Nasiebou in 'n eenheidstaat versus die toekenning van groepregte: Diskoerse oor die akkommodering van diversiteit met spesifieke verwysing na Afrika en Suid-Afrika

  • 0

 

Opsomming

Na aanleiding van onlangse uitsprake van Suid-Afrikaanse leiers word nasiebou in ’n eenheidstaat en die uitsluitlike toekenning van individuele regte versus stelsels vir die erkenning van groepregte in heterogene en diepverdeelde samelewings in hierdie artikel krities bespreek. Daar word eerstens gekyk na die tekortkominge van individuele regte, asook na teorieë oor liberale multikulturalisme waarin die toekenning van groepregte as ’n noodsaaklike uitbreiding van liberale en demokratiese stelsels beskou word. Aandag word verder gegee aan die idees van die Kanadese politieke ontleder Will Kymlicka oor gedifferensieerde groepregte, asook diskoerse en menings daaroor. ’n Kernelement van Kymlicka se stelsel van gedifferensieerde groepregte is dat groepe nie verskil slegs wat taal en kultuur betref nie, maar ook ten opsigte van die verhouding waarin hulle tot die staat wil staan. Die erkenning van diep diversiteit binne ’n multinasionale en/of multikulturele staat word vervolgens bespreek. Die probleme wat Afrika en Suid-Afrika rondom diversiteit ervaar, die aard van strategieë om hierdie probleme te oorkom, en die mislukking van nasiebou om eenheidstate in Afrika te skep, kom ook onder die loep. Laastens word meer spesifiek aandag gegee aan nasiebou in Suid-Afrika sedert die totstandkoming van ’n nuwe bedeling, navorsing oor patrone van groepsidentifisering, en die implikasies vir die bestuur van diversiteit in Suid-Afrika. Ten slotte word ’n meer genuanseerde debat oor diversiteit en groepregte, wat strook met gesofistikeerde debatte wat in die res van die wêreld gevoer word, bepleit.

Trefwoorde: Afrika; diep diversiteit; diversiteit; gedifferensieerde groepregte; individuele regte; liberale multikulturalisme; nasiebou; Suid-Afrika; Will Kymlicka

Abstract

Nation-building in a unitary state versus group rights: discourses on the accommodation of diversity in heterogeneous states with specific reference to Africa and South Africa

In the introduction of this article the focus falls on the opinions of prominent South African leaders on the relationship between the majority and the minority in post-apartheid South Africa. These opinions echo the political liberalism and nation-building ideologies that have not only dominated discourses on societal diversity in South Africa since 1994, but have also been the dominant models for handling heterogeneity in Africa and elsewhere in the world. In contrast to discourses on nation-building and political liberalism which emphasise a unitary civic state, individual dignity and human rights, the article focuses in particular on the work of the Canadian political philosopher Will Kymlicka (1995) regarding liberal multiculturalism and the rights of minorities in heterogeneous and deeply divided states.

Attention is first given to the nature of minorities and the various types of minorities (national groups, First Nations and ethnocultural or immigrant groups) which characterise heterogeneous societies in today’s world. The focus, furthermore, falls on political liberalism with its emphasis on the individual citizen as the (only) holder of rights versus liberal multiculturalism, which propagates the acknowledgement of societal groups and their distinctive characteristics. Due to the differences between the needs of various types of minorities, Kymlicka proposes a system of targeted group rights in order to address the differential needs of the various types of minorities. In this regard he distinguishes between the self-determination needs of national groups and first nations, the polyethnic needs of immigrant groups, and special representation needs, which are aimed at giving minority groups meaningful representation in decision-making bodies. The discussion also focuses on the global discourse on minority rights, which, among others, is characterised by the proliferation of a number of international declarations on the rights of minorities.

The critical discourse on the work of Kymlicka is reflected in: discussions on problems with the defining of key concepts; opinions that the allocation of group rights can counteract the solidarity that is essential for the smooth running of democratic states; opinions that group rights place too much emphasis on ethnicity and ethnic groups, since this could enforce identification with minority groups and give rise to the manipulation of group claims, and the needs of groups could differ; criticism of Kymlicka’s system of group categorisation and his overemphasis on the current borders of nation states in the allocation of group rights; the limitations of declarations on minority rights; and a critical perspective of Kymlicka’s views on the prominent role of a societal culture in the lives of individuals.

Many of the points of criticism discussed in the previous section are addressed in Kymlicka’s later work on deep diversity, which is subsequently discussed. Deep diversity involves the acknowledgement that the citizens of heterogeneous states do not differ only with regard to language and culture, but also with regard to the relationship in which they wish to stand to the state. Kymlicka therefore holds that there is not a single recipe that applies to all societal groups and that the allocation of group rights should be adapted to the specific needs of a particular group. Kymlicka furthermore proposes that nation-building in order to create homogeneous societies in diverse states should be abolished, and that the unitary civic state should be transformed into a multinational and/or multicultural state. A multinational and/or multicultural state should, furthermore, be characterised by the fact that citizens are not subjected to nation-building strategies which enforce assimilation with a majority culture. Instead, the history, language and culture of all societal groups should be acknowledged and fostered.

The practice and failure of nation-building in order to address the deep heterogeneity of many African states is also discussed. Attention is given to the various ways in which diverse cultures are suppressed in order to create homogeneity and a single national identity, such as the emphasis on unity in constitutions, the centralisation of governance, the abolition of multi-party and federal systems, and the adoption of colonial languages such as English, French and Portuguese as languages of national unity. In-depth attention is, furthermore, given to the problems associated with these practices and the failure of nation-building in many African countries. Systems of group rights, as proposed by Kymlicka, are also proposed in order to provide solutions for the continuation of diverse identities and cultures in many African countries despite decades of nation-building.

Finally, the focus falls on discourses on nation-building in post-apartheid South Africa. Various viewpoints on nation-building, such as the rainbow nation discourse, the ideology of non-racialism and the African turn in the nation-building discourse are covered. Criticism of, and the problems associated with, nation-building in the deeply heterogeneous South African society are discussed. It is finally proposed that – similar to many other African countries – nation-building has not yet succeeded, and probably will not succeed, in suppressing diverse identities and cultures in South Africa.

The article concludes that despite a sophisticated discourse in the rest of the world and the extensive problems experienced with diversity on the continent, African and South African leaders have given little attention to the protection of minorities and the acknowledgement of group rights. Instead, many are clinging stubbornly to ideas of nation-building and a unitary state. Finally, the article calls for a new discourse in which attention is given to the acknowledgement of diversity and the rights of minorities in Africa and South Africa.

Keywords: Africa; deep diversity; differentiated group rights; diversity; individual rights; liberal multiculturalism; nation-building; South Africa; Will Kymlicka

 

1. Inleiding

Met die totstandkoming van ’n nuwe politieke bedeling in 1994 is die wetlike skeiding van rassegroepe in Suid-Afrika van die wetboeke geskrap en die staatkundige eenheid van Suid-Afrika met die herinlywing van die sogenaamde tuislande herstel. Hierdie eenheid word beklemtoon in die aanhef van die nuwe Grondwet van Suid-Afrika: “Ons, die mense van Suid-Afrika, [...] glo dat Suid-Afrika aan almal behoort wat daarin woon, verenig in ons verskeidenheid” (Grondwet van Suid-Afrika 1996).

Die meeste ontleders was egter in 1994 terdeë daarvan bewus dat die eenheid van die Suid-Afrikaanse nasie – anders as die staatkundige eenheid – nie as vanselfsprekend aanvaar kan word nie (Eaton 2002:45). Dit was gevolglik geen verrassing dat die term nasiebou toenemend deel van die retoriek oor ’n demokratiese Suid-Afrika geword het nie. Trouens, ’n proses van nasiebou is deur baie as noodsaaklik beskou om die verbrokkeling en verdelings van apartheid teen te werk, ’n verenigde en harmonieuse nasie te vestig, en ’n nuwe oorkoepelende nasionale identiteit as‘t ware nuut te skep uit die verdeeldheid van die verlede.

In 2014 het Suid-Afrika 20 jaar van demokrasie gevier. Ten spyte van die oorweldigende nasieboudiskoers, waarin die reënboognasiemetafoor ’n groot rol speel, en talle ander inisiatiewe om groter eenheid te bevorder, bestaan daar ’n groeiende bewustheid dat die gevoel van samehorigheid onder Suid-Afrikaners nie na wense is nie (Le Cordeur 2012:11; Ramsamy 2007:468). Dat die huidige ANC-regering dit ook besef, blyk uit die vele berade oor nasiebou en nasionale eenheid wat sedert 1994 van regeringskant af geïnisieer is. Só is regeringsleiers, vakbonde, sakelui en verteenwoordigers van die burgerlike samelewing vir die soveelste keer opgeroep om gedurende Julie 2012 ’n beraad in Kliptown, Soweto by te woon ten einde gesprek te voer oor brandende kwessies wat struikelblokke vir groter samehorigheid vorm. Volgens Le Cordeur (2012:11) is die kwessie van nasionale eenheid as só belangrik beskou dat die voormalige minister van kuns en kultuur, Paul Mashatile, aangevoer het dat die gebrek aan nasionale eenheid ’n bedreiging vir die langtermynlewensvatbaarheid van die demokrasie in Suid-Afrika inhou.

Gedurende hierdie beraad het Nkosazana Dlamini-Zuma, wat op daardie stadium minister van binnelandse sake was, in haar toespraak aangevoer dat solank sommige mense hulle op grond van ras as meerderwaardig beskou, daar nie groter samehorigheid in Suid-Afrika sal wees nie (Le Cordeur 2012:11). Sy het ook die uitspraak gemaak dat minderhede by die meerderheid moet aansluit en moet ophou om op aparte en spesiale behandeling aanspraak te maak. Hierdie toespraak is gelewer in reaksie op ’n uitspraak van Corné Mulder, parlementslid van die Vryheidsfront Plus, dat minderhede in Suid-Afrika gemarginaliseer word (Le Cordeur 2012:11).

’n Soortgelyke uitspraak is gedurende 2013 deur Jacob Zuma gemaak. O’Connor (2014:11) vertaal sy woorde soos volg: “Ons (die ANC) het meer regte, want ons is die meerderheid. Julle het minder regte, want julle is die minderheid. Dit is mos hoe demokrasie werk. Julle moet dus die reëls van demokrasie aanvaar en daarvolgens funksioneer.”

Hierdie uitsprake skep die indruk dat die minderheid (of minderhede) wat hulle nie aan die meerderheid wil onderwerp nie, as een van die grootste struikelblokke vir nasionale eenheid beskou word. Wat hier ter sprake is, is die kwessie van die verhouding tussen die meerderheid en minderhede, hoe hierdie verhouding in heterogene state gestruktureer word, of gestruktureer behoort te word, of die akkommodasie van minderhede enigsins binne die liberale en demokratiese tradisie tuishoort, en hoe nasionale eenheid in heterogene state bevorder kan word.

Daar is natuurlik niks nuuts aan hierdie vraagstukke nie. Dit is kwessies waarmee sosiale en politieke ontleders hulle reeds eeue lank bemoei. Dit is ook nie net Suid-Afrika wat met hierdie probleme worstel nie. As gevolg van toenemende immigrasie in die globale ekonomie en die feit dat bevolkings van die meeste lande wêreldwyd steeds meer heterogeen word, het die situasie van minderhede meer as ooit ’n brandende vraagstuk in die hedendaagse wêreld geword.

In hierdie artikel word aandag gegee aan diskoerse oor die verhouding tussen die meerderheid en minderhede, die vraag of en hoe minderhede binne ’n liberale demokrasie geakkommodeer kan en behoort te word, en die vraag of minderheidsregte enigsins met die strewe na nasionale eenheid versoen kan word. Die artikel fokus in die besonder op die werk van die Kanadese politieke filosoof Will Kymlicka in hierdie verband. Die kollig val verder op die situasie in Afrika en spesifiek in Suid-Afrika, en moontlike strategieë om die probleme verbonde aan heterogeniteit in Afrika en Suid-Afrika te bowe te kom.

2. Minderhede, die liberale tradisie, die demokratiese staat en individuele versus groepregte

Alhoewel die terme minderhede en minderheidsgroepe vryelik in die literatuur en die internasionale reg gebruik word, is dit volgens Francesco Capotorti (1991:5), ’n spesiale rapporteur van die Verenigde Nasies, moeilik om ’n algemeen aanvaarbare omskrywing van die begrip te gee. In die verklarende verslag van die Framework Convention for the Protection of National Minorities van die Europese Unie verkies die skrywers byvoorbeeld om nie ’n definisie van ’n minderheidsgroep te gee nie, maar om eerder ’n pragmatiese benadering te volg waarin die uitsonderlike situasie van elke groep in ag geneem word (Raad van Europa 1995:12).

Daar kan egter sekere kenmerke van minderheidsgroepe uitgelig word. Volgens Joppke (1996:451), verwys minderheidsgroep na meer as slegs die numeriese verhouding tussen groepe. Dit hou in die eerste plek verband met die ongelyke verspreiding van mag en die bestaan van kultuurverskille tussen die minderheid (of minderhede) en die meerderheid binne ’n bepaalde samelewing.

Gurr (2005:3) gebruik in hierdie verband ook die term gemeenskapsgroepe (communal groups). Hy beskryf sodanige groepe as selfbewuste gemeenskappe waar die lede ’n onderskeidende en langdurige kollektiewe identiteit deel wat op kulturele eienskappe en leefstyl gegrond is en wat vir die lede – ook in hul interaksie met ander – betekenisvol is. Hierdie groepe beklee verder ’n polities niedominante posisie in ’n betrokke staat en woon gewoonlik verspreid tussen ander groepe.

Geldenhuys en Kriek (s.j.:1–2) verwys ook na minderhede as gemeenskappe wat enersyds gekenmerk word deur objektiewe eienskappe wat verband hou met ’n gedeelde kulturele, linguistiese en/of godsdienstige erfenis waarmee lede van die groep vrywillig assosieer. Net soos Gurr (2005:3) beklemtoon hulle egter ook ?n subjektiewe komponent, naamlik die groep se begeerte om ’n eie afsonderlike identiteit te handhaaf.

Geldenhuys en Kriek (s.j.:2) onderskei tussen drie tipes minderhede, naamlik etniese minderhede (die term nasionale minderhede word dikwels in hierdie geval gebruik – sien Kymlicka 1995:27), inheemse bevolkings (ook bekend as eerste volke – sien Kymlicka 1995:11) en etnokulturele minderhede (ook bekend as immigrantegroepe – sien Kymlicka 1995:10). Geldenhuys en Kriek (s.j.:2) beskryf ?n etniese of nasionale minderheid as ?n groep wat numeries kleiner as die res van die bevolking is; nie ’n dominante politieke posisie beklee nie; burgers van die staat is; onderskeibaar is van die res van die bevolking deur etniese, godsdienstige en/of linguistiese eienskappe wat verband hou met gedeelde mites van ’n gemeenskaplike oorsprong en kulturele eienskappe; verbind is tot die beskerming van hul taal, kultuur, tradisies en/of godsdiens; en oor ?n bepaalde kollektiewe naam beskik. Die dele van bogenoemde definisies wat met die onderskeidende kenmerke en identiteit van minderheidsgroepe verband hou, kom sterk ooreen met die omskrywing van etniese groep deur Horowitz (1985:51–4). Daar word gevolglik dikwels ook na minderheidsgroepe as etniese groepe verwys.

Inheemse groepe word deur Geldenhuys en Kriek (s.j.:2) gedefinieer as inheemse gemeenskappe, groepe en/of nasies wat gekenmerk word deur historiese kontinuïteit binne 'n bepaalde grondgebied wat dateer uit 'n prekoloniale tydperk en/of 'n tydperk voordat ander groepe die gebied verower en hulle daar gevestig het. Hulle beskou hulself verder as verskillend van die res van die bevolking of ander groepe wat in die gebied woonagtig is; hulle beklee nie 'n dominante posisie in die samelewing nie; en het die begeerte om hul identiteit en tradisionele grondgebied te bewaar, te ontwikkel en aan hul nageslag oor te dra en om as ’n groep volgens hul tradisionele kulturele patrone, instellings en regstelsel voort te bestaan. Voorbeelde van eerste volke is die Inuïete in Kanada, die Indiane in die VSA en Kanada en die Maori’s in Nieu-Seeland. Geldenhuys en Kriek (s.j.:2) beskryf immigrantegroepe as immigrante en/of hul afstammelinge wat uit hul land van oorsprong geëmigreer het en hulle in 'n ander land gevestig het.

