Nuusberig as lykdig (by die dood van Suna Venter)
Op bladsy een sit jy:
oorbelle groot en oop
soos jou deernis en jou omgee ...
vir die ontheemde kinders van oorloë.
Tóé was jy nog lewend,
maar nou dood
jou storie se einde,
hierdie land het jou hart
geknak, gebreek.
Jy’t gesien wat nie gesien moes word,
verwoord wat verswyg moes word
hierdie land is gewelddadig,
behalwe op radio en TV,
só het hy gesê, en só wou hy dit hê.
Soos:
Mandy Rossouw,
Bantu Stephen Biko,
Nat Nakasa,
Ingrid Jonker
sterwe jy té jonk, té vroeg
in hierdie land wat die lewe haat
en die leuen oneindig lief het.
Verder, dieper die koerant in,
verby die faksie-politiek,
die sepies,
die kerklike seksklagtes,
die crossword, kripties, profeties:
22.across: violent encounter (5)
28.down: bird of prey (5)
en Hagar
sit die digter:
op bladsy nege,
sy praat oor mans;
mans en mag en die dood,
mans en geld en mag,
onsigbare mans,
mans en vroue en suits
en weerloosheid.
En op bladsy een sit jy:
stukkend soos Sirië,
en weerloos teen mag,
só bly spook jou gesig by my.
Die Burger, Vrydag 30 Junie 2017
Kommentaar
Baie dankie vir hierdie treffende lykdig, Clinton du Plessis. Jy praat so uit my hart uit.
Die naam Clinton V du Plessis is vir my sinoniem met aktuele woordkuns. Die gedig (soos verskeie ander van hom) verg egter 'n intense meelewing in die situasie en deernis vir mens in nood. Ook laat dit geen twyfel dat ons land verweer het tot 'n leuen in plaas van hoop.
Ek is so oneindig hartseer oor die afsterwe van hierdie deernisvolle en talentvolle vrou. Jou stem sal ek altyd onthou ... en jou passie vir Sirië en die waarheid agter die storie. RIP Suna.
Dankie.
Sprakeloos.
Bitter mooi en bitter hartseer.
So tragies gebeur, so raak gedig.
Mooi saamgevat.
So baie seer en hartseer.
Diep geraak. So hartseer. Te veel omgegee.
Clinton jou doring! Pragtig. Soveel hartseer so poëties vasgevang😢
Clinton du Plessis, jy het hierdie tragedie briljant verwoord. Ek voel ook so ... Dankie vir hierdie lieflike nagedagtenis.
Aangrypend verby ... Suna sou verstaan. Dankie Clinton.
Clinton V du Plessis,
Hoe innig skryf jy nie!
Dankie daarvoor. Iewers in ons land sit haar ouers en wens alles was nie waar nie, en dat sy nog die dogtertjie was wat hulle kon soen en druk, eerder as die held wat gesterf het vir die waarheid. Wat 'n kontras! Mag haar lewe en die van ander wat net reg wou laat geskied, tog nie verniet gegee wees nie!
Mens is verslae, geskok, kwaad en magteloos dat 'n mens se lewe so geminag is. Waarom was sy nie beskerm nie?
hoeveel nog moet
té jonk en té vroeg sterwe
in hierdie land wat die lewe haat
en die leuen oneindig lief het?
vra ek ook binne en buite aanhalingstekens
Ongelooflik mooi, nou vloei my trane en mý hart bloei ... rus in vrede, verlos van hierdie aardse gemors deur mense gemaak .Net God kan ons hierdeur dra.
Hartverskeurend.
So erg die jong(er) mense wat so onverwags en ontydig gaan. Hoe waar is die gedig. RIP Suna. Ons kan saam met AG Visser sug: "Te kort jou skoonheidsduur ..."
Nkosi sikelel' iAfrika Suna-vir-jou-Suid-Afrika. Nkosi sikelel' iSuna
Kon nie beter gestel wees nie. Ons gaan haar stem mis, wat altyd so met gevoel haar insetsels oorgedra het. Sterkte aan haar ouers,broer en suster. Rus sag Suna.
Vir Suna
Sommer
Net
So
Word die swaeltjie se vlerkies geknip
Haar hartjie verflenter in ‘n wrede wip
Hoe lyk die dood, wie kan my sê
Wat skok en trane voor ons deur kom lê
Wie het haar asempie opgevang
Aan die verste ster in die heelal gaan hang
Dis hy wat val soos ‘n bliksem van bo
Wat kyk na jou met die wit van sy oë
Plak ‘n pleister op die mond wat praat
Sit ‘n deksel op die sweer van haat
Hy het die swaeltjie se vlerkies kom knip
Haar hartjie verflenter in ‘n wrede wip
Sommer
Net
So
Dankie dat Clinton du Plessis dit namens ons sprakeloses gesê het.
Hartroerend en ongelukkig so waar.
Ai, Suna Venter. Jy was 'n vrou uit een stuk. Jy is ons almal se heldin.
Dis beautiful.
Dis voorwaar 'n raakvat gedig, maar die opsomming van 'n verhaal van stukkend wees met 'n mismoedigheid wat roep vir herstel!
Wat 'n roerende lykdig. Merkwaardige vrou wat in haar jong lewe meer vermag het as baie!
