Offerlam deur Chanette Paul: ’n lesersindruk

  • 2

Offerlam
Chanette Paul
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799377118

In Offerlam wiggel Paul ’n klomp balle in die lug soos ’n bedrewe jongleerder. Dit sit nie in elke skrywer se pen om ’n ingewikkelde verhaal wat oor drie generasies strek en vanuit vier uiteenlopende perspektiewe vertel word, so behendig te verwoord nie. Boonop speel die verhaal af in Suid-Afrika, die eertydse Belgiese Kongo en België. Paul is meesterlik in beheer van elke faset van die storie – iets wat net ’n uiters ervare skrywer sal regkry. Offerlam is trouens Paul se 11de spanningsroman en ook die verhaal waarmee sy internasionaal debuteer in België, Nederland en binnekort in Amerika.

Die verhaal begin in 1961 in die Kongo waar ’n jong Kongolees, wat Patrice Lumumba se Mouvement National Congolais goedgesind is, tereggestel word voor die oë van sy geliefde, die vrou van ’n sakeman wat sy politieke mantel na die wind draai soos dit hom pas. Die vrou word aangerand en vir dood agtergelaat, maar herstel en pak ’n vlugtog aan wat haar te voet oor verskeie Afrikalande neem tot in Pretoria en van daar per vliegtuig na België waar sy lewenslank wegkruip vir die wraak van haar man.

Meer as vyf dekades later in Suid-Afrika kry die vertaler, Caz Colijn, ’n oproep van haar suster, Tieneke, wat haar België toe ontbied. Ma Fien lê op 98 op sterwe en wil Caz sien. Dit nadat hulle Caz en haar pasgebore baba 31 jaar gelede in Pretoria weggejaag het toe sy om hulp by hulle aangeklop het. Caz is huiwerig om die drade op te tel met haar ma en suster wat alle kontak met haar verbreek het, maar dan los Tieneke ’n bom. Fien wil Caz vertel wie haar biologiese ouers is voordat sy sterf. Oor die foon leer Caz dan dat sy aangeneem is en sy besef dat dit dalk Lilah, haar dogter, se sonderlinge voorkoms kan verklaar.

So begin Caz, ’n huishen, se alleenreis na ’n verre, vreemde land toe. Sy word met die verlede gekonfronteer en leer dat sy die produk van verkragting is, dat sy  moordenaarsgene het en vervloek is. Haar biologiese ma beskuldig haar dat sy gewetenloos en koelbloedig is. Kort voor lank word sy as verdagte in ’n moordsaak beskou. Twee Kongolese wat op soek is na die nkisi – ’n masker en beeld wat voorvadergeeste huisves – agtervolg haar en moniteer haar foon en e-posse. Sy word aangeval en oor ’n bruggie in die yskoue water van ’n rivier gegooi. En dan is daar die geheimsinnige Tijl Uilenspiegel ...

Paul is die koningin van die Afrikaanse spanningsroman en Offerlam, ’n grootse, dapper werk van oor die 500 bladsye is reeds in 2015 gepubliseer. Sy het die agtergrond tot haar verhaal deeglik nagevors al is die karakters fiktief en die historiese figure in ’n mate gefiksionaliseer. Sy erken self dat sy soms feite verdraai en blatant gelieg het om by die storie in te pas. Maar is dit dan nie reeds ’n belangrike komponent vir ’n suksesvolle spanningsverhaal nie? Werklikheid en verbeelding moet moeiteloos inmekaar vloei en aan die leser ’n familiariteit skep waarmee hy vertroud is en wat hom in die storie se egtheid laat glo.

Die verhaal lewer subtiel en gebalanseerd kommentaar oor kolonialisme en post-kolonialisme en daarmee saam die gevolge van grootskaalse uitbuiting wat ’n teelaarde skep vir hebsug, magsug en heerssug. Alles dinge waarmee Suid-Afrikaners met ons bloedige geskiedenis van kolonialisme en apartheid kan identifiseer. Die titel, Offerlam, dui dan reeds daarop dat die een se dood die ander se brood is. Iemand moet die prys betaal sodat ’n ander nie hoef nie. Caz sê aan Ammie, haar biologiese ma: “Ek was die offerlam ...”, “Biêdem wat van my word ...” en “Jy het jou kind op die altaar geplaas sodat jy jou vorige lewe van jou kon afskud en van voor af kon begin.”

Paul neem die leser saam op reis na België en jy ervaar die land en kultuur deur die oë van die karakters. Ek het na dese my wenslysie opgegradeer en wil graag kriekbier en koffie-verkeerd gaan proe. Ek wil ook van die openbare vervoerstelsel daar gebruik maak en plekke soos Gent, Doel, Damme en Leuven besoek. Plaaslik wil ek Stanford beleef.

Aanvanklik moes ek gereeld die handige lys karakters voor in die boek raadpleeg, maar ek het mettertyd die verskillende karakters leer ken en plaas. Die lys vreemde woorde agter in die boek het baie tot my positiewe leeservaring bygedra. Woorde en uitdrukkings soos “subiet”, “fantoom”, “ekskuseer” en “bloed en baaierd” het egter vir my die vloei van die teks gestrem. My oë het bly vassteek by die, vir my, stram woorde. Die gebruik van Nederlandse en Vlaamse woorde dra egter by tot die outentieke gevoel van die verhaal.

Ek voel dat Paul Caz se skok en verwarring toe haar dogter met ’n ander velkleur as haar eie gebore word, in meer diepte kon ondersoek het. Al het die moeder haar kind dadelik aanvaar en liefgekry, moes daar tog vrae gewees het – veral aangesien haar man en familie haar en die kind boonop verwerp het. Sal mens regtig 53 jaar laat verbygaan voordat jy jou kind se herkoms naspeur en probeer verstaan hoekom jou kind anders lyk as jy, haar pa en haar grootouers aan beide kante?

Soos Kupido Kakkerlak in Brink se Bidsprinkaan, word Caz Colijn een van my gunsteling fiktiewe karakters en ek is opgewonde om Offerande, die tweede deel van Paul se Offer-tweeluik ook te lees. ’n Groot lekkerte is die kleurvolle foto’s op Paul se Facebook-blad van die plekke waar die tweeluik afspeel. As jy nog nie Offerlam gelees het nie, skaf dit gerus aan. Dis Chanette Paul op haar beste met intelligente leesstof wat al die regte toutjies trek.

  • Louise Viljoen is ’n vryskutresensent van Jeffreysbaai.

Lees ook Riette Rust se resensie van Offerlam.

  • 2

Kommentaar

  • Amanda Claassens

    Heerlike resensie, Louise. Daar is nogal heelwat raakpunte met my eie skrywe oor die verhaal.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top