In die aangehaalde uitsprake van Dlamini-Zuma en Zuma word verwys na die posisie van minderhede in die algemeenste staatsvorm van die moderne era – die burgerlike staat, wat meestal ’n liberaal-demokratiese staatsvorm het. Binne die liberale demokrasie word die individu as die kerneenheid van sosiale en politieke prosesse en die effektiewe eenheid wat op norme van gelykheid en beskerming aanspraak kan maak, beskou (Kymlicka 1995:14).

Die grondbeginsels van hierdie argument kan gevind word in die teorie van politieke liberalisme van John Rawls (1993). Een van die belangrikste beginsels van Rawls (1993:4–5) se sienings is dat die burgers van 'n demokrasie as vry en ongebonde individue beskou word wat op gelyke regte, vryhede en behandeling aanspraak kan maak. Alhoewel Rawls (1993:31) toegee dat burgers lojaal aan groepe kan wees en dat sodanige groepe hul lewenstyl kan beïnvloed, en hy sodoende die moontlikheid van pluralisme in 'n samelewing erken, word geen politieke erkenning aan pluralisme gegee nie.

Rawls (1993:22) grond sy teorie op sy konseptualisering van die “oorspronklike posisie” as 'n hipotetiese posisie waar individue as vry en rasionele burgers op 'n gelyke grondslag kan onderhandel oor 'n regverdige grondslag vir sosiale samewerking waar die een nie ’n voordeel bo die ander in die onderhandelingsituasie geniet nie. Die grondslag vir politieke eenheid lê in die feit dat burgers begryp dat die beginsels waarvolgens die samelewing gestruktureer word, regverdig is. Die politieke orde wat hieruit voortvloei, is een waar burgers 'n gemeenskaplike identiteit as draers van dieselfde regte in die openbare sfeer deel, maar waar die moontlikheid erken word dat hulle verskillende identiteite as lede van verskillende groepe in die private sfeer kan hê. Die konstitusionele orde van die politieke liberalisme van Rawls (1993) erken gevolglik nie morele, religieuse of filosofiese pluralisme nie (Ejobowah 2004:302). Die fondamente van die konstitusionele orde is die gelyke regte en reëls (of wette) van die openbare sfeer en amptelike neutraliteit ten opsigte van die pluralisme van die burgerlike samelewing. Die politieke gemeenskap word as enkelvoudig en ongedifferensieerd beskou. Dit impliseer dat die politieke orde as ‘t ware blind is vir die verskille tussen sy burgers.

Waar daar wel beskerming aan groepe gegee word, word geglo dat hierdie regte aan individue – en nie aan groepe nie – toegeken behoort te word. Alhoewel sy erken dat kultuur as deel van 'n groep ervaar word, motiveer Reidel (2010:66) hierdie standpunt op grond van die feit dat individue as hekwagters dien wat die waarde van 'n kultuur bewaar. Sy meen gevolglik dat 'n kultuur voldoende beskerm kan word deur regte aan individue toe te ken wat hulle in staat stel om ’n groep te vorm, te handhaaf en – belangrik – selfs te verlaat. Deur individuele outonomie die kernelement van die bewaring van kultuur te maak, word volgens Reidel (2010:66) ook verhoed dat kultuur oorbeklemtoon en selfs bo die individu verhef word.

Bepalings, soos die reg op beskerming teen diskriminasie, die reg op vrye assosiasie, die reg op vryheid van spraak, die reg op moedertaalonderrig en die reg van individue om hul moedertaal vryelik te gebruik, word derhalwe aan die individu eerder as aan die groep toegeken (Kymlicka 1995:2–3). Waar wel erkenning gegee word aan die bestaan van groepe – en in die besonder van minderheidsgroepe – word die standpunt ingeneem dat groepe voldoende beskerm word deur die individu te beskerm. Die vryheid en outonomie van die individu staan gevolglik sentraal. Liberale aanvaar verder dat wanneer individuele regte gewaarborg word, geen verdere maatreëls nodig is om minderhede te beskerm nie:

The doctrine of human rights has been put forward as a substitute for the concept of minority rights, with the strong implication that minorities whose members enjoy individual equality of treatment cannot legitimately demand facilities for the maintenance of their ethnic particularism (Claude 1995:211).

Binne ’n liberale demokrasie word die burgery gevolglik gesien as ’n aantal ongebonde individue wie se vryheid nie deur vorme van toegeskrewe groeplidmaatskap, soos ras of etnisiteit, ingeperk mag word nie (Kymlicka 1995:14). Die verantwoordelikheid van die regering is op die vryheid en gelykheid van individuele burgers gerig. In die staatswese en regspleging word derhalwe nie vir die verhouding tussen groepe en die staat, en die toekenning van regsubjektiwiteit aan groepe voorsiening gemaak nie. Individuele regte word as 't ware as onaantasbaar beskou en word beskerm deur ’n handves van regte wat onder meer bepaal dat die regte van die individu nie ondergeskik is aan die gesag van enige groep, instelling of sosiale orde nie.

Die beskerming van minderhede deur die toekenning van individuele regte word beskou as ’n voortsetting en ’n uitbreiding van die manier waarop die godsdienskonflik tussen Katolieke en Protestante, wat verskeie Europese state gedurende die 16de eeu verskeur het, opgelos is (Kymlicka 1995:6). Vrede tussen strydende godsdienstige partye is uiteindelik bewerkstellig deur die kerk en die staat te skei en die godsdiensvryheid van die individu te waarborg. Godsdienstige minderhede word gevolglik vandag nog indirek beskerm deur die beskerming van godsdiensvryheid en die vryheid van assosiasie.

Veral in die tydperk ná die Tweede Wêreldoorlog is hierdie skeiding tussen kerk en staat gebruik as ’n model vir die probleme wat baie state rondom heterogeniteit en etnokulturele verskille ervaar het. Etnisiteit en kultuurgroeplidmaatskap is en word, net soos godsdiens, steeds in sommige kringe as ’n eienskap beskou wat met die private lewe van die individu verband hou en die staat nie aangaan nie. Die staat staan gevolglik nie mense teen as hulle hul eie kulturele identiteit wil uitdruk nie, maar moedig dit ook nie aan nie. Die rol van die staat is eenvoudig om etniese, immigrante- en ander groepe teen diskriminasie en vooroordeel te beskerm en om hul vryheid te waarborg om enige deel van hul kultuurerfenis uit te druk of te beoefen. Kulturele aktiwiteite word egter as ’n private aangeleentheid beskou, terwyl die skeiding tussen staat en etnisiteit impliseer dat geen wetlike of amptelike erkenning aan etniese groepe gegee kan word nie – soos weerspieël word in die uitspraak van Dlamini-Zuma – in die toekenning van regte, voorregte, hulpbronne of posisies. Die aansprake van groepe op sodanige regte word eerder met ’n houding van neutraliteit, of "benign neglect" soos Glazer (1983:124) dit stel, begroet.

In seker sy bekendste werk oor groepregte, Multicultural citizenship: A liberal theory of human rights, voer Kymlicka (1995:4–5) egter aan dat geeneen van die oorwegings teen minderheidsregte antwoorde bied op die vele tergende vrae wat met die posisie van minderhede verband hou nie. Dit is ook nie slegs ’n kwessie dat individuele menseregte die verkeerde antwoorde gee nie; hulle bied eenvoudig geen antwoorde nie. Die belangrikste probleem is dat die oplossing van kwessies wat minderhede na aan die hart lê, in baie gevalle aan die proses van meerderheidsbesluitneming binne die liberale demokrasie oorgelaat word. Die gevolg is dat minderhede toenemend kwesbaar is vir onregverdighede aan die hand van die meerderheid.

Kymlicka (1995:75) meen die standpunt dat die regte van minderheidsgroepe voldoende beskerm word deur sekere regte aan individue toe te ken, is in werklikheid strydig met een van die belangrikste grondbeginsels van die liberale denke, naamlik individuele vryheid. Twee kernaspekte van individuele vryheid is hier ter sprake. Volgens die liberale denke moet individue in die eerste plek in staat wees om hul lewens in te rig volgens hul persoonlike waardestelsel en die waarde wat hulle aan sekere opsies heg. In die tweede plek moet hulle ook vry wees om hul persoonlike waardestelsels te bevraagteken en hul lewenskoers te verander in die lig van nuwe inligting. Ten einde laasgenoemde moontlik te maak, behoort hulle blootgestel te word aan en toegang te hê tot verskillende sienings, opsies en/of waardestelsels en in staat gestel word om hierdie opsies intelligent en rasioneel te oorweeg. Dit is dan ook die rede waarom die liberalisme só ’n hoë premie op onderwys, vryheid van spraak en die vryheid van assosiasie plaas. Binne die liberale tradisie kan groepregte dan ook slegs oorweeg word indien sodanige regte die vryheid en outonomie van die individu respekteer.

Kymlicka (1995:106) is egter van mening dat die implementering van groepregte die vryheid en outonomie van die individu nie alleen in ag neem nie, maar dit inderdaad bevorder en verbreed. Volgens Kymlicka is individuele vryheid ten nouste aan lidmaatskap van ’n sogenaamde samelewingskultuur gekoppel. Hy omskryf ’n samelewingskultuur as ’n kultuur wat betekenis aan die lewe van die individu gee ten opsigte van die volle omvang van menslike aktiwiteite wat met die sosiale, opvoedkundige, godsdienstige en ekonomiese lewe verband hou, en die private sowel as openbare domeine omvat. Samelewingskulture word dikwels met ’n bepaalde grondgebied verbind en word deur ’n gemeenskaplike taal gekenmerk. Lede van so ’n kultuur het verder ’n gemeenskaplike woordeskat om tradisies en konvensies te verwoord wat verband hou met praktyke in die daaglikse sosiale lewe en wat die volle omvang van menslike aktiwiteite dek. In die moderne wêreld beteken dit dat ’n samelewingskultuur vergestalt word in instellings soos skole, universiteite, media- en ekonomiese instellings, asook instellings wat met regering verband hou. Volgens Kymlicka is dit belangrik om daarop te let dat samelewingskulture nie slegs waardes en gedeelde herinneringe behels nie, maar ook gemeenskaplike praktyke en instellings. Hierdie kulture word in die besonder met "nasionale" of etniese groepe verbind.

Terwyl individuele vryheid die vryheid behels om ’n keuse uit ’n reeks opsies te maak, is dit volgens Kymlicka (1995:82–4, 105) die samelewingkultuur waaraan ’n individu behoort wat nie alleen aan hom of haar ’n reeks opsies bied nie, maar ook sin en betekenis aan hierdie opsies verleen. Só maak mense keuses uit sosiale praktyke op grond van die waarde wat in hul kultuur aan hierdie praktyke geheg word. Ten einde die liberale ideaal van individuele vryheid te verwesenlik, moet individue gevolglik nie slegs toegang tot inligting en die vryheid van spraak en assosiasie hê nie. Hulle benodig ook toegang tot hul samelewingskultuur. Toegang tot die kultuur van ’n meerderheidsgroep is ook nie genoegsaam nie. Volgens Kymlicka is die bande wat die individu aan sy of haar kultuur bind, besonder heg en van diepgaande aard. Alhoewel dit vir mense moontlik is om tussen verskillende kulture te beweeg en volledig met ’n ander kultuur te integreer en te assimileer, is die oorheersende tendens dat die meeste mense verkies om die kultuur van hul eie etniese groep te behou.

Binne die liberale tradisie word dit as normaal beskou as die mens na meer materiële goedere streef as dit wat noodsaaklik vir oorlewing is. Dit word derhalwe as regverdig beskou dat die individu na ’n mooi, ruim en selfs luukse huis streef en nie met ’n blote skuiling teen die elemente tevrede is nie. Net so beskou Kymlicka (1995:86) dit as regverdig dat toegang tot hul samelewingskultuur iets is wat die meeste mense begeer. Om die eie kultuur prys te gee of te verlaat, impliseer dat iets versaak word waarop mense normaalweg geregtig is en wat vir hulle belangrik is. Dit gaan gevolglik nie hier om die minimum voorwaardes van menslike bestaan nie, maar om wat ’n mens as redelik kan aanvaar. In die ontwikkeling van ’n teorie van regverdigheid moet gevolglik aanvaar word dat die meerderheid mense binne ’n bepaalde samelewingskultuur gebore word en verwag en begeer om binne hierdie kultuur en samelewing te leef. Maatreëls om samelewingskulture teen verval en disintegrasie te beskerm, behoort gevolglik ’n legitieme plek binne ’n liberale teorie van regverdigheid te beklee.

Kymlicka (1995:105) wys verder daarop dat mense se begeerte om die eie samelewingskultuur te handhaaf, nie beskou kan word as ’n strewe na kulturele isolasie of die wens om na ’n suiwerder vorm van die kultuur terug te keer nie (sien Brock 2005:273). Dit waarna mense in werklikheid streef, is "the right to maintain one’s membership in a distinct culture, and to continue developing that culture in the same (impure) way that the members of majority cultures are able to develop theirs" (Kymlicka 1995:105). Volgens Kymlicka word die eie kultuur eerder bevorder en verryk deur interaksie met ander kulture op voorwaarde dat hierdie interaksie nie in ’n milieu van diepgaande ongelyke magsverhoudinge plaasvind nie.

Alhoewel Kymlicka (1995:75–94) aantoon dat toegang tot die eie samelewingskultuur as noodsaaklik vir die verwesenliking van die liberale ideaal van individuele vryheid beskou kan word, ontstaan die vraag of individue se kulturele lidmaatskap nie voldoende deur individuele regte beskerm word nie. Voorstanders van ’n skerp skeiding tussen die staat en etnisiteit soos Rawls (1993) en Reidel (2010) ontken nie noodwendig die diep band wat mense met hul eie groep en kultuur het nie. Hulle is egter van mening dat individuele regte voldoende beskerming bied. Hulle voer verder aan dat kulture nie die bystand van die staat nodig het om te oorleef nie en dat as ’n samelewingskultuur die moeite werd is om te beskerm, die lede van die groep dit moet doen deur konsekwent keuses ten gunste van die eie groep en kultuur uit te oefen. As ’n kultuur agteruitgaan, beteken dit gevolglik slegs dat die lede self hul band met die kultuur nie meer die moeite werd ag nie (Kymlicka 1995:107–8).

Kymlicka (1995:108) is egter van mening dat die beginsel van “benign neglect” waarvolgens ’n skerp skeiding tussen etnisiteit en die staat voorgestaan word, ’n mite is en op ’n uiters oppervlakkige begrip van die verhouding tussen die staat en kultuur berus. Dit is moontlik dat ’n staat nie ’n amptelike godsdiens kan hê nie. Dit is egter onmoontlik vir ’n staat om nie ’n taal te hê nie. Dit is verder feitlik onmoontlik dat kultuur nie ’n rol speel in die keuse van openbare vakansiedae, die landsvlag, die volkslied en ander nasionale simbole nie. Regeringsbesluite oor die taal van regeringsinstellings, die howe en onderwysinstellings weerspieël noodwendig die erkenning, akkommodasie en ondersteuning van ’n bepaalde kultuur. Die staat ondersteun dus noodwendig ’n bepaalde kultuur, terwyl ander kulture terselfdertyd benadeel word. Een van die belangrikste faktore wat die oorlewing van ’n kultuur bepaal, is of die taal in regerings- en onderwysinstellings gebruik word. Die keuses van die regering in hierdie verband het verreikende implikasies vir minderheidsgroepe. Uitsluiting van die taal van die minderheidsgroep lei onvermydelik tot die marginalisering, inkrimping en verswakking van hul taal en kultuur, terwyl die meerderheidskultuur bevorder word.

Die uitsluitlike toekenning van regte aan individue hou volgens Poppe (1995:241–67) ook die gevaar in dat die kulturele, sosiale en politieke dimensies van etnisiteit genegeer word. Dit verplaas die hele kwessie van die belewing van kultuur en groepsidentiteit na die private sfeer van die individu, terwyl die rol en stryd om die behoud van die eie kultuur en identiteit in werklikheid in verskillende openbare sfere gevoer word. Dit versteur ook die dinamiese wisselwerking tussen die belewing van groepsidentiteit binne die private sfeer enersyds en binne die verskillende openbare sfere soos die arbeid, politiek en reg andersyds. Dit terwyl die interne leefwêreld van die individu tog in stand gehou word deur die interaksie, kommunikasie en assosiasies wat in die openbare sfeer plaasvind. Deur ’n eensydige klem op individuele regte te plaas, word as ‘t ware ’n muur tussen die privaat en openbare sfere gebou in plaas daarvan om – soos dit hoort – interaksie tussen hierdie sfere te bevorder.

