Nou, hier deur Corné Coetzee: ’n resensie

  • 0

nou, hier
Corné Coetzee
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798176200

Corné Coetzee se debuutbundel getiteld nou. hier het onlangs by Human & Rousseau verskyn. Coetzee het reeds vantevore talle gedigte in versamelbundels soos Nuwe stemme 4 (2010), My ousie is ’n blom (2006), New Contrast en Sol Plaatje European Union Poetry Anthology gepubliseer. Sommige van die gedigte uit laasgenoemde bundels is hersien en in nou. hier opgeneem.
As resensent lees ek letterlik alles in ’n boek. Ek bestudeer die voorplat met ’n vergrootglas, die agterplat met die reklame-afdeling se vernuftige aanhalings en of opsomming van die teks, en dan veral die “erkennings” wat die meeste skrywers of digters by hul tekste insluit. Hierdie erkennings is gewoonlik ’n resensent se pitkos met allerlei verwysings wat ons kan naspeur, maar bevat ook belangrike inligting oor die skrywer of digter se werksproses en wie behulpsaam was met die samestelling van die finale teks. Ek noem dit aangesien iets my in Coetzee se erkenning opgeval het wat ter sake is by die bespreking van dié bundel. In haar erkenning beklemtoon Coetzee dat “hierdie gedigte nie outobiografies is nie en ook nie, in die geval van die Siddharta-gedigte, biografies nie” (109). Nadat ek die bundel in sy geheel gelees het, verstaan ek ten volle waarom sy laasgenoemde beklemtoon het: eerstens moet ’n skrywer se werk hoofsaaklik as fiktief beskou word (alhoewel die (outo)biografiese kode wel voorkom of subtiel deurskemer), en tweedens is die inhoud en temas van die gedigte van so ’n aard dat ek as leser kan begryp waarom sy nie haarself (en in dié geval ook haar huweliksmaat) met sommige van die gedigte wil assosieer en of blootstel nie.

Oor die titel self is ek onseker wat die skryfwyse daarvan betref, aangesien daar verskille tussen die voorplat, die titelblad en die titelgedig is. Op die voorplat word die bundeltitel met kleinletters en ’n punt tussenin geskryf, terwyl die titel op die titelblad en by die titelgedig as “Nou, hier” geskryf word. Of dit doelbewus deur die skrywer (of uitgewer) gedoen is, weet ek nie. Dit doen egter nie afbreuk aan die bundel self nie en kan dalk net die meer pedantiese leser opval.

Die titel op sigself is treffend. Nou, hier verwys na ’n spesifieke tyd en plek. Wanneer die bundel in sy geheel tematies in oënskou geneem word, is die titel van belang, aangesien die spreker wil beklemtoon dat dit wat nou (tans) en hier (op hierdie plek en tyd) plaasvind, van belang is. Die lewe is immers te kort om hare te kloof oor wat gister gebeur het en/of wat môre gaan gebeur. Die mens moet leef vir nou. Hier. Op die plek en tyd waarin jy jou bevind.

Coetzee se bundel lees soos ’n mens se sikliese lewensverhaal. Die vernuftige wyse waarop die bundel uiteengesit is, het my soos ’n vuishou getref. Die meeste digters skryf gedigte, nie bundels nie. Ek het eendag ’n staaltjie gehoor van ’n digter wat pas sy eerste bundel gepubliseer het. ’n Gevestigde, ouer digter vra hom toe waaraan hy tans werk. Hy antwoord: “Ek skryf aan my volgende bundel.” Haar reaksie was dat sy gedigte skryf, nie bundels nie. Laasgenoemde het my jare lank bygebly, omdat dit so ’n treffende stelling is. As resensent en leser wonder ek soms of digters doelbewus gedigte skryf met die bundel as ’n geheel (die eindproduk) in gedagte en of hul gedigte skryf en dit “toevallig” netjies in afdelings en temas bymekaarsit. Corné Coetzee se bundel is egter soos ’n legkaart waarvan al die individuele stukke perfek inmekaar pas. Háár gedigte het ’n bundel geword en vorm ’n eenheid waarin al die gedigte in harmonie met mekaar verkeer.

