Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd: Eerste weergawe van "Die vrese van Bennie Wessels"

  • 0

Die eerste weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd.

 


 

Die vrese van Bennie Wessels

Bennie gaan staan voor die voordeur. Sy hare is netjies gekam en sy tande is geborsel. In sy regterhand is ’n bos blomme, sonneblomme, want dit was sy ma se gunsteling. Hy dra ’n ligblou hemp, ’n navyblou pak, een met twee knope. Dis dieselfde pak wat hy drie jaar terug na Prins William se troue gedra het. Om sy arm is ’n Taghauer-horlosie en ’n leerbandjie wat ’n weeskind in Mongolië vir hom gemaak het. Bennie kyk op sy spoggerige horlosie. Dis 18:56, hy is effe vroeg. Bennie is altyd vroeg, maar hy sien dit as een van sy sterk punte.

Hy skuif die bos blomme na sy linkerhand en lig sy ander hand om die klokkie te lui. Die bordjie wat onder die klokkie hang, bevestig dat hy by Kerkstraat 15 is. Teen die muur hang daar drie woorde wat uit ou geroesde draad gemaak is: Geloof, Hoop, Liefde. Dis toe dat hy senuweeagtig raak, dis toe dat daar ’n ligte lagie sweet op sy voorkop verskyn. Vanaand gaan nie maklik wees nie. Bennie begin te dink aan alles wat verkeerd kan loop, hoe die aand moontlik verkeerd kan uitdraai. Hy dink aan al die vorige kere wat hy voor só ’n deur gestaan het, skytbang. Daar is ’n stem binne sy kop wat hom probeer oorreed om eerder om te draai en huis toe te gaan, maar Bennie sal nie. Hy is nie so ’n tipe ou nie.

Voor ek julle kan vertel hoekom Bennie so angstig voor daardie einste voordeur in Kerkstraat staan, moet ek eers vir julle meer oor Bennie Wessels vertel. Daar is niemand op hierdie aardbol so besonders soos hy nie. ’n Aangename kêrel en daar is nie ’n siel daar buite wat nie van hom hou nie. Alombekend (vir verskeie redes) en ’n regte gentleman wat vir niks terugstaan nie. Jy kry mos sulke mense, dié tipe wat goed is in elke liewe ding wat hulle aanpak en boonop nog ’n gebore leier is wat almal inspireer om beter te wees. Nóú, dis Bennie.

Saam met dit alles het hy ’n baie goeie hart ook. Hy hou baie van mense help, en diere, soms selfs plante ook. Daar word gereeld vertel dat hy sulke gawe oë het. Ek moet bieg, al ken ek hom al lank, weet ek nie wat Bennie vir ’n lewe doen nie (ek dink daar is min mense wat wel weet). Maar, dié man het so ’n bedrywige lewe, min sal by hom kan byhou. Ek twyfel of Bennie ’n nine to five werk het, dit sal hom stadig doodmaak. Bennie is mos altyd op soek na ’n avontuur en ’n soet dingetjie om te eet. Hy het ook nie ’n vaste blyplek nie, daar waar hy kom, slaan hy maar tent op. As jy vir Bennie vra wanneer hy bietjie rustig gaan raak en op een plek gaan bly dan sal hy net sê :”Wanneer die seisoene ophou verander.”

Nou ja, eintlik wil ons almal soos Bennie wees, maar nie op ’n aand soos vanaand nie, hy is ’n senuweewrak. Dis belangrik dat julle moet weet (en goed verstaan) dat Bennie nie iemand is wat bang raak nie. Dis ook nie net ’n ding waarmee hy probeer spog sodat hy meer manlik kan voorkom nie, dis net iets wat nie normaalweg gebeur nie. Bennie het nie bang geraak toe ’n groep mans in Egipte hom met AK-47’s rondgejaag het nie en ook nie toe hy daardie middag in Swellendam ’n ystervarkpen in sy worsie raak gebyt het nie. Ek sal nou nie sê Bennie raak nooit bang nie, maar dit gebeur baie selde.

Daar is net drie goed in hierdie wêreld wat vir Bennie bang maak: Vuil skottelgoedwater, sy tannie in Caledon se worshord, Pudding, en om op ’n date te gaan met ’n dame wie se pa ’n dominee is. Ek kan julle amper verseker, Bennie was jare laas bang, want hy eet meestal uit en het in standerd 7 laas in Caledon by sy tannie-hulle gekuier.