Kymlicka (1995) maak die gevolgtrekking dat groepregte noodsaaklik is ten einde die liberale beginsel van die vryheid van alle individue in ’n samelewing te waarborg. Daar is veral drie oorwegings wat hier ter sprake is (Brock 2005:274). Volgens die eerste, die gelykheidsargument, word veral meerderheidsgroepe onregverdig in die kulturele markplek bevoordeel. Addisionele maatreëls is gevolglik nodig om te verseker dat minderheidskulture dieselfde voordele as die meerderheid geniet. Minderheidskulture kan ook kwesbaar wees as gevolg van ekonomiese en politieke besluitneming deur die meerderheid. Groepsgedifferensieerde regte, soos taal-, grond-, jag- en visvangregte, kan sulke onregverdighede regstel. Die uiteindelike doel is dat die kulture van sowel minderheids- as meerderheidsgroepe op ’n gelyke grondslag beskerm word sodat elke groep hulself as ’n afsonderlike kultuur kan handhaaf. Dit is verder belangrik dat verdrae wat in die verlede gesluit is en waarvolgens sekere regte aan veral inheemse groepe toegeken is, in ag geneem word indien die inhoud van ’n verdrag steeds relevant is en die legitieme behoeftes van ’n bepaalde groep weerspieël. Die derde argument hou verband met die waarde van kulturele diversiteit. Daar word aangevoer dat die groter samelewing baat vind by die teenwoordigheid van verskillende kulture, aangesien kulture mense se lewens verryk en die omvang van kulturele opsies verbreed. Lede van meerderheidsgroepe behoort om hierdie rede ook groepregte te ondersteun. Alhoewel die waarde van kulturele diversiteit nie op sigself as voldoende regverdiging vir groepregte kan dien nie, dui dit wel op ’n algemene instrumentele voordeel van sodanige regte – wat op ander gronde toegeken word – vir die samelewing as geheel.

Groepregte word verder as onontbeerlik beskou om die balans tussen die private en openbare sfere te herstel en te vergoed vir die ongelyke situasie wat minderhede sistemies op feitlik elke terrein van die samelewing benadeel (Brock 2005:275). Dit is verder noodsaaklik om te verseker dat die lede van minderhede dieselfde geleenthede as lede van die meerderheid het om binne hul eie kultuur te leef en te werk. Groepregte verseker verder dat kulturele lidmaatskap in gelyke mate vir alle groepe beskerm word.

Die gevolgtrekking kan gemaak word dat die toekenning van individuele regte binne die liberale tradisie nie genoegsaam is om samelewingskulture te beskerm nie. Ten einde die vryheid van mense as individue én as lede van groepe en samelewingskulture te bevorder, behoort die konvensionele liberalisme uitgebrei te word ten einde ook vir groepregte voorsiening te maak.

3. Liberale multikulturalisme

Die aard van sosiale konflik in die moderne wêreld – en in die besonder in die tydperk ná die Koue Oorlog – dui inderdaad daarop dat regverdigheid wat met die erkenning van groepe en hul taal en kultuur verband hou, tans ’n groter bron van konflik geword het as die verspreiding van materiële goedere. Singh (1997:120) bestempel hierdie stryd as paradigmaties van konflik in die laat 20ste eeu.

Taylor (1991:43) skryf die moderne besorgdheid oor erkenning toe aan faktore wat verband hou met die verval van tradisionele hiërargieë soos stand en afkoms. Hierdie hiërargieë het vroeër die grondslag vir die toekenning van “eer” (honour) gevorm. Volgens Berger, Berger en Kellner (1981:80) is “eer” in wese 'n aristokratiese konsep wat sterk deur die Middeleeuse ridderordes en feodale sosiale strukture beïnvloed is. In die moderne tyd word dit nog gevind in instellings met ’n sterk hiërargiese rangorde, soos die weermag en polisie. Dié konsep impliseer dat die individu se identiteit – ten minste gedeeltelik – aan sy of haar posisie en rol in die samelewing verbind word. Eer verbind die individu nie slegs aan die gemeenskap nie, maar in die besonder aan die geïdealiseerde norme van die gemeenskap. Die wese van eer impliseer egter ongelykheid – dit is met ander woorde iets wat verdien moet word en is derhalwe skaars, omdat nie almal dit ontvang nie. (As die Nobelprys byvoorbeeld aan alle mense toegeken sou word, sou dit nie meer ’n eer wees om dit te ontvang nie.)

Tradisionele hiërargieë wat met eer verband hou, het egter onder die druk van modernisering feitlik heeltemal verdwyn of afgewater geraak (Berger e.a. 1981:84). In die moderne samelewing word eer gestel teenoor, en grootliks vervang met, die moderne idee van “menswaardigheid” (human dignity). Hiermee word verwys na die intrinsieke menswaardigheid van elke individu afgesien of ten spyte van die sosiale rol(le) of posisie wat hy of sy sou beklee. Anders as eer, dui menswaardigheid op universaliteit en gelykheid, dus gelyke erkenning wat alle mense ontvang en waarop almal geregtig is (Taylor 1991:43). Die term menswaardigheid is die enigste wat strook met die ideale van ’n liberale demokrasie en word in die klassieke formulering van menseregte vergestalt. Hierdie regte word aan individue toegeken ongeag 'n persoon se ras, kleur of stand of enige ander veranderlike wat met groeplidmaatskap of sosiale status verband hou (Berger e.a. 1981:83). Individuele identiteit word dus onafhanklik van posisie, sosiale en/of groeplidmaatskap gedefinieer.

Die verbrokkeling van instellings wat met eer verband hou en die opkoms van die liberale demokrasie wat die klem op menswaardigheid en menseregte plaas, beteken egter dat die samelewing geatomiseer word en losstaande en vryswewende individue as ‘t ware aan hulself en hul eie persoonlike subjektiwiteit oorgelaat word (Berger e.a. 1981:85). Stabiele identiteitsvorming kan egter slegs met interaksie en in verhouding met ander binne ’n bepaalde sosiale konteks plaasvind. Dit is hierdie prosesse, waar sosiale groepe 'n belangrike rol speel, wat in onlangse ontwikkelings in die sosiale sielkunde beklemtoon word (Brewer 2007:728). Volgens die sosiale identiteitsteorie van Tajfel bestaan die selfkonsep van die individu uit twee komponente, naamlik 'n persoonlike en ’n sosiale komponent (Turner en Tajfel 1997:33). Terwyl die persoonlike komponent met unieke persoonlike eienskappe verband hou, het die sosiale komponent betrekking op lidmaatskap van sosiale groepe en die waarde wat aan sodanige lidmaatskap geheg word. Dit impliseer dat die selfkonsep van die individue ten minste gedeeltelik deur sy of haar lidmaatskap van sosiale groepe gedefinieer word (Bornman 2010:237).

Een van die belangrikste prosesse onderliggend aan sosiale identifisering is sosiale kategorisering, met ander woorde die menslike neiging om tussen die self, die eie groep, ander groepe en alle ander mense te onderskei (Brewer 2007:729). Verhoudinge met die eie groep word gewoonlik gekenmerk deur lojaliteit en 'n neiging om voorkeur aan die belange en lede van die groep te gee. Verhoudinge met ander groepe word ook aan die hand van die eie groep geëvalueer. Alhoewel groepsidentifisering en die onderskeid tussen die eie en ander groepe groepkonflik ten grondslag lê, lei positiewe groepsidentifisering volgens Brewer (2007:733−4) egter nie noodwendig tot negatiewe tussengroepverhoudinge en konflik nie. Negatiewe houdings en gedrag teenoor ander groepe is eerder die gevolg van persepsies dat 'n ander groep 'n bedreiging vir die instandhouding van die identiteit, doelstellings en/of waardes van die eie groep inhou. Volgens Berry (2011/2012:5) is die ander kant van die munt dat mense meer geneig is om ander groepe te aanvaar en positief teenoor lede van ander groepe op te tree as hulle veilig voel ten opsigte van hul eie groepsidentiteit.

Brewer (2007:730−1) skryf die prosesse wat met groepsidentifisering verband hou toe aan die diepgaande sosiale aard van die mens. Volgens haar teorie van optimale uitsonderlikheid word 'n band tussen die individu en 'n lidmaatskapgroep gevorm wanneer die groep twee skynbaar teenstellende menslike behoeftes bevredig. Die eerste is die behoefte aan assimilasie, met ander woorde die behoefte aan geborgenheid, om te behoort en by 'n groep ingesluit te word. Die tweede is die behoefte aan uitsonderlikheid, wat dui op 'n behoefte om van ander mense en/of groepe onderskei te word. Mense identifiseer gewoonlik sterk met groepe wat albei hierdie behoeftes bevredig. Alhoewel groot groepe die behoefte aan assimilasie kan bevredig, kan die behoefte aan uitsonderlikheid in die slag bly as 'n groep te groot en/of te heterogeen word (soos in die geval van bevolkings van baie heterogene state). Mense identifiseer gevolglik sterker met groepe wat duidelike grense en/of eienskappe het wat dit van ander groepe onderskei. Die bevrediging van hierdie behoeftes hang verder daarvan af dat nie alleen lede van die eie groep nie, maar ook lede van ander groepe en die groter samelewing, die groep en dié se uitsonderlike identiteit erken (Taylor 1991:43).

Die marginalisering van eer en die opkoms van die liberale demokrasie het egter daartoe gelei dat die konsepte van identiteit en erkenning problematies geword het. Binne 'n klimaat van gelyke politieke erkenning word die identiteit van die individu ál meer gekoppel aan erkenning van betekenisvolle ander (Taylor 1991:43). Op sosiale vlak, waar identiteit deur prosesse van ope dialoog tussen groepe en hulle lede gevorm word, het die politiek van en aandrang op erkenning gevolglik meer sentraal en dringender geword. Volgens die moderne siening kan die weiering van erkenning ernstige emosionele skade vir die individu tot gevolg hê. Die projeksie van 'n minderwaardige of slegte beeld van die self of die eie groep kan gevolglik nie slegs individue se selfbeeld en identiteitsvorming skaad nie, maar kan ook as 'n vorm van onderdrukking beleef word. Omdat sosiale identiteit so 'n belangrike komponent van die individue se selfkonsep vorm, word die standpunt ingeneem dat 'n gebrek aan erkenning van die eie groep, die verskille wat die groep van ander onderskei en die ideale en strewes van die groep verreikende implikasies kan hê. Taylor (1992:26) laat hom soos volg hieroor uit: “Due recognition is not just a courtesy we owe people. It is a vital human need.”

Dit is dan waarom die stryd om erkenning van gemarginaliseerde en minderheidsgroepe die hedendaagse politieke landskap oorheers. Die diskoers oor rasseverhoudinge, die politiek van identiteit, multikulturalisme en selfs feminisme word gegrond op die feit dat die weerhouding van sodanige erkenning as ’n vorm van onderdrukking beskou word. In die lig hiervan pleit Taylor (1991:43) vir ’n nuwe vorm van liberalisme en demokrasie wat nie blind is vir die verskille tussen mense en groepe nie. Naas die erkenning van individuele regte en die gelykheid van alle mense, behoort ook erkenning gegee te word aan die verskille tussen groepe, die kultuur van ’n groep en die kollektiewe doelstellings van die lede as ’n integrale deel van die demokrasie. Regverdigheid word gekonseptualiseer as gelyke erkenning van verskille – hetsy of die verskille met ras, etnisiteit, kultuur of seksuele oriëntasie verband hou. Taylor bestempel die liberale drang na universalisme as vals en beskou dit as ’n blote rookskerm vir die uitoefening van oorheersing, mag en onderdrukking.

Die term liberale multikulturalisme word vandag allerweë in akademiese diskoerse gebruik vir alternatiewe vorme van die liberalisme wat erkenning gee aan die verskille tussen groepe (sien Knight 2004; Kymlicka 2007b; Stjernvelt 2012). Terwyl universalisme gelykheid beklemtoon, streef liberale multikulturalisme daarna om erkenning te gee aan en ruimte te skep vir die verskille tussen groepe en die uniekheid van ’n spesifieke groep. Liberale multikulturalisme staan verder in direkte teenstelling met inisiatiewe van ’n staat om ’n homogene staatnasie te vorm en lojaliteit teenoor die staat te bevorder deur alle vorme van kulturele verskeidenheid te onderdruk (Joppke 1996:450, 464). Klem word gelê op die feit dat meervoudige kulture binne, buite en rondom die grense van die meeste state bestaan. Só kan daar kleiner groeperinge binne ’n staat bestaan, maar daar is ook groepe wat die grense van verskeie state oorspan. Verder is daar die hedendaagse verskynsel van toenemende immigrasie en emigrasie wat ’n voortdurende in- en uitvloei van kulture impliseer. Volgens die voorstanders van liberale multikulturalisme mag hierdie verskille nie deur state beheer, uitgewis of gelykgemaak word nie. Minderheidsgroepe moet verder teen die tirannie van die meerderheid beskerm word. Liberale multikulturalisme gaan ook verder as die blote erkenning van die kulturele regte van groepe. Daar word van regerings verwag om daadwerklike stappe te doen om die regte van minderhede aktief te bevorder. Hierdie stappe behels gewoonlik die implementering van die een of ander vorm van groepregte.

4. Groepgedifferensieerde regte in die bevordering van liberale multikulturalisme

Wat die toekenning van groepregte in die bevordering van liberale multikulturalisme betref, is daar volgens Kymlicka (1995:10) egter nie ’n enkele resep wat op alle groepe en samelewings van toepassing gemaak kan word nie. Hy bepleit ’n stelsel van gedifferensieerde groepregte waarin ’n onderskeid tussen die verskillende patrone van diversiteit getref word.

Die eerste moontlike vorm van diversiteit behels ’n staat wat meer as een samelewingskultuur insluit wat voorheen selfbeskikking (of outonomie) geniet het (Brock 2005:270). In so ’n geval is daar volgens Kymlicka (1995:11) sprake van "nasionale minderhede" (sien ook Geldenhuys en Kriek s.j.:2). Kymlicka omskryf ’n nasie as ’n historiese gemeenskap wat ’n bepaalde grondgebied bewoon, gekenmerk word deur ’n bepaalde taal en kultuur en beskik (of beskik het) oor ’n wye reeks instellings wat die opvoedkundige, sosiale en politieke aspirasies van die groep bedien (of bedien het). ’n Staat wat twee of meer nasies omvat, kan volgens Kymlicka nie as ’n nasiestaat (’n staat gekenmerk deur volledige kongruensie tussen staat en kultuur) of ’n burgerlike eenheidstaat beskou word nie, maar behoort as ’n multinasionale staat getipeer te word (sien afdeling 5). Hy gaan verder deur ook tussen oorspronklike of inheemse kulture (sogenaamde eerste volke) en latere besetters te onderskei. Daar bestaan ’n legio voorbeelde van multinasionale state. Kymlicka bespreek die voorbeeld van die VSA wat volgens hom ’n aantal nasionale minderhede soos Amerikaanse Indiane, Puerto Ricane en die oorspronklike inwoners van Hawaii omvat. In Kanada word daar weer onderskei tussen eerste volke soos Inuïete (Eskimo’s) en Indiane aan die een kant en die Frans- en Engelssprekende gemeenskappe aan die ander kant wat latere aankomelinge verteenwoordig. België, Spanje, Switserland, die meeste Afrikastate en vele ander wêreldstate dien as verdere voorbeelde van multinasionale samelewings.

Die tweede bron van kulturele diversiteit is die ontvangs in ’n staat van groot getalle individue en gesinne as immigrante. Kymlicka (1995:13−4) bestempel immigrante as etnokulturele groepe eerder as nasies (sien ook Geldenhuys en Kriek s.j.:2 en Knight 2004:191). Australië, Kanada en die VSA het die grootste per kapita-invloei van immigrante in die Westerse wêreld. Kymlicka tipeer só ’n staat as ’n poliëtniese staat. Voor die 1960’s is volgens die Anglokonformiteitsmodel van immigrante verwag om hul eie etniese en kultuurerfenis te versaak en volledig met die kultuur van die ontvangerland te assimileer en te integreer. Sedert die 1970’s word die assimilasiemodel, hoofsaaklik as gevolg van die druk van immigrante, toenemend verwerp en het die meeste ontvangerlande begin om ’n meer pluralistiese beleid van multikulturalisme te volg. Volgens hierdie beleid word immigrante nie slegs toegelaat nie, maar selfs aangemoedig om aspekte van hul kultuur van oorsprong in stand te hou en om bymekaar te kom ten einde sekere kulturele praktyke te beoefen.

