Nuwe stemme 6: ’n onderhoud met Solette Swanepoel

  • 0

Nuwe stemme 6 het pas by Tafelberg verskyn. Bibi Slippers en Charl-Pierre Naudé is die samestellers van dié bundel, ’n versameling van die beste verse van Afrikaans se opkomende digters. Menán van Heerden het met Solette Swanepoel, fiksie-uitgewer by Tafelberg, gesels oor Nuwe Stemme 6.

Nuwe Stemme 6 is jou eerste voltooide projek as fiksie-uitgewer by Tafelberg. Wat was jou rol?

Ek het Nuwe Stemme 6 se manuskrip persklaar gemaak. Die samestellers (Charl-Pierre Naudé en Bibi Slippers) en my voorganger (Tertius Kapp) het die maande vooraf al die harde werk gedoen. Maar dit was steeds ’n reusevoorreg om by hierdie publikasie betrokke te kon wees.   

Van wat in die uitgewerswese hou jy die meeste?

Sjoe, daar is so baie waarvan ek hou. Dit is wonderlik om met iets abstrak soos woorde en idees te kan werk, maar om op die ou end iets konkreet, ’n tasbare produk, te hê. Dit is vir my baie bevredigend om boeke waaraan ek gewerk het, op ’n boekwinkelrak te sien.

Wat Nuwe Stemme 6 betref: Is daar spesifieke temas wat uitstaan?

Daar is heelwat nostalgiese gedigte. In ’n paar gedigte word daar na kunswerke en kunstenaars verwys. Die digters se onmiddellike omgewing dien ook as inspirasie – Stellenbosch, Kaapstad, Centurion, Kakamas en Sydney is van die ruimtes waaroor geskryf word.

Mens hoor dat lees op ’n Kindle nie dieselfde ervaring bied as ʼn gedrukte boek nie. Wat is jou ervaring?

Ek het nog nooit ’n boek enduit op ’n Kindle gelees nie, dus is my ervaring beperk. Maar dit beteken glad nie dat ek negatief is oor e-boeke nie. Dit is belangrik om e-boeke te maak, en ons moet dit aanhou doen.

Watter boek(e) lê tans op jou bedkassie?

Brandwaterkom deur Alexander Strachan en drie manuskripte. Ek het verlede week Die wêreld van Charlie Oeng bestel, so dit is volgende op my leeslys.  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top