Nuwe blomme op ’n ou graf

  • 1

Haar asem jaag. Hart klop in haar ore. Dit voel asof elke druppel bloed in haar kop saampers

Die drukking wil haar mal maak. Die hospitaalkamer begin draai. Die een suster word twee. Sweet brand in haar oë. As hier net iemand was wat haar hand kon vashou.

“Mercia ...” Sy hoor die stem, maar dit is ver. “Mercia!” ’n Streng stem. Sy raak stadig bewus van haar omgewing. Dis die dokter wat voor haar is. “Jy moet saamwerk; as jy nie hard en lank genoeg druk nie, gaan jy net die geboorte langer uitrek!”

Ek wíl die geboorte langer uitrek, wil sy skree. Een, twee, drie, vie... Die suster tel en sy druk. Druk en tel. Tel en druk. Vat dit als net weg. Is dit sweet of trane wat haar mond na sout laat proe? Hoe langer sy die geboorte uitrek, hoe langer kan sy haar babadogtertjie by haar hê. Die lewe steeds in haar voel. Die kind voel. Háár kind voel. Sy druk.

Ondraaglike pyn. Steeds minder seer as die wete dat sy nooit haar kind sal kan vashou nie. Nooit haar mondjie vol op haar bors voel nie.

“Amper klaar, nog net een laaste druk ...” Die suster se stem is sag en strelend. Amper moederlik in haar ore.

Die volgende geluid wat sy hoor, sal dít wees wat haar nag na nag sal laat wakker lê. Haar jaar na jaar sal herinner aan die kind wat eers uit haar liggaam en toe uit haar lewe geskeur is. Die geluid van haar kind se eerste skree word haar kosbaarste besitting.

“Baie mooi. Jy het goed gedoen.” Die suster vee met ’n lap oor Mercia se voorkop.

“Kan ek haar asseblief net een keer vashou?” Stukkende woorde tussen snikke.

“Jy weet dit mag nie toegelaat word nie!” Die kindjie se hartseer wete dat sy onwelkom in die lewe is, vul die kamer. Mercia het gelees dat die fetus reeds vroeg verwerping kan aanvoel.

Die wete dat ’n vreemdeling die voorreg sal hê om haar kind groot te maak, steel die laaste bietjie krag wat sy oor het. Haar grootste vrees is dat hulle nie mooi na haar kind sal kyk nie. Al inligting wat sy oor die aanneemouers het, is hulle name en dat sy nooit kontak met hulle of haar kind mag maak nie. Haar ouers het als tot in die laaste besonderhede gereël.

Die verpleegsters se werskaf raak stil en sy hoor die trollie met haar kind by die deur uitgaan.

Sy is ’n besonder klein meisie en haar liggaam is uitgeput na die bevalling. Sy trek haarself stadig regop, maar is te laat. Al wat sy sien is ’n bondeltjie in ’n pienk kombersie toegedraai.

“Ek het jou ma gebel en laat weet dat als goed verloop het; sy sal jou na werk kom oplaai.”

Die suster se stem laat haar die omvang van haar situasie vir die eerste maal werklik besef. Die besef dat sy môre eerste periode ’n Afrikaans-toets skryf. Die besef dat sy voor haar klas sal moet instap sonder die kind in haar. Die besef dat ander leerders se oë vol oordeel op haar sal brand. Die seerste besef is dat haar ma haar steeds met walging in haar oë sal aankyk.

Hy sal ook daar wees. Steeds ontken hy dat dit sy saad is wat die kind help verwek het.

“Kan jy dalk net vir my sê wat hulle haar gaan noem asseblief?”

Die suster sug, vat lank voor sy antwoord.

“Klara. Hulle noem haar Klara.”

Klara. Sy herhaal die naam oor en oor in haar gedagtes. Dit is mooi.

Sy wou haar kind hou. Van dag een af – dit was nie eers vir haar nodig om daaroor te wroeg nie. Sy wou haar hou. Ongelukkig pas ’n tienerswangerskap nie juis by haar ouers se perfekte image nie. As hulle vriende maar geweet het wat als in hulle huis agter geslote deure gebeur het, sou hulle nie te verbaas gewees het oor die feit dat sy op sestien swanger geraak het nie.

Mercia raak met die klank van Klara se huilende stemmetjie aan die slaap ...

*

Klara sit en staar na die onderwyser wat besig is om een of ander algebraprobleem op die bord te verduidelik.

Haar gedagtes kan nie vandag by skool wees nie – of minder as gewoonlik in elk geval. Al probeer sy hoe hard om te fokus op die monotoon van die onderwyser se stem. Die brief in haar sak trek elke keer haar aandag af. Die brief brand in haar baadjiesak.

Die brief wat sy nooit moes kry nie. Die brief wat sy sonder haar ma se wete uit haar persoonlike boks gevat het. Haar ma het reeds kleintyd al gewaarsku dat sy wat Klara is, nie in haar boks mag krap nie. Dit is die een ding wat haar ma s’n was en waar sy verbode was. Haar ma het die erns van die saak in ’n les omskep: “Mens respekteer ander se privaatheid, Klara.”

