Nul is nie niks nie: ’n onderhoud met Antoinette Louw

  • 0

Antoinette Louw (Foto: IMDB)

Nul is nie niks nie is ’n nuwe Afrikaanse film wat op 7 Julie in filmteaters begin draai het. Die film is gebaseer op Oor ’n motorfiets, ’n zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word deur Jaco Jacobs. Naomi Meyer gesels met Antoinette Louw, wat die rol van Trisa vertolk.

Onlangs het jy ’n hoofrol in die bekroonde Amper, Vrystaat (teater) vertolk, en ’n hoofrol in Swartwater (TV). Hier’s ’n vraag oor iets heeltemal anders: Was jy op skool goed met wiskunde? Watter vakke was wel gunstelinge?

O hemel, nee! Ek was glad nie goed met wiskunde nie. Ek het dit tot matriek gehad en dit het my eindelose slapelose nagte en trane besorg. Ek was wel mal oor geskiedenis (ek het dit op ’n stadium oorweeg om ’n antropoloog te word) en Afrikaans (ek was veral lief vir prosa skryf en het ’n wonderlike onderwyseres gehad wat daardie liefde gekoester en ondersteun het).

Ek vra jou oor wiskunde en oor skool, juis weens die titel van die film Nul is nie niks nie.  Wil jy dalk iets vertel van jou betrokkenheid hierby?

Die vervaardigers het my gekontak om te hoor of ek sal belangstel in ’n rol. Toe ek die teks lees, was dit ’n dadelike “ja”. Goeie tekste is so skaars soos hoendertande. Ek speel Trisa, die hoofkarakter se ma. ’n Vrou en ma wat al vir twee jaar nie uit die huis kom nie omdat sy treur oor die dood van haar man.

Die film is gebaseer op Jaco Jacobs se boek. Kan jy iets van die storie vertel sonder om geheime uit te lap?

Alhoewel Jaco Jacobs se boek ’n jeugroman is, is die film vir beide kinders en ouers. Almal kan met die storie en emosies identifiseer en word daardeur geraak. Dis ’n storie oor lewe en dood, en veral hoop. Want daarsonder kan niemand leef nie.

Wat was vir jou lekker daarvan om jou rol in hierdie film te vertolk, en wat was uitdagend?

Dit was lekker om terug te tree en die kinders dop te hou. Dit was merkwaardig hoe hulle van meet af ingepas het, glad nie oorweldig deur die kameras en die grootmense nie. Die grootste uitdaging was die omstandighede – ons het baie in die aande geskiet en dit was bitterlik koud. Soms onder vriespunt.

Vertel bietjie van die verskillende ervarings: op TV, op die verhoog en in ’n film. Wat geniet jy die meeste, en hoe verskil hulle?

Die verhoog sal altyd my eerste liefde bly, want dis waar ek begin het en die toneelgogga my gebyt het. Maar ek is lief vir al drie mediums, want ek is lief vir storievertelling. Stories het die mag om mense se lewens te verander. Die tegnieke is dalk verskillend – met teater moet mens groter speel, jou stem gebruik. Maar in al drie mediums moet eerlikheid nog steeds na vore kom, is navorsing en die werk wat jy insit dieselfde.

En natuurlik wil ek jou vra oor jou betrokkenheid by die film oor Bram Fischer ... mag jy al iets hieroor vertel?

Dis my eerste hoofrol in ’n internasionale fliek. Ek speel Molly, Bram Fischer se vrou. Ek is bitterlik opgewonde oor die film. Jean van de Velde, die Nederlandse regisseur en skrywer, het dit reggekry om op die mense, Bram en Molly, te fokus. Dis nie ’n geskiedenisles of ’n “apartheidfilm” nie. Nee, dis twee mense se verhouding tydens baie moeilike omstandighede. Baie mense weet nie wie hulle was nie, weet nie wat hulle beteken het vir ons land nie. Dit is vir my ’n eer om deel te kon wees van hierdie projek, om hierdie merkwaardige mense weer te laat leef. Bram Fischer word later vanjaar in Suid-Afrika uitgereik.

Hier is die film se amptelike lokprent:

Almero ft Bouwer Bosch: “Nul is nie niks nie”

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top