Hierdie angstigheid wat hy vanaand ervaar, is ’n baie ongewone gebeurtenis, en aangesien vrees nie ’n bekende emosie vir hom is nie, sweet hy twee keer meer as gewoonlik. Die dame voor wie se deur hy nou staan, het hy laas Saterdag by die NG Kerk Keerfontein-Wes se kerkbasaar ontmoet. Bennie was besig om pannekoek te koop, twee dosyn om presies te wees, (hy het sommer sy eie roomysbakke gevat) toe hy ’n blonde vroumens sien wat anderkant die vleistafel besig was om skaapskenkels in ’n plastieksakkie te sit. Volgens hom is dit die mooiste mens wat hy al ooit gesien het. Hy het vir my verduidelik dat sy soos ’n mengsel tussen ’n jong Sandra Prinsloo en ’n vroulike Mick Jagger lyk.

Dadelik het Bennie geweet hy moet met haar gaan gesels, dit sou hom vir ewig pla as hy nie homself voorstel nie. Soos daardie keer in Indië toe hy nie die tier uit die vangnet gehelp het nie. Dit pla hom tot vandag toe. Ek moet ook nou bysê dat Bennie nie ’n lid van die NG kerk Keerfontein-Wes is nie. Dit was sy eerste keer by dié gemeente en hy het nie geweet of hy hierdie vroumens weer sou sien nie.

Die rede hoekom hy daardie Saterdag by daardie basaar was, is heel eenvoudig. Daar is vir hom gevra om die afslaer by hul tradisionele vraagteken-veiling te wees. Hoe die ding werk, is, die lidmate skenk bokse van hulle ou stront en dan sonder dat die basaargangers weet wat in die bokse is, moet hulle daarop bie. Dis ’n unieke soort tombola en ’n lekker geldinsamelingsprojek. Soms koop jy ou doilies en Tupperware-bakkies, en soms kan jy wel iets waardevols koop. Sarel Mynhardt het blykbaar laas jaar die rugbybal van die 1995-wêreldbeker-eindstryd in sy boks gekry, die ene wat Joel gedrop het. Dis ’n groot affêre en elke jaar kry die kerk ’n gasafslaer, iemand spesiaal. Aangesien Bennie en die res van die SA toutrekspan vroeër die jaar so goed by die Wêreldbeker gevaar het, het een van die kerkraadslede hom gevra of hy die afslaer sal wees.

Bennie het skaars vir sy pannekoeke betaal toe vat hy sy roomysbakke en stap na die vleistafel toe. Met sy ordentlikste maniere groet hy daardie dame met die hand. Soos hy homself voorstel, bloos sy. Haar wange se kleur verander na ’n tipe rooi wat jy in die binnekant van ’n rou steak sal kry, want sy weet wie Bennie Wessels is. Almal weet mos wie Bennie Wessels is. Baie vroumense wou al vir Bennie Wessels ontmoet, maar min kry die kans, en hulle weet as hy die dag met jou kom gesels om die beste van die geleentheid te maak.

Dié dame se naam is Idané. Sy is nie kort nie maar ook nie lank nie, sy sal net-net die suiker bo in ’n gemiddelde kombuiskas kan bykom. Daar is ’n moesie op haar wang wat Bennie laat dink aan ’n sekere Amerikaanse meisie wat hom destyds leer Salsa het. Bennie vertel my Idané se glimlag is mooier as die mooiste sonsondergang wat hy al beleef het, tot mooier as daardie een wat hy op die kus van Australië gesien het terwyl hy navorsing oor die tierhaaie gedoen het.

Hulle gesels te lekker. Oor die basaar, die skaapvleis en die gemeente se welstand. Dan oor laas naweek se Idols-episode waarin Bennie so mooi gesing het. Sy vra hom uit oor die keer wat hy die Engelse kanaal geswem het en van daardie aand in Krugersdorp toe hy ’n vrou en haar baba uit ’n brandende karavaan gered het. Bennie bly nederig in sy antwoorde en verklap min. Hy hou mos nie van afshow nie, dis nie hoe sy ma hom grootgemaak het nie.

