Om dubbel-gemarginaliseer te wees

  • 0

I

Om gay/lesbies te wees, maak jou deel van 'n marginale groep, 'n subkultuur, 'n onsiende bestaan, 'n stereotiep. Van kleins af leer jy hoe dit is om anders te wees. Jy weet wat Van Wyk Louw bedoel het toe hy geskryf het van pyn wat oop en buite bakens is.

In die VSA word daar geweldig baie navorsing gedoen oor die queer-kind en oor elke aspek van hierdie bestaan.

Die afgelope vyf en twintig jaar het die gay mens – veral in die Afrikaanse letterkunde – van hom- en haarself laat hoor. Stephan Bouwer, Hennie Aucamp, Koos Prinsloo, Johann de Lange en ander het die pynbakens verskuif. Dikwels tot die chagrin van die establishment, wat lyk my steeds nie die p-woord binne 'n tekskonteks kan verteer nie, as 'n mens die verontwaardiging op die hetero-Antjie Krog se kragtige gedig in Verweerskrif moet ernstig opneem.

Maar hoe is dit om lesbies en swart te wees? Om dubbel-gemarginaliseer te wees?

Zanele Muholi se fotoboek Only half the picture word gepubliseer om saam met die tentoonstelling beskikbaar te wees.

Verlede jaar reis ek deur Frans-Kanada en op die eerste dag is daar 'n lesbiese Ope Dag in Toronto. Die vroue stap naak en halfgeklee deur die strate – vet, maer, mooi en lelik. Swart en wit. Vroue met kinders in waentjies. Die hele santekraam word hier aangetref met die boodskap: ons is hier.

Ek het eers na die foto's gekyk en toe die tekste gelees.

Die foto's in hierdie boek is behendig – dit vertel van al die fasette: die identiteitskrisis, 'n swart vrou met 'n dildo, twee swart vroue wat soen. Aangrypend is die foto van 'n saaknommer (met 'n datum, stempel en telefoonnommer) waarin verkragting aangemeld word. Twee sterk foto's wys hoe dit lyk wanneer 'n mens selfhaat oorleef het ...

Waarskynlik sal kykers gru vir intimiteite wat ontbloot word, maar onthou: die foto's wil die kyker deur ál die taboe-landskappe neem.

Die bekende foto van die boomwortels wat soos 'n vagina uitdy, is hier opgeneem (p 54) en vroue word in al hul vleeslikheid liefdevol afgeneem. Die lesbiese lyf is nie altyd 'n maer een nie, omdat die manlike "gaze" nie die liggaam in toom hou nie.

"Reclining figure" (p 64) is uitgestal soos 'n kunswerk en die kyker interpreteer dit onbewustelik as 'n ironisering van Manet se "Olympia". Vir wie lê sy so naak uitgestal? – om Johann de Lange se gedig aan te pas.

Die insigryke voorwoord van Gabi Ngcobo van die Iziko-museum help die kyker om foto's in perspektief te plaas. Sy verwys na die betekenis van bloed ("touch my blood") in straatlingo, die transgressie van politieke bakens (ja, dit is 'n politieke posisie wat jy inneem wanneer jy openlik lesbies is) en in welke mate hierdie foto's die afwesigheid van eens nóú uit die weg vee. Dit wat op 'n tyd nie moontlik was nie, kan nou gebeur

Natuurlik het groter opsigtelikheid sy nadele: viktimisering is moontlik en van die foto's wys op die taal van vernedering wat hierdie vroue moet/moes hanteer.

Die fotograaf is 'n politieke aktivis en Ngcobo verwys na die "history of its representation as a body in exile from itself".

Die boek is eweneens relevant vir die puik analises van onder meer Pumla Dineo Gqola.

Die belangrikste bydrae van hierdie boek is dat rassisme en seksisme één word in die representasie, om met die voorwoord saam te praat. En dat die onbekende óópgemaak word: skokkend, pynlik, maar veral onthoubaar. Die pyn skryn dikwels op die foto's.

Sy is al by geleentheid die Annie Leibovitz van Suid-Afrika genoem. (In die teks staan daar Leibowitz.) Ek sou haar eerder 'n vroulike Robert Mapplethorpe noem in die grensoorskrydende, woedende, passievolle aanklag-foto's in 'n radikalisering van estetika. Charlene Smith verwys na hierdie radikale estetika en dekonstruksie van gendernorme. Die taal van hierdie foto's is sterk en welluidend.