Sy het nooit weer regtig aan die boks gedink nie. Tot sy die vorige week ’n warmwatersak gesoek het en weer op die boks afgekom het. Hoog in haar ma se kas. Daarna kon sy nie ophou wonder oor die boks en sy inhoud nie. Sy was nuuskierig en wou bitter graag weet wat daarin is. Om te veel speurverhale te lees is ook seker nie ’n goeie ding nie. Sy het gewonder ...

Tot gister. Alleen en verveeld by die huis het sy die kans gewaag en die boks bo uit die kas gaan haal. As sy maar na haar ma geluister het. Die inhoud het lewensveranderende gevolge vir haar ingehou.

Sy haal die brief ongesiens uit haar baadjiesak en lees dit vir die hoeveelste keer.

Meneer en mevrou Van Schalkwyk

Ek is Mercia Jordaan, ek is Klara se biologiese ma.

Ek weet ek is nie veronderstel om enige kontak met
julle te maak nie, maar dit voel of ek besig is om mal
te raak. Sien, ek wou nooit my kind weggegee het nie.
My ouers het my gedwing om dit te doen. Asseblief
dit is nou al twee maande na haar geboorte en ek
wil haar asseblief net sien. Ek weet ek sal haar
nooit weer terug kan kry nie, maar asseblief ek wil
net deel wees van haar lewe. Ek kan nie slaap nie,
ek kan nie eet nie, asseblief help my. Ek verlang
vreeslik baie na my kind.

Baie dankie dat julle die tyd in beslag geneem het
om my brief te lees. Asseblief dink daaroor, asseblief.

Groete
Mercia Jordaan
Ns. Gaan dit goed met haar?

Klara begin snik.

“Klara, wat makeer?” Die onderwyser kyk bekommerd na haar.

“Niks meneer.” Sy probeer tevergeefs ophou met huil.

“Dit kan nie niks wees nie. Gaan kleedkamer toe en gaan spoel jou gesig af.” Hy gaan aan met die probleem op die bord.

Die koue water oor haar gesig maak haar nugter. Sy besluit om nie langer uit te stel nie. Sy sal kranksinnig raak oor die inhoud van die brief. Sy stap kantoor toe en vra of sy haar ma kan bel.

“Hoekom?” Die kantoortannie kan altyd so ongeskik wees.

“Ek voel nie lekker nie.”

Die tannie wys afkeurend na die foon.

“Klaratjie, wat is fout, liefie?” Haar ma lyk bekommerd. Sy bel nie sommer van die skool af nie. Boonop is haar oë ’n lieflike skakering van rooi. Sy bewe. Wil die brief vir haar ma gee. Sy is bang.

“Klara?” Haar hart wil breek oor die wete dat sy haar ma nou bitter seer gaan maak. Sy haal die brief uit. Gee dit stadig, bewend vir haar ma. Sy sien die skrik op haar ma se gesig.

“Waar ...?”

“Ek het dit gister in Mamma se boks gekry.” Haar maag pyn. “Hoekom het Mamma my nooit vertel nie?”

“Ek wou ... ek sou ...” Haar ma staar steeds na die brief.

Klara is meteens kwaad.

“Hoe kon ma haar nie geantwoord het nie, sy het so mooi gevra. Gesmeek.” Is dit sy wat so skree? “Sy wou my gehad het, sy wou deel van my lewe gewees het.”

Klara se ma draai na haar, kyk haar stip in die oë.

“Ek hét haar geantwoord. Ek wou eers nie, maar na ’n paar weke het ek haar geantwoord.” Sy staar na haar ma. Daar is ’n tikkie verwyt in haar ma se stem.

“Hoekom is sy dan nie deel van my lewe nie?” Sy huil.

“Want toe ek haar antwoord was dit klaar te laat ...”

“Mamma bedoel sy wou toe nie meer deel van my lewe wees nie?” Sy bewe. Sy skrik.

“Nee liefie, sy wou altyd ...”

Klara verstaan nie. “Waarom was dit dan te laat?” Is dit werklik besig om te gebeur?

“Sy het ’n week nadat ek die brief ontvang het, selfdood gepleeg...” Haar ma vee sag oor Klara se wang. “Sy kon nie sonder jou lewe nie, Klara-kind.”

Hoe is dit moontlik om so hartseer te wees en so te rou oor iemand wat jy nooit geken het nie? Hoe kan jou hart breek oor iemand wat jy nooit leer liefkry het nie? Tog weet Klara dat sy deel was van hierdie mens na wie sy so oneindig verlang. Haar baarmoeder was haar eerste tuiste. Haar hart, haar eerste wiegelied.

Dit begin sag reën. Sy stap tussen die grafte. Soek tussen vreemdes na ’n bekende naam. Mercia Jordaan. Trane en reën word een.

Dit is ’n onversorgde graf. ’n Graf wat vyftien jaar sonder blomme staan. Klara sak langs die graf neer. Vryf stadig oor die kopstuk. Lê die bossie pienk rose op die graf neer.

“Hallo Mamma, ek het vir Mamma blommetjies gebring ...”

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top