Nou, hier deur Corné Coetzee: ’n resensie deur Heilna du Plooy

  • 0

Nou, hier
Corné Coetzee
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798176200

Die bundel Nou, hier is Corné Coetzee se debuut as digter. Die bundel as geheel, die fisiese voorkoms, die ordening in afdelings en die temas wat in die gedigte ter sprake kom, vertoon ’n duidelike samehang. Die eerste betekenis van die titel van die bundel, naamlik die verankering in die hede en ’n spesifieke plek, word ondersteun deur die afbeelding van ’n ry huise op die buiteblad. Dit is gewone huise wat die bestaan van gewone mense in vooruitsig stel. Maar ’n baie groot deel van die afbeelding bestaan uit blou lug wat dadelik suggereer dat hierdie huise nie beklemmend of afgeslote is nie. Die motto voorin die bundel lui verder soos volg: “Wees gegroet, skone oggend, wat soos ’n vlam oor die aarde val”. Dit kom uit ’n Middeleeuse Ierse gedig soos vertaal deur Karel Schoeman, naamlik “Die oggendgesang van St. Ceallach”. Die motto verwys na die vroeë dag soos dit elke dag aanbreek – dus die doodgewone elke dag se begin, maar gesien op ’n uitsonderlike manier: in die alledaagsheid, in die herhaling, is daar nogtans vir ’n bepaalde waarnemer ’n jubeling opgeslote.

Wanneer mens dan die gedigte begin lees, kom verdere verbande na vore. Die gedigte het telkens ’n ek-spreker, of daar is sprake van ons, en daar is dikwels ’n jy of julle wat aangespreek word of waaroor geskryf word. Die afdelingstitels bevestig ook die sentrale tematiek: “Nymphaea gloriosa” (waterlelie wat ’n verband met ’n tuin lê); “die vreemdeling in ons arms” (oor kinders en geliefdes); “oos, wes” (wat met reis en tuiste te make het) en so gaan dit aan rondom die tema van belewenis as werklikheid. Daar is dus ’n duidelike samehang in aanbieding en materiaal en die betekenis van die stof wat hanteer word.

Nou is dit sekerlik waar dat samehang nie as ’n maatstaf vir letterkunde of die poësie beskou sou word in die postmodernistiese denkpatrone van die afgelope dekades nie, maar in die meta-modernistiese of post-postmodernistiese denke wat tans al hoe duideliker na vore kom, is daar juis ’n verskuiwing na ander en vreemd genoeg gemakliker en dus oper vertrekpunte waarmee daar na die poësie gekyk kan word. Binne hierdie raamwerk van denke pas Coetzee se bundel gemaklik in. Die onpretensieuse maar sterk gerigtheid op wat menslik relevant is – die mens gebonde aan tyd en plek, aan omstandighede en die mense rondom die enkeling en die skerp visie op hierdie onmiddellike omgewing en omstandighede – wat sowel krities as empaties en sensitief is, toon myns insiens in die eerste plek dat die digter op ’n volgehoue wyse haar materiaal deurdink het totdat daar ’n bepaalde rypwording plaasgevind het en samehangende kwessies na vore gekom het, en in die tweede plek dat die bundel in die deurlopende fokus op verhoudinge aansluit by die kontemporêre bewustheid van relasionaliteit in die literatuur.

Die gedigte handel oor die gewone bestanddele van ’n mens se lewe, oor die huis waarin iemand woon as koestering én as troosteloosheid, oor geliefdes en kinders en ouers – afskeid van ouers, uitstuur van kinders – met al die ekstases en ontnugteringe wat sulke verhoudinge kenmerk, oor die diere en goggas (blattodea sluit kakkerlakke en termiete in – vgl p 88) wat werklik en metafories die tuin betrek, selfs oor die mense wat mors (waarteen Gaia dreig om op te staan – vgl p 90), oor stede en strate, oor binne- en buiteruimtes. En alles draai om die verhoudinge tussen enkelinge en dinge rondom hulle, en die verhoudinge tussen enkelinge en tussen alle dinge onderling. En soos die groot stuk lug op die buiteblad, oorstyg die gedigte dan ook telkens die beperkinge van die plaaslike en onmiddellike omgewing.

