Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd: Eerste weergawe van "The day Madiba died"

  • 0

Die eerste weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd.

 


 

The day Madiba died

Vir jare het mense bespiegel oor hoe dit sou afspeel. Die nag van die lang messe. ’n Blanke volk wat deur hul swart medelandsburgers uitgemoor en verkrag sou word, met die wit pasgeborenes wie se koppe teen vierwielaangedrewe motors pap geslaan word. Traktaatjies het ons gewaarsku oor die naderende onheil. Wees paraat, broeders en susters. Wees op julle hoede, mede-uitverkorenes. Tref voorsorg, geliefde stormjaers.

As ek omdraai, skiet my. As ek val, wreek my. As ek storm, volg my.

Die konserwatiewes het in die geheim taakmagte versterk en kerse en blikkies KOO opgegaar in ondergrondse skuilings. Die liberales het hulself probeer sus deur te glo dat dit ’n onwaarskynlikheid is. Wolhaarstories. Want sou dit wel gebeur, sou dit die einde van Suid-Afrika beteken, met die land wat binne etlike sekondes internasionaal opspraak sal maak, met alle internasionale bande wat onmiddellik verbreek sal word. En dan is die land presies waar hy veertig jaar terug was.

Die meerderheid was dit eens dat dit ’n merkwaardige dag in ons land se geskiedenis sou wees. Bekendes van oor die wêreld heen sou onmiddellik na die land haas: Oprah Winfrey, die Dali Lama, Barack Obama, Bono, Koningin Elizabeth, Pous Francis, en miskien selfs Charlize Theron. Die hele land sou ongetwyfeld tot ’n stilstand kom, met daardie dag wat verseker as nasionale vakansiedag in die toekoms gehuldig sal word.

Maar daardie dag het heel anderste afgespeel as wat ek ooit sou kon dink het.

My pa het die nag van die 5de Desember vir my ’n SMS gestuur:

Nou net op die nuus gehoor Mandela se familie kom bymekaar by sy huis. Dit gaan blykbaar baie sleg met hom. Lief vir jou.

Dit was net ná 19:30 en my ouers was waarskynlik voor die televisie vasgenael, met die aand se gebruikte eetgerei lui eenkant toe gestoot op die koffietafel. Ek het buite my tuinwoonstel gestaan en rook en gewonder hoe om op sy boodskap te reageer. Miskien moes ek histeries reageer het met iets soos: O fok! Die kak gaan spat! Ek pak gou my tas en kry my paspoort, kry Pa-hulle oor so ’n uur by die lughawe, of moet ons eerder een van die naaste grensposte probeer? Of miskien sou ’n geskokte reaksie dalk meer van pas gewees het, soos: Nee! Dit kan nie wees nie! Ons moet nie vrees nie, die Here sal hom nog lank vir ons spaar. Ten spyte van ’n duisend dinge wat deur my kop geflits het, jare se ingeburgerde vrees deur ekstremiste en paranoïkusse, het ek die volgende boodskap teruggestuur:

Ai tog. Dalk sal hy dan uiteindelik tot ruste kom. Lief vir Pa-hulle ook.

Die bure het vleis gebraai en van anderkant die muur kon ek hulle gelag en gesels hoor. Dit was vertroostend en het die angswekkende stilte van die verlate erf verbreek. Die eienaars was weg en ek was alleen op die erf. Ek het my sigaret onder een van die huiseienares se struike geskiet, my woonstel binnegestap en die veiligheidshek onmiddellik agter my gesluit. Ek het op die bank gaan sit en hierdie absolute verlorenheid ervaar. Geestelike moegheid. My finale punte was by die sekretaresse ingehandig en ek het geen meer werksverpligtinge oorgehad nie. Ek het begin terugdink aan die jaar wat so te sê op sy rug was. Dit was ’n besige jaar. ’n Jaar wat, Goddank, oorlaai was met seëninge. Daar was die verhuising Johannesburg toe. Die uiteindelike onafhanklikheid van op my eie twee voete wees. Die nuwe werk. Daar was die klasse aanbied; studiehandleidings skryf; vraestelle opstel en merk; honneursstudente begelei in hulle navorsing; as keurder vir literêre pryse optree; gemeenskapsprojekte; romans resenseer. Daar was die voltooiing van my meestersgraad. Die publikasie van my kreatiewe werke. ’n Maandlange verblyf in België en Nederland as uitruilstudent. ’n Besoek te Kaapstad vir die boekbekendstelling. Baie nuwe vriende gemaak. ’n Paar ou vriende verloor. Meteens was daar niks van die jaar oor nie. My dagboek was skielik leeg en daar was geen meer lyste teen my muur geplak met afgehandelde sake wat ek tevrede kon afmerk nie.

