Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd: Eerste weergawe van "Martine se teepot"

  • 0

Die eerste weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd.

 


 

Martine se teepot

Soos alle ander kinders het Martine op die ongemaklike ouderdom van drie jaar twee geswelde knobbels op haar skouerblaaie begin vorm waar haar vlerke eendag sou uitkom. En soos alle kinders wat begin tande, vlerke, of basies enige iets vir hul eie beswil kry, het sy met elke greintjie energie geskop en gespartel daarteen. Nie dat sy doelbewus stroomop probeer wees nie, teenstrydig met wat die grootmense geglo het. Om die waarheid te sê het die goed net soos bliksems gejeuk, seker omdat dit soveel vroeër begin uitkom het as wat dit veronderstel was. Haar ouers het alles probeer: Vicks Vaporub, Antizan, selfs tandepasta. Niks wou help nie. Ondanks alle pogings om verligting sou die arme kind net aanhou skree en kerm en tevergeefs self aan haar rug probeer krap. Maar ons argitek se beste grappies is ook soms die siekste, en natuurlik kon arme Martine nie lekker daar by haar skouerblaaie uitkom om die ontsteekte knoppe te krap nie. Soms het sy suutjies die agterplaas in verdwyn as haar ouers vir ’n oomblik durf wegkyk het. Dan het sy soos ’n dier haar rug teen ’n boom sit en krap tot die bloed met mening die bas afgestroom het. Wat maak mens dan met so ’n opsetlike kind? Martine se ma sou altyd met vreeslike droewigheid verwys na daardie tyd as een van die swaarste periodes in haar lewe – min wetend hoeveel erger dit nog sou raak. Met oë weemoedig op die grond gerig sou sy dikwels in haar beste 7-de-laan intonasie kla oor haar dogter se vreeslike lot by wie ook al onvoorspoedig genoeg was om haar pad te kruis. Om die waarheid te sê was hierdie vreeslike periode in die tante se lewe nie so lank nie. Dit was skaars drie weke. Martine se vlerkies het met al die vreeslike stimulasie eintlik vinniger uitgekom as baie ander kinders s’n, wat soms tot so lank as vier maande moes wag vir die eerste veertjies om te verskyn. Na net drie en ’n half weke van konstante gekerm en gekrap het die skerp klein vlerkpuntjies uiteindelik deur Martine se vel gebreek, so klein en onskuldig dat mens skaars sou kon glo dat die goed verantwoordelik was vir al die bohaai. Die oom en tante het natuurlik al weer al die krediet gekry vir die vroegtydige verskyning van die vlerke: dit was glo te danke aan die ywerige aanwending van Vicks Vaporub wat die biologie so abnormaal vinnig gevorder het. Vir ’n goeie paar jaar was Martine nie meer die stroomop moeilike een nie, maar die bloeiseltjie vol belofte vir wie haar ouers baie groot verwagtinge gekoester het. Die algemene konsensus tussen die mense van die dorp was dat Martine op ’n buitengewone jong ouderdom vlug sou baasraak, dalk nog vroeër as Hans Kram, die uitstekende jongman wat dekades gelede op die blosende ouderdom van net 11 jaar die lug suksesvol trotseer het en skoon weggevlieg het van opgewondenheid. Niemand het hom ooit weer gesien nie. Heel toevallig was niemand wat die petalje aanskou het, nog aan die asemhaal om eerstehandse getuienis te lewer nie. Dus moes arme Martine met ’n vreeslike druk op haar prematuur-geveerde skouers lewe: net die hoop en verwagting van ’n hele gemeenskap wat sedert Hans Kram nog nie veel wonderwerke gesien het nie. Daar was selfs ’n paar weddenskappe onder die jonger, wilder mans van die dorp, en die wat hulle steur aan skinder, sou kon glo dat die presiese datum en tyd van Martine se eerste vlug potensieel ’n jacuzzi se verskil sou maak in iemand se huis. Ongelukkig vir al die hoopvolles sou niemand toe die boerpot wen nie. Die abnormale groeipas wat Martine vir daardie eerste paar maande bo haar eweknieë in statuur gelig het, het nie lank gehou nie. Nou, as die dorpsmense hulle oë gerol het vir die geteem van Martine se ma tydens die ontvering – en hulle het – was dit niks in vergelyking met die wanhopige gekners van tande wat begin het toe die tante stelselmatig begin agterkom dat haar dogter toe nie die voorloper sou wees wat eerste haar vlerke sou sprei nie. Tot op so 9 jaar het dinge goed aangegaan. Toe is dit asof iemand asyn op ’n potplant gooi. Die veertjies wat eens soos katsterte gespruit het, het net doodeenvoudig opgehou groei. Die res van Martine het ongelukkig nie opgehou groei nie. Teen elf jaar oud het die vlerkies tussen haar skouerblaaie begin lyk na klein hakskoentjies in ’n paar stewige enkels. Die Hans Kram-mylpaal het gekom en gegaan. Haar ma se aanmoediging en oordrewe moederliefde het dienoorkomstig soos die groei vertraag het, begin kwyn. Aan etenstafel moes Martine net koes en haar bes doen om oogkontak met haar ma te vermy. Dis asof die ou tante gedink het sy kon die vere bloot met die krag van haar suspisieuse gluur aanspoor om te groei. Nog ’n jaar het gekom en gegaan sonder verandering. En toe, in haar dertiende jaar, het die ander seuns en meisies in Martine se jaargroep so een vir een hul vlieg begin vind. Die heel eerste een wat dit baasgeraak het, was natuurlik Karlien. Wie anders sou dit wees as Karlien met die reguit tande, uitstekende tafelmaniere en perfekte paar . . . vlerke. Martine se ma was een van die eerstes om dit te hoor. Buite karakter het sy saggies die aand aan Martine die nuus vertel, vir eens nie geïnteresseerd om skindernuus binne haar gewone spoed van ’n slegte maaggriep oor die hele dorp te versprei nie. Haar teleurstelling was ooglopend. “Toemaar my kind,” het sy weemoedig hoopvol die monoloog geëindig, asof aardverwarming en verhongerde ysbere die onderwerp was. “Jy sal binnekort vlieg.”