Toe Bennie besluit hy het nou genoeg gepraat, hy kan net oor so baie goed by ’n kerkbasaar gesels. Dis nie lank nie toe nooi hy Idané vir ete, die volgende Donderdagaand, by ’n fancy plek langs die dam met ’n voorgereg én ’n nagereg en miskien koffie daarna. Sy huiwer glad nie, sy dink skaars aan haar antwoord. Wie sal nou vir Bennie Wessels kan nee sê? Die woorde “dit sal te lekker wees” rol oor haar lippe al voor Bennie ’n punt agter sy sin kon sit. Dit maak Bennie opgewonde. Al is Bennie iemand na wie my suster sal verwys as ’n “catch”, het hy baie lanklaas ’n ordentlike Afrikaanse nooi ontmoet, wat nog te sê uitgevat vir ete. Nog ’n ding wat julle moet weet, Bennie was al op baie plekke in hierdie wêreld, plekke waarvan ek nog nie eers gelees het nie, maar hy bly sê Afrikaanse meisies sal altyd sy gunsteling bly. “’n Man moet mos ’n toekoms saam met ’n ordentlike vroumens bou.” sê Bennie altyd.

Op die ouderdom van twee en dertig is hy nog steeds alleenlopend. Dit pla sy ma, tannie Elsie, verskriklik baie. Sy verstaan nie hoekom hy nie kan vrou vat nie. Dis nie asof hy lelik, ongeskik of lui is nie? Hy sal mos ’n goeie man vir ’n vrou maak. Moet ook net nie vir Bennie vra hoekom hy nog nie ’n ring aan iemand se vinger gesit het nie, hy vermy liefs dié onderwerp en praat eerder oor swaargewigboks of Isreal se besproeiingskanale.

Met ’n ferm stemtoon vra Bennie vir Idané waar hy haar sewe-uur daardie Donderdagaand kan kom optel. Kerkstraat 15 antwoord sy in haar sagte, skaam stemmetjie.

Idané wou toe weet wat sy op hierdie date moet aantrek en Bennie sê sy moet op haar mooiste lyk vir dié geleentheid, hy gaan haar na ’n deftige plek neem. Voor hy verder oor die kleredrag kon praat, kom staan dominee Geldenhuys daar reg langs hom.

Dominee groet hom baie entoesieasties en vra vir hom of hy reg is vir die veiling. Bennie gebruik sy pa se ou sê-ding en vertel vir die dominee dat die enigste ding waarvoor hy nie reg is nie, ’n doodskis is. Die dominee geniet dié stelling vreeslik en lag te lekker vir Bennie.

Dis toe alles verander en die kerkbasaar onsmaaklik vir Bennie geraak het. Dominee Geldenhuys sit sy hand op Idané se skouer en vra vir Bennie of hy al sy dogter, Idané, ontmoet het. Bennie se hart klop vinniger en die wêreld gaan staan stil. Daar was nog nie baie kere in Bennie se lewe wat hy heeltemal sprakeloos was nie. Dit gebeur maar selde. Daardie keer in 1999 toe hy ’n diament langs die Oranjerivier opgetel het, is die enigste keer waarvan ek weet. By daardie Kerkbasaar langs die vleistafel was my goeeie vriend, Benjamin Isak Wessels, stomgeslaan. Hy het ’n dominee se dogter op ’n date gevra en daar was niks wat hy daaraan kon doen nie. Dominees se dogters maak hom verskriklik bang, banger as wat vuil skottelgoedwater of Pudding die worshond hom ooit sal kan maak.

Kyk, Bennie Wessels sukkel nie met vroumense nie, maar sodra ’n vrou se pa preek vir ’n lewe is dit ’n ander storie. Elke keer wat hy met só ’n tipe meisie iets te doen gehad het, het daar iets fout gegaan. Al sedert ons kan onthou, het Bennie hierdie spesifieke probleem, en hierdie probleem laat sy kop (wat gewoonlik in alle omstandighede goed funksioneer) in ’n swerm vol onsekerhede verander.

