Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd: Eerste weergawe van "Die Siekte"

  • 0

Die eerste weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd word anoniem geplaas.

 


 

Die Siekte

Sy drink haar soet tee stadig, en hou die horlosie dop. Nog ’n halfuur, dan kom die taxi. Dis nog donker buite. En koud.

Thomas lê toegevou in sy kombersie op haar bed. Sy staan op om haar beker uit te spoel en sit dit versigtig op die droograk neer.

Sy gaan staan voor die vaal spieël wat bo haar lessenaar hang. Die een hoek het lankal afgebreek nadat die wind die spieël van die muur af gewaai het.

Met bewerige hande haal sy haar grimeringsakkie uit haar bedkassie. Sy sit ’n lagie mascara aan haar wimpers, en verf haar lippe donkerrooi. Die rooi staan mooi uit teen haar donker vel.

Sy kam haar kort hare netjies agtertoe en vou ’n doek om haar kop.

Jakob het altyd daarvan gehou as sy ’n doek om haar kop draai. Sy laat haarself toe om vlugtig na hom te verlang.

Haar Jakob. Sy het hom die vorige somer ontmoet toe hy sy niggie by die skool kom haal het. Hy was ouer en sexy en intimiderend.

Dit het hom ’n paar sekondes geneem om haar smoorverlief te maak. En twee weke om haar swanger te kry.

Sy en Jakob het saam weggehardloop stad toe. Na ’n nuwe lewe. ’n Toekoms.

Sy het geweet dat sy haar ouers nooit weer sou sien nie, en het doelbewus kontak met hul verbreek. Sy het jammer gevoel vir haar pa, en het na hom verlang.

Maar nie haar ma nie. Sy was innig dankbaar om weg te kom van haar ma af. Die siekte het vyf jaar vantevore ook in haar ma se kop ingetrek. Net soos haar ouma. En haar tannie. Daar was nog ander.

Hulle het vir haar ma pille gegee om haar beter te maak. Maar dit was nie sterk genoeg om die stemme stil te maak nie.

Dit het net drie jaar geneem voordat haar ma heeltemal weg was.

Lettie het snags wakker gelê en luister hoe haar pa saggies sit en huil by die kombuistafel. Dit is draagbaar om jou vrou te verloor. ’n Stuk van jou hart gaan dood en dit los ’n papgedrukte plek op jou siel; maar jy kan dit oorleef.

Dis iets heeltemal anders om dagin en daguit te lewe saam met ’n monster wat skuil agter jou vrou se gesig.

Ja, sy was bly dat sy kon wegkom voordat dit te laat was, selfs al het dinge nie uitgewerk soos sy gedink het dit sal nie.

Dit het Jakob’n paar sekondes geneem om haar verlief te maak, twee weke om haar swanger te maak. En vyf maande om haar alleen te los.

Sonder verduideliking of rede. Sy het net een oggend wakker geword en gesien dat hy weg is.

Hulle het in sy tannie se agterplaas gebly in ’n wendy-huisie. Lettie het oral loop vra na Jakob, maar niemand het geweet waarheen hy verdwyn het nie.

Sy tannie het haar jammer gekry en toegelaat dat sy aanbly in die wendy-huis. En elke aand ’n bord kos en ’n glas melk by die voordeur neergesit.

Vier maande later het Lettie vir agtien uur lank in kraam gelê met Thomas. Op stadiums het sy gedink dat die pyn haar uiteindelik eenvoudig net middeldeur sou skeur.

Maar Thomas is twaalfuur op ’n Sondagaand gebore. Hy was die mooiste ding wat sy al in haar lewe gesien het.

Hy het haar hart weer heel gemaak. Sy kon weer asemhaal. Glimlag. Huil.

Thomas is vandag vyf weke oud. Hy huil nie meer so baie soos die eerste twee weke nie.

Sy moes hom gereeld in die gesig blaas omdat hy sy asem uitgehuil het. Die suster het vir haar gewys hoe om dit te doen.

Lettie frons en probeer onthou wanneer laas sy hom in die gesig moes blaas sodat sy bekkie weer asem kon sluk.

Sy kan nie onthou nie. Dit was lank laas.

“Dis goed. Dis goed,” sê sy vir haarself en bêre die grimeringsakkie.

Maar iets is nie reg nie. Sy kan dit binne-in haar voel. Iets is baie verkeerd met Thomas.

Hy is siek, en sy moet hom by die kliniek kry. Die suster sal hom kan help.

Lettie hoor hoe die taxi buite die wendy-huis stop.

