"Nazi"-plakkate op Stellenbosch: Benewelde denke en skimsimboliek

  • 7

Die dinamiek van ’n visuele kunswerk kan aan sy gevolge gemeet word.

Pas by die Universiteit Stellenbosch was die nadraai van twee kleurvolle biljette op die kampus die skorsing van drie studente. En heelwat lawaai.

In dié opsig moet dié illustrasies, uit die Nazi-era aangepas, vir taamlik drastiese reaksie en aksie man staan. Voeg hierby die rumoer wat onder studente en in die sosiale media losgebars het en ’n mens kry ’n aweregse lekkerte dat kuns inderdaad soveel mag, soveel durf, het. Dat dit só kan aanspoor – veral en juis in ons eietydse wêreld van visuele oordaad en vlietende kitskommunikasie.

Maar die dinamiek van die visuele verskuif uiteraard ook soos die geskiedenis draai en die gemeenskap sy semiotiek herdefinieer.

Terwyl die paradokse in ons post-postmoderne kuns- en kultuurruimtes deesdae kwalik plek vir ironie toelaat of open, bied insidente soos hierdie ’n skrefie lig waarin ons daardie diepgesetelde dinamiek in werking kan sien. Maar hoe geldig is dit?

Ironies, ja, dan in verskeie opsigte dat een van die “kreatiewe” opstoker-skeppers van die plakkate glo verduidelik het dat hulle met dié flouerige herkou van visuele Nazi-propaganda ’n gesprek onder die sogenaamde linkses wou uitlok.

Soos dinge uitgewerk het, het die twee prente wat hulle van Nazi’s aangepas het, net hul eie simpel denke vergestalt. Geen ironie dáár nie – rassisme in Suid-Afrika is ’n snerpende en gevaarlike patologie.

Die “heraktivering” van die dekades oue plakkate het dus nie in hul skeppers se doel geslaag nie. Dit het nie die “regte boodskap” oorgedra nie. Sou ’n mens hier nie alleen van benewelde denke, maar ook van skimsimboliek kon praat nie?

Leen/herwin/herkou/verweef uit die visuele verlede is wye gebruik in eietydse kunspraktyk, tog is dit ondergeskik aan die heersende sosiale gesprekvoering.

Die bohaai oor hierdie twee beteuterde namaaksels is straks ’n aanduiding hoe van koers af ons sosiale kommunikasie is. Die wispelturigheid van betekenis wat ons aan visuele tekens toeken, die kitssimboliek wat geaktiveer of afgeskakel word, die woeste woorde wat ons rondslinger, is dié van ’n kultureel-ontheemde gemeenskap.

Dit lyk asof ons glad nie meer die tekens en grammatika van ons gesprekke kan verstaan of behoorlik identifiseer nie.

In ander omstandighede sou die twee Nazi-plakkate ’n soort nostalgiese vermaak verskaf. Op Stellenbosch spesifiek word dit ’n maklike, oppervlakkige politieke sneller.

Die voorstellings van die blakende Fräulein en die blinktand-jonge met sonskyn in hul oë is so flagrant optimisties, romanties en idealisties dat die koel, afsydige oog dit as vernuftige en amusante kitsch waardeer. En soos illustrasies van daardie aard is daar geen kortpaaie met die boodskap nie: daardie wapperende vlae ís die boodskap. (Daarom dat die stuitiges so onbeholpe met die vlagvervanging sukkel.)

'n Voorbeeld van 'n propaganda-plakkaat uit die voormalige Sowjet Unie (plakkaat deur Dmitry Stakhievich Orlov, as kunstenaar bekend as Dmitry Moor - foto: verskaf) .

Die grafiese propagandatradisie van Nazi-Duitsland, en sy eweknie in die Sowjetunie van die era, die triomfantelike styl van sg sosiale realisme, is in vele opsigte die bloudruk van alles wat daarna gekom het: die kitsillustrasie, skerp beeld, kort slagspreuk, eenvoudige voorstelling.

