Oestyd-skryfuitdaging: Bokke van skape

  • 0

Bokke van skape

Dit was net ‘n krap en kreun
in die donker straat na die reën.
Die gladde klippad praat as die wiele
van die genadelose perdekar dit omkrap.

Gouerandsilhoeëtte kan gewaar word
deur hoë vensters in die stegies
van die natgereënde pitsweer.
Alle gordyne is getrek.

Stil siele haas oor sypaadjies
na heenkome
gou
om nie onverwags gevang te word nie.

Die houtbord bo die spreekkamerkosyn
kraak soos die skril wind waai,
hy wieg soos die kot van ‘n onskuldige.
Die aand ruik na swael en bloed.

Laaste deure klap toe.
Katte baklei en bottels breek
in agterstrate vol sonde.
Een vir een gaan kerse uit.

Die ster bo die ingang
van dié buurt
dui die uitverkorenes
se gebrek aan.

Net die een lamp
aan die bokant van die straat
skyn nog.
Hy skyn al jare.

Klik hier vir besonderhede oor PEN Afrikaans se Oestyd-skryfuitdaging.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top