Nuusberig as lykdig (by die dood van Suna Venter)

  • 62

Nuusberig as lykdig (by die dood van Suna Venter)

Op bladsy een sit jy:
oorbelle groot en oop
soos jou deernis en jou omgee ...
vir die ontheemde kinders van oorloë.

Tóé was jy nog lewend,
maar nou dood
jou storie se einde,
hierdie land het jou hart
geknak, gebreek.

Jy’t gesien wat nie gesien moes word,
verwoord wat verswyg moes word
hierdie land is gewelddadig, 
behalwe op radio en TV,
só het hy gesê, en só wou hy dit hê.

Soos:
Mandy Rossouw,
Bantu Stephen Biko,
Nat Nakasa,
Ingrid Jonker
sterwe jy té jonk, té vroeg
in hierdie land wat die lewe haat
en die leuen oneindig lief het.

Verder, dieper die koerant in,
verby die faksie-politiek,
die sepies,
die kerklike seksklagtes,
die crossword, kripties, profeties:
22.across: violent encounter (5)
28.down: bird of prey (5)
en Hagar
sit die digter:

op bladsy nege,
sy praat oor mans;
mans en mag en die dood,
mans en geld en mag,
onsigbare mans,
mans en vroue en suits
en weerloosheid.

En op bladsy een sit jy:
stukkend soos Sirië,
en weerloos teen mag,
só bly spook jou gesig by my.

Die Burger, Vrydag 30 Junie 2017

  • 62

Kommentaar

  • Baie dankie vir hierdie treffende lykdig, Clinton du Plessis. Jy praat so uit my hart uit.

  • Die naam Clinton V du Plessis is vir my sinoniem met aktuele woordkuns. Die gedig (soos verskeie ander van hom) verg egter 'n intense meelewing in die situasie en deernis vir mens in nood. Ook laat dit geen twyfel dat ons land verweer het tot 'n leuen in plaas van hoop.

  • Ek is so oneindig hartseer oor die afsterwe van hierdie deernisvolle en talentvolle vrou. Jou stem sal ek altyd onthou ... en jou passie vir Sirië en die waarheid agter die storie. RIP Suna.

  • Henda Oosthuysen

    Clinton du Plessis, jy het hierdie tragedie briljant verwoord. Ek voel ook so ... Dankie vir hierdie lieflike nagedagtenis.

  • Clinton V du Plessis,
    Hoe innig skryf jy nie!
    Dankie daarvoor. Iewers in ons land sit haar ouers en wens alles was nie waar nie, en dat sy nog die dogtertjie was wat hulle kon soen en druk, eerder as die held wat gesterf het vir die waarheid. Wat 'n kontras! Mag haar lewe en die van ander wat net reg wou laat geskied, tog nie verniet gegee wees nie!

  • Eugenie Luther

    Mens is verslae, geskok, kwaad en magteloos dat 'n mens se lewe so geminag is. Waarom was sy nie beskerm nie?

  • zyrilde potgieter

    hoeveel nog moet
    té jonk en té vroeg sterwe
    in hierdie land wat die lewe haat
    en die leuen oneindig lief het?

    vra ek ook binne en buite aanhalingstekens

  • Alminda Breytenbach

    Ongelooflik mooi, nou vloei my trane en mý hart bloei ... rus in vrede, verlos van hierdie aardse gemors deur mense gemaak .Net God kan ons hierdeur dra.

  • So erg die jong(er) mense wat so onverwags en ontydig gaan. Hoe waar is die gedig. RIP Suna. Ons kan saam met AG Visser sug: "Te kort jou skoonheidsduur ..."

  • Kon nie beter gestel wees nie. Ons gaan haar stem mis, wat altyd so met gevoel haar insetsels oorgedra het. Sterkte aan haar ouers,broer en suster. Rus sag Suna.

  • Vir Suna
    Sommer
    Net
    So

    Word die swaeltjie se vlerkies geknip
    Haar hartjie verflenter in ‘n wrede wip

    Hoe lyk die dood, wie kan my sê
    Wat skok en trane voor ons deur kom lê

    Wie het haar asempie opgevang
    Aan die verste ster in die heelal gaan hang

    Dis hy wat val soos ‘n bliksem van bo
    Wat kyk na jou met die wit van sy oë

    Plak ‘n pleister op die mond wat praat
    Sit ‘n deksel op die sweer van haat

    Hy het die swaeltjie se vlerkies kom knip
    Haar hartjie verflenter in ‘n wrede wip

    Sommer
    Net
    So

  • Dis voorwaar 'n raakvat gedig, maar die opsomming van 'n verhaal van stukkend wees met 'n mismoedigheid wat roep vir herstel!

