Dolf, lees weer my laaste sin van die eerste paragraaf - die mens het NIE van die "sjimp"ontwikkel nie. Die mens het 'n gemeenskaplike voorsaat gehad. En ons het ook nie juis ontwikkel sedertdien nie. Kyk mooi in die spieel, dan sien jy ...

    Vertsaan jy nou?

    Dis al honderde male deur honderde wetenskaplikes gesê, en jy noem ander kansvatters? Gaan lees tog iets ... enigiets.

    f

  • Claassen beweer dat christene wat nie aan evolusie glo, hulself oneindig skade aandoen. In hierdie opsig is Francois heel reg as hy redenaar dat "massas mense" in SA nie eens weet wat evolusie is. Indeendeel, ek dink dat evolusie is 'n siening wat met tyd net al hoe meer sal wegkwyn.

    Die gewone christen mag dalk nog met 'n vaardige joernalistiek wetenskapskrywe (soos Claassen sin hierbo) mislei of oortuig word, maar sal jy dit defnitief nie reg kry met die wedergebore christen nie. Want die wedergebore christen sit met vaste ONDERVINDINGE in God. Die Skepper van die heelal is 'n te groot werklikheid in sy lewe. Die skeiding wat hulle ervaar tussen die aardse en die spirituele heerlikheid is 'n te vaste fondasie en bevat lewenswerklike gebeure en mylpale in hul lewe.

    Inteendeel, hul is trots daarop om na die beeld van God geskape te wees, en eer God daarvoor. Daarom kan hul nie verstaan hoekom die evolus begeer om na die beeld van 'n sjimp geskape te wees. Ekself sien dit as 'n misleiding van die groot Verleier! 

    Die mens wat gegrond is in die heerlikhede van God, geniet sy eie vermoens, gawes en kreatiwiteit in God. Niks is vir hom onmoontlik en word sy beperking net in God gevind. 

    Net soos Claassen 'n aanbeveling maak en verwys na sekere boeke wat hy wil moet gelees word, het ek 'n wenresep vir hom wat werk: Hoofbestandeel is 'n ordentlike bybel. Soek dan eers na God tussen hierdie blaaie van Sy onbetroubare Woord en ontdek Sy woorde. Voeg daarby al jou ongelooflike wetenskapkennis (ek kan sien dit is Claassen se passie) en sif dit. Voeg vir verdere verryking by biologie, wetenskap asook bybelse geskiedenis. Inteendeel, gaan besoek hierdie lande as jy nog enigsins twyfel. Moet natuurlik nie Panda en die ander se kennis omtrent die heelal en sterre vergeet nie. Hierdie planete sal soos cherries op die koek uitblink. Want daarin gaan jy eers die grootheid van God ontdek! 

    Daarna, sal jy nooit weer dieselfde wees of dink nie ...

    (En die aap sal op sy regte plek bly, onder die orde en heerskappy van die mens wat opdrag ontvang het om oor die diere te heers!) 

    Trienie

  • Koos,

    Graag reageer ek op jou “vasgehakery” by “evolusie is ‘n bewysde wetenskaplike feit” en ek haal jou aan: “…Verder is daar (huidiglik) nie een (herhaal NIE EEN) wetenskaplike bewys wat evolusie as vals bewys nie...” Ja-ja en daar is ook nie een (ek herhaal NIE EEN) wetenskaplike bewys wat evolusie  as waar bewys nie – Wat daar wel is, is aanhoudende (en eentonige) “nuwe” teorieë en hipotese (gegrond op die “waarskynlikhede” en “aanames” vanaf ons “slim” vriende, die wetenskaplikes)  wat uitgedink word om vorige (onbewysde) teorieë en hipotese (wat verval het weens hul onbewysbaarheid)  te vervang en ook om die leuen van die evolusie–godsdiens lewendig te hou!. Ja-ja die woorde raak “groter” en klink baie “slimmer” maar na bykans 200 jaar sit dit nog steeds “vasgehak” by Darwin se idiotisme – en dit alles net om ‘n teenvoerder vir die enigste ware christelike geloof te kry!

