Nasionale proteste: Hoe nou vorentoe?

  • 0

Jannie Rossouw (Foto: Youtube)

Met die afdanking van Pravin Gordhan, die afgradering van Suid-Afrika na rommelstatus, en optogte teen Zuma deur burgerlikesamelewingsbewegings en opposisiepartye, is April 2017 polities en ekonomies onstuimig. Menán van Heerden gesels met Jannie Rossouw, hoof van die Skool vir Ekonomiese en Sakewetenskappe by die Universiteit van die Witwatersrand, om sin te maak van die huidige klimaat.

Wat is die langtermyngevolge van die afdanking van Pravin Gordhan en die afgradering van Suid-Afrika na rommelstatus?

Die langtermyngevolge is (i) ’n swakker wisselkoers, (ii) hoër inflasie, (iii) laer ekonomiese groei en (iv) hoër rentekoerse. Nie een hiervan is tot Suid-Afrikaners se voordeel nie en moes (en kón natuurlik ook!) vermy gewees het as president Zuma verantwoordelik en in landsbelang, eerder as in eie belang, opgetree het. Die netto gevolg is dat alle Suid-Afrikaners armer is as wat andersins die geval sou gewees het. Terselfdertyd help dit ook nie om Suid-Afrika se werkloosheidsprobleem op te los of selfs te verlig nie.

Kan daar parallelle met die 1985-afgradering tydens die Botha-bewind getrek word?

In 1985 het Suid-Afrika ’n skuldstilstand afgekondig weens politieke druk ná die Rubicon-toespraak. Die land het onder politieke druk gewankel, want buitelandse lenings kon weens politieke druk nie hernu word nie, en die onmiddellike terugbetaling van hierdie lenings was onmoontlik. Tans kan Suid-Afrikaanse ondernemings nog lenings in die buiteland kry. Daar is dus ’n baie groot verskil tussen 1985 en 2017. Voorts lyk Suid-Afrika se valutareserweposisie tans ook baie beter as in 1985. Suid-Afrika kan dus tans nog ’n tekort op die lopende rekening van die betalingsbalans die hoof bied, terwyl die land in 1985 gedwing was om ’n surplus op die lopende rekening te handhaaf om skuld terug te betaal.

Wat dink jy van die begrip wit monopoliekapitaal?

Wit monopoliekapitaal is ’n gemaklike begrip wat gebruik word om die aandag van dringende kwessies soos korrupsie en staatskaping af te lei. Dit is waarskynlik ’n nuttige “aanklag” wat iewers geskep is; ek sou graag die oorsprong daarvan wou vasstel. Wie het dit eerste gebruik? As ons dit weet, sal ons beter weet wat in die land aangaan. My kommentaar moet egter nie geïnterpreteer word as ’n ontkenning van historiese neigings in kapitaalbesit en van huidige beheer oor die ekonomie nie, maar eerder binne die konteks dat die terminologie gebruik word om die aandag van ander probleme af te trek.

Wag daar radikale ekonomiese transformasie op Suid-Afrika? Indien wel, wat sal dit behels?

Die regering het nog nooit ’n definisie van radikale ekonomiese transformasie binne enige beleidskonteks gegee nie. Dit behels waarskynlik ’n oordrag van hulpbronne en bates van huidige eienaars na nuwe eienaars, waar eienaarskap uiteraard ook die regering kan insluit. Radikale ekonomiese transformasie is waarskynlik ’n desperate poging van die regering om die aandag weg te lei van die feit dat daar geen plan, beleid of strategie is om ekonomiese groei in Suid-Afrika te bewerkstellig nie.

Hoe groot is die swart middelklas nou, en hoe dra hierdie groep Suid-Afrikaners by tot die land se welstand?

Die statistiek toon dat die swart middelklas tans groter is as die wit middelklas. Soos in alle lande van die wêreld lewer ’n groot en stabiele middelklas ’n baie belangrike bydrae tot die welstand van ’n land. Ek sien dus met verwagting uit na die voortgesette groei van die swart middelklas (waarby ek bruin mense en Indiërs insluit). Die blanke bevolking stagneer en die groeimoontlikhede van die wit middelklas is dus uiters beperk.

Binne die konteks van Suid-Afrika se hoë vlak van ongelykheid, armoede en werkloosheid: word daar te veel of te min op grondhervorming gefokus?

Grondhervorming gaan nie al Suid-Afrika se probleme oplos nie. Daar moet op (i) ekonomiese groei en (ii) werkskepping gefokus word. Ongelukkig het die regering nie ’n duidelike en samehangende beleid om hierdie basiese oogmerke te bereik nie. Verskonings soos “wit monopoliekapitaal” word dus voorgehou as redes hoekom ekonomiese sukses nie behaal kan word nie, eerder as om beleidsfoute en korrupsie te erken en met nuwe planne vorendag te kom. Korrupsie is besig om ons kinders se toekoms in Suid-Afrika te vernietig.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top