Die spreker in die bundel is dikwels in gesprek met ’n “jy”. Soms is “jy” ’n deelgenoot, iemand in dieselfde posisie of omstandighede, “’n mens”, ’n “jy” soos in “Maak jy magic of speel jy net” (p 10) waarin verskillende troostelose scenario’s beskryf word waarin ’n vrou haar dae kan slyt. Maar die “jy” is dikwels ’n geliefde in baie mooi liefdesgedigte, soos in “atoomkunde” (p 11) (“maar jy is ’n kraan/ in ’n bekwame munisipaliteit/ jy maak my leegtes boordensvol/ dié dat ek lammerig en simpel/ sit en smile vandag”) of “Een nag” (p13) of “Onthou” (p 15) waar die spreker onthou hoe sy in ’n soel somernag haar “oë toemaak/ teen die blou van jou oë/ om te keer/ dat ’n wilde oseaan/ met g’n agting vir huis of heining of bloudruk/ my goedsmoeds verdrink”.

Wat my boei is dat die beskrywings in die gedigte oorkom asof dit self-beleef is en tog voeg die digter agterin die bundel ’n nota in wat ontken dat die gedigte outobiografies of biografies is. Miskien kan mens die aard van baie van die gedigte probeer benader deur die verhouding tussen die teks en die referensiële werklikheid te kwalifiseer: die belewenisse sou outobiografies/biografies kon wees soos fiksie “waarder as die waarheid” kan wees: die gedigte gaan oor universele sake maar word relevant juis op grond van die unieke blik van die een wat die ervaring beskryf. Soos die spesifieke wyer getrek word, word die algemene telkens gekwalifiseer deur iets individueel, wat nie net die unieke blik behels nie, maar ook ’n nugter-ironiese kwalifikasie, ’n bewustheid van die kraak in alle verhoudinge en belewenisse. Die gedig “kombuis (p 29) beskryf hoe die vrou “werk en bak en brou” maar uiteindelik besef ”Die krane drup so droef./ Alles is skoon, die werk gedaan./ Die hele besigheid verkeerd verstaan.” Selfs in ’n liriese liefdesgedig wat beskryf hoe die geliefdes mekaar se holtes ken (p 21) eindig die gedig met die suggestie dat dieselfde kennis van mekaar ook die moontlikheid inhou om mekaar op die dodelikste manier te tref. Die bewustheid van die gebrokenheid van alle ervarings, maak die mens eintlik ook selfs onbedag op geluk. In die gedig “Een nag” (p 13) word ’n wonderlike liefdesnag beskryf: “die ekstase soos springende vlamme/ die pyl wat swiep tot in die blonde son/ beaam/ en met mekaar se tonge gefluister:/ Jy. Net jy. Ewig.”  Maar die volgende oggend “het al twee geskrik/ en onderskeidelik tranerig en verbouereerd/ begin rusie maak.”

Die spreker in die gedigte, wat meestal duidelik vroulik is, gee nêrens haar individualiteit of outonome denke prys nie en sien rondom ’n bepaalde fokus, weldeeglik ’n wyer beeld. Dit maak die gedigte psigologies oortuigend. Wat Friedman (1998:76) skryf van outobiografieë van vroue (al is die gedigte juis nie streng outobiografies/biografies nie) het my bygebly by die lees van die bundel, veral as mens die klem plaas op die gedig as iets wat geskryf is eerder as op die referensiële aanleiding tot die gedig:

In taking the power of words, of representation, into their own hands, women project onto history an identity that is not purely individualistic. Nor is it purely collective. Instead, this new identity merges the shared and the unique. In autobiography, specifically, the self created in a woman’s text is often not a “teleological entity”, an “isolated being” utterly separate from all others, as Gusdorf and Olney define the autobiographical self. Nor is the self a false image of alienation, an empty play of words on the page disconnected from the realm of referentiality, as a Lacanian and post-structuralist critic of autobiography might say. Instead, the self constructed in women’s autobiographical writing is often based in, but not limited to, a group consciousness – an awareness of the meaning of the cultural category WOMEN for the patterns of women’s individual destiny. Alienation is not the result of creating a self in language, as it is for Lacanian and Barthesian critics of autobiography. Instead, alienation from the historically imposed image of the self is what motivates the writing, the creation of an alternate self in the autobiographical act.