    Is dit nie amusant hoe die “wetenskaplikes” naarstigtelik soek na bewyse vir die evolusie-godsdiens en keer op keer hulself vasloop in God se Almag en Wysgheid in die uitleg van Sy skepping nie! Jy sien, God kan nie weg bewys word nie en daar is nie een (ek herhaal NIE EEN) wetenskaplike bewys (of wat ookal) wat God weg bewys nie!

    Verder kan jy gerus konsentreer om, eerstens, my bewering as vals te bewys ten opsigte van die skole met ‘n Christelike basis en, tweedens, bewysde antwoorde te lewer op my eenvoudige vragies aan George betreffende sy evolusie-idiologie.

    Terloops, spesiasie is ‘n onbewysde wetenskaplike toerie, net soos die bewering van sommige evolusioniste dat aanpassing (“adaptation”) evolusie is. Só, probeer weer.

    Sterkte

    Dolf

  • Na duisende jare se pogings is die mensdom te stompsinnig om te besef dat die manier waarop hulle kennis wil oordra,  nie werk nie.

  • Yay lanklaas jou rubriek gesien George -hoog tyd. En ek sien jy kry baie goeie kommentaar.

  • Thys Human (PTA)

    George Claassen het so goed en mooi begin om die onhebbelikhede van die godsdienstige fundamentaliste en die negatiewe en nadelige invloed wat dit het op dosering en studie van wetenskappe uit te wys.  Ek het 'n lang pad instemmend met hom saamgeloop - totdat hy die politiek en in besonder Afrikaner-politiek ingesleep het met ongegronde en onnodige aanvalle op persoonlikhede soos Roodt, Hofmeyer en andere.

     
    Asseblief George, stel jou saak oor evolusie en die wetenskaplike sondes van godsdiens, maar skei nou uit om jou politieke sieninge daarby in te sleep. Jy is besig om groot skade aan te rig aan die werk wat 'n hele klompie van ons doen om  presies hierdie denke oor die wetenskap en die godsdiens by Afrikaners tuis te bring en 'n groter oopheid teenoor ander sieninge te probeer bewerkstellig. 
     
    Ons het reeds so gevorder dat die Vereniging van Vrydenkende Afrikaners wat ons so jaar of twee gelede in die lewe geroep het om onder meer die bekrompenheid van die Volksverkiesingskomitee aan te vat, genooi word om berade en gesprekke tussen Afrikanerorganisasies oor die pad vorentoe by te woon. So iets was enkele jare gelede ondenkbaar,
     
    Maar die oomblik as jy jou anti-Afrikaner idees by andersins goeie artikels insleep, spring die mense om en se^: siedaar, jy stem saam met Claassen oor godsdiens en evolusie, so jy stem seker ook saam met hom (en sy anti-Afrikaner vriende) oor die Afrikanervolk, dus is jy nie welkom hier nie.
     
    Want jy sien George, jy en jou vriende gaan nie daarin slaag om die Afrikanervolk te vernietig of weg te praat  of as 'n afskuwelike wese af te kraak nie.  Die onderdrukking van Afrikaans op skole en universiteite, die uitmergelende effek van beleidsrigtings soos BEE en Affirmative Action sal dit miskien in die volgende drie, vier geslagte regkry,  maar die anti-Afrikaner "Afrikaanses" van Stalinbos en die Wes-Kaap sal baie eerder - dalk binne die volgende geslag - verdwyn in die oorheersende massa van die ANC en die Engelse taal.
     
    Die handjievol Afrikaners wat probeer om oop en byderwetse denke in die Afrikaner in te dra en te vestig, se taak is klaar al moeilik en moeisaam. Moet dit asseblief nie verder befoeter nie.  
     
     
  • François Verster

    Trienie, jy blaas my om soos 'n veertjie - ek se Dolf het nie gelees wat ek geskryf het nie en dan lees jy net een deel en mis weer wat ek vir Dolf gese het! ONS IS NIE NA DIE BEELD VAN APE GESKAPE NIE!!!

     

    En evolusie sal nie weggaan nie -dis reg voor ons neuse, terwyl religie van enige tipe in die verbeelding "leef." Wie het God, al gesien - ken jy so iemand? Wie het God geskape as almal dan geskape moes wees - dis soos die hoender en eier - daar moes dan iets gewees het waaruit God gekom het indien alles uit iets moes gekom het. As God alwetend is, waarom al die lyding nodig - hy moes dan weet Satan sou aanjaag, lank vooruit.