Die bundel bestaan uit agt afdelings. Die programgedig, “Bruide kyk”, fokus op ’n jeugervaring. Onskuld, humor en jeugdrome vorm saam ’n gepaste inleiding tot die spreker se ervarings:

Kleintyd Saterdaemiddae
drentel die ledige kaalbeenmeisies
straataf kerk se kant toe
en klont op die hoek
met ongeskikte kougommonde
om bruide te kyk […]

Hierdie afdeling, getiteld “Nymphaea gloriosa”, bestaan hoofsaaklik uit liefdesverse. Die verse vorm ’n eenheid waarin die spreker haar verliefdheid verwoord. Coetzee se gebruik van die metafoor tesame met vernuftige woordspeling is briljant – en ek gebruik nie sómmer dié woord in ’n resensie nie. Lanklaas het ek soveel agtereenvolgende gedigte in ’n enkele afdeling van ’n digbundel gelees en herlees om sodoende elke woord te kan proe, te kan takseer, en die hemelsheid daarvan te kan indrink. Een so ’n vers is “Vleiland”:

Vanoggend met eerste lig
ná jou woorde en hande en heupe laas nag
het diep in my lyf
’n syferfontein begin borrel
en loop daar blink water al met die vore langs
om elke ronding en in elke holte
tot glimmerend in elke vingerpunt en toon

en nou is ek ’n geil, geheime vleiland
vol naaldekokers en paddavisse en skrywertjies
en as jy vanaand weer kom
staan hier môre ’n plaat Nymphaea gloriosa.

Die gedig “Hoogsomer” fokus op moontlike swangerskap en gebruik die vy as metafoor op soortgelyke wyse as Annesu de Vos met haar “groen perske” in haar gedig en bundel getiteld Gebed van ’n groen perske (1980).

In “Onthou” word intimiteit en seksualiteit op meesterlike wyse ontgin en word daardie spesiale oomblik tussen twee geliefdes in woorde vasgevang:

Daardie soel somernag
toe jy my nadertrek,
toe ek my oë toemaak
teen die blou van jou oë
om te keer   
dat ’n wilde oseaan
met g’n agting vir huis of heining of bloudruk
my goedsmoeds verdrink
het ek nooit gedink
hoe ek in hierdie ysige Hoëveld-winter
wanneer die lug ál meer op jou oë trek
lemhelder
o in die naam van die gekke gode van die sewe blou seë
sou onthou
dat ek my oë teen
die blou van jou oë
toegemaak het.

Die tweede afdeling fokus op die spreker se ontnugtering met die getroude lewe en moederskap. Die geroetineerde bestaan van die mens – maar veral dié van die tuisteskepper – word in die soeklig geplaas. In “Die huisvrou verbeel haar wat” word die spreker se misnoeë met haar talle rolle as getroude vrou verwoord:

Uiteindelik ná
vuurstook koskook melkmaak
skrop stryk soek bêre seks ook nog
styg daar laataand by die skottelgoed
’n seepbel op
en kaats al die kleure van die wêreld […]

Coetzee verwoord deur middel van die spreker ’n gevoel wat soveel vroue daagliks ervaar, maar kwalik die moed het om vanuit die patriargale sisteem waarin hul vasgevang is, hul stem oor te kan laat hoor. Ook “Huisgod”, “Kombuis” en “Instruksies vir die huishouer” fokus op die lot van die vrou binne die patriargale bestel. (Hier is wonderlike materiaal vir ’n akademiese artikel.) In “een-een” verwoord die spreker die eensaamheid wat ’n individu binne ’n verhouding ervaar (hoe ironies!) terwyl “Kameleon” die spreker se wensdenkery ontbloot: “Miskien sal ek in die vodde van ’n Sabbatsmiddag/ suutjies ná die opwas/ saam met die goor water uitglip […]/ Miskien vanmiddag.”

