Nuwe Stemme 6: Onderhoud met Bibi Slippers

  • 0

NB-Uitgewers is op soek na nuwe stemme. Hier is nog inligting. Naomi Meyer het vir Charl-Pierre Naudé en Bibi Slippers, die twee keurders, oor die projek uitgevra. Lees die onderhoud met Charl-Pierre Naudé hier. Hier onder is Bibi Slippers aan die woord.

Bibi Slippers (foto verskaf)

Bibi, daar is baie jong digters en ander mense wat gedigte skryf. Wat sal jou oog tref as jy na ‘n inskrywing kyk?

Ek dink ek gaan spesifiek op die uitkyk wees vir stem. Dis iets wat moeilik definieerbaar is, maar mens weet dadelik as jy dit sien. Hilda Smits byvoorbeeld, in die vorige Nuwe Stemme, se stem is dadelik sigbaar/hoorbaar/aanvoelbaar. As mens die potensiaal vir so ’n unieke stem in ongeslypte werk kan raaksien, sal dit ’n heerlikheid wees.

Vertel asseblief ook waarna jy nié op soek is nie?

Mindere na-aapsels van Ingrid Jonker / Antjie Krog / Breyten Breytenbach / AG Visser. Daardie gedigte is reeds geskryf. ‘n Nuwe stem moet wys dat sy bewus is van die tradisie, maar iets daartoe byvoeg, nie bloot probeer naskryf nie.

Het jy wenke vir die skryf van goeie gedigte? Of bestaan daar nie juis iets soos algemene wenke vir die skryf van gedigte nie – jy het dit, of nie?

My beste wenk vir die skryf van goeie gedigte is om baie gedigte te lees. Baie. Daar is soveel ryke stof wat jou kan inspireer en wat jou oplei soos jy lees – mits jy genoeg lees om die lesse te kan inneem. Die ander ding wat mens moet leer doen, en wat ongelukkig nogal moeilik is, is om krities te begin kyk na jou eie werk. Meet dit teen die gedigte wat jy lees en waardeer – kyk hoe die gedigte werk, en of joune op dieselfde manier werk, en hoekom ander mense se gedigte sterk is, en wat jy kan doen om joune sterker te maak. Die antwoord is dan dikwels: Sny. Ek dink almal is geneig om te oorskryf – mens moet leer om minder te maak, te snoei en die essensie van wat jy wil sê, tussen die oordaad te gaan uitkrap.

In watter soort Afrikaans moet die gedigte geskryf wees: in suiwer, outydse grammatikaal korrekte Afrikaans?

Enige soort Afrikaans. Ek dink mens sal ’n outentieke stem hoor, maak nie saak watter soort etiket daar op haar Afrikaans geplak word nie.

Wie is jou gunstelingdigter?

Anne Carson.

Hoekom skryf jy gedigte?

Dis ‘n slegte gewoonte wat ek kleintyd aangeleer het toe ek baie van rympies gehou het. Ek kon dit nog net nie afgeleer kry nie.

Hoekom lees jy gedigte?

Want dit doen iets aan my wat niks anders doen nie. Ek hou ook van fliek – dan huil en lag en ontspan ek lekker; en ek hou van romans lees – dan leef ek my vreeslik in en dink hard en slaap lekker. Maar ek lees gedigte omdat dit emosies ontlok wat kompleks en soms verwarrend en ongemaklik en opwindend is. Asof ek ‘n kitaar is, en digters is mense wat ander akkoorde ken as net die gewone C, F en G.

Watter soort reaksie behoort 'n goeie gedig uit te lok?

Daar is geen “behoort te” hier nie. Maar ek dink as dit jou enige soort double take laat doen, slaag dit al op minstens een vlak. As dit jou lus maak om woorde met ‘n koki-pen op jou arm te skryf, dan is dit ook goed op ’n ander vlak. En as dit jou ontstem, dan dink ek is dit besig om hard aan jou senuwees en selle te werk. Sulke gedigte maak my opgewonde – maar ek dink dit is anders (en behóórt te wees) vir almal.

Skryf 'n gedig in so min woorde moontlik.

nou nog steeds in elk geval dit

(Gesteel, soos my gewoonte is: dis ’n versreël uit Anne Carson se vertaling van Catallus se “Gedig 101” wat ek nou gou in Afrikaans vertaal het.)

Stuur asseblief vir my 'n onlangse foto van jou. En ’n foto of ’n prent wat so hard praat soos ‘n gedig.

Onlangse foto - sien bo.

Hier is drie ander foto's wat so hard of so sag soos 'n gedig praat.

Erkenning: Nyssa Sharp (http://nyssa.bigcartel.com/artist-info)

Erkenning: Bibi Slippers

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top