Ek het vier pynpille gesluk ten spyte van die waarskuwing op die voubiljet. Ek het in die bed gaan klim met die koel lakens wat ek teen my vel vasgedruk het. Terwyl ek besig was om in te sluimer kon ek sweer dat ek van veraf die narkotiese ritmes van Afrika-tromme hoor. Nader en harder, nader en al hoe harder. Totdat ek aan die slaap geraak het.

My kop het dik en swaar gevoel toe ek die oggend wakker word. Dit was reeds na 08:00. Ek het opgestaan, ’n sigaret geneem en buite toe gegaan om die nuwe dag te trotseer. Die eerste trek van die sigaret het my longe laat brand. Ek het op my selfoon gekyk en gesien dat ek een Whatsapp-boodskap, drie BBM-boodskappe, vier Facebook-kennisgewings en een SMS het. Ek het begin by die SMS. Dit was van my pa:

Nou net op die kombuisradio gehoor Mandela is dood.

Ek het gesien dat die boodskap in die vroeë oggendure van 00:17 gestuur was. My eerste instinktiewe reaksie was verligtheid. Verlig dat die nag van die lang messe toe nie plaasgevind het nie? Verlig dat hy nou uiteindelik tot ruste kan kom?

Ek was skielik bewus van die ongunstige weer. Die dag was grys, bewolk en koud. Ek het my sigaretstompie onder dieselfde struik geskiet en behoorlik gaan wakker word in die stort. Aangetrek en gereed vir die dag wat geen beloftes inhou nie, het ek my roosterbrood saam met ’n koppie koffie afgesluk. My oë was op die televisieskerm gerig. Al vier die SAUK-kanale het die nuus gebeeldsend. Huldeblyke van skok en ongeloof het ingestroom. Dokumentêre programme het weer die onreg van Apartheid en die dapperheid van die Struggle vertel. Daar was beelde van Robbeneiland en ’n triomfantelike Mandela en Winnie met hul vuiste omhoog.

Ek het my skootrekenaar aangeskakel en op my Facebook-blad ingeteken. Bykans elke derde Facebook-vriend het hul meegevoel betoon met die behoefte om deel te word van hierdie geskiedkundige dag. Sommige Facebook-vriende het foto’s opgelaai van waar hulle saam met die groeiende massa roubeklaers voor Mandela se Houghton-huis versamel om kerse te brand en kranse met briefies neer te lê. My selfoon het gelui. Dit was my pa. Ek het geantwoord. Ek het my pa vertel dat ek sy boodskap daardie oggend gekry het. Ek het hom vertel van die programme wat ek besig was om op die televisie te kyk. Hy het vir my gesê dat hy en my ma al halfpad op pad Pretoria toe is om die spesialis te gaan sien. Ek het vir hom gevra om my te laat weet hoe dit gegaan het sodra hulle by die huis is.

Daardie dag het ek doelloos deur die strate gery. Geen sperdatums wat nagekom moes word nie. My kar het my geneem na Parkhurst, Greenside en Melville, maar die verbysterende energie wat so eie aan daardie voorstedelike buurte is, was nêrens te bespeur nie. Die strate was vol mense, maar die nasie was in rou. Ek het die motorradio aangeskakel en nog ’n sigaret aangesteek. Op 94.7 Highveld Stereo het die omroeper aangekondig dat die radiostasie daardie dag deur die luisteraars beheer word – hulle kon bepaal watter liedjies gespeel moes word. Die bekende opgewektheid in sy stem was verlore. Die luisteraars het ingebel met versoeke, opgedra aan die gestorwe oudpresident en sy familie. Die dag het al hoe gryser geword en in die verte het onweerswolke begin dreig met beloftes van reën.

Rashnie Maharaj van Randburg het ingebel en Luther Vandross se “Dance with my father again” versoek. Ek het my oë gerol en nog ’n trek van my sigaret geneem. Ek verpes die liedjie. Ek het nog altyd gevoel dat dit heeltemal té sentimenteel is.

“I dedicate this to our father of the nation. Tata Madiba, thank you for fighting for a beter future for us all,” het die verdrietige Rashnie die liedjie opgedra.

By die robot het die koerantverkopers my nie soos gewoonlik lastig geval en probeer oortuig om die dag se nuutste verslaggewing oor misdaad, korrupsie en moord te koop nie. Hul het eerder stil deur die motors deurbeweeg, met die voorblad van die koerante wat halflyf teen hul hang. Die voorbladnuus kon egter maklik uitgemaak word met die kenmerkende Madiba-hemp wat gesien kon word.