Dit is egter belangrik om daarop te let dat dieselfde staat tegelyk multinasionaal en poliëtnies kan wees (Kymlicka 1995:17). Kanada is ’n goeie voorbeeld. Die oorspronklike inwoners (eerste volke), soos die Indiane en Inuïete, is eers aan die Franse setlaars onderwerp. Die Franse setlaars is weer deur die Engelse oorwin. Kanada ontvang egter ook groot getalle immigrante met kulture wat dikwels ingrypend verskil van dié van die afstammelinge van die Franse en Engelse setlaarsgroepe, asook van die eerste volke.

Aangesien hierdie vorme van diversiteit so varieer, stel Kymlicka (1995:26) ’n stelsel van groepsgedifferensieerde en/of geteikende regte voor waarin vir die behoeftes van verskillende groepe voorsiening gemaak word (Brock 2005:270–1). Hy onderskei drie vorme van groepregte: selfbeskikkingsregte; poliëtniese regte en spesialeverteenwoordigingsregte.

4.1 Selfbeskikking of politieke outonomie

In die meeste multinasionale state sal die nasies waaruit die staat saamgestel is, waarskynlik op die een of ander vorm van selfbeskikking aandring om die volle en vrye ontwikkeling van hul kultuur te verseker en die belange van hul mense op alle gebiede te bevorder (Kymlicka 1995:27; Brock 2005:270–1).

Oor die algemeen behels selfbeskikking of outonomie die robuuste beskerming van nasionale minderhede om hulle in staat te stel om hulself as ’n afsonderlike kultuur te handhaaf. Geldenhuys en Kriek (s.j.:7–8) onderskei tussen interne en eksterne selfbeskikking. Interne selfbeskikking behels dat ruimte vir ’n gemeenskap of groep geskep word om hul eie politieke status te bepaal en dat hulle toegelaat word om hul eie ekonomiese, sosiale en kulturele ontwikkeling te bestuur. Dit behels onder meer dat hulle deur leiers van hul eie gemeenskap beheer word; in staat gestel word om die belange van die groep te beskerm en te bevorder; en toegelaat word om ’n volle reeks instellings te vestig om die taal en kultuur van die groep te beskerm. Interne selfbeskikking behels gevolglik dat die groep – binne die grense en onder die soewereiniteit van die bepaalde staat – sy eie lot kan bepaal. Eksterne selfbeskikking het betrekking op 'n situasie waar 'n groep wat in 'n bepaalde streek woonagtig is en daar ’n meerderheid vorm, afskei en 'n nuwe onafhanklike staat vestig (sien ook Knight 2004:190).

Die reg op selfbeskikking van nasionale groepe word in beperkte mate deur die internasionale reg erken. Die Verenigde Nasies se International Covenant on Civil and Political Rights bepaal byvoorbeeld dat “all peoples have the right to self-determination” (Verenigde Nasies s.j.). Die begrip peoples word egter nie gedefinieer nie. Hierdie beginsel word ook nie konsekwent toegepas nie. In die tydperk ná die Tweede Wêreldoorlog is selfbeskikking meestal aan die eertydse kolonies toegeken, maar minder geredelik aan nasionale minderhede in die Eerste Wêreld.

Federalisme is een van die maniere waarop dikwels gepoog word om groter selfbeskikking aan minderhede te verleen (Geldenhuys en Kriek s.j.:8; Kymlicka 1995:27). Dit kan egter doeltreffend wees slegs as ’n minderheid ’n meerderheid in ’n bepaalde grondgebied vorm. Wetgewende en uitvoerende selfbeskikking kan ook binne ’n bepaalde streek of geografiese gebied aan 'n groep – waar hulle 'n meerderheid vorm – toegeken word, selfs al bestaan daar nie ’n federale stelsel nie. Anders as Kanada het die regering van die VSA byvoorbeeld besluit om nie federalisme te gebruik om groter selfbeskikking aan nasionale minderhede, soos die Amerikaanse Indiane en Puerto Ricane, te gee nie. Selfregering word eerder verleen deur politieke instellings wat binne bepaalde state gesetel is. Alhoewel hierdie stelsel minderhede volgens Kymlicka (1995:27−8) meer kwesbaar maak, omdat selfbeskikking nie in die grondwet verskans word nie, verleen dit ook groter buigsaamheid aan die herdefiniëring van magte om by die behoeftes en belange van ’n bepaalde minderheid aan te pas. In gevalle waar ’n minderheid wyd verspreid woon en slegs in kleiner plaaslike gebiede (distrikte, munisipaliteite of wyke) 'n meerderheid vorm, kan selfbeskikking in plaaslike regerings verleen word (Geldenhuys en Kriek s.j.:10). So 'n plaaslike regering geniet dan nie alleen wesenlike outonomie met betrekking tot die verkiesing van plaaslikeregeringsliggame nie, maar ook wat finansiële selfstandigheid betref. Só 'n stelsel word byvoorbeeld in Finland toegepas. Plaaslike outonomie is egter uiters beperk, omdat dit slegs op die plaaslike gebied van toepassing is en nie deelname aan wetgewende liggame waarborg nie. 'n Inherente swakheid van alle vorme van territoriale selfbeskikking is dat die grense van 'n bepaalde gebied ook lede van ander groepe kan insluit teen wie dan weer gediskrimineer kan word.

’n Konsosiatiewe demokrasie bied andersyds aan mindergroepe wat wyd verspreid woon, die moontlikheid tot politieke deelname (Geldenhuys en Kriek s.j.:8). Die belangrikste kenmerke van só 'n demokrasie is magsdeling op uitvoerende vlak; proporsionele verteenwoordiging vir alle groepe in verkose instellings; vetoreg, veral waar besluite die belange van 'n bepaalde groep raak; kulturele outonomie; en die beskerming van 'n groep se identiteit. Soortgelyke meganismes word byvoorbeeld in Switserland, Suriname, Indië en Nieu-Seeland toegepas.

Kulturele of persoonsgebonde outonomie bied 'n ander moontlike vorm van nieterritoriale selfbeskikking aan groepe wat wyd verspreid woon. Hierdie vorm van outonomie word aan al die lede van ’n groep verleen sodat hulle deur vrye assosiasie hul eie instellings kan vorm om hul eie mense te regeer. Hierdie instellings neem dikwels die vorm van sogenaamde kultuurrade aan. Hierdie rade dien dan om die identiteit, kulturele en ander belange van die minderheidsgroep te beskerm en te verhoed dat hulle aan die kulturele praktyke van die meerderheid onderwerp word. Kulturele outonomie word veral in lande van Sentraal- en Oos-Europa, soos Serwië, Estland en Hongarye, toegepas. Dit is volgens Geldenhuys en Kriek (s.j.:17) ook moontlik om 'n kombinasie van verskillende vorme van outonomie in dieselfde staat aan te tref, soos wat in Kanada die geval is. Ook in België word 'n interessante kombinasie van territoriale en nieterritoriale selfbeskikking toegepas. Afgesien van die federale stelsel wat selfbeskikking aan die belangrikste groepe in bepaalde gebiede verleen, is kultuurrade in die Belgiese hoofstad, Brussel, gevorm – 'n vorm van kulturele outonomie – om die kulturele belange van elke groep in hierdie heterogene hoofstad te beskerm.

Volgens Kymlicka (1995:10) is dit egter belangrik om daarop te let dat selfbeskikking – anders as byvoorbeeld regstellende aksie – nie beskou kan word as tydelike maatreëls of ’n regstelling van ’n onreg van die verlede wat die een of ander tyd opgehef kan word nie. Die reg op selfbeskikking word inteendeel as permanent en onaantasbaar beskou.

4.2 Poliëtniese regte

Kymlicka (1995:30) tref ’n sterk onderskeid tussen die behoeftes van immigranteminderhede in poliëtniese state en dié van nasionale minderhede in multinasionale state. Hy bestempel die behoefte om in die groter samelewing van die ontvangerland geïntegreer te word en as volwaardige lede van hierdie samelewing aanvaar te word, as die belangrikste behoefte van immigrante. Die erkenning en akkommodasie van hul kulturele eiesoortigheid ten einde hul aanpassing en integrasie in die ontvangerland te vergemaklik, is gevolglik belangrik.

Soos reeds genoem, het immigrante in die laaste paar dekades toenemend die Anglokonformiteitsmodel uitgedaag (Kymlicka 1995:30). Aanvanklik is hierdie verset vergestalt in eise vir die vryheid om hul eiesoortige kultuur sonder vrees vir vooroordeel of diskriminasie uit te druk. Hierdie eise het egter uitgebrei en immigrante in baie lande dring vandag aan op positiewe stappe om vooroordeel en diskriminasie teen hulle teen te werk en hulle in staat te stel om hul kultuurerfenis uit te leef. Só vorm ’n beleid teen rassisme deel van die beleid van multikulturalisme in Kanada en Australië, terwyl veranderings ook aan die kurrikula in skole aangebring word om erkenning te gee aan die geskiedenis, kultuur en bydrae van immigranteminderhede. Sommige immigrantegroepe dring ook aan op openbare befondsing van hul kulturele praktyke, soos etnokulturele verenigings, etnokulturele media en kultuurfeeste, om sodoende die rykheid en diversiteit van hul kultuurerfenis te bewaar. Meer kontroversiële eise behels eise om uitgesluit te word van sekere wette en regulasies wat indruis teen die kultuur van ’n groep. Voorbeelde van sulke eise is die aandrang deur Moslemmeisies in Frankryk op toelating om nie skooldrag te dra nie en/of die hajib (hoofbedekking) skool toe te dra; die aandrang van Sikhs om nie wetlik verplig te word om motorfietshelms te dra nie; asook eise van Jode en Moslems wat aandring op uitsluiting van wetgewing om hul sakeondernemings Sondae te sluit in lande waarin sodanige wetgewing van toepassing is.

Dit is egter belangrik om daarop te let dat hierdie maatreëls daarop gerig is om immigrantegroepe te help om hul kulturele uitsonderlikheid en trots op hul herkoms uit te druk en uit te leef sonder dat hul deelname aan en sukses in die ekonomiese en politieke instellings van die dominante samelewing in die gedrang kom (Kymlicka 1995:31). Net soos die reg op selfbeskikking, kan hierdie groepgedifferensieerde maatreëls nie as tydelik beskou word nie, omdat die kultuurverskille waarop hulle gerig is, nie sonder meer uitgewis kan word nie. Volgens Kymlicka is poliëtniese regte egter daarop gerig om aanpassing in die gasheerland te bevorder en nie op die verkryging van selfbeskikking of outonomie nie.

Kymlicka (1995:15) wys egter daarop dat dit moontlik is dat ’n groep wat as immigrante na ’n land gekom het, mettertyd in ’n nasionale groep kan ontwikkel. Dit is inderdaad wat gebeur het met Engelssprekende koloniste in verskeie vroeëre Britse kolonies, Spaanse koloniste in Puerto Rico en die Europese immigrante wat uiteindelik die Afrikanergroep in Suid-Afrika gevorm het. Hierdie immigrante het nie na ’n nuwe land gegaan met die idee om met die meerderheidskultuur te integreer en te assimileer nie, maar eerder met die verwagting om hul oorspronklike kultuur in die nuwe land te repliseer. Mettertyd het hulle dan ook daarin geslaag om ’n volledige samelewing te vestig met ’n wye reeks instellings wat hul eie kultuur en identiteit ondersteun.

4.3 Spesialeverteenwoordigingsregte

Daar is ook toenemende belangstelling in ’n derde vorm van groepgedifferensieerde regte, naamlik spesialeverteenwoordigingsregte (Kymlicka 1995:31−3). Veral in die Westerse wêreld heers kommer dat demokratiese prosesse dikwels “onverteenwoordigend” is in dié sin dat dit nie die diversiteit van die bevolking weerspieël nie en lede van minderheidsgroepe, vroue, mense met gestremdhede en ander histories benadeeldes uitsluit. Een van die maniere om hierdie probleem te oorbrug is om die struikelblokke wat verhinder dat sodanige groepe aan politieke en ander prosesse deelneem, te oorkom.

In die VSA en Kanada het vroue, rasseminderhede en eerste volke minder as ’n derde van die setels in wetgewende liggame as waarop hulle volgens hul getalle geregtig sou wees. Een manier om hierdie stand van sake om te keer, is om politieke partye meer inklusief te maak en die hindernisse te verwyder wat vroue en lede van ander histories benadeelde groepe inhibeer om hulle as partykandidate beskikbaar te stel of om politieke leierskaprolle te vervul. Die een of ander vorm van proporsionele verteenwoordiging is ’n ander uitweg. Daar is egter ook ’n groeiende belangstelling in die idee om setels in wetgewende liggame vir die lede van minderheidsgroepe te reserveer.

Die regverdiging vir spesialeverteenwoordigingsregte is gewoonlik dat daar sistemiese hindernisse in die demokratiese prosesse bestaan, wat meebring dat minderheidsgroepe se standpunte nie gehoor word en hul belange nie gedien word nie. Anders as die reg op selfbeskikking en poliëtniese regte, kan spesialeverteenwoordigingsregte egter beskou word as ’n tydelike maatreël, of as ’n vorm van regstellende aksie, totdat die samelewing só verander het dat sodanige regte nie meer nodig is nie. Die kwessie van spesialeverteenwoordigingsregte word egter meer kompleks wanneer hulle as aanvullend tot die reg op selfbeskikking beskou word. Die selfbeskikking van ’n minderheidsgroep kan verswak word as ’n eksterne liggaam kan besluit oor sake wat met die belange van die groep verband hou of die selfbeskikkingsmagte van die groep kan inperk sonder enige konsultasie met die groep. Dit is gevolglik belangrik dat ’n minderheidsgroep wat selfbeskikking geniet, ook verteenwoordiging moet hê op enige liggaam wat kan besluit oor die magte en regte van die groep of oor enige sake waarby die groep direkte belang het. Net soos die reg op selfbeskikking, behoort spesialeverteenwoordigingsregte wat aanvullend tot selfbeskikking daargestel word, ook as permanent en onaantasbaar beskou te word.

Volgens Kymlicka (1995:33) behoort enige heterogene demokrasie – op grond van die samestelling van die bevolking – een of meer van hierdie vorme van groepregte te implementeer ten einde in die behoeftes van verskillende groepe te voorsien. Dit is verder moontlik dat hierdie drie vorme van groepgedifferensieerde regte kan oorvleuel in dié sin dat ’n groep meer as een van hierdie regte kan opeis. Só kan ’n nasionale groep sowel selfbeskikkingsregte as spesialeverteenwoordigingsregte opeis. Die reg op selfbeskikking en spesialeverteenwoordigingsregte hoef egter nie noodwendig tegelykertyd toegeken te word nie. ’n Groep soos mense met gestremdhede kan spesialeverteenwoordigingsregte eis, maar glad nie in poliëtniese regte belangstel nie. Aan die ander kant kan ’n immigrantegroep op poliëtniese regte aandring, maar geen grondslag vir die eis van selfbeskikking of spesialeverteenwoordigingsregte hê nie.

4.4 ’n Revolusie in die verspreiding van minderheidsregte

Kymlicka (2007c:585) noem dat die afgelope 40 jaar gekenmerk is deur ’n revolusie in die verhouding tussen die staat en minderheidsgroepe en dat vorme van demokrasie wat blind is vir die verskille tussen mense toenemend met multikulturele modelle vervang word. Hierdie verskuiwing is enersyds die resultaat van politieke prosesse binne state en in die besonder die intense politieke mobilisering van minderhede. Andersyds word hierdie verskuiwing egter toenemend deur ’n internasionale dimensie gekenmerk waarin internasionale organisasies state nie alleen aanmoedig nie, maar selfs druk op hulle plaas, om 'n meer multikulturele benadering te volg.

