Nessun dorma

  • 3

Haar naam is Milano. Wittebroodbaba, verwek in Italië, is sy met vonkel in die oog en tong in die kies deur haar ouers ingelig. Almal noem haar sommer Mi. Kort and kragtig, net soos die hoofletter I in Italië.

Mi se oog vang die groot muurhorlosie in die kombuis terwyl sy basiliekruidblaartjies kies uit die vensterpot. Dis 24 minute oor vyf. Dis kostyd, dit weet sy goed, maar hou haar ongeërg en gaan voort met die roer in die pot.

Cleopatra sit by haar kosbakkie. Sy is nie ’n geselsgierige kat nie. Haar miaau is min. Sy sit net en staar voor haar uit. Haar katrug is styf en elegantreguit. Sy hou haar afsydig; sy is ’n prinses; sy weier om oogkontak te maak met die alledaagse wese voor die stoof. Haar waarde is ver bo dié van korale. Haar voorsate het uit goue borde geëet by die farao’s in Egipte. Sy is net die huiskat, maar sy het die adellike houding van ’n koninklike. Sy knip haar blou oë stadig en beskuldigend-vraend. Sy verstaan die menslike wesens en hul psige, al dink hulle sy is net ’n kat. Sy het ’n fyn aanvoeling vir emosie.

Die geur van die uie wat goudbruin raak in die pan en die knoffel wat moet dopgehou word sodat dit nie bitter brand nie, laat haar nie ’n spier verroer nie. Sy sit en wag sonder om te vra. Vra is vernederend. Die bytgrootte-hoendermaalveisfrikkadelletjies, pikant gegeur met net die regte knippie droë rissie, word versigtig met die houtlepel ingenestel tussen die uie en die knoffel. Die geure laat haar katmond water.

Die oopmaak met die trekring bo-op die blik fyngekapte tamaties laat wel haar ore in die rigting van die stoof draai. Nog sê sy niks. Dit klink soos die oopmaak van die peperduur klein blikkies katkos, maar sy weet dit is nie. Sy kyk net na Mi met beskuldigende oë: “Sy kos voor myne?”

Jy kan jou horlosie stel met Cleopatra se kostydpresisie en haar kom plaasneem by haar kosbakkie. Elke dag op dieselfde tyd. Halfses wil sy eet.

Mi buk om die bakkie op te tel vir die kat se kos. Cleopatra gee haar ’n raps met die stert met godin-grasie. Sy staan op en koeksistervleg om Mi se bene. Sy begin spin en druk haar kop teen die vrou se voete. Dit is haar dankie-sê. Sy is tevrede. Sy kry kos en aandag voordat hy kom.

Cleo eet klaar, was haar gesig met haar voorpoot en stap swaailyf na die klerekas waar sy haar lêplek opsoek. ’n Ou blou trui van Mi tussen bekendenaam-hoëhakskoene onder in die kas. Dis haar plek van privaatheid. Haar skuilplek teen harde geluide en gevare. Daar kan sy haar rug op die wêreld draai. Daar kan sy dink oor wat sy sien en ervaar, of sy kan net slaap. Slaap is vir haar belangrik.

Mi strooi gemengde kruie en swartpeper mildelik in die pan. Sy rasper parmesaankaas fyn. Die frikkadelletjies dobber-dryf rustig in die lui tamatiesous, wat met elke minuut intenser aromas die kombuis instuur. Sy proe reeds Italië op haar tong. Olfaktiese herinneringe aan ’n stewelvormige land hardloop in verskillende windrigtings deur haar geheue. Die land van sensoriese ervaringe en genietinge. Die reuke van herinnering word lewendig in haar.

Sy raak verlore in ’n onthoutog. Florence met sy kuns en beelde en reuke van ou kerke. Venesië met sy vuil water, gondels en blaasglas. Rome en Napels met die geur van pizza en die spontane klanke van opera-arias uit restaurante en huise. Capri met sy lemoen- en suurlemoenbome en talmende reuk van sitrusolie wat saam met jou bed toe gaan as jy die blare tussen jou vingers gekneus het. Die warm son van Toskane met laventel wat wild groei in die veld en langs die paaie. Die wyn wat jy enige tyd van die dag kan drink; dis lig en proe na son en donker druiwekorrels. Geel velde van sonneblomme en lowerryke wingerde langs die pad. Lang dun sipresse wat wagstaan soos Romeinse soldate van ouds langs die paaie. Die herinneringe en sigbeelde agter haar oë sing lofliedere van genot en liefde in haar kop.

Sy omhels die onthou van sy groen oë toe hy speels die laventelblomme tussen haar hare ingedruk het. Sy dink aan sy arms om haar; sy een hand wat haar hare uit haar gesig hou terwyl die wind speelspiets met hul omgaan op die bootvaart van Napels na Capri. Sy voel weer hoe hy haar stywer teen hom vastrek en haar liggies soen op die haarlyn in haar nek. Sy onthou die hoendervleis op haar arms en die son wat sy armhaartjies goud kleur. Sy roep die herinnering op van sy manlike reuk saam met die reuk van die see en die vissersbote om hulle.