     

    Nnee ek is jammer: GEEN logika aangaande religie, NIKS.

  • Dolf

     
    Jou redenasies is 'n pragtige voorbeeld van die gevolge van Christelike onderwys - 'n diepgestelde geloof in mites sonder enige bewyse en 'n totale afkeur van enigiets wat volgens die wetenskaplike metode bewys is, maar wat bots met jou troetelgelofies.
     
    Die Bybel is so min 'n bewys van die ontstaan van lewe as wat 'n Superman strokiesverhaal bewys van Superman se bestaan is.
     
    Groetnis
    Thomas
  • George Claassen

    Thys, ongelukkig kan politiek van niks geskei word nie, nie van sport, onderwys, kuns en kultuur ens nie. Dis politici en druk- en belangegroepe wat besluite neem wat polities is. My beswaar is dat wiskunde en wetenskap in Afrikaanse skole verdwerg word deur sinnelose tydvermorsery op dinge wat in die huis en kerk en moskee aangespreek behoort te word maar wat in klaskamers in alle vakke geskied. In plaas daarvan dat die kinders wiskunde- en wetenskaponderrig ontvang, word kinders van graad een af wys gemaak dat die gode wat hulle aanbid, inderdaad wetenskaplik bewese is.

    Ek het nie my kinders skool toe gestuur om deur 'n onderwyser geïndoktrineer te word oor religie nie. Dis my opvoedingstaak, nie die van onderwysers of drukgroepe nie. In die Grondwet word vryheid van religie beskerm. Waarom word daardie ouers wat dit vir hul kinders opeis dat hulle nie aan godsdiensindoktrinasie op skool blootgestel behoort en hoef te word nie omdat dit hulle taak is om hul kinders aan huis te leer, steeds geminag? Kinders wat nie aan gebedsessies blootgestel wil word nie, word gebrandmerk, al vereis die skolewet en ondewysriglyne dat hule wel mag vesrkoon word van sulke aktiwiteite.

    Ek skryf hier in Afrikaans, my taal van kindsbeen af. En ek glo nie die taal kan bly oorleef deur die dwangaksies van drukgroepe soos Dan Roodt, Steve Hofmeyr (as oudjoernalis, kan jy gerus let op die spelling van sy van) en ander Afrikaanse stryders wat die taal meer skade doen as goed nie.  

    Gaan kyk gerus na die voorblad van Die Burger verlede week nadat die skole begin het en waarin 'n klompie graad eens al biddend uitgebeeld word, en dit nogal met 'n opskrif wat sterk religieuse breinspoeling is. Wanneer word ons Afrikaners se onsinverklikkers aangeskakel?

  • George Claassen

    Ek het elder by SêNet kommentaar gelewer op Thys Human en Jan Rap se vrae oor waar my bewyse is dat kinders wat religieuse indoktrinasie deur middel van staat en skool ontvang, slegter vaar in wiskunde en wetenskap. Dus herhaal ek dit vir volledigheid weer hier: talle wetenskaplike studies het reeds die verband getrek tussen swak wetenskapsonderrig en religeiuse indoktrinasie. Gaan lees Peter Watson se briljante boek, Ideas: A History from Fire to Freud, en spesifiek sy uitstekende hoofstukke (12 oor waarom Islam die Weste ver voor was in wetenskaplike denke tussen die 9de en 11de eeue, en 15: The idea of Europe). En waarom Islam vandag so ver agtergeraak het wat wetenskaplike kennis betref en die redes waarom die wetenskap juis in die Weste, ook en ondanks die Rooms-Katolieke Kerk se Inkwisisie, Islam agtergelaat het. Hy haal die historikus van Cambridge Universiteit Toby Huff aan wat in sy boek, The rise of early modern science in Islam, China and the West, bevind het die gebrek aan 'n skeptiese ingesteldheid en tradisie in Islam-lande en China het hulle hul voorsprong laat verloor.