Hierdie bundel is ook nie vir my feministies nie, maar beskryf tog vroulike situasies vanuit ’n vroulike hoek. Dit geskied egter met balans en soms tong in die kies en met ’n rypheid van denke waarin vir my ’n groot wins lê. Die “self”-bewussyn is nie ’n negatiewe uitsluitende bewussyn nie, maar juis relasioneel en inklusief, in menseverhoudinge sowel as wat die omwêreld betref. In die gedig “kliprivier” word ’n rusie in terme van ’n rivier in vloed beskryf en dan sluit die gedig só af: “en toe die gemaal my velle begin stroop/ kyk ek jou weer aan/ en sien jy bloei” (p 33). In “Aard” (p 45) weet die spreker hoe die geliefde ly aan ’n “geknelde albatrosvlerk”, maar “[d]eesdae let ek teen laatwinter op/ hoe jy soms jou kop skeefdraai,/ asof jy luister.” Die ek-spreker in die gedigte is dus nie verleë of geïntimideer deur die aanwesigheid en selfs die noue nabyheid van die A/ander nie, sy kan haarself en die ander in verhouding tot mekaar beskryf en daardie verhouding ook relativeer. Net so is die spreker in die gedig “Staangemaak” (p 60) sterk bewus daarvan dat die gewone tekens van lewe wat waargeneem word tydens ’n straatwandeling, “staangemaak” is “op die rûe van die skares ongeteldes,/ dié sonder straat of lig of wandeling/ of ledige uur.”

Die laaste afdeling in die bundel is getiteld “Die leemte in die kern” en die vermoede en gesuggereerde leemtes waarna in soveel voorafgaande gedigte verwys is, word hier direk aangetoon soos beleef deur Siddharta. Die afdeling begin met ’n meer algemene vers oor die eksistensiële bestaan, die absolute dáár wees van kersietamaties en twee wit hoenders in ’n tuin soos gesien deur die vierkant van die agterdeur. Daarna volg die verse oor Siddharta: eers soos gesien deur sy ma, dan vanuit sy eie oogpunt en daarna sy pa se belewenis van sy seun. Dan volg die gedig “Nou, hier” waarin beskryf word hoe Gautama as jong mens deur baie drade gebind, begin losraak het deur sy ervaring van smart en swaarkry: toe “hy agterkom hoe wyd is verdriet/ wou hy vlug uit die alewige wederkeer/ en oplos in tydlose lig” (p 98). Maar toe hy wou losglip, het “die aarde … sag geroer” en sy antwoord op die roep is om ’n bakkie rys nou en hier te eet. In die volgende gedigte word die “leemte in die kern” verder uitgewerk, onder meer in “Kokon” (p 101) en “Trilling” (p 103) waarin tyd ’n oomblik huiwer “en die wonderbaarlike rangskikking/ van koppie, boek en hande wat vashou/ heerlik/ laat skyn”. Die leemte in die kern is dus allesbehalwe leeg, maar ’n juis vrugbare leemte om gevul te word, beleef te word, telkens opnuut. Die boeddhistiese siening van Siddharta Buddha, om in die oomblik en ín ’n bepaalde werklikheid ín te leef, word veralgemeen en veral in die slotgedig “Doekvoet” (p 105-107) word daar eintlik ’n lofsang op die aarde geskryf: vir die een wat “lank genoeg stilsit, doodstil, klipstil” en stom word, sal tyd sy hek oopmaak.

Jy sal die goue kleed van die aarde sien
en weet die bewoners besit haar nie.
Sy bring haar kinders voort,
sy laat hulle gaan …

Die slotsom is:

Jou groet is geen afskeid nie
maar omhelsing, kén.

Nou, hier is ’n stewige bundel, netjies uitgegee deur Human & Rousseau. Vir my ontwikkel hierdie eenvoudige vloeiende verse met goeie ritmiese gang, ’n merkwaardige diepgang op verskillende maniere. Ek hoop dat baie ander lesers dit ook so sal ervaar.

Bibliografie

Friedman, SS 1998. Women’s Autobiographical Selves: Theory and Practice. (In SMITH, S & WATSON, J, eds 1998. Women, Autobiography, Theory: A Reader. Wisconsin: The University of Wisconsin Press. p 72-82)

Foto van Corné Coetzee: Naomi Bruwer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top