Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd: Eerste weergawe van "Binnekort"

  • 1

Die eerste weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd.

 


 

Binnekort

Die ou tannie skud haar kop.

“Nee, my hartjie. Ek wil nie hê jy moet dit korter sny nie. Ek wil net hê dat jy dit mooi moet perm.”

“Is tannie seker?” Die tannie se oë is wakker, spitsvondig. Maar die plooie teken diep paadjies rondom haar oë.

“Ja, hartjie.” Sy glimlag vir my in die spieël. Haar grys hare is bossies, daar is geen orde nie en sy sê dit pla haar.

“Só kan ek nie aangaan nie. Wat sal die kinders sê? Hulle kom kuier binnekort, jy sien. Ek kan nie só lyk nie.”

“Reg, tannie. Vandag maak ons vir tannie mooi! Kom ek help tannie, dan gaan was ons die hare.” Sy neem my hand, en met die kierie in die ander maak ons dit tot by die wasbak. Ek laat sak die stoel, sodat die kort tannie gemaklik kan gaan sit. Sy draai om, dan mik sy. Met ’n klein sprongetjie wip sy haarself op die stoel, dan wikkel sy haarself agtertoe. Sy leun agteroor en sit haar kop teen die wasbak. Sy bly vashou aan haar kierie en haar handsak lê op haar skoot.

“Nou kan jy maar wegspring.” Sy glimlag vir my. Ek draai die kraan oop, en voel dat die water die regte temperatuur is. Dan maak ek haar hare nat. Ek vryf my hande vol sjampoo, en begin om haar kop te masseer.

“Oeeee, dit is lekker,” sê sy en maak haar oë toe. “Is jy al getroud, hartjie?” vra sy, haar oë steeds toe.

“Nee, tannie. Maar ek is verloof!” Die tannie se gesig helder op. Sy glimlag, maar haar oë bly toe.

“Vertel vir my.”

“Tannie, waar begin ek?” giggel ek. “Ons het op ’n vriendin se troue ontmoet, twee jaar gelede. Hy is ’n korterige mannetjie. Eintlik bietjie plomp. Groen oë. Swart hare. Maar hy het die mooiste geaardheid. Ons het begin uitgaan en mekaar beter leer ken. Hy het my twee weke gelede gevra om te trou.”

Die ou tannie glimlag steeds.

“Aai, pragtig.”

“Ek is baie opgewonde, tannie.”

“Ek weet. Ek kan onthou. Ek kan daardie opgewondenheid onthou.”

“Ek het nog nooit so ’n opgewondheid ervaar nie, tannie!” Ek spoel die seep uit haar hare, en vryf conditioner in. Ek masseer haar kop. Sy glimlag effens, maar hartseer.

“Hoeveel kinders het tannie?”

“Vyf. Ek het vyf kinders,” sê sy trots.

“Sjoe! Ek en Petrus wil self kinders hê. Die oudste moet ’n seun wees. Dit sal ideaal wees. Maar dit maak ook nie saak nie! En definitief ’n meisiekind. Ek sal graag wil hê dat sy ballet moet doen. Maar natuurlik net as sy daarvan hou!”

“My oudste is ’n seun,” vertel die tannie verder. “Hy is in Australië. Hy en sy vrou en twee kinders.”

“Kom kuier hulle vir tannie? Ek is seker tannie is opgewonde!”

“Ek het hulle so twee jaar gelede gesien. Australië is maar baie ver, jy weet.”

“Dit is so, tannie.”

Stilte. Ek spoel die laaste conditioner uit haar hare.

“Ons kan nou maar gaan sit, tannie. Dan begin ek met die perm.” Die tannie wikkel haarself vorentoe, dan gee sy weer’n sprong om af te klim. Ek help die tannie tot by ’n stoel voor een van die spieëls. Die tannie sit haar handsak voor haar op die spieëlkas neer en sit. Terwyl ek my trollie en gereedskap bymekaarkry, haal sy ’n foto uit haar beursie. Dan wys sy vir my.