Maar vlieg het Martine nie. Veertien het gekom en gegaan. Een vir een het die nuus van haar klasmaats se suksesvolle vlugervarings die rondtes begin doen. Selfs die seuns, wat gewoonlik so ’n jaar of wat agter die meisies begin het, het omtrent al almal die lug in gevaar toe Martine steeds met verknopte vlerkies lê en boeklees in haar kamer. Op vyftien jaar was Martine steeds grondgebonde. Mense was simpatiek, en het probeer om haar nie anders te hanteer as die ander kinders nie, maar die veergordyn was tasbaar. ’n Onmiskenbare atmosfeer van tensie en senuweeagtige afwagting het haar soos ’n wolkkolom die dorp vol agtervolg. Tannies sou styf vir haar glimlag in die winkel, en dan vinnig oorkompenseer met ’n oordrewe gegroet en gejil. Gedempte gesprekke sou ewe skielik opdroog as sy in vertrekke instap. Die gesprekke waartoe sy ingelaat was, kunsmatig speels en olifantvermydend. So het die dag aangebreek wat Martine en haar beste vriend Kobus offisieel die enigste twee drolle in die dorp was wat op vyftien steeds nie kon vlieg nie. Die ironie was dat hulle vreeslik hard probeer het. Ten spyte van die traak-my-nie houding wat Martine haar aangetrek het om haar ma uit te lok, was dit vir haar net so belangrik om normaal te wees. Sedert daardie eerste paar pynvolle weke het sy in die geheim net soos haar ouers dagdrome gekoester oor hoe sy die dorp se jongste vlieënier ooit sou wees. As klein dogtertjie het sy snags met haar rug na die spieël gestaan en haar vlerkies oop en toe, oop en toe gestrek. Saam het sy en Kobus ure gesit en boeke op boeke verslind oor die geskiedenis en meganika van vlieg. Hulle het gemeen die teorie sou hulle help om die praktyk vinniger te bemeester. Op ’n manier het dit die teenoorgestelde effek gehad. Hoe meer hulle geleer het, hoe meer ongelooflik en onbereikbaar het dit vir Martine begin klink om te vlieg. Aërodinamies het dit net nie sin gemaak nie. Woorde soos vlerkspan en -digtheid, lugdruk en massa het al hoe meer van ’n realiteit geword, en vlug met haar nederige vlerkies al meer van ’n fantasie. Stelselmatig het sy en Kobus al hoe meer begin twyfel in die hele onderneming. Eers kon hulle dit skaars hardop aan mekaar erken. Maar met die tyd het hul waagmoed en vertroue in mekaar gegroei. In die veiligheid van die donker kon hulle onder mekaar fluister oor hul ondenkbaarste vermoedens. Hoe was dit dat niemand mag sien hoe ’n ander vlieg nie?