Nog ’n luisteraar het ingebel en Johnny Clegg en Savuka se “Scatterlings of Africa” versoek. Ek het gevoel dat hierdie liedjiekeuse meer gepas was. Ek het my vingers ritmies op die maat van die musiek teen die stuurwiel getik.

And I love the scatterlings of Africa / Each and every one / In their hearts a burning hunger / Beneath the copper sun.

Later het Ayanda Dhlamini van Centurion Alicia Keys se “Try sleeping with a broken heart” aan die Mandela-familie opgedra. Heeltemal onvanpas, het ek by myself gedink en ’n snorklag gegee.

“The whole nation will definitely be sleeping with a broken heart tonight, Ayanda,” het die omroeper getroos nadat sy die liedjie gespeel het.

Craig Evans van Krugersdorp het ingebel en “African dream” van Vicky Sampson versoek.

I hear the sound of distant crying / The darkness multiplying / The weary hearts denied.

Ek het hoendervleis gekry, die venster toegedraai en die knop in my keel probeer wegsluk.

Cos’ in my African dream / There’s a new tomorrow / Cos’ in my African dream / There’s a dream that we can follow.

Dit was net te veel vir bloed en vlees en ek het die neus van my motor in die rigting van my tuinwoonstel gestuur.

By my tuinwoonstel aangekom het ek die knoppie op die afstandbeheerder gedruk wat die motorhek laat oopgly het. Nog ’n bedroefde luisteraar was op die lug besig om sy bewondering vir Nelson Mandela uit te spreek. Ek was al kaar geïrriteerd. Ek het geweet dat as ek nou die televisie gaan aanskakel, dit dieselfde beelde van daardie oggend gaan vertoon. Ek het myself gestaal dat ek maar daaraan gewoond gaan moet raak, want dit sou waarskynlik nog vir ’n hele week of wat duur.

Ek was net op pad om my motor onder die afdak te parkeer toe die luisteraar Bright Blue se “Weeping” versoek en dit aan die hele Suid-Afrika opdra.

En vir die eerste keer in my lewe het ek daardie liedjie gehóór. Vir die eerste keer in my lewe het ek iets van die struggle en die protesoptogte verstaan.

It doesn’t matter now / It’s over anyhow / He tells the world that it’s sleeping / But as the night came round I heard it slowly sound / It wasn’t roaring it was weeping.

Ek het my tuinwoonstel binne gehaas en myself weer gepantser met diefwering, veiligheidshekke, alarmstelsel en noodknoppie. Ek het twee pynpille gedrink en op die bed gaan lê. Ek het myself probeer afsny van die sirkus wat besig was om buite en regoor die wêreld af te speel.

Teen laatmiddag het ek wakker geskrik. My kop het nog dowwer gevoel as daardie oggend. Terwyl ek besig was om my sigaret buite te rook, het dit my gepla dat ek nie deel was van die rouende volk nie. Nadat ek my sigaret klaar gerook het, die ou stompies onder die struik gaan uitgrawe het en dit in die vullisblik gaan gooi het, het ek my skootrekenaar aangeskakel en weer op Facebook ingeteken. Ek het probeer dink aan iets oorspronkliks, iets relevants om met die sosiale media te deel. Ek kon aan niks dink nie. Toe tik ek maar die volgende:

Die kind wat ’n reus geword het reis deur die hele wêreld. Sonder ’n Pas – Ingrid Jonker, “Die kind wat doodgeskiet is deur soldate by Nyanga”.

Nadat ek dit met die kuberruim gedeel het, het ek gewonder of dit miskien nie te voorspelbaar, te geyk was nie. Binne enkele oomblikke stel Facebook my in kennis dat daar reeds vyf mense is wat van my soetsappige gesteelde huldeblyk hou.

Ek het uitgeteken en my skootrekenaar afgesit toe my selfoon afgaan. Dit was nog ’n SMS van my pa af:

Die toetse wys dis kanker. Gevorderde stadium. Sal môre praat as ek bietjie kalmeer het. EK IS BAIE LIEF VIR JOU SEUNA!

En ek dink ek het daardie aand gehuil. Miskien selfs ’n bietjie oor Madiba.

 


 

Lees die eerste keurverslag deur Suzette Kotzé-Myburgh

Nuwe Stories 2014: Verhale en keurverslae

Klik hier vir die kortlyskandidate

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top