“Kyk. Hier is my oudste, Johannes. En hier is my enigste meisiekind, Karien. Sy is my tweede oudste. Hier sit my tweede jongste, Pieter. En hierdie enetjie is die jongste, Albert, en die is Regardt, my derde jongste.” Sy wys met ’n artritisvinger na elkeen van haar kinders. Dit is ’n ou foto. Die modes dateer vanuit die tagtigs, en die kinders is almal in hulle twintigs of vroeë dertigs.

Die tannie bêre die foto in haar beursie, en sit dit terug in haar handsak. Dan sit sy agtertoe. Ek hang die mantel oor haar lyf. Die ou ineengekrimpte lyf verdwyn onder die mantel, en dit lyk soos ’n kind wat daar sit. Die tannie kyk na haarself in die spieël. Sy tel haar hand op en vryf saggies teen haar wang. Dan boontoe. Sy vryf met haar kromgetrekte vinger al langs die plooie af. Sy teken die paadjies oor haar gesig.

Ek kam die tannie se hare. Versigtig. Terwyl ek dit gewas het, het ek gesien dit val stuk-stuk uit. Dan smeer ek ’n oplossing aan haar hare wat dit moet beskerm. Volgende verdeel ek die hare in agt dele.

“En tannie se ander kinders?” Die tannie skrik. Ek begin om die hare in te draai. Kruller vir kruller.

“My tweede oudste is in Engeland. Sy werk daar. ’n Kopdokter. Sy is nog steeds nie getroud nie. Ek raas alewig met haar daaroor. Ek sê vir haar sy moet terugkom, en met ’n oulike boereknaap kom trou. Maar sy wil nie luister nie. Sy is alreeds amper te oud om kinders te kry! Hierdie kinders van my het ook almal hulle eie idees.” Die tannie sug. “Sy kom kuier so eenkeer ’n jaar.”

Ek konsentreer op die tannie se hare en ek hou haar stilletjies dop in die spieël. Sy sien my oë op haar en glimlag dan helder. Dan kry haar oë ’n vaagheid.

“My man is al so vyf jaar terug oorlede. Die longkanker.”

“Ek is jammer om dit te hoor.” Ek werk stilletjies verder.

“Hy was ’n vlieënier. Jy sien, meisiekind, ek was ’n lugwaardin in my jongdae. Ons het die wêreld saam gesien. Ons het internasionale vlugte gedoen. Ja. So het ons ontmoet. Die ander lugwaardinne was baie jaloers. Die lugwaardinne het mos altyd hulle ogies op die vlieënier. Maar ék het met hom weggestap.” Sy knip haar oog vir my en ek lag.

“Dit is so, tannie.”

“Toe trou ons, en ek raak swanger binne die eerste jaar. In daardie dae het ons mos nie voorbehoedmiddels en sulke goete gehad nie. Ons kon nie sulke dinge beplan soos vandag se kinders nie. En so mag ek toe nie verder vlieg nie. Oor die swangerskap. Ja. Ek het kinders grootgemaak terwyl hy verder gevlieg het.”

“Was tannie hartseer daaroor?”

“Ja. Eers was ek hartseer. Met die eerste swangerskap was ek baie allenig. Jy weet nie wat om te verwag nie, en jy is bang omdat jy nie al die dinge weet van kind kry nie. Jy sal self eendag sien.” Sy glimlag vir my. “Maar toe my seunskind kom, toe is ek nie meer hartseer nie. Om ma te word het ’n ander wêreld oopgemaak en vir my oneindig baie vreugde gebring.”

Ek sit die groot haardroeër oor die tannie se kop en stel die hitte. Ek gee vir haar tydskrifte, en ek maak vir haar tee. Die tannie sit en blaai deur die tydskrifte en drink haar tee. Sy lees hier en daar, soms trek sy haar neus op en blaai vinnig verder. Die realiteite van hierdie wêreld is te veel vir haar.

’n Halfuur later haal ek die haardroeër van haar kop af.