Na haar sestiende verjaarsdag het Martine se ma haar twee keer ’n week na ’n vliegdokter toe begin stuur vir terapie. Dokter Dedalus was ’n welgestelde man met ’n dun snorretjie en ’n indrukwekkende kantoor: ’n groot oop spasie met ’n onmoontlike hoë spitsdak van omtrent 8 meter. Elke beskikbare oppervlakte was uitgevat in genoeg staal, hout en leer om ’n nuwe spesie huisboot of dinosourus te sou kon ontwerp. In die middel van die imposante vertrek, waar die spitsdak die hoogste was, het ’n lang leer gestrek tot amper heel bo teen die plafon. Net so ’n meter onder die plafon het die leer geëindig in ’n ronde houtplatform, omtrent presies die regte grootte om een vreesbevange tiener op ’n slag te akkommodeer. Elke instink in Martine se lyf het weggeskram van daardie belaglike konstruksie. Sy kon voorspel hoe sy vele ure op daardie platform sou moes spandeer in die fetale posisie. Maar eerder fetaal as fataal. Dokter Dedalus het so hard probeer, siestog. Drie keer ’n week moes Martine op sy aanvallige leerbank gaan lê en ongemaklik vertel van haar familie, haar goudvisse, haar studies en enige ding om net die kriewelrige mannetjie met sy notaboekie aan die knik te hou. As sy te lank durf ophou praat het, sou die man ’n snaakse kyk in sy oë kry, een van daai ek-verstaan-jou, ek-en-jy-is-vriende kyke. Dan het hy pynlik simpatiek en empaties geraak en sy oë ekstra lank in die knip toegehou om te demonstreer net hoe meegevoelig hy nou regtig was.

“Hoekom wil jy nie vlieg nie Martine?” het hy eendag onverwags vinnig tot die punt gekom.Vir maande het hulle al dronk om die onderwerp gesirkel soos haaie, maar vandag het hy duidelik ’n uitkoms op die spyskaart verwag. Dit was immers ’nVrydag, en klublede kry Vrydae halfprys by die gholfklub na 16h00.

“Maar ek wil, Dokter!” het sy hom vir die hoeveelste keer verseker. “Dit sal net soveel help as iemand vir my . . . kan wys hoe,” het sy dit gewaag. Die temperatuur in die kamer het met etlike grade geval en dokter Dedalus het ongemaklik in sy stoel rondgeskuif. “Ons het al baie hieroor gepraat, Martine,” het hy haar berispe. “Dit is nie hoe dit werk nie. Niemand kan jou wys hoe om te vlieg nie. Dit is ’n totaal persoonlike belewenis en heeltemal anders vir elke individu.” Die dokter was vies. Sy gholfprospekte het al hoe slegter begin lyk.