Volgens Kymlicka (2007c:585) is daar in werklikheid sprake van die globalisering van multikulturalisme. Hierdie tendens kan eerstens waargeneem word in die verspreiding van 'n wêreldwye diskoers oor multikulturalisme wat binne die internasionale netwerke van onder meer akademici, beleidmakers en nieregeringsinstansies gevoer word. Verder is daar die kodifisering van multikulturalisme in die internasionale reg in die vorm van vele verklarings oor minderheidsregte wat in die afgelope dekades uitgevaardig is. Enkele voorbeelde van sulke verklarings is: die Verenigde Nasies se Declaration on the rights of persons belonging to national or ethnic, religious and linguistic minorities(Verenigde Nasies 1992); The Hague recommendations regarding the educational rights of national minorities. (UNESCO s.j.); en die Framework convention for the protection of national minorities and explanatory report, 1995 (Raad van Europa 1995). Die Wêreldbank het soortgelyke norme oor die regte van minderhede en inheemse groepe vasgelê. Die Europese Unie moedig hul lidstate en dié wat na lidmaatskap streef verder aan om na meer minderheidsvriendelike staatvorme te hervorm (Kymlicka 2007b:620).

Kymlicka (2007c:587) voer aan dat hierdie verklarings, veral in die Weste, bygedra het tot die omkering van ondemokratiese verhoudinge, wat gekenmerk is deur tweedelings soos slawe versus heersers, setlaars versus inheemse inwoners, koloniste versus gekoloniseerdes en minderheid versus meerderheid. Hierdie verhoudinge het verander in demokratiese verhoudinge waar almal burgers van dieselfde staat geword het en gelyke regte geniet. Waar daar egter in die verlede ’n enkele ongedifferensieerde model van burgerskap op almal afgedwing is, skep stelsels vir die toekenning van minderheidsregte, soos verwoord in hierdie verklarings, die ruimte vir die erkenning van kulturele en ander verskille en die voldoening aan die politieke eise van groepe. Hierdie verklarings hou reeds besliste voordele vir die minderhede in baie state in. Veral in Europa het dit 'n politieke ruimte vir demokratiese onderhandelings tussen die staat en minderheidsgroepe geskep, legitimiteit aan politieke bewegings verleen om minderheidsregte op te eis en druk op state geplaas om nuwe moontlikhede vir die akkommodasie van minderhede te oorweeg.

Kymlicka (2007b:621) waarsku egter dat die voorstanders van minderheidsregte nie gerus kan wees nie. Die raamwerk vir minderheidsregte wat deur hierdie verklarings geskep is, is baie onstabiel – sowel konseptueel as polities – en deurspek met inkonsekwenthede. Dit skep die moontlikheid dat die bepalings oor minderheidsregte verwring en herinterpreteer kan word op maniere wat nie in ooreenstemming met die oorspronklike bedoelings is nie, wat weer struikelblokke vir die konsekwente toepassing in alle wêreldstate vorm. ’n Volgehoue diskoers oor minderheidsregte is gevolglik nodig ten einde die formulering en toepassing van minderheidsregte in die internasionale reg te versterk om te verhoed dat hulle as gevolg van sekere probleme mettertyd afgewater word. Dit is veral nodig om aandag te gee aan die kategorieë (of groepe) wat op regte kan aanspraak maak, die tipe regte waarop hulle kan aanspraak maak en dringende kwessies rondom die implementering van minderheidsregte. Sommige van hierdie kwessies, asook kritiek op Kymlicka se idees oor minderheidsregte, word in die volgende afdeling bespreek.

5. Menings en diskoerse oor Kymlicka se idees oor groepregte

Soos reeds in die vorige afdeling aangedui is, het Kymlicka (1995) se beskouings oor gedifferensieerde groepregte 'n globale diskoers, maar ook heelwat kritiek, uitgelok. In 'n spesiale uitgawe van die akademiese tydskrif Ethnopolitics,wat op die werk van Kymlicka fokus, beaam Keating (2007:607) die standpunt van Kymlicka (2007c:621) dat sommige van die terme wat ten opsigte van minderheidsregte gebruik word, vaag en nie behoorlik omskryf is nie – ’n probleem wat ook deur Bell (2007:601) genoem word. Keating (2007:607) verwys in hierdie verband na Kymlicka se gebruik van die term etnonasionale minderhede. In 'n poging om sodanige groepe te definieer, word 'n lys eienskappe dikwels genoem, maar min van hierdie eienskappe word ooit werklik geverifieer of empiries getoets. Sommige van hierdie eienskappe verwys onder meer na kultuur, die feit dat die lede ’n groep vorm, dat hulle 'n tuisland het en dat hulle in die verlede selfregering geniet het. Dit is egter onduidelik of hierdie kenmerke slegs die grondslag vir ’n taksonomie van groepe vorm en of elkeen op sigself normatiewe waarde het. Volgens Bell (2007:602) is die kwessie van definisie belangrik – des te meer omdat een van die belangrikste strydpunte van baie groepe juis op die reg om hulself te definieer, fokus. Die reg op selfdefinisie is dan ook een van die belangrikste regte waarop daar by die onderhandelingstafel aanspraak gemaak word. Dit is gevolglik belangrik dat duidelikheid verkry word oor watter groepe op regte aanspraak kan maak.

’n Ander belangrike punt van kritiek is die mening dat groepregte solidariteit, die vorming van ’n oorkoepelende nasionale identiteit en die sosiale eenheid, wat as noodsaaklik beskou word vir die gladde funksionering van ’n staat, teenwerk (Brock 2005:275). Kymlicka (1995:189) glo egter dat juis die gebrek aan groepregte sosiale eenheid teenwerk. Die akkommodasie van groepe wat voorheen gemarginaliseer of uitgesluit is – eerder as die negering van hul uitsonderlike identiteit – bevorder volgens hom sosiale eenheid en blywende stabiele en vreedsame sosiale en politieke verhoudinge. Daarteenoor kan die gebrek aan die toekenning van groepregte ontevredenheid, verset, vervreemding, verdeling en selfs konflik in die hand werk, soos wat dan ook in baie verdeelde samelewings waargeneem kan word. Kymlicka (1995:185) merk hieromtrent op:

If anything, attempts to subordinate these separate identities to a common identity have backfired, since they are perceived by minorities as threats to their very existence, and so have resulted in even greater indifference or resentment [...] Rejecting these demands in the name of common citizenship will simply promote alienation and secessionist movements. Indeed, recent surveys of ethnonationalist conflict around the world show clearly that self-government arrangements diminish the likelihood of violent conflict, while refusing or rescinding self-government rights is likely to escalate the level of conflict.

Daar bestaan inderdaad ’n legio voorbeelde van groepe wat nie hul identiteit verloor het nie ten spyte van uiterste pogings van regeringskant af. Só kon selfs eeue van onderdrukking en diskriminasie van opeenvolgende regerings nie daarin slaag om die taal en identiteit van die Koerde, Baske en ander nasionale minderhede in Europa te vernietig nie (Kymlicka 1995:185). Ook kommunistiese regimes het misluk in hul pogings om nasionale lojaliteite uit te wis. Ten spyte van volkome beheer oor die onderwys en die media kon hulle nie daarin slaag om die Kroate, Slowake en Oekraïners so ver te kry om in die eerste plek aan hulself as Joego-Slawe, Tsjeggo-Slowake of Sowjetburgers te dink nie. Ook Asië, en veral ook Afrika, word gekenmerk deur etniese konflik – dikwels gewelddadig – in vele heterogene samelewings (Dersso 2008:578–82).

Knight (2004:192–3) wys weer daarop dat sommige ontleders van mening is dat Kymlicka (1995) se idees oor groepregte net eenvoudig te veel klem op etniese en/of kulturele minderhede lê. Daar bestaan trouens ook ander groepe, soos die armes en mense met gestremdhede, wat dikwels ’n groter mate van benadeling en diskriminasie ervaar. Knight is egter self van mening dat spesiale regte aan groepe toegeken behoort te word op grond van die aard van die benadeling wat hulle ervaar. Só behoort aandag gegee te word aan die aard van probleme wat mense met gestremdhede ondervind om ten volle in die samelewing te funksioneer, terwyl maatreëls ook daargestel moet word om in die spesifieke behoeftes van armes te voorsien. Knight is daarvan oortuig dat Kymlicka se siening van groepregte in die gees van die liberale etos is; dat gelyke waarde gegee word aan die hantering van alle vorme van ongelykheid met betrekking tot bepalings of situasies waaroor mense nie ’n keuse of min beheer het.

Knight (2004:192) wys egter daarop dat Kymlicka (1995) se sterk standpunt oor die toekenning van selfbeskikking aan nasionale minderhede kan neerkom op ’n gedwonge verskuiwing van identifisering met die nasiestaat na ’n etniese of kulturele identiteit. Hy voel dat dit belangrik is om in gedagte te hou dat daar groepe is wat nie besondere waarde aan selfbeskikking heg en daarna streef nie.

Ook Cassatella (2006) opper die moontlikheid dat daar groepe kan wees wat geen behoefte het aan die uitgebreide stelsel van groepregte wat deur Kymlicka voorgestaan word nie. Keating (2007:608) noem in hierdie verband dat daar dikwels aangeneem word dat alle minderhede op dieselfde regte aanspraak maak, terwyl dit nie noodwendig die geval is nie. Alhoewel kultuurkwessies dikwels ten grondslag van minderheidsmobilisering lê, is dit volgens Keating byvoorbeeld nie die geval in Skotland nie. In Skotland is sosiaal-ekonomiese oorwegings en die feit dat Skotland aan 'n meerderheid wat hulle nie instem nie, onderworpe is, eerder belangrik. Keating (2007:609) voer verder aan dat dit soms waar is dat 'n groep se aandrang op sekere groepregte nie uit ’n diepgevoelde behoefte van die lede van 'n groep voortspruit nie, maar eerder die mening van etniese entrepreneurs – meestal etniese leiers – weerspieël. Ook Guiraudon (2007:604) waarsku dat woorde soos kultuur en identiteit strategies deur kulturele hekwagters gebruik – of misbruik – word om groepe nie alleen te mobiliseer om op kulturele selfbeskikking aanspraak te maak nie, maar ook ten opsigte van sosiaal-ekonomiese en ander ongelykhede op te tree. Dikwels word die aard van aansprake rakende die groep se kultuur en identiteit ook aangepas vir die bepaalde konteks waarin aansprake op sekere regte gemaak word.

Die kwessie van die verskillende behoeftes en aansprake van groepe word in die volgende afdeling uitvoerig bespreek. Kymlicka (2007c:589) noem egter dat enige “onliberale” neigings van groepe, hul leiers en/of politieke elite, teengewerk word deur die diep verbondenheid van liberale multikulturalisme tot die grondliggende waardes van liberalisme en menseregte. Daar word gevolglik van groepe verwag om te alle tye – ook in die beoefening van selfbeskikking – volgens hierdie waardes te handel. Dit impliseer dat liberale multikulturalisme nie aan groepe of hul lede die reg gee om enige groeplid se individuele vryheid ingevolge die wil of kultuur van die groep in te perk nie. Enige groeplid is dus vry om van leiersfigure te verskil, hulle teen te staan, nie te voldoen aan die riglyne van die groep nie en om die groep te verlaat.

Ontleders soos Carens (1997:35–9) en Young (1997:48–53) kritiseer weer die skerp onderskeid wat Kymlicka tref tussen nasionale en immigrantegroepe – en die gepaardgaande onderskeid tussen selfbeskikkings- en poliëtniese regte – asof dit twee onderling uitsluitende kategorieë verteenwoordig. Young noem verskeie groepe wat volgens die definisie van Kymlicka nie by een van die kategorieë inpas nie. Afro-Amerikaners in die VSA kan byvoorbeeld nie as ’n nasionale groep of as immigrante beskou word nie. Hulle is die nasate van slawe wat onder dwang verskuif is en van hul kultuur van oorsprong moes afstand doen. Daar is ander groepe, byvoorbeeld Indiërs, wat gedurende die koloniale tydperk deur Groot-Brittanje na verskeie wêrelddele – ook na Suid-Afrika – as arbeiders weggevoer is. Dit is moeilik om hul nasate in te pas in die tweedeling van nasionale groepe versus immigrante. Volgens Young erken Kymlicka self dat slawe, vlugtelinge en gasarbeiders moeilik in hierdie model gekategoriseer kan word – so ook die nasate van diegene wat gedurende kolonialisme na vroeëre kolonies gemigreer en uiteindelik nie weer na hul geboorteland teruggekeer het nie. Carens wys weer daarop dat die eis van Moslemimmigrante in Brittanje en Spaanssprekende Amerikaners in die VSA om beheer oor skole van hul eie te verkry, in werklikheid ook as ’n vorm van selfbeskikking beskou kan word. Hy gebruik verder die voorbeeld van Franssprekende Kanadese wat buite die provinsie Quebec woon waar hierdie groep selfbeskikking geniet. Die vraag word geopper of hulle ook as lede van ’n nasionale groep of eerder as ’n immigrantegroep beskou moet word. Hy kom tot die gevolgtrekking dat dit ’n fout sou wees om die morele eise van kulturele groepe op twyfelagtige kategorieë soos dié van die nasie en immigrantegroep te grond.

Young (1997:48–53) is van mening dat dit beter is om nie kulturele minderhede aan die hand van eksklusiewe kategorieë te ontleed nie, maar eerder in die lig van ’n kontinuum. Of ’n kulturele minderheid beskou kan word as ’n nasionale groep wat oor ’n volle spektrum instellings beskik, is volgens Young eerder ’n kwessie van graad wat op ’n kontinuum varieer. Kulturele minderhede varieer ook op ’n kontinuum ten opsigte van die mate waarin hulle in die groter samelewing geïntegreer wil word of eerder selfbeskikking wil geniet. Die mate waarin die groter samelewing hul deelname verwelkom, varieer ook. ’n Verdere tekortkoming is die feit dat Kymlicka nie ’n onderskeid tref tussen insluiting wat ekonomiese geleenthede en politieke deelname betref, en integrasie in die dominante kultuur nie. Baie kulturele minderhede begeer volle politieke en ekonomiese deelname sonder om noodwendig daarna te streef om met die dominante kultuur te assimileer. ’n Versagting van die skerp onderskeid tussen dié twee kategorieë skep die geleentheid om eerder die spesifieke situasie van elke groep onder die loep te neem en in ’n groter mate te differensieer ten opsigte van die aspekte waarin die groep selfbeskikking wil geniet en/of wil integreer. Keating (2007:610) waarsku ook teen die beskouing van groepregte as 'n enkele stel “etnonasionale” eise wat met ’n reeks standaardoplossings hanteer word. Dit is eerder nodig om 'n grondige begrip van elke unieke situasie te verkry. Sommige groepseise is komplekser as ander en word gekenmerk deur teenstellende interpretasies van die geskiedenis, die betwisting van grondeise en kontrasterende definisies van die betrokke groepe. Daar kan gevolglik nie ’n standaardmodel op alle situasies van toepassing gemaak word nie.

Schmidtke (2007:613–7) spreek weer die mening uit dat alhoewel Kymlicka (2003:148–52) wel die problematiek aanraak van nasionale groepe wat nie ’n territoriale meerderheid vorm nie, sy idees oor selfbeskikking vir minderheidsgroepe in werklikheid te nou aan die (nasie)staat gekoppel is. Volgens Schmidtke gaan Kymlicka uit van ’n veronderstelling van kongruensie tussen kultuur, grondgebied en politieke verteenwoordiging, gegrond op die Europese staatsboutradisie. Die probleem is nie alleen dat baie nasionale minderhede nie ’n getallemeerderheid in ’n bepaalde grondgebied vorm nie, maar baie groepe is ook oor die grense van verskillende state versprei. Toenemende immigrasie en die groei van transnasionalisme het verder tot gevolg dat sommige groepe die klem op ’n bepaalde grondgebied in die definiëring van hul politieke gemeenskap en identiteit betwis. Transnasionale vorme van gemeenskap is in werklikheid besig om die parameters waarbinne erkenning en sosiale regverdigheid beredeneer word, toenemend te betwis. Volgens Schmidtke word Kymlicka se beskouings oor groepregte beperk deur ’n beskouing wat op metodologiese nasionalisme gegrond is, en gee hy te min aandag aan multi- en transnasionalisme wat die grondslag vorm waarvolgens baie groepe hul kollektiewe identiteit en politieke bestaan definieer. Hy meen dat Kymlicka nie radikaal genoeg is in die inagneming van die internasionale dimensie in die erkenning van die regte van etniese en kulturele diversiteit nie – dit terwyl die erkenning van sosiale en politieke gemeenskappe buite die tradisionele staatsraamwerk een van die grootste uitdagings van die 21ste eeu geword het.