Sy luister met onthou na die ongesproke klanke van die vreemde taal nog vars in haar ore. Sy lag saggies by haarself by die onthou oor sy lompe uitspraak in die restaurant, waar die kelner kopskuddend probeer het om hul bestelling te verstaan.

Sy onthou die hemp wat hy daardie dag gedra het; gekoop by ’n straatmark in Pisa naby die bekende skewe toring. Sy dink aan hul lawwigheid van poseer, al leunende om die regte hoek van die toring te kry, terwyl hy dit kammakastig regop druk. Hulle het alle pretensie laat vaar; was net toeriste wat lag en leef en geniet met hul minwerd Suid Afrikaanse rande.

Onder Juliet se balkon was hy haar Romeo; hierdie romantiese man van haar. Die liefde van haar lewe. Haar môre, haar middag, haar aand. Haar vreugde, haar lag, haar saamgesels en haar stilwees. Haar bestaan, haar menswees. Sy is geseënd; sy weet. Die Here was goed vir haar om vir haar hierdie goeie man te gee.

Sy teenwoordigeheid in haar lewe en in hul huis som alles op wat liefde vir haar beteken. Saam kan hul stil in mekaar se teenwoordigheid wees sonder om baie te praat. Hul deel gedagtes sonder om woorde te uiter. Soms raak sy bang dat sy te veel voel en te veel gee en te veel liefhet.

Hulle is twee mense in een. Hulle deel belangstellings met een siel en deel mekaar se liggame met genieting en oorgawe. Die soggens wakker word met sy slaapwarm lyf. Sy amoreuse manlikheid onmiskenbaar en dringend teen haar rug. Die gee en neem van mekaar tot intense genot en bevrediging. Sy gee toe om sport saam met hom te kyk. Hy gee toe deur kunsmarkte saam met haar deur te loop. Hul pret in die kombuis waar saamkook en opwas dat die seepsoppe spat deel is van hul dag. Hulle verlustig hul saam in balletuitvoerings en goeie musiek. Haar leemtes vul sy deur sy volheid. Hy verstaan haar liefde vir kuns en kultuur. Daarom was daar Italië vir hulle; Italië waar sy in liefde verwek is baie jare terug.

Vanaand maak sy sy gunstelinggereg. Italiaansgegeurde tamatiesous oor tagliatelle met klein frikkadelletjies. Die knoffelbrood gaan sy los vanaand. Sy probeer om brood uit haar dieet te sny. Sy wil altyd mooi bly vir hom. Vanaand is dit net hulle twee. Hy werk so hard en baie aande kom hy laat en moeg by die huis. Vanaand wil sy hom bederf en vir hom spesiaal dankie sê vir die voorreg en vreugdes van Italië – sy grootste geskenk ooit, met hul vyfde huweliksherdenking. Tyd saam met hom kan nie in geldwaarde gemeet word nie. Hulle moes spaar vir die vakansie: “Jy is meer werd as die geld, my lief” – sy woorde aan haar toe hy die vliegkaartjies vir haar wys.

Cleopatra kom lui aangestap na haar slapie onder in die kas en kokon haarself in haar eie wollyf op die bank voor die televisie in afwagting op sy tuiskoms. Sy weet hoe laat hy gewoonlik tuiskom; sy weet net hoe laat sy uit die kas moet klim. Sy wonder vir wie hy vanaand eerste gaan groet en teen hom gaan vasdruk.

Mi kom neem ook plaas voor die televisie; die afwagting werk aansteeklik tussen hulle twee. Milano het vanaand haar mooi rooi rok aan. Haar vel is goud gesoen deur die son. Sy het rooi lipstiffie aan en haar toonnaels is sexy rooi geverf. Dit pas by die warm rooi bloed in haar are en die rooi sous van die kos en die rooiwyn in die bottel. Sy wag. Cleopatra wag. Sy tuiskoms is die hoogtepunt van hulle dag. Vanaand wil sy Italië weer laat herlewe.

In die eetkamer met die gedekte tafel speel die CD saggies “O sole mio”. Sy gunsteling is die volgende snit. “Nessun dorma” – “None shall sleep.” In hulle huis is dar altyd musiek. Hy kan nie sonder musiek lewe nie. Hy is Calaf, il principe ignoto, die onbekende prins, wat met die eerste sien van haar verlief was op haar. Sy is sy prinses Turnadot van Giacomo Puccini se opera, so vertel hy graag aan hul vriende en familie. Saam met haar wil hy nooit slaap nie, maar altyd wakker bly – die lewe is te kort.

“Speel ’nessun Dorma’ eendag op my begrafnis,” het hy speels gesê terwyl hy haar lang hare om sy vingers draai. “Dan sal ek rustig in die hemel rus met die klanke nog in my ore. Ek sal droom van jou, my lief, en jy sal nooit alleen wees nie. Ek sal dit saggies saam met die engele in jou ore sing as jy nie kan slaap nie.”

