Noem hom sommer Gert

  • 0

Dit is so om-en-by vieruur op ’n Donderdagmiddag êrens in Julie 2002. By die toonbank in ’n kroeg wat eens ’n skaflike dagloner se watergat was, sit ’n man met ’n glas; nou is dit ’n raserige swartgeverfde hool waar die kokkerotte skaam-skaam agter die brouery se kiste ronddartel. Die reuk van urine en bier sweef deur die vertrek.

Sy kop hang swaar op sy hand en hy kan die week se stoppelbaard in sy palm voel sweet; die lewe het hom gekou en uitgespoeg en hy is moeg. Kom ons noem hom sommer … Gert.

Hy bestel nog ’n whiskey en ys.

Teen die aanslag van die neurotiese gedoef-doef van die kroeg se komspakskyfspeler, neurie hy amper hoorbaar Koos Kombuis se “Onder in my whiskey glas, sien ek jou weer; onthou ek hoe ons was, maar nou's my hart so seer … Hy sit en staar na sy drankie en sug terwyl die yswater druppels teen die buitekant van die halfskoon glas afgly. ’n Beeld in die lager-spieël, agter die kroegvrou trek sy aandag en hy merk ’n man op wat met ’n leerbaadjie en valhelm die kroeg binnestap. Skielik, sonder waarskuwing of ontsag stamp-stoot die groot, moeilike motorfietsryer langs hom in, gryp sy drankie en slaan dit met een slag weg!

Hy sit stil, stomgeslaan na die vraat en staar terwyl sy oë sukkel om bo-oor die multifokale bril se vuil lense te fokus en sy mond onwillekeurig oopval … 

“Wel, wat gaan jy nou doen?” sê die skobbejak dreigend terwyl hy eergisteraand se knoffelpizza-herinnering in Gert se gesig laat hang. En net daar, teen die bewerige kroegvrou se verwagting in en sonder ’n verdere woord, skrik die fietsryer sy blaas droog toe Gert in trane uitbars!

"Kom my tjom, kom man," sê die fietsryer, "ek het nie gedink jy sal tjank nie my ou. Ek kan nie staan om 'n man te sien huil nie, jy weet."

"Dit is die slegste dag van my lewe," snik Gert. "Ek is 'n volkome mislukking. Ek was op 43 weke te stadig om my Moeder se buik te verlaat en die dokters moes inspring om te help. Ek was daai oggend drie keer op my kop laat val en die knoppe sit nou nog hier, voel, ná 52 jaar! Ek moes standerd 2, 5 en 7 oordoen en teen die tyd wat ek in matriek aangekom het, het die sillabus so verander dat hulle my maar moes deursit. Toe is ek bank toe. Nie vir geld nie, maar vir werk.

“Hulle het my in die posafdeling laat begin en trollie stoot was amper so deel van my lewe soos WP-Rugby en Pronutro. Na vyf jaar het ek die possortering onder die knie gekry en die bank het besluit dat ek ’n teller kan word. Maar, dit het nie gewerk nie want my kontantkas het nie een Vrydag geklop nie; nie een Vrydag nie, sê ek jou!

“Om dinge by die werk nog erger te maak, bring die bank toe rekenaars en nuwe mense in en ek moet my bankdas vir ’n ander een loop inruil … ek kon net nie meer die druk hanteer nie en met moed en min wysheid gaan kry ek toe ’n werk by ’n ander bank. Daar het dit baie beter gegaan, want ek het nie met geld gewerk nie; net papiere op die lessenaar rondgeskuif en mense gebel oor hulle nie hul oortrokke rekeninge diens nie. Dit doen ek al die afgelope agt jaar ... tot vanoggend.

“Vanoggend het ek verslaap en was ek laat vir ’n vergadering en my baas het my sommer net daar in die pad gesteek. Ek moes my lessenaar skoonmaak en my broodjies vat en loop. Toe ek by die parkeerterrein kom, kry ek nie my kar nie… dit is gesteel! En raai wat?...ek het geen versekering nie. Dit was 10:00 vanoggend.

“Ek vat toe sommer ’n taxi huis toe … nog ’n fout. Die “guardjie” is skelmer as daai ou in die koerant en op ’n slinkse manier is ek sonder my beursie by die taxi uit. Die hardloop en val agter die taxi aan in Brackenfell Boulevard het niks gehelp nie en ek is met ’n stukkende bebloede broek huis toe. Kyk net hoe lyk my knieë!

“By die huis het hierdie kameel se rug die gees gegee, want, toe ek die voordeur oopsluit hoor ek die onaardste geluide uit die kamer uit bondel; amper soos twee donkies wat paar en daar, vlak voor my in my eie bed van die afgelope 10 jaar, is my vrou met die man van die tuindienste doenig!"

Die fietsryer, wat sedertdien die gedaanteverwisseling van ’n skoorsoeker na ’n sagmoedige luisteraar ondergaan het, het saggies aan Gert se skouer gevat en gevra: “Toe het jy by hierdie kroeg kom ontsnapping soek?”

“Nee…” mompel Gert, “ek het eers uit die huis na die agterplaas toe gestorm en my broek se “belt” oor die vyeboom se tak gegooi … om my te hang. Ek skop toe die bierkassie onder my voete uit, net om my moer toe op die hond te val toe die vyeboom se tak breek!

Die andersins dooie hokken fond draai mos net daar om en byt my dat daar drie van sy tande nou nog in my kuitvleis vassit! Ek kan nie meer nie…” en die trane vloei nou vrylik oor Gert se wange.

Die fietsryer se angstige empatie laat hom nou baie ongemaklik voel; sy mond raak koorsig droog en daar is sweetpêrels wat bronstig op sy voorkop uitslaan.

Gert se emosie borrel oor toe hy voortgaan met… “ek het die moed gekort om te doen wat ek wou doen en dis hoekom ek hier kom sit het. Ek het al vier whiskeys gedrink en nou, toe ek my laaste drankie koop, die kapsule daarin gooi en kyk hoe die gif oplos, toe kom jy, jou gevoellose skobbejak, en foeter alles op deur die drankie te drink … alles!” Gert sug ’n diep sug.

“Maar genoeg oor my … hoe was jou dag?”

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top