Sy hang Thomas se doekesak oor haar skouer en tel die bondeltjie saggies op.

Hy is so klein en weerloos; dit voel amper asof hy niks weeg nie.

Sy asempie blaas warm teen haar sleutelbeen soos wat sy by die deur uit loop. Haar Pep-tekkie tref iets en sy strompel terwyl sy glas hoor breek.

Lettie kyk verbaas af na die bord wat sy stukkend getrap het en die glas melk wat in die grond wegsyfer.

Sy het gisteraand vergeet om haar kos in te bring.

Haar mond val effens oop van verbasing, en sy kyk op.

Jakob se tannie staan op haar stoep in haar pienk kamerjas en kyk vir Lettie. Die kamerjas is vol wolletjies van ouderdom, en kathare.

Daar is trane in tannie Dolly se oë.

En langs tannie Dolly staan Lettie se ma.

Lettie se mond val bietjie verder oop terwyl haar hart voel of dit teer pomp.

“Wat? Ma?” fluister sy sag en neem ’n tree in die rigting van waar die twee vrouens op die stoep staan.

Fyn motreën val rondom haar en maak alles effens dof en uitgebleik lyk.

Thomas se asempie blaas sag in haar nek.

Sy neem nog ’n tree nader aan die stoep, totdat sy die oë sien.

Nie haar ma se oë nie. Net twee swart gate waardeur die monster kyk. Toe Lettie grootgeword het, het sy geleer dat die siekte vroeg al deur die oë verraai word. Hulle oë het plat en glaserig geword. Glinsterig. Soos ’n vis se oog.

Tannie Dolly trek haar pienk kamerjas stywer om haar ronde lyf terwyl sy haar kop stadig skud. ’n Traan gly teen haar wang af.

Haar ma se lippe trek weg van haar tande in ’n beweging wat veronderstel om ’n glimlag te wees. Daar is rooi lipstiffie op haar ma se voortande.

Lettie haat dit. Dis iets wat haar ma altyd oorgekom het vir so lank as wat Lettie kan onthou. Haar ma se lipstiffie het altyd op haar tande afgevee. Dit is hoekom Lettie net duur Revlon-lipstiffie koop. Dit is die enigste luxury waarop sy vir haarself aandring, want dit vee nie af op mens se tande soos die goedkoop weergawes nie.

Als in Lettie ruk van skrik toe die taxi-bestuurder ongeduldig op sy toeter druk.

Sy loop vinnig na die taxi en klim in. Nadat sy haar vyf rand vir die shotgun-boy gegee het, kyk sy vinnig terug in die rigting van tannie Dolly se huis.

Sy wonder hoe haar ma haar opgespoor het terwyl sy aan haar onderlip kou.

Jakob.

Hy moes vir haar ouers laat weet het waar sy nou bly. Om haar te kom haal. Sy voel hoe die roof binne haar ooptrek om die stankende etter van haar haat en onvergifnis teenoor hom deur te laat slaan.

Lettie maak haar oë toe en haal diep asem. Die trane brand soos suur agter haar ooglede.

Sy moet net eers vir Thomas medisyne kry. Die suster sal vir haar goed kan gee om hom gesond te maak.

Dan sal sy besluit wat hul volgende stap is.

Sy wonder oor haar pa. Maar sy weet sy kan nie teruggaan huis toe nie. Sy sal nie vir Thomas blootstel daaraan nie.

Sy weet van ’n nagskuiling in die stad. Sy sal die suster daaroor vra.

Wanneer die taxi voor die kliniek stop, klim sy versigtig uit en druk vir Thomas sagkens teen haar borskas vas.

Sy loop by die trappe op en gaan sit in die ry om vir haar beurt te wag. Die televisie is op ’n Amerikaanse CNN-nuuskanaal gestel, maar daar is nie klank nie.

Iewers huil ’n baba sonder ophou, terwyl ’n ou swart man elke tweede minuut langs haar aan die hoes gaan.

Dis ’n vreemde tipe hoes vir ’n ou man om te hê, dink sy en kyk onderlangs in sy rigting. Dis ’n sag en klein geluidjie, amper soos . . .

“Lettie Williams?” roep die vrou agter die toonbank hard uit.

Lettie ruk weer soos sy skrik. Die hare in haar nek staan regop terwyl hoendervleis oor haar arms uitslaan. Sy is naar.

Daar is iets baie verkeerd met die man se hoes. Sy trek die blou kombers verder af oor Thomas se kop. Sy wil nie hê dat wat fout is met die man naby haar baba moet kom nie.

