Oestyd-skryfuitdaging: Opdrag aan die tyd voor my

  • 0

Opdrag aan die tyd voor my

Gladys staan in ’n wit kombuis
en sing haar struggle songs.
Sy bevry die skottelgoed
wurg en druk die onderdrukkende water
uit die spons uit.

Die gedagtes van gerasperde mense
in strate vol brandende bande.
Die reuk van die halssnoer hang vars
in die lug vol krete en skote.
Trane, olie en bloed vloei
saam af in die stormwatergat.
Die rook trek die lug in
en merk die dag se verloop.

Ek dink aan die kinders op die grens
wat heeltemal gespoel en heeltemal onnodig
die lug in geblaas word.
Die vrou wat huil en vuil
vol bloed in Kerkstraat op hardloop.

Ek dink aan die kinders wat gefrommel lê
in massagrafte met lood in hulle rûe.
Ek dink aan Vlakplaas en die bloudraad
om ’n paar bewende hande en testikels.

Aan tafel voor die Heyns-gesin
is die aandete vol stukkies harsing en been.
Die bloedbevlekte mat in die parlement
wat eers tien jaar na ’94 verwyder is.

Ek dink aan die honger bloedbesmeerde man
agter in die Land Rover op pad na Pretoria.
Die pis wat oor die president loop onder die dek,
op pad eiland toe.

Gladys tel die strykyster op.
Die baas is nou haar broer.
Sy weet almal weet, maar niemand praat nie.
Sy brand ’n pragtige kruis
voor haar in die klaar gestrykte hemp.

Opgedra:
aan die tyd wat voor my was
en die tyd wat voor ons is.

 

Klik hier vir besonderhede oor PEN Afrikaans se Oestyd-skryfuitdaging.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top