Maar in die 21ste eeu is hierdie utopiese clichés se fut lank agtergelaat. (Reeds in die laaste eeu se “popkuns”-era is hiermee gek geskeer.) Ons het (hopelik) geleer dat ons in komplekser ruimtes en gemeenskappe leef – en dat goeie kuns hom in daardie ingewikkeldheid en uitdaging verlustig.

'n Voorbeeld van pop art (verskaf)

Tog sit ons nou met die Stellenbosse lawaai. Die oorreaksie. Die onbeholpenheid.

Die onderonsie van die plakkaatopstokers, kwaai studente en die bedremmelde universiteitsowerhede is ’n flou parallel van die petalje van kunssensuur wat tans by daardie ander universiteit, dié van Kaapstad, afspeel.

Sedert laasgenoemde se rektor en sy bestuur op lafhartige wyse besluit het om die lelike Rhodes-beeld sonder meer te verwyder, het hulle glo 75 ander kunswerke toegespyker, toegedraai en weggepak. (Sensuur soos in Nazi-tye?)

In beide gevalle het kuns dié wat beter hoort te weet die skrik op die lyf gejaag. So, ja, hoera vir kunsmag.

Maar die tragiek is dat UK ’n gulde kans verspeel (het) om diepsinnig oor daardie mag te besin. Om juis die dinamiek van kuns, simboliek en die tekens van ons tyd te verken. Is dít nie wat ’n mens van so ’n instansie sou verwag (het) nie? Hoe vaar Stellenbosch?

Die debat oor sg dekolonisering – waarvan die “Nazi”-beeldings ’n vae, misplaaste afskynsel is – is belangrik, uiters belangrik. Maar skors en wegpak is die optrede van intellektuele lafaards.

Ons gekweste land, ryk aan kultuur en moontlikhede, verdien dat die dinamiek van kunswerke behoorlike gevolge het.

  • 7

Kommentaar

  • Die plakkate het, juis in 'n tyd soos vandag, bloot gehelp om petrol te gooi op brandhout wat reeds besig is om te smeul. As ons nie begin om as 'n eenheid na die toekoms te kyk nie, gaan ons val as individue.

  • Johannes Comestor

    Met daardie plakkate wou die betrokke studente beswaar opper teen die nuwe amptelike US-kultuur waarvolgens enigiets wat polities links is, aanvaarbaar is (bv marxisme) en enigiets wat naastenby polities regs is, ontoelaatbaar op die kampus is. Dit kan kwalik sonder meer as simpel of benewelde denke afgemaak word. Waarna gesoek word, is eerbaar: 'n egte universiteit waar vrye meningsuitdrukking en -wisseling nie net geduld word nie, maar aangemoedig word.

  • Ek stem 100% saam met Johannes. Dit was gedoen om 'n punt te bewys, soortgelyk aan die berig in die Huffington Post so paar weke gelede oor wit mans wat nie mag stem nie.

    Alhoewel ek 100% gekant teen alle vorme van Nazisme is, voel ek ook ons moet steeds vryheid van spraak en assosiasie kan handhaaf. Hoekom is dit aanvaarbaar vir ons om 'n kommunistiese party te hê (kommunisme het meer mense al direk of indirek doodgemaak het as nazisme), maar dis absolute waansin om die ander kant van die spektrum te bevorder? Weereens sit ons met dubbele standaarde.

  • 'n Universiteit behoort nie 'n gees van indoktrinasie te handhaaf nie. Vrye denke en debatering staan vir ontwikkeling, maar woede, onverdraagsaamheid en aggressie het kenmerkend van ons samelewing geword.

  • Braam de Vries

    Dat daar nog altyd heel eerste aan sensuur gedink word as oplossing vir probleme is nader aan die leefwêreld van ons ou politieke bedeling as wat die US in slaafse navolging van die UK kennelik besef. Wat het gebeur dat ons universiteite plekke word waar vrees gekoester word in plaas van insig en respek?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top