Ek sit in Perth, kuier by my dogter en lees hierdie gedig vol polsende emosie en my hart huil vir my land en sy mense soos Suma ook. Mag hierdie huiltydperk ook verby gaan en 'n reënboognasie weer opstaan. Ek wil hoop in my hart koester en nie hierdie hartseer nie.
Uitstekend.
Skitterend
Hartseer
Die lykdig vat so baie emosies saam op 'hierdie reis van verlies in ons land, soos vernietiging deur vuur.
So jammer dat alles wat opgebou was vir almal word nou geplunder vir eie gulsigheid.
Ons ween saam oor nog een wat te jonk gesterf het!
So waar en sensitief en bitterlik hartseer. Wonder net of boelies ooit saai wat hulle maai?
Dis hartverskeurend en waar!
Ysingwekkend realisties. Ons salueer 'n dapper en vreeslose vrou. Mag sy ons , oues en jonges, se rolmodel wees.
Sjoe dit is hoendervleis mooi!
Daar is nie verniet in Bloemfontein gebid nie! Rus in vrede, Suna, daar waar jy nou is, is dit Vrede en Rus in Jesus se arms.
Hartseer, maar trots op haar dapper poging om dié land 'n beter plek te maak ...
Pragtig wat my hart geraak het. Ek huil oor haar wegruk van ons en sal vir altyd aan haar voorbeeld vashou ...
Dit moet pragtige gedig wees.
Kolskoot
"Done to soon."
Suna se storie het my die eerste keer ooit laat wonder ... Of hierdie wêreld nog my wêreld is. Of ek nog hier wil bly.
Suna se dood laat meer vrae as antwoorde. Om die seer van die lewe so diep te ervaar dat dit jou stuk vir stuk opvreet is slegs moontlik as jy intens omgee. Om vervolg te word in jou soeke na geregtigheid echo 'n samelewing wat skree vir ernstige introspeksie. Suna se soeke leef voort in harte wat werklik omgee.
Ek het nog nooit soveel reaksie op 'n gedig gekry nie - baie dankie aan elkeen wat gelees, kommentaar gelewer en gedeel het. En dankie vir die uitsonderlike mens vir wie ek dit kon skryf - 'n klein woordmonument vir 'n grootse vrou.
A brilliant elegy!
Baie dankie vir hierdie hartroerende huldebly.
Murgmooi eerbetoon liewe Clinton xxx
Pragtig verwoord Clint, soos net jy kan doen.
Dis wanneer iemand 'n verskil maak dat mense hul meelewing betoon, soos hier. Dankie aan Clinton vir nog 'n diepdink-stuk en dat jy die bal aan die rol gesit het vir die bydraes hierbo ...
Briljant Clinton du Plessis oor hierdie dapper vrou te vinnig weggeruk oor 'n stukkende land wat sukkel om weer heel te word. Waar, ja waar gaan die monument vir hierdie vrou opgerig word? Jou gedig tref diep. RIV Sune - jou deel het jy gedoen, net jammer jy moes hart en siel en liggaam en wese betaal daarvoor.
Skitterend, Clinton - groot waardering vir hierdie hartverskeurende, aangrypende en waardige huldeblyk.
Dankie!
Die wêreld is ons woning nie
Strofe 3:
Die wêreld is ons woning nie.
Dit voel ek as die wind ontwaak,
as die eikebome knars en kraak,
dit hoor ek in die fladdering
van voëltjies wat hul vlerke slaan
teen die verwarde boomtakke aan.
En as ek nader kom dan vind
ek by die maan se wisselstraal
'n nes vol kleintjies deur die wind
omlaaggeslinger, dood, verplet.
Ek voel dit dan aan alle ding
wat in die nagstond my omring,
die wêreld is ons woning nie.
- J.D. du Toit (Totius)
Dankie vir digters wat kan verwoord wanneer ons stom is.
'n Kompas vir ons hartseer kan gee. Vir my was Suna net
'n stem, maar sy het meer geword - die simbool van die hartseer
van Suid-Afrika. Van soveel belowende potensiaal wat
doodgesmoor is.
Clinton, jy verdien elke reaksie op hierdie diep en treffende lykdig, soos elke ander huldeblyk. Dankie dat jy haar en haar onnodige dood gelykstel aan dié van ander - en ewe jong begaafdes soos Nat Nakasa in 'n ander werklikheid - wat die offer gebring het vir professionele joernalistieke geregtigheid. Soos die ander wat jy noem is die nalatenskap daar, al bring die jare naderhand 'n minder onthou, net 'n seer vir die wat naby is. Mag sy in vrede rus en haar naastes en kollegas troos vind in die wete dat sy in haar kort lewe 'n merk gelaat het by vriend en vyand. Helaas.
Suna is nie dood nie ...
Grootsheid leef voort ... Baie dankie vir 'n aangrypende gedig.
Ongelooflik tragies!
Ek is diep geraak en ontroer deur hierdie innige gedig - dit verwoord die magteloosheid en woede, en verlatenheid wat ek voel. Dankie, Clinton, dankie.
Dankie!
Somige mense kan situasies beskryf in gedagte, soos Clinton. Ingrypende gedagtes, gevoelens, emosies...