Dis belangrik dat stemloses stemhebbend word en dat al die foto's in 'n gemeenskap ontwikkel word.

II

Nicholas Hlobo se Izele is 'n prag-katalogus waarin dimensies van gay-wees op 'n fassinerende en provokatiewe manier ondersoek word. Hy verduidelik vir die leser die verskillende aspekte van sy swart kultuur. Op die voorblad staan die "Dream Catcher" afgedruk: dit is 'n binneband met pienk vlegwerk en 'n fallus. Daar word verduidelik dat dit geïnspireer is deur Noord-Amerikaanse "inboorlinge" se "dream catchers" (p 34). Nie alleen word daar op 'n slim wyse op Amerikaanse folklore ingespeel nie, maar terselfdertyd is die kunstenaar besig om deur aanwending van die fallus 'n dimensie by te bring sodat die kunswerk op 'n ras- en gender-vlak kritiek lewer. Dubbele kommentaar dus. Die swart-gay mens se drome en seksuele versugtinge word hier tasbaar gemaak.

Die kunswerk aktiveer ook die stereotiepe idee van die gay wat ’n man in uniform begeer: die mites rondom die matroos, die lewe (pre-Vigs) in San Francisco en Los Angeles.

Die vermenging van Afrika-kultuur met kamp-simbole uit die gay-wêreld het dikwels 'n kognitiewe dissonansie tot gevolg. Die kyker word op dubbele vlakke geboei, ontmasker. Die kunswerke dekonstrueer telkemale jou gevestigde idees en plaas iets in die plek daarvan. Dit maak van elke sekerheid 'n onsekerheid, 'n on-finaliteit, en alle sekerhede omtrent wat kuns nou eintlik mag wees, word hier op sy kop (sy fallus!) gekeer.

Op p 28 is daar die Umkwetha, die geïnisieerde – maar nou met 'n rok aan, wat eweneens die dubbelsinnigheid van (seksuele) inisiasie aandui ...

Chitha op p 22 werk weer met die dubbelslagtigheid van sowel man as vrou wees en aktiveer – volgens die beskrywing – die sterkte van die vrou. Die woord beteken om water uit te gooi, maar ook om te kom. (Die vrouepop moet jy in hierdie installasie opblaas.)

Die dubbelspraak is waarmee gewoeker word: die tradisionele kraal word met pienk, die kleur van gay-wees, opgehelder. In die aangrypende "isisindo samadlozi" word die Zoeloe-voorvader opgeroep, maar idlozi beteken in Xhosa ook sperm. Dalk 'n karhefboom, 'n dildo, ook 'n penis ...

Ook word op die gevare van inisiasie ingespeel: dat jong seuns dikwels met besnydenis beseer word en dat hulle nie 'n egmatige keuse kan uitoefen nie, want die tradisie het namens hulle besluit.

Dis 'n ongelooflike spel wat in die kyker se verbeelding gespeel word: vanaf Sunlight-seep wat aangewend word tot 'n stoelkussing tot 'n spel tussen objekte wat verplaas word in 'n nuwe ruimte

Die kommentaar van die kunstenaar is van geweldige hulp vir die kyker/waarnemer. Nie alleen word 'n komplekse analise van genderposisies gemaak nie, maar die kunstenaar plaas op 'n briljante wyse onversoenbaarhede, of dan eerder, dit wat oënskynlik onversoenbaar is, tesame. En dit het 'n kognitiewe dissonansie te gevolg. Dit dekonstrueer betekenis: dit breek af en bou op. Dit gebruik die konvensionele, argetipiese patroon, maar laai dit met nuwe betekenisse. En in hierdie spel besef die kyker watter pyn daar opgesluit lê vir die kunstenaar, wat waarskynlik verwerp is deur sy gemeenskap omdat hy gay is.

Aantekening

Die stuk oor Muholi het oorspronklik in Die Burger verskyn.

Zaneli Muholi: Only half the picture
ISBN 0 620361 46 8

Nicolas Hlobo: Izele
Katalogus nommer 22
Michael Stevenson, 2006

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top