“Maar Dokter,” het Martine weer probeer. “Ek het al baie opgelees hieroor. Ek verstaan net nie hoe dit kan werk nie. Met ’n massa van 53 kg, en . . . ” “Martine!” het hy haar gestop, skielik opgewonde. “Dit is presies jou probleem!” Hy het triomfantelik teruggeleun in sy stoel asof hy net daar ontdek het dat brood goed is vir ’n mens. “Jy DINK te veel. Wat help dit jy verstaan al hierdie dinge? Hhm? Wat bring dit jou in die sak? Dink jy Karlien de Wet verstaan hoe sy vlieg?” Martine het niks gesê nie, maar wel aan haarself gedink dat Karlien skaars die kuns van skoenvasmaak verstaan. Sy het dit egter wyser geag om net haar kop te skud. Dokter Dedalus het weer begin skuifel in sy stoel en Martine wonder toe of hy nie dalk ’n probleem van ’n proktologiese aard het nie. Sy het dit oorweeg om iets te sê maar vermoed dat dit nie die beste pad vorentoe vir hulle reeds troebel verhouding was nie.

“Jy moet GLO jy kan vlieg Martine,” het hy aangehou. “Vir honderde jare vlieg die mensdom al, een na die ander.” Sy arms het ter illustrasie gesweef en gefladder in die lug. “Wat ek en jy moet uitvind,” het hy konspirerend gefluister, “is hoekom jy nie die vertroue het om te spring nie..” Dokter Dedalus het weer teruggeleun in sy stoel en alwetend gegrinnik. “Ons kan nie KYK hoe vlieg ander mense nie,” het hy aangegaan. “Dit sal . . . barbaars wees. Dit is ’n uiters persoonlike proses wat elke ordentlike persoon net in die privaatheid van hulle eie agterplaas mag deurgaan.”

Martine het onseker geglimlag en besluit om dit te laat gaan. Sy en die goeie dokter het ’n paar keer van tevore al sulke oomblikke van helder deurbrake gehad, en dit het gewoonlik geëindig met hom wat onder die leer staan en haar probeer aanpor om regop te staan op die platform.

Na die sielkundige sessie het Martine haar na Kobus se huis gehaas om vir hom te vertel hoe die dag se petalje afgeloop het. By sy voorhekkie gekom kon sy dadelik aanvoel iets was anders. Vanuit die agterplaas het die gekwetter van ’n spul opgewonde tanniestemme weergalm. Stadig het sy om die huis geloop, reeds oortuig van wat sy sou sien. Daar was Kobus, omring deur ’n kloekende trop tannies, haar ma inkluis. Toe hy haar sien, het hy dadelik na haar toe gestap. “Ek het dit gedoen Martine!” het hy opgewonde uitgebars. “Ek het gevlieg!” Oë halfmanies, met oordrewe gebare en wit spoegsels in sy mondhoeke, het hy verduidelik wat gebeur het. Maar Martine kon niks hoor bo die gesuis in haar kop nie. Sy het angstig sy gesig deursoek vir ’n teken van die regte Kobus, ’n flits van die vriend wat saam met haar in die nag gefluister het. “Hoe het jy dit gedoen?” het sy hom in die rede geval, alle pretensies vergete. Sy kon die elliptiese verduidelikings en ontwykings van enige iemand hanteer, maar nie van hom nie. Vir ’n oomblik het die selfversekerde kyk in sy oë plek gemaak vir iets meer onbetroubaar, en terselfdertyd meer geloofwaardig. ’n Laaste oorblyfsel van die ou Kobus. Maar die oomblik het vinnig verbygegaan. Hy het ’n tree teruggegee, en in daai tree ’n wêreld weg van haar af wegbeweeg. Een klein tree vir ’n mens. Martine het geweet dit sou nooit weer dieselfde wees tussen hulle nie. Nou was die skeiding tussen die wat kon vlieg en die wat nie kon nie, tussen hulle ook. Blindelings het sy huis toe gehardloop, belemmer deur trane wat sy self nie verstaan het nie. Het hy haar verraai, of sy hom?

