#NotOurLeaders en die 16 dae van aktivisme

  • 1

“Politicians and diapers should be changed often, and for the same reason.” (Onbekend)

Elke jaar in die tydperk van 25 November tot 10 Desember word daar 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders gehou.

Die meeste aktiviste meen dat dit eintlik maar net die seekoei se oortjie is, en dat daar regtig 365 dae van aktivisme behoort te wees. Intussen word daar allerlei programme aangebied om bietjie meer van die seekoei te ontbloot. #MeToo het bo verwagting daarin geslaag om seksuele vergrype veral in die vermaaklikheidswêreld oop te vlek. Die politiek is ’n ander arena waar daar kort-kort seksskandale oopgevlek en dan weer gesmoor word, totdat politieke opponente dit weer ophaal, gewoonlik binne ruikafstand van ’n verkiesing. Anders as by filmsterre en ander rolspelers in die vermaaklikheidswêreld, het hierdie skandale nie veel van ’n effek op politici nie. Donald Trump is verkies tot president van die VSA ten spyte van sy erkenning dat hy sy seksuele aandag op vroue afdwing teen hul sin. Zuma se verkragtingsverhoor het hom net tot nuwe hoogtes gestu. Tans in Alabama word die Republikeinse senaatskandidaat, Roy Moore, daarvan beskuldig dat hy vier minderjarige meisies gemolesteer en/of verkrag het. Hy gebruik die Josefsverweer, dat Josef met Maria getrou het toe sy minderjarig was en dat wat hy doen, maar net Bybels is. Hy geniet steeds sy party se ondersteuning.

Die lys is eindeloos.

Dit het ons eie Dullah Omar Instituut genoop om hierdie jaar ’n ander veldtog vir die 16 dae aan te pak. Hulle noem dit die #NotOurLeaders-veldtog. Elke dag van die 16 dae word daar die kollig gewerp op ’n politikus wat op een of ander manier geweld teen vroue gepleeg het, hul politieke party se beleid oor geweld teen vroue, asook die betrokke party se reaksie op die kandidaat se vergrype.

In ’n ideale, etiese wêreld sou hulle moes bontstaan om 16 kandidate te kry. In die mynveld van Suid-Afrikaanse politiek probeer hulle besluit watter 16 die kollig die meeste verdien. Alhoewel dit nie uitgespel word nie, sou ek hoop een van die oorwegings sal wees watter 16 die grootste skade aan beleid kan aanrig, sou hulle tot verdere magsposisies verkies word.

Politiek en seks, soos godsdiens en seks, het nog altyd hand aan hand gegaan. Die vraag wat egter al meer gevra word, is die volgende: Hoekom word vermaaklikheidsterre aan ’n hoër standaard gemeet as ons verkose amptenare? Hoekom word Kevin Spacey se gewilde televisiereeks summier beëindig, maar Roy Moore se veldtog stu geesdriftig voort?

Daar is seer sekerlik nie net een antwoord nie. Dit kan egter met ’n redelike mate van sekerheid gesê word dat die oorwegings finansieel eerder as moreel is. Indien groot gedeeltes van gehore eenvoudig weier om ’n program te kyk en eerder hulle televisies afskakel, of by die huis bly eerder as om ’n fliek te gaan kyk, het dit ’n finansiële impak op ’n klomp mense.

Die effek is anders by politici. Dit maak nie regtig ’n verskil indien groot getalle kiesers uit protes wegbly van die stembusse nie, solank as wat lojale ondersteuners bly stem. Die dinamika in Suid-Afrika is boonop dat lojaliteit by ’n party eerder as by ’n individu rus. Kiesers sal dus liewer wegbly van die stembus as om ’n stem uit te bring vir ’n kandidaat van ’n ander party, of hulle sal getrou vir die party stem, selfs al staan ’n spesifieke kandidaat hulle nie aan nie. In die meeste gevalle, en veral waar ’n party tradisioneel sterk steun geniet, beteken dit daar is min risiko daaraan om ’n kandidaat met geraamtes in die kas verkiesbaar te stel.

Wat ook baie duidelik in die Zuma-verkragtingsverhoor geword het, is dat die vroue in die organisasie, en dan sekerlik as logiese gevolgtrekking die vroue in die party, bereid is om te draai teen ’n vrou wat bewerings maak oor ’n manlike kandidaat, en die man vuriglik sal ondersteun.

Hoekom tree die vermaaklikheidswêreld fermer op teen sterre wat oortree? Vroue het al die mag van die beursie ontdek, en, veral met die opkoms van die Women’s March-beweging, is hulle meer bereid om daardie mag uit te oefen.

In sommige state in die VSA begin hulle ook hul mag by die stembus ontdek, wat by onlangse tussenverkiesings tot verrassende resultate gelei het. Daar is egter nog heelwat aanvoorwerk en bewusmaking wat sal moet gebeur om kiesersapatie teen te werk voordat vroue se mag by die stembus waarlik sal geld.

In Suid-Afrika is daar selfs minder bewustheid van die mag wat elke vrou het om met haar stem ’n verskil te maak. Daar is ’n ongesproke aanvaarding dat een party, die ANC, die meerderheidstem trek, en dat dit nie sal verander nie. Daar is ook ’n geneigdheid om lojaal teenoor ’n party te bly sonder om indringend ondersoek in te stel na wat hulle sê omtrent geweld teen vroue versus wat hulle doen, en hoe hulle optree teen oortreders binne die partypolitieke strukture.

Politieke party het op hierdie stadium nie veel van ’n dryfveer om op te tree teen oortreders nie, want hulle het nog nooit by die stembus ’n loesing ontvang daarvoor nie. Die fokus is te veel op korrupsie.

Ek vermoed egter dat indien vroue duidelik kommunikeer dat hulle nie kandidate sal duld wat hulle onveilig maak nie, en dat hulle bereid is om eerder te stem vir ’n ander kandidaat wat hulle respekteer, dan sal politieke partye baie vinniger optree wanneer daar bewerings teen kandidate gemaak word.

Die #NotOurLeaders-bewusmakingsveldtog kan ’n waardevolle bydrae hiertoe lewer.

  • 1

Kommentaar

  • Chris Marnewick SC

    Soos ek die berigte uit die VSA verstaan word Roy Moore nie beskuldig van verkragting nie, en ontken hy die bewerings dat hy enige van die meisies/vroue gemolesteer het Twee punte om te maak, miskien drie:
    1. Het ons nou die punt bereik waar net die beskuldigings saak maak? Ons handhaaf die sogenaamde "presumption of innocence" maar dit geld blykbaar nie vir mans wat deur vroue beskuldig word nie.
    2. Wat erger is as rassisme of verkragting is 'n vals bewering van rassisme of verkragting. Daar is net geen manier vir 'n man na so 'n valse beskuldiging om sy reputasie te herstel nie.
    3. Dit ook interessant dat die bewerings teen Moore nou eers dekades na die gebeure teen die man se kop geslinger word, en meer kommerwekkend, eers wanneer hy in 'n verkiesingstryd betrokke is.

    'n Greintjie ewewigtigheid sal ook welkom wees. Wat van die ander politici wat nou eers beskuldig word (in die VSA)? Veral diegene wat die bewerings erken.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top