    Daarteenoor het Galileo en ander wetenskaplikes teen die kerk opgestaan en was daar 'n sterk skeptiese tradisie. Pas dit toe op Afrikaanse kinders: ek sien dit daagliks in my nagraadse klasse op Stellenbosch, Afrikaanse studente is net soveel minder oopkop as hul Engelse klasmaats.

    China het intussen opgevang en steek die Weste selfs verby. En stelselmatig sien ons hoe die bevolking begin skepties dink oor hul leiers se onderdrukking van skeptiese idees. Islam? Dit sal nooit verander solank moelas besluit wat mense mag dink en lees en of vroue enige regte het ens. Dis wat die Taliban probeer: om weer beheer oor die denke van mense in Afghanistan oor te neem, vroue te onderdruk, allerhande drakoniese regulasies teen vrye denke in te bring.

    Ek vra om die reg om skepties te wees, ook die reg om jong mense skepties te laat dink. Dis hul reg, en geen onderwyser mag dit wegneem nie.

  • Thys Human (PTA)

    Ek waardeer dat jy reageer op my inset, maar dit lyk my jy verwar my met iemand anders - dalk Dolf en Trienie. Want ek het hoegenaamd geen vrae gestel of kritiek gehad oor godsdienstige indoktrinasie op skole nie. Inteendeel, ek stem heelhartig saam met jou dat dit 'n gruwelike onding is. Ek het rede om te glo dat die soort ding veral in biologie-klasse voorkom en kreasionisme dikwels meer aandag kry as die wetenskap self.

    En jy is ook reg dat die politiek wel alles raak en nie sonder meer geskei kan word van dinge nie, maar ek dink steeds jy is besig om 'n handjievol van ons wat probeer om die "regse en bekrompe" Afrikaner in die 21e eeu in te sleep. se werk te bemoeilik, selfs te befoeter.  

    Of jy nou saamstem met die konsep - nee die feitlike werklikheid van 'n Afrikanervolk - of nie en dalk selfs snedig daaroor is, is nie ter sake nie, maar daar is 'n beduidende groep Afrikaners (lw nie Afrikaanses of Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners nie)  wat besig is om gesprekke met mekaar te voer oor hoe die Afrikaner (as individu en as volk) in die huidige staatsgemors kan oorleef.  Feitlik voor die voet word hulle as "christelik" beskou en die idee dat slegs 'n "christen" 'n Afrikaner kan wees, heers nogal wyd. 

    Maar ons groepie vrydenkers het dit nou al by heelwat van hulle tuisgebring dat die sieninge nie waar is nie - dat daar Afrikaners is wat katolieke, Boeddhiste en selfs uitgesproke ateiste en non-teiste (soos ek) is - en dat ons onsself net soveel as Afrikaners beskou as enigeen van die ander.  Jou geimpliseerde siening dat geen Afrikaner 'n evolusionis kan wees nie - en omgekeerd - is doodeenvoudig verkeerd, kortsigtig (want jy befoeter selfs jou eie saak)  en skadelik vir ons taak. 

    Ons glo dat ons standpunte baie meer bydra om hierdie mense oop te maak vir die feit dat daar "andersdenkendes" binne Afrikanergeledere is. Dan Roodt en Steve H (dit is mos met 'n H ne?) speel op hulle manier ook 'n rol in hierdie dinge  - en kry dalk meer reg as ek en mede-vrydenkers. En hulle kry ook meer reg as 'n hele spul akademici op Stalinbos om Afrikaans te laat oorleef en nie sonder meer vertrap te word - of deur Engels oorrompel te word - soos klaarblyklik besig is om daar in die suide te gebeur nie.

    Terloops, daar is 'n groot aantal Afrikaners in die suide - selfs Afrikaner-organisasies. Julle maak 'n fout as julle dink  hulle is geesdriftig oor Kaapse idees van 'n "nuwe taalgemeenskap" of 'n "nuwe Afrikaner".  En hulle is net so godsdienstig en selfs bekrompe as die klomp hierbo.  En my inligting is dat hulle nie baie ooghare het vir jou en jou genoemde vriende nie. Miskien moet jy bietjie ander taktiek en strategie inspan. Hierdie afkraking van mense werk nie,

  • As rasionele denke die gevolg van normale verstandelike ontwikkeling was,  sou dit seker nie met soveel minagting onderdruk gewees het nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top