Kymlicka (2007a:387) noem egter dat die neiging om groepsidentiteit te definieer aan die hand van ’n geskiedenis wat aan ’n bepaalde grondgebied gekoppel is, veral binne die Europese Unie, as gevaarlik en moreel problematies beskou word. Daar word in werklikheid gepoog om die idee dat ’n bepaalde grondgebied aan ’n sekere groep “behoort”, te ontmoedig ten gunste van nieterritoriale modelle van groepregte en multikulturele burgerskap. Die idee om etnisiteit van ’n bepaalde grondgebied te skei, word as die algemene ideaal gestel; inderdaad as die enigste ware liberale en demokratiese ideaal en die enigste wat strook met postmoderne idees van globalisering, mobiliteit en meervoudige, vloeibare en hibriede identiteite. In die Weste word dit gevolglik as ’n terugwaartse stap beskou as ’n groep hul identiteit te nou aan ’n bepaalde grondgebied koppel en op territoriale selfbeskikking aandring. Westerse demokrasieë word gevolglik aangemoedig om vorme van territoriale selfbeskikking met nieterritoriale selfbeskikking te vervang. In ’n verdere artikel waarin hy onder meer op die kritiek van Schmidtke (2007:613–7) antwoord, gee Kymlicka (2007b:621) egter toe dat huidige toepassings van liberale multikulturalisme sekere beperkings en gebreke het, veral wat nieterritoriale groepe betref. Hy stel egter voor dat die stelsel vir uitgebreide groepregte, waarvolgens regte geteiken word om in die behoeftes van spesifieke groepe te voorsien, stapsgewys uitgebrei en versterk word om uiteindelik ook voorsiening te maak vir die spesifieke behoeftes van groepe soos nieterritoriale en transnasionale groepe wat tans dikwels oor die hoof gesien word.

Bell (2007:601) betwis weer Kymlicka (2007c:585) se optimisme dat die vele verklarings oor minderheidsregte wat die afgelope 40 jaar uitgevaardig is, globale aanvaarding van liberale multikulturalisme impliseer. Volgens haar verteenwoordig die meerderheid van hierdie verklarings eerder 'n reaksie op konfliksituasies en pogings om interne konflik, wat met eise om selfbeskikking verband hou, te bestuur. Die impak van hierdie verklarings word ook beperk deur die onvermoë van die internasionale reg om weg te beweeg van die normatiewe idees wat met die soewereiniteit van state en die liberale idees van individuele regte en die gelykheid van alle burgers van 'n staat verband hou. Ten spyte van die feit dat die konsensus rondom hierdie beginsels waarskynlik op 'n onjuiste begrip van die verhouding tussen individue en groepe berus, impliseer 'n wegbeweeg van hierdie beginsels ’n diepgaande hersiening van die grondbeginsels van die internasionale reg – 'n verskuiwing wat onwaarskynlik in die onmiddellike toekoms is. 'n Bykomende belemmerende faktor is dat die meeste state nie 'n probleem het om die generiese beginsels van minderheidsregte te onderskryf as dit aan individuele regte in ’n handves van menseregte gekoppel word nie. Sodra die bewoording van ’n verklaring egter substansie aan hierdie regte gee, deur byvoorbeeld selfbeskikking en/of die beheer oor hulpbronne uit te spel, weier baie state om dit te onderskryf. Die internasionale reg word verder beperk deur die probleme om groepe wat op regte aanspraak kan maak, te definieer – dikwels juis omdat groepe aandring op die reg om hulself te definieer (sien ook Kymlicka 2007c:621; Keating 2007:607; Bell 2007:601).

Volgens Guiraudon (2007:605) word verklarings oor minderheidsregte ook beperk deur die vermoë van die betrokke instansie om dit af te dwing. Die Europese Unie is in die gelukkige posisie dat hulle hul lede as ‘t ware kan dwing om aan hul riglyne vir minderheidsbeskerming te voldoen. Daar bestaan ook 'n moniteringstelsel om te bepaal in watter mate state wat om lidmaatskap aansoek doen, aan hierdie riglyne voldoen. Indien hulle nie aan die riglyne voldoen nie, word hul lidmaatskap nie oorweeg nie. Ander internasionale instansies, soos Unesco, het egter veel minder mag om wêreldstate te monitor en hul aanbevelings vir minderheidsregte af te dwing.

Kymlicka (2007b:620–1) betwis egter Bell (2007:601) se stelling dat die talle verklarings oor minderheidsregte wat in die afgelope dekades uitgevaardig is, uitsluitlik toegeskryf kan word aan inisiatiewe om interne konflik in heterogene state by te lê. Alhoewel dit waar is dat internasionale organisasies begaan is oor die talle interne konflikte wat veral na die beëindiging van die Koue Oorlog opgevlam het, kan die logika van konflikoplossing nie op sigself die kodifisering van minderheidsregte in die internasionale reg verklaar nie. Volgens Kymlicka (2007b:621) hanteer internasionale organisasies minderheidskwessies op twee maniere. Volgens die sekuriteitsmodus word lande aan die hand van hulle bedreiging vir vrede en stabiliteit gemonitor. Volgens die modus van minderheidsregte word lande aan die hand van hul beantwoording aan internasionale standaarde vir die beskerming van minderheidsregte gemonitor. Konflikhantering bied wel 'n verklaring vir die sekuriteitsmodus, maar nie vir die fokus op minderheidsregte nie.

Piper (2012:180–9) betwis weer die direkte verband wat Kymlicka (1995) stel tussen die individu, kultuur (of ’n samelewingskultuur) en lidmaatskap van ’n kulturele groep, en die feit dat dít as grondslag vir sy motivering van groepregte dien. In die eerste plek problematiseer Piper die idee dat die blote feit dat ’n bepaalde individu aan ’n bepaalde kultuur behoort, noodwendig beteken dat hy of sy daardie kultuur beoefen, en dat daardie kultuur die identiteit van die individu bepaal. Volgens Piper word hierdie verband sowel van onder af as van bo af weggekalwer. In die eerste plek is daar ander invloede in die samelewing wat die kultuur van ’n individu beïnvloed, soos die waardes wat in openbare skole beklemtoon word, asook die invloed van die burgerlike samelewing en die mark. In die era van globalisering word hierdie verband ook verswak deur die invloed van ’n globale Amerikaans-Westerse populêre kultuur wat veral deur middel van wêreldwye massakommunikasie – ook in die ontwikkelende wêreld – posgevat het. In postkoloniale state in Afrika word kultuur ook sterk deur die metropool en ekonomiese globalisering beïnvloed. Deur ’n nasie aan die hand van objektiewe kriteria, soos instellings, grondgebied en kultuur, te definieer, ignoreer Kymlicka verder die manier waarop mense hul eie identiteit sien en beleef. Só kan ’n persoon van ’n Zoeloe-familie in Zoeloeland afstam en in staat wees om Zoeloe te praat, maar hom-/haarself eerder aan die hand van ’n stedelike of kosmopolitaanse identiteit met Engels as voertaal definieer.

Die oorhoofse gevolgtrekking wat gemaak kan word, is dat ’n lewendige en genuanseerde debat oor groepregte binne die akademie en internasionale reg gevoer word. Die meerderheid ontleders – met die moontlike uitsondering van Piper (2012:180–9) – keur egter nie groepregte af nie. Kritiek is eerder gegrond op die aard van groepregte soos deur Kymlicka (1995) voorgestel as teen die idee van groepregte as sodanig. Sommige ontleders voel selfs dat Kymlicka nie ver genoeg gaan nie en dat sy stelsel van gedifferensieerde groepregte uitgebrei behoort te word om voorsiening te maak vir onder meer nieterritoriale, transnasionale en moeilik definieerbare groepe. Sommige van die punte van kritiek word verder beantwoord in Kymlicka se latere werk oor diep diversiteit, waarin voorsiening gemaak word vir die feit dat groepe kan verskil oor die verhouding waarin hulle tot die staat wil staan (Kymlicka 2003:148–52).

6. Nasiebou versus die erkenning van diep diversiteit in ’n multinasionale en/of multikulturele staat

Volgens Kymlicka (2003:149) het die meeste liberale demokrasieë wat individuele regte beklemtoon, tot onlangs toe die sogenaamde nasiestaatmodel nagestreef. In hierdie model word die “nasie” of “staatnasie” beskou as bestaande uit ’n enkele groep en word die identiteit, taal, kultuur, geskiedenis, literatuur, mites en praktyke van die staat gedefinieer asof die “nasie” ’n homogene groep verteenwoordig.

Enersyds is die term nasiestaat egter misleidend (Kymlicka 2003:54). Terwyl daar tans slegs ongeveer 190 onafhanklike state erken word, is die meeste ontleders dit eens dat daar ongeveer 5 000 tot 6 000 etniese of kultuurgroepe of “nasies” in die wêreld is. ’n Eenvoudige rekenkunde dui daarop dat relatief min wêreldstate werklik as etnies homogeen beskou kan word (Ysland, Portugal en die Koreas word dikwels as die enkele bestaande voorbeelde in hierdie verband genoem). Die bevolkings van die meerderheid wêreldstate – meer as 90% – is uit meer as een etniese of kultuurgroep saamgestel. Die term nasiestaat is egter wel toepaslik in dié sin dat die meeste state daarna streef om ware nasiestate te word. Dit impliseer dat ’n verskeidenheid nasieboustrategieë geïmplementeer word om homogeniteit en integrasie te bewerkstellig. Alhoewel sulke state nie werklik as nasiestate beskou kan word nie, kan hulle wel as nasiebouende state bestempel word.

In nasiebouende state word homogeniteit, asook die vorming van ’n oorkoepelende nasionale identiteit, aktief nagestreef, terwyl alternatiewe identiteite – soos identifisering met etniese of kultuurgroepe – teengewerk of onderdruk word (Kymlicka 2003:149). Openbare beleid bevorder 'n enkele stel oorkoepelende nasionale simbole; die erkenning van ’n enkele dominante perspektief op die geskiedenis en mitologie; ’n dominante beskouing van nasionale helde; ’n nasionale opvoedkundige stelsel wat die doelstellings van nasiebou bevorder; nasionale media (soos ’n nasionale openbare uitsaaier); ’n nasionale weermag; en dikwels ook ’n nasionale geskiedenis. Groepe of individue wat hulle teen hierdie beleid verset, word dikwels gemarginaliseer of aan politieke ontmagtiging en diskriminasie onderwerp. Soos in afdeling 2 uiteengesit, is dit egter dikwels die kultuur van die dominante of meerderheidsgroep wat die oorhand kry. Enige persoon wat nie aan die meerderheidsgroep behoort nie, word aan prosesse van assimilasie onderwerp om by die meerderheidsgroep aan te pas en met die kultuur, taal en kulturele praktyke van die meerderheidsgroep te identifiseer en te assimileer. Die alternatief vir mense wat nie wil assimileer nie, is dikwels uitsluiting en/of marginalisasie.

Volgens Kymlicka (2003:149–50) het die meeste Westerse demokrasieë – insluitend Kanada en die VSA – op die een of ander stadium die nasieboumodel nagestreef, hulself as mononasionale state beskryf en daarna gestreef om in ware nasiestate omvorm te word. Die enigste uitsondering in hierdie verband is Switserland, wat nog nooit gepoog het om ’n enkele identiteit of taal daar te stel nie. Dit is egter nie slegs Westerse state nie, maar ook postkoloniale state in Afrika en Asië, asook Oos-Europese state ná die Koue Oorlog, wat ywerige navolgers van die nasieboumodel geword het (Dersso 2008:565–92; Simpson 1994:463).

Soos reeds uit die voorgaande afdelings geblyk het, word die nasiestaatmodel egter toenemend deur verskillende groepe bevraagteken en betwis (Kymlicka 2003:150). Die meeste van hierdie groepe het ’n eie taal, kultuur, interpretasie van die geskiedenis, nasionale helde en simbole wat van dié van die dominante groep verskil. Dit gebeur dan ook toenemend dat sodanige groepe hulle verset – selfs soms gewelddadig – teen die assimilasie wat in die nasieboumodel afgedwing word.

In die plek van ’n burgerlike eenheidstaat, soos wat in die nasiestaatmodel voorgestaan word, bepleit Kymlicka (2003:148–52) dat state met heterogene bevolkings hulle in multinasionale en/of multikulturele state omvorm. Volgens Kymlicka word ’n multinasionale/multikulturele staat deur ’n stelsel van multikulturele burgerskap gekenmerk waarin die volgende beginsels geld:

  • Eerstens verwerp ’n multinasionale staat enige idees dat die staat aan ’n enkele, homogene groep of enige meerderheidsgroep wat binne die grense van die staat woon, “behoort”. Dit is belangrik dat mense waarneem dat die staat aan al sy burgers, insluitend alle rasse-, etniese en kultuurgroepe en ook minderheidsgroepe, behoort.
  • ’n Multinasionale/multikulturele staat verwerp nasieboustrategieë wat van lede van minderheidsgroepe verwag om te assimileer ten einde uitsluiting te vermy. Dit impliseer dat burgers nie hul etniese of ander identiteite hoef weg te steek of te ontken ten einde ten volle as burgers erken te word of toegang te verkry tot die volledige reeks dienste wat die staat bied nie.
  • Op die staat rus boonop die verpligting om aan die geskiedenis, taal en kultuur van minderheidsgroepe dieselfde erkenning en ruimte te verleen as aan dié van die meerderheidsgroep of -groepe.
  • In ’n multinasionale/multikulturele staat word verder erkenning verleen aan enige ongeregtighede wat enige groepe aangedoen is, wat assimilasie en/of uitsluiting betref, en die staat behoort ’n bereidheid te openbaar om die een of ander vorm van herstel of regstelling in werking te stel.

Die erkenning en bevordering van die taal en kultuur van minderheidsgroepe impliseer dat ’n stelsel van groepgedifferensieerde regte toegepas word (Kymlicka 2003:151–3). Soos reeds gesien, verskil state ten opsigte van die aard van diversiteit en samestelling wat nasionale en etnokulturele groepe betref. Dit is egter nie slegs state wat verskil nie, maar groepe verskil ook ten opsigte van die presiese aard van en behoefte aan erkenning en akkommodasie. Die presiese aard wat ’n multinasionale/multikulturele staat behoort aan te neem, word gevolglik bepaal deur die vermoë en aspirasies van verskillende groepe, die grootte en territoriale konsentrasie van groepe, asook die vorme van historiese ongeregtigheid wat elke groep in die verlede aan die hand van die staat ervaar het.

Aan die een kant van die spektrum kan daar, soos reeds bespreek, redelik groot groepe in ’n samelewing wees wat ’n meerderheid in ’n bepaalde gebied geniet, hul taal handhaaf en histories in die bepaalde gebied selfbeskikking geniet het. In so ’n geval is dit volgens Kymlicka (2003:151–3) bykans onafwendbaar dat die een of ander vorm van selfbeskikking aan die groep gegee word – dikwels in die vorm van ’n federale of semifederale stelsel met openbare instellings wat die groep in hul eie taal bedien. Die Quebecane in Kanada, Katalane in Spanje, Vlaminge in België, die Italiaans- en Franssprekende minderhede in Switserland en die Duitssprekende minderheid in Tirool, Italië is almal groepe wat sodanige vorme van selfbeskikking geniet. Dit kan as die mees ekstensiewe vorm van magsdeling tussen die meerderheid en minderhede en die erkenning van die taal en kultuur van minderhede beskou word. Aan die ander kant van die spektrum kan daar relatief kleiner groepe van onlangse immigrante en vlugtelinge wees waarvan die betrokke staat nie deel van hul historiese tuisland vorm nie. Hul beperkte getalle kan meebring dat selfbeskikking nie haalbaar is nie en dat hulle dit waarskynlik moeilik sal vind om instellings van hul eie, soos skole, in stand te hou. In so ’n geval moet sistematiese pogings aangewend word om vas te stel hoe en waar openbare en ander instellings sodanige minderhede stigmatiseer en teen hulle diskrimineer. Doelgerigte pogings moet verder aangewend word om te verseker dat alle openbare instellings – skole, die polisie, hospitale, asook die media – diversiteit akkommodeer, diskriminasie beveg, asook integrasie en ’n meer inklusiewe beeld van die nasie bevorder. Tussen hierdie twee pole kan ’n verskeidenheid groepe met verskillende aspirasies gevind word. Daar is groepe wat as nasionale groepe bestempel kan word, maar te wyd verspreid is om ’n meerderheid binne ’n bepaalde grondgebied te vorm. Ander groepe, soos dikwels die geval met eerste volke, het vroeër ’n meerderheid in ’n bepaalde gebied gevorm, maar as gevolg van die invloei van nuwe aankomelinge of die emigrasie van hul lede na veral stedelike gebiede, is dit nie langer die geval nie. Kortom, ’n legio verskillende vorme van minderheidstatus is moontlik.