Daar was die keer toe hy sestien was en op ’n CSV-kamp vir Danielia ontmoet het. Sy het die mooiste swart krulhare gehad en gedurig om Bennie gehang terwyl hy kitaar gespeel het. Een aand toe sluip sy by Bennie se kamer in om by hom by die bed in te klim. Ag julle weet, om bietjie stout te wees. Hy het gedink die figuur wat hom bekruip, is ’n rower en hy val haar toe baie gewelddadig aan. Haar neus was gebreek en haar een voortand is tot vandag toe blou. Sy was dominee Du Toit, van die AGS-kerk op Middelburg, se dogter.

En laat ek nie van Annerie vergeet nie. Bennie het haar op universiteit ontmoet, in sy vierde jaar. Haar pa was ’n dominee op Jacobsbaai, by die Hervormde Kerk. Hy was smoorverlief en wou iets romanties op Valentynsdag doen. Soos hy haar geblinddoek in haar woonstel inlei, ruik hy rook en sien hoe een van die veertig gegeurde kersies (wat hy strategies daar geplaas het), die gordyn laat vlam vat het. Haar woonstel het nou nie tot die grond afgebrand nie, maar sy het amper alles verloor, tot haar navorsing oor Russiese literatuur wat deel van haar tesis sou wees.

Daar was nog ’n hele paar ander. Maryka op wie hy ’n milkshake gemors het. Helouise wat allergies vir skulpvis was. Tanya wat van die perd afgeval het en nog vele ander. Almal was dominees se dogters. Dis ’n vreemde patroon en ons weet nie eintlik hoekom dit gebeur nie.

Ek dink dis blote toeval, en ek het al vir Bennie per geleentheid gesê hy het ’n irrasionele vrees vir domineedogters (of pastoriepoppies soos ek al een aand in Springbok gehoor het), maar hy wil nie vir my luister nie. Volgens hom is hy vervloek en daar is niks wat hy daaraan kan doen nie. Soveel talente wat hy het, is domineedogters soos ’n antitalent vir hom. Bennie probeer eerder die pastoriepoppies vermy. Die ironiese gedeelte is dat hy baie aangetrokke is tot dominees se dogters. Hoekom weet hy nie, maar hy dink dit het ook iets te doen met die manier wat sy ma hom grootgemaak het.

Nou by daardie kerkbasaar het Bennie nie geweet wat om te doen of sê nie. Voor hy ’n beweging kon maak, spring Idané hom voor en vertel haar pa dat Bennie haar Donderdagaand uitvat vir ete. Die dominee raak opgewonde en laat val ’n harde “aitsa!”.

Gewoonlik is pa’s mos heilig oor hul dogters, maar daar is nie ’n pa in hierdie wêreld wat nie vir Bennie Wessels as ’n skoonseun wil hê nie. Daar het al ’n paar ooms vir hom geld aangebied om met hulle dogters uit te gaan, en een het al selfs ’n plaas in die Kalahari op die tafel gesit. Boonop is die dominee ook ’n bietjie bekommerd oor sy dogter se liefdeslewe. Sy is nou dan al amper dertig en nog steeds nie getroud nie. Dis nie asof sy hardegat, oorgewig of vol fiemies is nie? Sy sal mos ’n man gelukkig kan maak, sy is handig in die kombuis. Dis nou ’n moeilike situasie vir Bennie. Al is die meisie beeldskoon wil hy met alle mag die afspraak kanselleer, maar hy weet hy kan nie. Bennie is ’n man van sy woord en hy kan nie sy planne verander nie, veral nie as die dominee klaar daarvan weet nie.

Later by daardie veiling kon Bennie skaars reguit fokus só deurmekaar was sy kop. Hy het blykbaar baie amper Oom Karel se drie kilogram boks op R40000 laat begin, en daar was net ’n klompie Kennis-boeke in. Daardie aand besef Bennie uit hierdie ding gaan hy nie kan uitkom nie, hy sal dit maar soos ’n man moet aandurf. Daar was selfs ’n stemmetjie binne hom wat hom probeer oorreed het dat Idané dalk net anders is, dat sy dalk die een gaan wees wat die vloek verwyder.

Bennie doen toe baie moeite met die date. Hy bespreek vroeg sitplek by die retaurant, betaal iemand om viool te speel terwyl hulle roomys langs die dam eet en huur ’n koets om hulle die aand terug huis toe te vat. Al het hy rede gehad om te wees, was Bennie glad nie opgwonde vir daardie Donderdagaand nie.

