Nuwejaar 1961

  • 0

Die grootmense wag dat die horlosie oorslaan na die volgende jaartelling. Uit agterkele hoor ons: "Hêppieeeeee!" Straataf sing ’n groepie heimwee-liedjies met Lieberstein en Kommando Brêndie se nadruk. Dalk is dit die ding van "Auld Lang Syne", want ek voel ook weemoedig.

Dis Nuwejaar – dis piekniek innie bos. Uiteindelik vertrek ons met asse wat laag sleep ...

Lank voor ons voorbarige haan sy eerste kraai uitstoot draai oom Robert van die Kaap sy vloekgeel Zephyr se neus in die rigting van Populierbos. Misslierte hang nog in die voue van die Nieuveldberge. Die motor brul teen die Moltenopas uit – sy blink neus haastig op die spoor van die son.

"My kombers en djou matras!" Pa se kitaarklanke vul vroeg die bos. Wanneer die son begin te klim drink ons yskoue gemmerbier wat Ma uit ’n gorê in die rivierloop uitgevis het. Ooms en tantes kuier saam op bont reisdekens. Ek weet die stories wat oor-en-weer vertel gaan word sal nie oor Rooikappie gaan nie. 

Wanneer oranjekleur-ontploffings in die Weste die dag vaarwel toeroep, kring ons almal vir oulaas saam. Alles het verdubbel: nat handdoeke, pendorings in voetsole en skottelgoed. Ma het haar hele kombuis saam gepiekel.

"Forewwer en ewwer. My love will be trôe ..."

"Nee, jirre, jy sillie dooies opwek mit daai valsgeit!" lamenteer iemand. Dis ant Lokkie wat met ’n té hoë C weggeval het.

Die sonbesies het stil geword. Die nat kring rondom die sementdam is die enigste bewys van ’n dag se baljaar.

Die Kapenaars met hul grênd karre wil nie dubbele trippies maak nie. Ons word soos sardyne ingeprop. Met ’n grondvaal gesig teen die motorruit besef ek kleintyd die wonder van ’n Karoo-aand – onmeetlik stil met duisend handtasbare sterretjies wat aan die firmament skitter.

Die asse sleep nou éérs laag as ons die stofpad vat ...

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top