Die totstandkoming van ’n multinasionale/multikulturele staat is gevolglik ’n komplekse saak (Kymlicka 2003:150–2). Verskillende inheemse groepe, eerste volke en/of nasionale minderhede maak dikwels op verskillende vorme van erkenning, akkommodasie en regstelling aanspraak. Die behoeftes van die stedelike diaspora met betrekking tot opleiding, taal, politieke verteenwoordiging en regstelling kan weer daadwerklik verskil van dié van lede van hul groep wat in landelike gebiede woonagtig is. Aan die ander kant het vorme van selfregering op plaaslike vlak sekere beperkings. Plaaslike dorpies kan byvoorbeeld hul eie skole in stand hou, maar sukkel om universiteite doeltreffend te bestuur; hulle kan plaaslike klinieke bestuur, maar dit moeilik vind om hospitale te laat werk; hulle kan plaaslike grondeise besleg en boerderye bestuur, maar nie ekonomiese of landboubeleid bepaal nie. In die Amerikas word gevolglik gepoog om plaaslike strukture in groter streekstrukture te integreer.

Die gevolgtrekking kan gemaak word dat dit misleidend en gevaarlik is om ’n standaardmodel vir ’n multinasionale en/of multikulturele staat te probeer vind. Volgens Kymlicka (2003:153) erken ’n multinasionale/multikulturele staat nie slegs dat sy burgers verskillend is met betrekking tot kultuur, taal en identiteit nie, maar ook dat hierdie burgers ten opsigte van ander aspekte kan verskil. Dit beteken onder meer dat hulle daarna kan streef om deur middel van verskillende vorme van multikulturele burgerskap verskillende verhoudings met die staat te hê. Vir sommige groepe impliseer multikulturalisme die verwydering van alle vorme van diskriminasie en alle struikelblokke in die weg van hul integrasie in die hoofstroomsamelewing, terwyl dit vir ander die toekenning van ’n mate van selfbeskikking kan beteken wat aan hulle die een of ander vorm van outonomie verleen. Ten einde ’n multinasionale/multikulturele staat te word, behoort ’n staat homself derhalwe te transformeer om ruimte vir verskillende vorme van multikulturele burgerskap te skep – ’n beginsel wat Kymlicka (2003:153) “diep diversiteit” noem. Kymlicka gebruik Kanada as sekerlik een van die bekendste voorbeelde. Terwyl Franssprekende Kanadese territoriale selfbeskikking binne ’n federale sisteem geniet, is alternatiewe maatreëls op eerste volke soos Kanadese Indiane en Eskimo’s van krag. Aan die ander kant geniet immigrantegroepe weer poliëtniese regte binne ’n beleid van multikulturalisme.

Diep diversiteit en die gepaardgaande vorme van multikulturalisme ontken egter nie dat ’n mate van eenheid steeds behoue bly en dat burgers hulself steeds vir sommige doeleindes as lede van die groter nasie sal beskou nie (Kymlicka 1995:13–4). Kymlicka noem die voorbeeld van die Switsers wat ’n sterk gevoel van gemeenskaplike lojaliteit en Switserse identiteit behou, ondanks die kultuur- en taalverskille wat die samelewing kenmerk en die verskillende maniere waarop ruimte vir hierdie diversiteit geskep word. Trouens, soos reeds in die vorige afdeling genoem, kan heterogene state dikwels oorleef en hul eenheid behou slegs indien die onderskeie groepe wat binne die staatsgrense woon, aan die groter politieke gemeenskap lojaal bly, omdat hulle taal en kultuur voldoende erkenning geniet.

Kymlicka is egter van mening dat patriotisme, dit wil sê die gevoelens van vereenselwiging met ’n bepaalde staat, onderskei moet word van ’n nasionale identiteit wat hy as identifisering met die oorkoepelende politieke gemeenskap beskryf. Só is Switsers byvoorbeeld, lojaal teenoor die Switserse staat omdat die staat hul kulturele eiesoortigheid en afsonderlike nasionale bestaan erken en akkommodeer. ’n Gemeenskaplike lojaliteit teenoor ’n bepaalde staat word gevolglik eerder op ’n gedeelde patriotisme wat ’n bepaalde land betref, as ’n gemeenskaplike nasionale identiteit gegrond.

7. Postkoloniale nasiebou en diversiteit in Afrika

Heterogene en diep verdeelde samelewings is ook in Afrika geen vreemde verskynsel nie. Inteendeel, sedert die verkryging van hul onafhanklikheid is en word die meeste Afrikaregerings met die probleem van die hantering van die etniese en kulturele diversiteit van hul bevolkings gekonfronteer (Dersso 2008:567). In Afrika – miskien meer as in enige ander deel van die wêreld – bied diversiteit ’n formidabele uitdaging weens die feit dat die grense van die meeste Afrikastate die resultaat van die aktiwiteite van Europese avontuursoekers is. Toe koloniale leiers in 1884 in Berlyn vergader het om Afrika onder mekaar te verdeel, het taal, kultuur en/of godsdiens nie ’n rol in hul besluitneming gespeel nie (Whitehead 2013:4). Die gevolg is dat die meeste Afrikastate vele kleiner en groter groepe – elkeen met ’n afsonderlike taal, kultuur, geskiedenis en identiteit – omsluit. Die hantering van diversiteit word verder bemoeilik weens die feit dat Afrikastate deur ’n gebrek aan vermoë, swak regeringsinstellings en onderontwikkelde en gefragmenteerde ekonomieë gekenmerk word.

Te midde van hierdie uitdagings was dit die nasieboumodel wat die verbeelding van die meeste Afrikaregerings aangegryp het (Dersso 2008:567). Faktore wat enersyds verband hou met die liberale konstitusionele tradisie en andersyds spesifiek met die Afrikakonteks, het tot gevolg gehad dat nasiebou feitlik ’n vanselfsprekende keuse vir die postkoloniale Afrikastaat geword het. Só word die vorming van ’n enkele homogene nasionale identiteit beskou as noodsaaklik om die openbare mening ten gunste van demokratiese regering te swaai en om eenheid en politieke stabiliteit te bewerkstelling. Nasiebou word verder as noodsaaklik beskou in die strewe na moderniteit en die ideaal om moderne state in Afrika te vestig. Daar word wyd geglo dat ’n kultureel homogene bevolking, ’n standaardtaal, ’n gemeenskaplike kultuur, asook gemeenskaplike nasionale simbole nodig is vir effektiewe regering én om dit vir lede van die gemeenskap moontlik te maak om transaksies met mekaar te beklink en die gladde funksionering van die burokrasie en die regstelsel te verseker. Dit is egter veral as gevolg van die diep etnokulturele verdeeldheid van die meeste Afrikaïese samelewings, asook die gebrek aan ’n gemeenskaplike politieke tradisie, dat nasiebou as onontbeerlik beskou word. Afrikaïese etnisiteit word verder dikwels as die oorblyfsel van primitiewe stadia van sosiale ontwikkeling of as stamgebondenheid (“tribalism”) gebrandmerk en as ’n struikelblok in die strewe na moderniteit beskou (Berman, Eyoh en Kymlicka 2004:2–3). Andersyds word etnisiteit slegs as die produk van manipulasie gedurende die koloniale era en/of die siniese produk van manipulasie deur die elite beskou.

Net soos in ander wêrelddele word nasiebou in Afrika gekenmerk deur strategieë om assimilasie en kulturele integrasie te bevorder waarin die klem op homogeniteit en eenheid gelê word (Dersso 2008:570). Só word die ideaal van nasionale eenheid, asook die onverdeelbaarheid en soewereiniteit van die staat, in die grondwette van die meeste Afrikastate verwoord. Dit is egter nie alleen grondwette nie, maar ook wetgewing, beleidsformulering en politieke diskoerse wat gekenmerk word deur idees dat etnisiteit verdeel en nasionale eenheid teenwerk; die weiering om enige wetlike, politieke of institusionele erkenning aan die bestaan van groepe te gee; asook ’n grootskaalse afkeuring van enige uitdrukking van etniese solidariteit, politieke mobilisering op ’n etniese grondslag en aansprake op groepbeskerming. So verbied al die grondwette van Franssprekende Afrikalande enige “propaganda” wat met etniese of rasselidmaatskap verband hou. Ghana het selfs ’n wet uitgevaardig om die totstandkoming van organisasies wat met etniese, godsdienstige of streekslojaliteit verband hou, te verbied. Volgens Francis Deng (1997:28), ’n Afrika-ontleder, “unity was postulated in a way that assumed a mythical homogeneity amidst diversity”.

Nasiebou word verder nagestreef deur die sentralisering van politieke en ekonomiese gesag en die onderdrukking van politieke pluralisme (Dersso 2008:571). Alhoewel sommige Afrikalande ’n mate van erkenning aan groepe gee in die vorm van ’n federale stelsel of streeksregering, het hierdie inisiatiewe in baie lande mettertyd onder die druk van hoogs gesentraliseerde regerings geswig. So het die aanvanklike grondwet van Ghana bepaal dat die land uit federale state, distrikte en die grondgebied van die Mbale-stam bestaan. Hierdie reëling is aanvanklik deur die Obote-regering eerbiedig – hoofsaaklik uit vrees dat die Bagasdagroep sou poog om af te skei. Dié stelsel is egter vier jaar later nietig verklaar, die Bagasdakoninkryk is gewelddadig onderwerp en ’n gesentraliseerde eenheidsregering is ingestel. Ook Kenia het aanvanklik ’n kwasifederale stelsel gehad waarin wetgewende en uitvoerende gesag deels na sewe provinsies afgewentel is. Hierdie stelsel het egter ook maar ’n kort leeftyd gehad, aangesien die dominante party, die African National Union, dit sterk teengestaan het, omdat dit beskou is as ’n poging om etniese groepe – en veral die radikale Kikoejoegroep – te versterk. Die federale stelsel is mettertyd verswak en is uiteindelik heeltemal afgeskaf. Ook in Kameroen is die federale stelsel met 'n unitêre stelsel vervang.

In die meeste Afrikastate word die volle mag van die staatsmasjinerie, soos taal-, ekonomiese, opvoedkundige en ontwikkelingsbeleid, verder gebruik om eenheid te bevorder. In baie lande word nasionale eenheid ook bevorder deur ’n afkeer van veelpartystelsels. So maak die grondwette van Algerië, die Republiek van Sentraal-Afrika en Tanzanië voorsiening vir slegs ’n eenpartystelsel.

Met hierdie strategieë het Afrikaïese regerings gehoop om ware nasiestate te bou – “hoping to live happily ever after” (Dersso 2008:571). ’n Uitsondering is Ethiopië, waar ’n federale stelsel sedert 2001 die unitêre stelsel van opeenvolgende regerings vervang het (Zimmermann-Steinhart en Bekele 2012). Terwyl die regerings van Menelik II, Haile Selassie en die Dergregime gebaseer was op die beginsel van “een taal, een kultuur, een godsdiens, een nasie”, verleen die federale stelsel selfbeskikking en kulturele outonomie aan nege streekstate en twee stedelike administrasies. ’n Ondersoek na die impak van desentralisasie bring Zimmermann-Steinhart en Bekele (2012) tot die gevolgtrekking dat die federale stelsel merkwaardige groei en groter gelykheid vir alle groepe tot gevolg gehad het.

Ongelukkig is “living happily ever after” nie wat in die meeste Afrikastate gebeur het nie. Inteendeel, homogeniserende nasiebou het verreikende negatiewe gevolge vir baie Afrikalande ingehou en in hoë mate gedien om die legitimiteit van die postkoloniale Afrikastaat te ondermyn (en dit is nog steeds die geval). In die eerste plek het die institusionalisering van ’n sentrale politieke orde te midde van diep etnokulturele diversiteit tot ongelyke verhoudinge met die staat gelei. Nie alleen het groepe ongelyke invloed in besluitneming gekry nie, maar die hulpbronne van die staat is en word in baie gevalle op ’n disproporsionele grondslag ten gunste van dominante groepe versprei. Hoogs gesentraliseerde regerings bestuur ook dikwels die hoofstad, terwyl hulle hul min steur aan wat in die buitewyke en meer afgeleë dele gebeur (Whitehead 2013:4). Swak dienslewering, asook persepsies dat sekere groepe of streke bevoordeel en ander benadeel word, het tot die verdieping van verdeeldheid bygedra in dié sin dat mense na die kring van hul etniese groep vlug in ’n soeke na oplossings vir hul sosiaal-ekonomiese probleme, asook na sekuriteit en emosionele ondersteuning. Frantz Fanon, een van Afrika se leidende denkers, het reeds in 1961 in hierdie verband opgemerk: “[T]his tribalizing of the central authority, it is certain, encourages regionalist ideas and separatism. All the decentralizing tendencies spring up again and triumph, and the nation falls to pieces, broken in bits” (Fanon 1961:42).

Buiten sosiaal-ekonomiese en politieke ongelykheid het postkoloniale nasiebou ook tot kulturele oorheersing gelei (Dersso 2008:571). Een van die belangrikste kenmerke van nasiebou in Afrika is die idee dat nasionale eenheid bereik kan word slegs as al die mense binne ’n sekere grondgebied dieselfde taal praat (Alexander 2001:85). In baie Afrikastate het dit beteken dat die betrokke koloniale taal – Engels, Frans of Portugees – die taal van nasionale eenheid en die taal van onderrig geword het. In ander Afrikastate word die taal en kultuur van die oorheersende of meerderheidsgroep op al die lede van die samelewing afgedwing. Algerië het byvoorbeeld ’n heterogene bevolking waarvan die Berbers ongeveer 27% uitmaak. Nogtans word die staat as ’n suiwer Arabiese staat gedefinieer en word Arabies as die enigste taal erken. Dit het aanleiding gegee tot die politieke mobilisering van die Berbers ten einde gelyke erkenning en die beskerming van hul taal en kultuur af te dwing. Ook in onder andere die Soedan, Tsjad en Mauritanië is die Arabiese taal en kultuur op die hele bevolking van toepassing gemaak – een van die belangrikste faktore wat uiteindelik tot die afskeiding van Suid-Soedan gelei het. Nader aan eie bodem is die Chewataal as die enigste nasionale taal in Malawi verklaar en oorheers die Chewakultuur in die nasionale ikonografie. Ook in Botswana word slegs aan die Tswanataal en -kultuur erkenning gegee in ’n beleid van “We are all Tswana” (Dersso 2008:582).

Die gevolge van kulturele onderdrukking is en was verreikend. Nie alleen het dit tot die verdere marginalisering van minderheidsgroepe bygedra nie; minderheidstale is verder beperk tot interaksie in die familiekring, kerk en kleiner gemeenskap, wat die marginalisering, aftakeling en agteruitgang van hierdie tale tot gevolg het (Moyo 2003:127–39).

Die meeste Afrikastate was nietemin vir lank betreklik suksesvol in die onderdrukking van etniese mobilisering gedurende die Oos-Wes-polarisasie wat die Koue Oorlog gekenmerk het. Toe Westerse magte egter hul ondersteuning vir Afrikaregerings onttrek ná die beëindiging van die Koue Oorlog, het Afrika weggesink in ’n bodemlose put van politieke konflik (Dersso 2008:583; Whitehead 2013:4). Soos uit die voorgaande opmerking van Fanon (1961:42) blyk, het nasieboustrategieë in vele gevalle juis die teenoorgestelde uitwerking gehad. Nie alleen het dit vervreemding van die staat in die hand gewerk nie, maar in baie state ook tot die opbloei van etniese bewuswording, ontevredenheid en selfs gewelddadige konflik gelei. Weer eens is die voorbeelde te veel om op te noem. Die bekendste voorbeeld is sekerlik die etniese konflik in Rwanda en die Soedan. Soos reeds genoem, het laasgenoemde uiteindelik tot algehele afskeiding en die totstandkoming van Suid-Soedan gelei. Die Demokratiese Republiek van die Kongo, Somalië, Liberië, Kenia en die Sentraal-Afrikaanse Republiek word onder meer deur burgeroorlog en die sporadiese opvlamming van etniese konflik gekenmerk. Kortom, outoritêre en homogeniserende nasiebou het tot op hede slegs beperkte sukses in Afrika gehad. Identifisering met die staat is dikwels swak, terwyl nasiebou in vele gevalle juis tot die opbloei van etniese bewuswording, mobilisering op ’n etniese grondslag en konflik lei. Ná meer as vier dekades van nasiebou word die meeste Afrikastate steeds gekonfronteer met die problematiek verbonde aan heterogene en diep verdeelde samelewings.