Die aand kon sy nie slaap nie. Eers het sy op haar arms gehuil soos wat dit ’n tienerdogter met ’n liefdesteleurstelling betaam. Sy het melodramaties rondgerol en gedink. Gedink oor haarself, en oor Kobus. Gedink oor haar ouers en die wêreld waarin sy grootgeword het, die verwagtinge en teleurstellings wat sy sedert kleintyd beurtelings moes koester en verwerk. Gedink aan hoe almal om haar geseën was met hierdie onverklaarbare talent om te kan vlieg, en net sy alleen agtergebly het. Net voor sonop het sy haar besluit geneem. Doodmoeg maar tog helderder as wat sy al ooit was, het sy die donker trappe afgesluip en die agterdeur suutjies oopgestoot. ’n Skag maanlig het die portaal agter haar verlig en ’n kollig gegooi op ’n stowwerige familieportret van haar driejarige self saam met trotse ouers. Die agterplaas was helder verlig danksy die volmaan. Sonder om te huiwer het Martine na die motorhuis geloop en vastrapplek in die vensterbanke gesoek. Almal kon vlieg. Hans Kram, Karlien de Wet. En nou, selfs Kobus. Die laaste persoon op aarde wat die balans gehou het tussen haar en die malle skare. Met hom aan haar sy kon sy nog glo dat die probleem nie by haar gelê het nie, dat vlieg nie ’n kwessie van beskorenheid of talent was nie. Maar nou was sy heeltemal alleen. Vasbeslote het sy die dak geskaal, haar voorneme sterker met elke tree. Sy moes net glo. Dit was nou lagwekkend as sy daaraan dink, eintlik so eenvoudig. Al wat sy nog al hierdie jare moes doen, was om beheer te laat gaan. Dit gaan nie oor lugdruk of digtheid of windspoed nie. Fisiese wette is nie ter sprake nie. Sy moet net weet dat sy dit kan doen. Die dakteëls was nog warm onder haar voete van die hitte wat dit die dag absorbeer het. Tree vir tree het sy die dak se rand genader, doelgerig en vasbeslote. Eers reg by die rand het sy vir ’n oomblik stilgestaan. Nie omdat sy wou heroorweeg nie, nee. Sy wou net ’n oomblik vat om te reflekteer oor die betekenis wat die volgende paar oomblike sou dra. Hoe dit sou voel om te sweef in die lug, hoe trots haar ouers sou wees. Hoe Kobus haar weer as sy gelyke sou sien. Maar dit sou nie deug om te dink nie. Al wat nog al die jare gestaan het tussen haar en vlieg was haar tendensie om alles deur te dink. Met een beweging gooi sy die japon van haar skouers af en sprei haar vlerke bewend vir die eerste keer ten volle uit. Martine tree vorentoe en glo sy kan vlieg. Haar geloof dra haar vir ’n salige oomblik van vryheid, ’n oomblik van perfekte balans. Arms en vlerke silwerblink uitgesprei in die maanlig, haar gesig ’n masker van euforiese geloof en oorgawe. ’n Reusesprong vir die mensdom. Dan is die oomblik van inersie verby. Gravitasie lig ’n wenkbrou en Martine val. Sy hoor, eerder as voel, hoe haar bene en skedel kraak, dan val sy verder, diep deur die grond, deur lae op lae strata en geskiedenis. Êrens in die val steek sy Hans Kram se verbrokkelde gebeendere verby. Sy skedel grynslag tergend vir haar en word al kleiner en kleiner voor die donker haar oorval.

 


 

Lees die eerste keurverslag deur Suzette Kotzé-Myburgh

Nuwe Stories 2014: Verhale en keurverslae

Klik hier vir die kortlyskandidate

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top