  • Renè de Jager

    Ek sit in Perth, kuier by my dogter en lees hierdie gedig vol polsende emosie en my hart huil vir my land en sy mense soos Suma ook. Mag hierdie huiltydperk ook verby gaan en 'n reënboognasie weer opstaan. Ek wil hoop in my hart koester en nie hierdie hartseer nie.

  • Sandra a pohl

    Die lykdig vat so baie emosies saam op 'hierdie reis van verlies in ons land, soos vernietiging deur vuur.

  • hanneke jordaan

    So waar en sensitief en bitterlik hartseer. Wonder net of boelies ooit saai wat hulle maai?

  • Susan du Plessis

    Ysingwekkend realisties. Ons salueer 'n dapper en vreeslose vrou. Mag sy ons , oues en jonges, se rolmodel wees.

  • Daar is nie verniet in Bloemfontein gebid nie! Rus in vrede, Suna, daar waar jy nou is, is dit Vrede en Rus in Jesus se arms.

  • Pragtig wat my hart geraak het. Ek huil oor haar wegruk van ons en sal vir altyd aan haar voorbeeld vashou ...

  • Suna se storie het my die eerste keer ooit laat wonder ... Of hierdie wêreld nog my wêreld is. Of ek nog hier wil bly.

  • Andre Diederichs

    Suna se dood laat meer vrae as antwoorde. Om die seer van die lewe so diep te ervaar dat dit jou stuk vir stuk opvreet is slegs moontlik as jy intens omgee. Om vervolg te word in jou soeke na geregtigheid echo 'n samelewing wat skree vir ernstige introspeksie. Suna se soeke leef voort in harte wat werklik omgee.

  • Clinton V. du Plessis

    Ek het nog nooit soveel reaksie op 'n gedig gekry nie - baie dankie aan elkeen wat gelees, kommentaar gelewer en gedeel het. En dankie vir die uitsonderlike mens vir wie ek dit kon skryf - 'n klein woordmonument vir 'n grootse vrou.

  • Gustaf Claassens

    Dis wanneer iemand 'n verskil maak dat mense hul meelewing betoon, soos hier. Dankie aan Clinton vir nog 'n diepdink-stuk en dat jy die bal aan die rol gesit het vir die bydraes hierbo ...

  • Briljant Clinton du Plessis oor hierdie dapper vrou te vinnig weggeruk oor 'n stukkende land wat sukkel om weer heel te word. Waar, ja waar gaan die monument vir hierdie vrou opgerig word? Jou gedig tref diep. RIV Sune - jou deel het jy gedoen, net jammer jy moes hart en siel en liggaam en wese betaal daarvoor.

  • Skitterend, Clinton - groot waardering vir hierdie hartverskeurende, aangrypende en waardige huldeblyk.
    Dankie!

  • Die wêreld is ons woning nie

    Strofe 3:
    Die wêreld is ons woning nie.
    Dit voel ek as die wind ontwaak,
    as die eikebome knars en kraak,
    dit hoor ek in die fladdering
    van voëltjies wat hul vlerke slaan
    teen die verwarde boomtakke aan.
    En as ek nader kom dan vind
    ek by die maan se wisselstraal
    'n nes vol kleintjies deur die wind
    omlaaggeslinger, dood, verplet.
    Ek voel dit dan aan alle ding
    wat in die nagstond my omring,
    die wêreld is ons woning nie.
    - J.D. du Toit (Totius)

    Dankie vir digters wat kan verwoord wanneer ons stom is.
    'n Kompas vir ons hartseer kan gee. Vir my was Suna net
    'n stem, maar sy het meer geword - die simbool van die hartseer
    van Suid-Afrika. Van soveel belowende potensiaal wat
    doodgesmoor is.

  • Estelle Bester

    Clinton, jy verdien elke reaksie op hierdie diep en treffende lykdig, soos elke ander huldeblyk. Dankie dat jy haar en haar onnodige dood gelykstel aan dié van ander - en ewe jong begaafdes soos Nat Nakasa in 'n ander werklikheid - wat die offer gebring het vir professionele joernalistieke geregtigheid. Soos die ander wat jy noem is die nalatenskap daar, al bring die jare naderhand 'n minder onthou, net 'n seer vir die wat naby is. Mag sy in vrede rus en haar naastes en kollegas troos vind in die wete dat sy in haar kort lewe 'n merk gelaat het by vriend en vyand. Helaas.

  • Riana Scheepers

    Ek is diep geraak en ontroer deur hierdie innige gedig - dit verwoord die magteloosheid en woede, en verlatenheid wat ek voel. Dankie, Clinton, dankie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top