Sy kyk op haar horlosie en bring dan die mooi keramiekbak met die kos na die tafel. Die kraakgroen slaai haal sy uit die yskas. Die parmesaankaas is in ’n klein bakkie saam met die lepeltjie wat hulle in Toskane gekoop het. “Kom ons eet die kos op die vliegtuig daamee,” het hy gespot, “want ek hou nie van die plastiekeetgerei nie.”

Dit word laat. Sy steek solank die kerse aan in afwagting. Sy draai die volume effens hoër. Sy is gereed vir sy tuiskoms. Haar liefde wag hom in.

Sy is honger. Sy neem die alleenbord wat voor haar staan. Sy neem ’n skeppie van die geurige kos. Sy strooi fynkasies oor. Sy neem ’n happie. Italië is nie op haar bord nie. Sy proe nie die son in die tamaties nie. Die straatlig voor die venster verloor vir ’n oomblik sy glans toe die wind die boomtakke voor dit verbysleep. Die hoenderfrikkadelletjies lyk soos wit motte sonder vlerke wat dryf in ’n bad van bloed. Die tagliatelle krul stadig op soos dooie wurms op ’n warm teerpad. Sy verloor haar eetlus. Die rooiwyn in haar glas proe vrank; dit mis die geur van sonskyn en druiwekorrels. Dit laat ’n bitter smaak in haar mond.

Waar is hy? Hy is baie laat. Die angs begin polsslae klop in haar nek; sy weet dit is nie ’n vreemde gevoel nie. Dié gevoelservaring maak hom deesdae meer gereeld tuis in haar hart en lyf. Sy weet nie waar hy is nie., maar sy weet hy sal kom. Sy sal nie beskuldigend na hom kyk nie; sy sal nie vra nie. Sy sal dít oorlaat aan Cleopatra. Cleo wat die “kyk” en stille stywerugafsydigheid vervolmaak het as hy weer eens ’n aand laat by die huis kom.

“Dit was die verkeer. Ek moes weer laat werk en die verkeer was baie erg; jy weet hoe dit gaan op die N1. My selfoon se battery het afgeloop; ek kon jou nie kontak nie.”

Hy hou haar liggies vas in sy aandgroet toe hy inkom. Sy ruik nie Italië aan hom nie. Sy ruik haar aan hom. Dit is seker soos “Verkeer” ruik, herdoop sy die sluipvrou in haar man se lewe met ’n nuwe naam.

As hy Cleopatra wil optel en groet, draai sy haar rug op hom en stap met stywe bene weg. Haar stert het ’n katterige en moedswillige piets in. Vir ’n oomblik is haar naels uit hul velskedes. Cleo ken die reuke en geure van dié huis en sy mense. Sy hou nie van ander reuke nie. Sy spring op die bed en saam keer sy en Milano hul rug op hom. Saam wonder hulle wat môreaand se verskoning gaan wees. Mi wil eintlik net saam met Cleo op die blou trui in die kas gaan lê. Sy wil skuil teen herinneringe en teen die liefde. Sy wil net slaap en nie dink en onthou nie. Sy wil haar sintuie van onthou in ’n ou blou trui versmoor. Sy wil Italië uit haar gedagtes smoor.

Hy staar na die plafon. Hy wil sy hand na haar uitsteek, maar daar is ’n yskoue marmerbrug tussen hulle. In Venesië het die brug ’n naam: The Bridge of Sighs. Hy sug en draai op sy ander sy; sy rug na haar.

Cleo voel die onuitgesproke emosie wat deur Mi jaag; net soos haar onstuimige hartklop wat sy hier teen haar sagte katlyf kan voel. Sy druk haar lyf met jammersê-intensiteit teen Mi se bene. Ons sal hom kan vergewe; ons liefde kan oorbrug, probeer sy met haar dierelyf sê. Gee hom nog ’n kans. Jy is lief vir hom. Onthou jy dan nie van geloof, hoop en liefde nie? Vergifnis is diep gesetel in die liefde.

Cleo kyk met naguilpupille na haar, haar blou oë groot en wyd in die nag. Sy slaap nie haar katslaap nie. Sy is te bewus van die foltering van gelaaide emosie in die kamer. Sy sien Milano lê ook met wydoop oë. Here, help my met vergifnis, pleit haar oë die donker nag in. Help my met verstaan. Help my met heelword.

Cleo met oë wat niks miskyk nie, sien sy oë is toe, maar sy weet ook hy slaap nie. Die slaap ontwyk hulle. Nessun dorma. None shall sleep. Niemand slaap nie.

Veraf in die agtergrond dreun die nimmerslapende Verkeer voort.

  • 3

Kommentaar

  • Johanna Fourie

    Die melodielyn in hierdie verhaal roer mens se hartsnare. Wonderlik goed saamgestel. Cleo se fyn aanvoeling kan vergelyk word met vlindersagte vingers oor harpsnare.
    Ek het lanklaas 'n kortverhaal so geniet.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top