Die man kyk op van waar hy besig is om ’n tydskrif te lees en frons vir haar.

“Are you okay?” vra hy met ’n swaar Sotho-aksent.

Sy wil vir hom sê dat daar iets baie verkeerd is met sy hoes.

“Lettie Williams?” roep die vrou weer uit.

Lettie spring op en loop na die ontvangs om haar lêer by die vrou te kry voordat sy na die suster se spreekkamer geneem word.

Die sagte, neulende huil van die baba hou net nie op nie. Dit is so irriterend.

Sy kners op haar tande terwyl sy ’n paar vorms teken.

Uiteindelik draai sy om om te soek waar die huilende baba is. Sy druk vir Thomas effens stywer vas terwyl sy na ’n mafiguur soek wat met die siek baba sit.

Sy sien net groter kinders en grootmense. Lettie hou aan om te probeer soek waar die neul vandaan kom.

Die huil.

Dit klink amper soos . . .

“Mejuffrou Williams? Sal jy asseblief nou kom?” vra die suster en neem Lettie aan haar voorarm.

Sy volg die kort suster in die gang af na een van die kliniek se spreekkamers.

“Sit solank en wag vir suster Van Niekerk,” sê die vrou voordat sy terug in die gang af loop.

Lettie gaan sit op die stoel en voel ewe skielik doodmoeg.

Lewensmoeg.

Die suster loop in en gaan sit agter haar lessenaar.

“Hallo, Lettie. Hoe gaan dit?” vra sy met ’n vriendelike glimlag, maar haar oë lyk bekommerd terwyl sy heeltyd na die bondeltjie in Lettie se arms kyk.

“Thomas is weer siek, suster. Ek dink dis die koue. Hy kry nie kans om gesond te word nie.”

Die suster pers op haar lippe en blaai stadig deur Lettie se klinieklêer. Lettie let op dat die suster se lippe in ’n mooi donkerpienk kleur geverf is.

Sy herinner haarself om te hoor van die nagskuiling.

Die neulende huil en vreemde hoes weergalm deur die naaktheid van die wit gang.

Suster Van Niekerk blaai sorgvuldig deur die wit papiere.

Hoes. Hoes. Hoes.

Huil.

“Lettie, drink jy nog die pille wat die dokter die vorige keer vir jou voorgeskryf het?” vra die suster uiteindelik wanneer sy die geel lêer toemaak.

“Ekskuus?” vra Lettie en leun vorentoe om die weergalm van die gang te probeer ignoreer.

Hoes. Hoes. Hoes.

Huil.

“Drink jy nog jou pille? Die anti-depressante?” vra die suster weer terwyl sy vir Lettie ’n klein aanmoedigende glimlag gee.

Donkerpienk smeermerke vlek haar voortande.

Hoes. Hoes. Hoes.

Huil.

“Nee, ek is nie hier vir my nie. Thomas is siek,” sê Lettie en dwing haarself om nie na die suster se mond te kyk nie.

Die suster maak haar oë toe en vee een keer haar hande oor haar gesig.

“Lettie, Thomas is dood. Onthou? Hy het op twee weke longontsteking gekry. Hy is weg. Ons kan hom nie terugbring nie. Maar jy kan beter raak, as jy jou medikasie gebruik,” sê die suster. Haar gesig is bleek en haar oë nat.

Die gewig van haar woorde pers die lug uit Lettie se borskas, totdat net die pyn oor is.

“Wat?”

Lettie se mond maak oop en toe, sonder dat daar ’n geluid uit kom.

Hoeshoeshoes.

HUIL.

“Nee. Nee. Jy het dit verkeerd. Ek sal by iemand anders gaan hulp kry, dankie,” sê Lettie en spring regop om in die gang af te vlug.

“Wag, Lettie.”

Die suster staan vinnig op en keer met haar hand. Die pienk vlekke staan nog steeds uit teen die wit enamel van haar tande.

Lettie ruk haarself weg en hardloop by die gang af.

Thomas voel gewigloos in haar bewerige arms.

Lettie storm by die kliniek se trappe af en ontsnap in die koue lug van die wintersdag.

Thomas se asempie blaas warm teen haar sleutelbeen soos wat sy aan die bondeltjie blou kombers klou.

“Dis goed. Dis goed,” herhaal sy vir haarself terwyl sy vinnig langs die modderige grondpad af loop.

 


 

Lees die eerste keurverslag deur Leti Kleyn

Nuwe Stories 2014: Verhale en keurverslae

Klik hier vir die kortlyskandidate

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top