“Dankie, hartjie. Daardie ding het nou beginne te erg raak.”

Ek begin om die krullers uit te haal. Een vir een.

“Die siekte kom haal ons almal maar. Ons kan nie vir hom weghardloop nie. Op die einde word ons siek.” Sy draai haar hande in mekaar, en vryf hulle. Sy sit vir ’n lang ruk doodstil en staar net voor haar.

“My derde oudste sit in Johannesburg. Maar hy vlieg heeltyd regoor die wêreld. Besig, besig, besig. Altyd aan die gang! Hy is die baas van hierdie een of ander spoggerige maatskappy. Ek kry hom nie gebel nie, en ons praat maar min. Ek sien hom die minste. Ek het hom laas met sy pa se begrafnis gesien.”

“En tannie se ander twee kinders?”

“Die jongste bly in Suid-Korea. Hy gee Engelse klasse. Hy is my trots. Op skool het hy altyd eerste gestaan in sy klas. Ek en sy pa het gedink hy moet vir dokter studeer, maar hy het gesê nee. Hy is só lief vir kinders. Hy besluit toe hy wil ’n onderwyser word. Hy was so ’n maand gelede hier vir Kersfees. Ek sien hom gewoonlik maar net vir Kersfees.”

Stilte. Ek wil nie meer vrae vra nie.

“My tweede jongste bly in die Kaap. Ek dink. Hy het ’n kunsgalery en hy skilder ook self. Hy is ’n moffie.” Die tannie giggel maar dan raak sy weer ernstig. “Dit was vir ons baie erg toe ons dit uitvind. Sy pa wou niks met hom te doen hê nie. Het hom sommer weggejaag. Ons het kontak met hom verloor. Ek het so ses jaar terug ’n artikel van hom in die koerant raakgelees. Hy het die een of ander groot kompetisie gewen. Wêreldwyd. Met my man se siekte het ek nie kans gesien om met my man daaroor te praat nie. Daardie tyd was sy gestel baie swak en ek het nie geweet wat die skok aan hom sou doen nie. Ek het my kind probeer kontak, maar hy het nie geantwoord op my briewe nie. Na my man se dood het ek weer probeer. Hy het net nooit gereageer nie.”

Ek sien trane in die tannie se oë. Ek bly werskaf met haar hare, en maak asof ek dit nie raaksien nie. Ek spuit haarsproei oor haar hare.

“Kyk daar, tannie. Tannie lyk pragtig!” Ek haal ’n spieël uit ’n laai en hou dit agter die tannie se kop, sodat sy kan sien.

“Ag, hartjie. Dankie. Nou hoef ek nie skaam te wees as my kinders kom kuier nie. Dit sal my regtig pla as hulle huis toe gaan en ’n bossiekop-ma onthou!”

Ek lag saam met die tannie.

Die tannie staan op en ek help haar. Sy lig haar handsak van die spieëlkas af, en haal haar beursie uit.

“Hoeveel skuld ek jou, hartjie?”

“Vandag skuld tannie my niks.”

Sy neem my hand en druk hom styf. “Dankie.”

Stadig stap sy na die voordeur. By die deur stop sy. Sy staan ’n oomblik en draai dan om. Haar oë is soos díé van ’n jongmens. En daar is hoop.

“Liefie. Hulle álmal gaan binnekort kom kuier.”

Dan draai sy om en stap by die deur uit.

 


 

Lees die eerste keurverslag deur Suzette Kotzé-Myburgh

Nuwe Stories 2014: Verhale en keurverslae

Klik hier vir die kortlyskandidate

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 1

Kommentaar

  • Hierdie storie raak deurgans aan die punte van ewigheid. Die 'global village' is nie vir almal so maklik toeganklik nie. Dit is die hartseer realiteit wat baie Suid-Afrikaanse bejaardes ervaar sonder dat die jonger generasie dit besef. (Ek lewer nooit kommentaar nie, maar die verhaal verdien dit.)

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top