Nuwe stemme 6 – 6 vrae vir Erentia Bedeker

  • 1

Nuwe stemme 6 het pas by Tafelberg verskyn. Bibi Slippers en Charl-Pierre Naudé is die samestellers van dié bundel, ’n versameling van die beste verse van Afrikaans se opkomende digters.

Liné Enslin gesels met die gepubliseerde digters. Lees hier die ander onderhoude.


 

Erentia Bedeker

 

1. Beskryf jouself in ses woorde.

Alternatief. Kennisgierig. Woestynkind. Droomfantaseerder. Boekopgaarder. Reisiger-sonder-geld.

2. Noem ses dinge waarsonder jy nie kan leef nie.

Damaraland se ooptes. My familie. Boeke. Sjokolade. Anime. Musiek.

3. Wat is die vreemdste plek of medium waarop of waarmee jy al ooit ’n gedig geskryf het?

Op my ma se badkamermuur in die middel van die nag en op ’n toiletrol in die Huab-vallei. Daar was gelukkig nog altyd ’n konvensionele skryfding naby.

4. Hoe lyk jou werkruimte?

Enige plek waar die inspirasie inskop. Maar die finale kap en skaaf vind plaas by my lessenaar.

5. Wie is jou gunstelingskrywer of -digter?

Skrywer: Robin Hobb. Digter: Marlene van Niekerk en Rumi.

6. Vertel asseblief bietjie meer omtrent een van jou gedigte wat in Nuwe stemme 6 opgeneem is.

Namens die grondgeitjie

Hoe loop die pad na die plek
Waar die lig woon?
Job 38:19

Met die leë gieter swaaiend
het jy geroep! ʼn ster
het in jou tuin verskiet.

Dit het aand geword en môre
dit was ons laaste dag.
Jou koue vingers tussen myne,
grond nog onder jou naels.
Nou sterf sterretrosse snags
met sand in hulle oë.

Ek vier jou nuwe lewe
in die moer van supernovas,
waar sterre-embrio’s
saam met jou herbore word
uit ’n heelal van atome.

Teen skemer sal ek vergeet
om die kraan toe te draai.
Die grondgeitjies sal jou roep
en swyend wag op ʼn telegram
wat jou afwesigheid verduidelik.

Vanaand sal ek die aandster
teen my mond smoor
en die tuin alleen natlei.

“Namens die grondgeitjie” is die laaste gedig in ’n siklus wat handel oor die lewensverloop van twee geliefdes – die ontmoeting, die lewe saam met mekaar en dan natuurlik die skeiding as die een die tydelike vir die ewige verruil.

Alhoewel die dood altyd hartseer en seer is vir die een wat agterbly, is dit ook ’n viering van nuwe lewe, want ek glo mens leef voort in die Skepping: uit sterstof geskep, word ons atome weer deel van die natuur en die kosmos.

Die grondgeitjies van Damaraland roep gewoonlik na mekaar teen skemer. Dis ’n roep wat tegelykertyd vol vrede en rustigheid is, maar ook melancholies en verlangend kan wees. Wanneer ons afskeid neem van ’n geliefde, raak hul stem stil en roep ons tevergeefs teen skemer – want daar is nie meer antwoord nie.

Dis in die alledaagse wat mens iemand die meeste mis as hulle weg is. Hulle stem. Hulle samesyn as julle saam tuinwerk of net in stilte sit en luister na die grondgeitjies met ’n koue bier in die hand na ’n warm dag.

Maar selfs die alledaagse gaan voort na die dood.

Luister hier na ’n opname waarin Erentia haar gedig "Hart van Orkenise" voorlees.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top