Neonligte

  • 3

Daar is iets wat my pla sedert Dinsdagoggend. Dit was die dik misbank wat Pretoria se Moot-gebied omvou het. Daar tussen die Magaliesberg in die Noorde, en die Waterberg in die Suide. En as jy in Paul Krugerstraat oor die bult by die dieretuin ry, lê Pretoria se middestad oop voor jou. 

Skielik besef jy dat Pretoria na 'n mooier stad lyk hier kort voor vyf as in blote daglig. Die neonligte begroet jou. En dis veral die Areyeng-busdiens en Tshwane-busdiens se aanwysers wat jou opnuut laat wonder - wat is die wêreld sonder sy neonligte. En doer in die verte is die Telkomtoring. McDonald’s se ligte steek af teenoor Savelkous-gebou. Dit is soos 'n appie teenoor 'n vakman. Dan besef jy - 'n stad het sy ligte nodig. Die gee 'n kaleidoskoop kleur snags.

Tog het die stad 'n twee-stroom hartklop. Vir rykes en armes, vir werkloses en die wat werk, die snobs en die kreperendes.

Noudat winter aangebreek het, begin die son later deurbreek. En daardie neonligte kan 'n sprokie vir 'n stadskind wees, soos Koos Doep tereg dit in die liedjie gepen het. Dan besef jy die stadskind het geen hoop nie. Hy leef op sypaadjies - sommige in die skadu van oom Paul. Hulle herwin om aan die leef te bly. En geld word op dagga of gom of nyaope bestee net vir daardie warmte.

Dan besef jy politieke leiding sedert 1994 is net 'n klomp leuens. En is nog steeds. Tereg moet 'n mens uit moerigheid vra - wat die hel gaan aan? Die mense wat dakloos is ... vanwaar kom hulle? Maklik! Gesels met hulle en gou besef jy as dit nie 'n Zimbabwiër is nie, is dit 'n Suid-Afrikaner.. uit die platteland. Dit is waar ons sosiale probleem begin. Die platteland word ontvolk juis omdat daar nie werk is nie. Almal vlug stad toe. Tog is daar min hoop op 'n werk.

Dan begin die planne. Bedel ... speel nar ... was karre ... word 'n vlagwaaier.

Dit is presies hierdie scenario wat mens lus maak om sekere politici 'n gatskop te gee. Sonder ’n raskaart sal baie politieke leiers bankrot bly. En dit is juis hul retoriek wat geld uit die platteland laat vloei.

Die neonligte gee hoop vir 'n nuwe dag en uitdagings. En dit is die bewys dat elke keer as daar 'n neonlig glinster, alles nie pluis is nie.

 

  • 3

Kommentaar

  • Mooi geskryf en gesê Yuri. Dis baie hartseer. Veral as ek jong mense sien sonder hoop of drome. Ons het dieselfde hier in die Baai en seker elke ander stad in ons land. Hopelik raak dinge beter. Hopelik maak dit 'n verskil dat daar mense is soos jy wat omgee.

  • Yuri, niemand skryf oor Pretoria soos jy nie ... het dit nogal gemis ...
    Daar is soveel mense in onse stad wat met drome onder hulle se arms loop en ander met drome in hulle se skoene ... waar die Neonligte nooit sal skyn nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top