Onmin in die huwelik kom in die derde afdeling aan bod in gedigte soos “Oos, wes” en “Bedags is ek oukei”.

Opvallend omtrent Coetzee se verse is die eerlike, onopgesmukte en realistiese wyse waarop gegewens in die gedigte aangespreek word. Die digter maak geredelik van Bybelse verwysings gebruik in gedigte soos “Kaskar”, “Huisvesting” en “Die oorwinnaars”. Laasgenoemde Bybelse verwysings sluit aan by die Boeddhisties-geïnspireerde gedigte in die slotafdeling en vorm ’n balans deur van verskillende geloofsoortuigings gebruik te maak – geloof en spiritualiteit word beide verken. Die spreker fokus hoofsaaklik op die rol van die vrou in gedigte waar die Bybel as interteks dien. As manlike leser is dit vir my besonder aangenaam om ’n vrouestem te lees wat nie skroom om die patriargale bestel kaalvuis te takel nie.

In “Waar’s die dae” (50) fokus die spreker op menslike veroudering wat deel van die lewensiklus vorm:

Ag om só te word,
dik om die lyf,
traag in die heup,
ek wat met dun enkels gedans het.

Ek onthou sy lieflike arms,
die buig van sy nek,
ek sien sy groot maag
en dit baat my niks.

Ek sien hy aai die jongetjies
met die appelboudjies
en ek suig my tande.

Waar is die dae,
die nagte,
Wat vir ’n woord is verby.

In “Tiener” en “Moenie mors nie” verlang die spreker terug na haar prille jeug. Verganklikheid word in “Desember, dan Januarie”, “Kleedrepetisie vir woorde by die sterfbed”, “Besoek” en “Saadskiet” onthul en fokus op die naderende dood wat elke mens in die gesig staar. “Beroerte” is een van die hoogtepunte in die bundel. Coetzee se meesterlike beskrywing van die liggaamlike aftakelingsproses het my in vervoering gehad. In “aljanderbos” tree die spreker in gesprek met Antjie Krog se “Ma” uit haar bundel Dogter van Jefta (1970).

Met “Gaia” sluit Coetzee aan by digters soos Johann Lodewyk Marais, Susan Smith en TT Cloete wat vanuit ’n ekokritiese oogpunt die kwessie rondom die mens se interaksie met die natuur ondersoek. Coetzee se gedig is egter tong-in-die-kies en vir my persoonlik skreeusnaaks – dié bundel raak nie slegs ernstige onderwerpe aan nie, en “Gaia” is een voorbeeld hiervan:

Nee magtag.
’n ma kan net soveel vat.
Kyk hoe lyk die plek!
’n Varkhok! Dit stink!
Verniel! Ópgemors!
Al wat ek doen is gee!
Al wat julle doen is gryp!
Nóg hê, nóg hê, dis al wat julle ken!
Weet altyd beter!
Helskinders!

Sit terug!
Maak aan die kant!
Maak skoon! Skrop!
En nog ’n ding, hou op teel!

Moenie dat ek hier opstaan nie.

In die slotafdeling fokus die digter hoofsaaklik op gedigte met ’n Boeddhistiese tema. Dié bundel is dus propvol aangename verrassings en bied ’n ryk versameling gedigte waarby menige leser sal aanklank vind.

Corné Coetzee se debuutbundel is sonder twyfel een van die beste digdebute wat ek vanjaar gelees het. Dit gebeur selde dat daar in die bestek van een bundel soveel gedigte is wat uitstaan en boonop vanuit ’n literêre oogpunt geslaagd daar uitsien. Nou, hier is, soos Bibi Slippers se Fotostaatmasjien (2016), ’n rare vonds. Coetzee se gedigte praat met die siel. Onopgesmukte eerlikheid, die eenvoud en prag van die lewe, verganklikheid en humor maak van hierdie bundel ’n leeservaring soos min. Ek vermoed ek het my poëtiese “nirwana” in Coetzee se bundel gevind.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top