Hy het seker gemaak niks kon fout gaan nie. Hy het voor die tyd weer die dominee gebel om te hoor of Idané enige allergieë het en of sy vir perde bang is. Hy het selfs met die brandweer gereël, en hulle is nou op standby vir ingeval hulle benodig sou word.

Bennie het geweet hy moenie bewe nie en hy het geweet hy moenie sweet nie, maar hy kon nie help nie. Hy het al te veel voor ’n pastorie se deur gestaan in sy lewe. Soos hy voor Kerkstraat 15 se voordeur staan, haal hy sy sakdoek uit sy broeksak uit en vee sy voorkop af. Die woorde “bly kalm, bly kalm. Sy is net nog ’n vroumens” herhaal hy in sy kop. Dan kyk hy weer op sy horlosie. 18:58. Hy haal diep asem en lui die voordeurklokkie.

Idané maak baie entoesiasties die voordeur oop. Bennie oorhandig die blomme en gee vir haar ’n vlugtige drukkie. Sy dra ’n mooi, swart somersrokkie wat haar sexy bene baie goed adverteer. Daar kom ook ’n sterk, soet aroma van haar lyf af en Bennie weet presies watter tipe lekkerruikgoed dit is, hy dit al op ’n Franse vrou, Angel, geruik.

Bennie volg Idané by die huis in. Sy sê vir hom hy moet homself gemaklik maak, sy wil net gou ’n pot vir die blomme kry. Haar huisie is nie te groot nie en dis duidelik dat sy op haar eie hier bly. Die plek is ook baie mooi skoongemaak en versier vir die geleentheid. In die agtergrond speel ’n rustige Theuns Jordaan-album en daar is orals klein oranje en geel kersies gepak wat vir die vertrek ’n warm kleurskema gee. Dis duidelik dat Idané vir Bennie wil beÏndruk.

Bennie gaan sit toe op die lang leerbank voor die televisie. Hy kyk na al die foto’s teen die muur. Daar is ’n foto van die Geldenhuys-familie op die strand. Dit lyk soos die laat tagtigs en Idané is ’n klein dogtertjie op dié foto. Dan is daar ’n foto van Idané by haar matriekafskeid saam met ’n ou wat ’n blonde middelpaadjie het. Asook ’n foto van Idané se gradeplegtigehid en nog ’n foto van haar ouma en oupa wat om ’n kombuistafel sit.

Dis toe Bennie besef hy wil nie sulke foto’s van homself op só ’n muur hê nie. Eintlik wil hy nie enige foto’s op sy muur hê nie. As dit van hom afhang, het hy nie eers ’n huis met ’n muur waarop hy foto’s kan hang nie. Al weet hy dit word van hom verwag, wil Bennie nie eendag settle nie. As hy heeltemal eerlik moes wees, sal hy erken dat daar meer as drie goed is wat hom bang maak.

Hy is nie die tipe ou wat elke jaar op dieselfde kusdorpie kan vakansie hou nie en hy is verseker nie die tipe ou wat eendag sal aftree nie. Dit is net nie wie Bennie Wessels is nie, maar dominees se dogters soek sulke manne, dis mos hoe hulle pa’s hulle grootgemaak het.

Bennie staan toe op en loop na die venster toe. Stadig skuif hy een van die geel kersies tot teenaan die gordyn en stap na Idané wat in haar kamer besig is om grimering op te sit.

Hy kyk haar diep in haar oë en vertel haar dat hy nog nooit ’n vrou soos sy ontmoet het nie. Hy voel daardie dag by die kerkbasaar was soos destiny. Mens kon hoor hoe Idané se knieë lam raak. Hy beweeg nader en sit sy sterk hande op haar skouers. Nou kan hy enige iets met daardie vroumens doen. Sy is soos putty in sy hande.

Dis toe sy die rook ruik en na die sitkamer hardloop.

Daar word vir my vertel Bennie het baie breed geglimlag soos hy die brandweer geskakel het.

 


 

Lees die eerste keurverslag deur Suzette Kotzé-Myburgh

Nuwe Stories 2014: Verhale en keurverslae

Klik hier vir die kortlyskandidate

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top