Daar word gevolglik steeds geworstel met die vraagstuk oor hoe om reg te laat geskied aan minderheidsgroepe in Afrika (Dersso 2008:584). Van die voorstelle wat al gemaak is, is dat alle Afrikastate ontbind en dat daar herbesin word oor grense ten einde die etnokulturele situasie te weerspieël. ’n Groter bewuswording van selfbeskikking bring koloniale grense ook al meer onder druk (Whitehead 2013:4). Daar gaan byna nie ’n dag verby nie dat die media berig oor konflik in die een of ander Afrikastaat waar rebellegroepe vir selfbeskikking of algehele onafhanklikheid in ’n eie staat veg. In die geval van Eritrea en Suid-Soedan is dit inderdaad wat gebeur het. Die ervarings in Somaliland – ’n klein staatjie wat van die groter Somalië weggebreek het en op erkenning as ’n onafhanklike staat aanspraak maak – is net nog ’n voorbeeld dat daar meer groepe is wat wil hê dat die vasteland herverdeel moet word. Dersso (2008:584) is egter van mening dat dit waarskynlik te laat is vir só ’n radikale oplossing. Baie kleiner groepe sal ook nie noodwendig beter af op hul eie wees nie. Die Afrika-Unie is ook bekommerd dat die erkenning van nog wegbreekstate ’n golf aan die gang kan sit wat nie noodwendig tot die totstandkoming van lewensvatbare state sal bydra nie. Whitehead (2013:4) noem verder dat baie van die probleme met heterogeniteit en swak dienslewering wat groter state kenmerk, in die wegbreekstate gedupliseer word, soos wat tans in Suid-Soedan die geval is. Die probleem is dat die leiers van die nuwe state nooit as deel van die groter staat geleer het hoe om hierdie probleme te hanteer nie.

Ten einde oplossings vir die probleme van Afrika te vind, is dit volgens Berman e.a. (2004:2–3) eerstens nodig om met nuwe oë na Afrikaïese etnisiteit te kyk. Hierdie groepe kan eenvoudig nie langer beskou word as blote oorblyfsels van argaïese en primitiewe sosiale ordes of die produk van kolonisering of elitemanipulering nie. Hulle moet eerder gesien word as komplekse en meerdimensionele uitdrukkings van die interaksie tussen, en ervarings van, groepe met onderskeidende kulturele kenmerke met moderniteit binne ’n betrokke staat. Hierdie ervarings van verhoudinge word verder beïnvloed deur die veranderende werklikheid van die staat en die mark (ekonomie), asook die wisselwerking tussen klas, geslag en generasies. Daar moet ook wegbeweeg word van die idee dat etniese kulture homogeen of staties en onveranderlik is. Etnisiteit soos dit vandag in Afrika manifesteer, is die produk van die wisselwerking tussen Afrikaïese groepe, kapitalisme en die nasiestaat in die postkoloniale tydperk. Dit is verder onwaarskynlik dat kontemporêre etniese groepe en identiteite onder die invloed van globale moderniteit sal vervaag of verdwyn. Die feit is dat etniese groepe wat tans in Afrika gevind word, in werklikheid kritieke aspekte van Afrika se ervaring met moderniteit verteenwoordig. Die mislukking van nasiebou kan toegeskryf word aan die feit dat die bande wat Afrikane aan hul etniese groepe bind, verband hou met ’n komplekse web van sosiale verhoudinge wat mense se regte en verantwoordelikhede definieer en hulle in moeilike tye beskerm. Ten spyte van die skerp hiërargiese aard van etniese sosiale stelsels, bied etniese groepe steeds vertrouensverhoudings van solidariteit en ondersteuning waarop mense kan staatmaak.

Berman e.a. (2004:317) kom tot die gevolgtrekking dat ’n soeke na oplossings vir Afrika moet begin by die erkenning en aanvaarding van etniese en kultuurgroepe as ’n hedendaagse sosiale en politieke realiteit – ’n realiteit wat nie sonder meer as gevolg van modernisering of deur middel van nasieboustrategieë uit die weg geruim kan word nie. Volgens Dersso (2008:585) dui die beperkte sukses van nasiebou verder daarop dat Afrikaregerings moet wegbeweeg van unitêre regeringsvorme en ’n eksklusiewe fokus op individuele regte. Transformasie na multinasionale en/of multikulturele state waarin stelsels van gedifferensieerde groepregte en diep diversiteit toegepas word, behoort eerder oorweeg te word. Sodoende kan meganismes daargestel word om voorsiening te maak vir die erkenning en insluiting van die belange en identiteite van verskillende groepe. Aandag moet veral gegee word aan meganismes om groter selfbeskikking aan groepe te gee wat daarvoor gereed is sonder dat algehele afskeiding nodig is. Die erkenning van die reg op kultuur is ook belangrik. Minderhede behoort die reg te hê om hul eie taal en kultuur te beoefen en die reg om hul kinders in hul moedertaal te onderrig. Dit impliseer dat positiewe stappe deur die staat gedoen moet word om hierdie regte te verseker – stappe wat meestal die implementering van die een of ander vorm van groepregte behels.

8. Nasiebou in Suid-Afrika

Sedert 1994 het Suid-Afrika in ’n groot mate ’n soortgelyke pad as die res van Afrika geloop (Alexander 2008:1–2). Suid-Afrika verskil egter in dié sin van ander Afrikalande dat etniese en rasseverdeeldheid nie soseer aan kolonisering of elitemanipulering toegeskryf word nie, maar eerder aan manipulering gedurende die apartheidsera (Ramsamy 2007:468).

Net soos in die grondwette van baie ander Afrikalande, word die eenheid van die staat ook in die aanhef van die nuwe Grondwet van 1996 beklemtoon (sien inleiding). Die aanhef stel dit verder dat een van die belangrikste doelstellings met die Grondwet is om “?n verenigde en demokratiese Suid-Afrika te bou wat sy regmatige plek as ’n soewereine staat in die gemeenskap van nasies kan inneem” (Grondwet van Suid-Afrika 1996).

In ooreenstemming met ander burgerlike eenheidstate bevat ons grondwet ook ?n handves van regte wat die regte van burgers van die staat omskryf (Grondwet van Suid-Afrika 1996). Verskeie van hierdie regte hou met lidmaatskap van groepe verband, soos die reg op vryheid van godsdiens, oortuiging en mening (artikel 15); die vryheid van assosiasie (artikel 18); die reg op taal en kultuur (artikel 30); asook die reg om aan kultuur-, godsdiens- en taalgemeenskappe te behoort (artikel 31). In ooreenstemming met die liberale tradisie word hierdie regte egter aan individue, en nie aan groepe nie, toegeken. In wese behels hierdie bepalings die erkenning van privaat etnisiteit, maar hierdie erkenning word tot die private sfeer van die individu beperk. Die feit dat groepsidentiteit hoofsaaklik in die sosiale en politieke sfere in interaksie met ander gevorm word, word derhalwe grootliks genegeer (sien afdeling 2).

Soos in die inleiding genoem, het die nuwe Suid-Afrikaanse regering – in navolging van die res van Afrika – ook die nasieboumodel aangegryp in ’n strewe om die verdeeldheid van apartheid te oorkom en ’n verenigde en harmonieuse nasie en ’n gepaardgaande oorkoepelende Suid-Afrikaanse identiteit as ‘t ware uit die niet te skep (Eaton 2002:48). In die lig van die intense verdeeldheid en diskriminasie van die apartheidsera is die strewe na nasionale eenheid nie alleenlik as noodsaaklik en wenslik beskou nie, maar het dit ook die aansien van die morele hoë grond verkry (Boyze 1999:230). Die nasieboudiskoers in Suid-Afrika was en is egter nog steeds in baie opsigte verwarrend en dit is nie altyd maklik om te verstaan wat die nuwe regering met “nasiebou” bedoel nie. Ramsamy (2007:469) skryf hierdie verwarring toe aan die feit dat die ANC-regering verskillende sienings oor nasiebou weerspieël. Hierdie sienings hou op hulle beurt weer verskillende implikasies vir die Suid-Afrikaanse samelewing in.

Nasiebou word in die openbare sfeer veral verbind met die metafoor van die reënboognasie wat deur aartsbiskop Desmond Tutu gewild gemaak is (Ramsamy 2007:472). Die populêre siening van die reënboogmetafoor is dat die verskillende kleure die diversiteit van groepe van Suid-Afrika verteenwoordig wat in ’n harmonieuse eenheid saamgesnoer word. Die gewildheid van die reënboogmetafoor het klaarblyklik ook tot ongekende geesdrif vir die nuwe staat en nasie aan die beginjare van die nuwe bedeling gelei. Die nuwe nasionale simbole – en veral die kleurryke nuwe vlag – is op T-hemde, pette, koffiebekers en selfs pleisters gedruk en op straat, by sportbyeenkomste en openbare geleenthede ten toon gestel. Die oorwoë indruk was dat die “eënboogmense” – soos Suid-Afrikaners wyd bekend geword het – trots was op hul land en nasie en dat die bou van ’n verenigde nasie besig was om met rasse skrede vooruit te gaan (Møller, Dickow en Harris 1999:247–8).

Ramsamy (2007:471) wys egter daarop dat nasiebou in die binnekringe van die ANC-regering eerder met die ideologie van nierassigheid verband hou. Die klem val deurgaans op die totstandkoming van ’n nuwe nasie met 'n eenvormige en gemeenskaplike Suid-Afrikaanse identiteit. Hierdie ideaal is in 1964 soos volg deur Nelson Mandela tydens die Rivonia-verhoor verwoord:

I have fought against white domination, and I have fought against black domination. I have cherished the ideal of a democratic and free society in which all persons live together in harmony and with equal opportunities. It is an ideal which I hope to live for and achieve. But if needs be, it is an ideal for which I am prepared to die. (Mandela 1964)

Op die amptelike webwerf van die ANC word dit verder gestel dat een van die belangrikste oogmerke van die ANC die “creation of a united, non-racial, non-sexist and democratic society” is (ANC s.j.). Volgens die ideologie van nierassigheid word alle vorme van etniese of rassebewustheid as oorblyfsels van die apartheidstelsel beskou. In ooreenstemming met die liberale denke word wel erken dat kulturele, etniese of rasse-identiteite ’n rol in die persoonlike lewens van individue kan speel, maar daar word geglo dat hulle geen plek en rol in die sosiale en politieke lewe van die nasie het nie. In navolging van die nasiebou-ideologie word verder geglo dat etniese en rasse-identiteite met ’n oorkoepelende nasionale identiteit vervang behoort te word. Daar word verder van die aanname uitgegaan dat alle Suid-Afrikaners deur ’n gemeenskaplike lotsbestemming, gemeenskaplike historiese ervarings, asook gemeenskaplike ideale verenig word. Hierdie ideologie hou verder nou verband met die ideaal om ook in Suid-Afrika ’n eenheidstaat te vestig waar alle burgers individuele regte geniet. Daar word geglo dat lojaliteit teenoor etniese en rassegroepe deur die identifisering met ’n inklusiewe Suid-Afrikaanse nasie vervang moet word, terwyl die meerderheid burgers se eerste lojaliteit by die Suid-Afrikaanse staat lê. Hierdie ideaal word waarskynlik die beste vergestalt in die woorde van Nelson Mandela: “We have no Whites; we have no Blacks. We only have South Africans” (aangehaal uit Ramsamy 2007:471).

Volgens Ramsamy (2007:471) was die ideologie van nierassigheid die dominante etos gedurende die oorgangsperiode en het dit waarskynlik nog steeds ’n verreikende invloed op beleid op feitlik alle terreine van die samelewing. Alhoewel reënbogisme ’n erkenning van die realiteit van kultuur-, etniese en rassegroepe impliseer, behels dit eerder ’n kompromie tussen die ideologie van nierassigheid en pogings om die toenemende politisering van etniese en rassegroepe in die nuwe bedeling te hanteer. In teenstelling met die volslae verwerping van die idee van die (voort)bestaan van groepe in die demokratiese bedeling soos in die ideologie van nierassigheid voorgehou word, impliseer die reënboogideologie dat kultuur-, etniese en rassegroepe as boustene van ’n verenigde Suid-Afrikaanse identiteit beskou word.

Alhoewel reënbogisme die bestaan van groepe erken, het die oorheersing van die ideologie van nierassigheid binne ANC-geledere tot gevolg dat dit min daadwerklike implikasies vir die erkenning van die aspirasies en behoeftes van groepe het (Blaser 2004:149–80; Bornman 2013:63–4). Die erkenning wat in die handves van regte aan die bestaan van groepe gegee word, impliseer dat slegs privaat etnisiteit erken word – dit terwyl 'n kulturele kenmerk, soos taal, by uitstek 'n kommunikasiemedium vir sosiale interaksie verteenwoordig, en ook as 'n belangrike simbool van groepsidentiteit dien (Giles 1977:25). Volgens Naudé (2010) behels die erkenning van die bestaan van kultuur-, etniese en rassegroepe in die reënboogmetafoor ook geensins dat mag en finansiële hulpbronne na groepe afgewentel word nie. So vind etniese en kultuurgroepe dit moeilik om hul taal- en kulturele belange te beskerm, aangesien geen erkenning aan groepregte gegee word nie. Die oorhoofse klem val nog steeds op eenheid en die ontwikkeling van ’n oorkoepelende nasionale identiteit.

Die strewe na eenheid word verder in ’n hoogs gesentraliseerde regering weerspieël (Simeon en Murray 2004:277). Die Grondwet van Suid-Afrika maak byvoorbeeld nie voorsiening vir ’n federale stelsel nie, alhoewel artikel 40 dit stel dat die regering uit nasionale, provinsiale en plaaslike vlakke van regering saamgestel word. Die oorheersende perspektief bly egter die siening van Suid-Afrika as ’n enkele unitêre stelsel. Terwyl federalisme dikwels in heterogene state geïmplementeer word om groter selfbeskikking aan etniese groepe te verleen, is die verdeling in nege provinsies in Suid-Afrika nie gedoen om etnisiteit te institusionaliseer nie. Volgens Simeon en Murray (2004:296–7) het die stelsel van meervlakkige regering wel in ’n mate in die Wes-Kaap en in KwaZulu-Natal groter selfbeskikking aan groepe verleen. Die meeste provinsiale regerings funksioneer egter bloot as administratiewe en uitvoerende verlengstukke van die sentrale regering.

Verskeie ontleders identifiseer ’n belangrike verandering – ’n Afrikanistiese verskuiwing – in die nasieboudiskoers sedert die Mbeki-era (Blaser 2004:179–98; Bornman 2013:64–5). Hierdie verskuiwing word vergestalt in die volgende uitspraak van Mbeki (ANC 1997:44):

But it is critical that the overarching identity of being South African is promoted among all those who are indeed South Africans, as part of a process of building an African nation on the southern tip of the continent. The affirmation of our Africanness as a nation is recognition of a geographic reality and the awakening of a consciousness which colonialism suppressed.

Hierdie verskuiwing word ook vergestalt in konsepte soos die “Afrika-renaissance” en die “Afrika-eeu” en in die woorde van die volkslied, “Nkosi sikelel’ iAfrika (God seën Afrika).

Blaser (2004:179–89) beskou hierdie wending nie werklik as iets nuuts nie, aangesien ’n sterk Pan-Afrikanistiese stroming in feitlik alle postkoloniale bedelings in Afrika bespeur kan word. Die nuwe politieke bedeling in Suid-Afrika kan in werklikheid as die finale triomf van Pan-Afrikanisme beskou word. Afrikanisme het egter die teenstellende tendense in die nasieboudiskoers verdiep. Die nasie word nie langer as kultureel neutraal gedefinieer nie, maar volgens die Afrikaïese kultuur van die meerderheid. Die doel van nasiebou word nou die ontwikkeling van ’n verenigde nasie met ’n oorkoepelende Afrikaïese identiteit wat die primêre identiteit van alle Suid-Afrikaners moet word. Afrikanisme het ook in die omvorming van die simboliese landskap beslag gekry. Dit word nie alleen in die nuwe nasionale simbole, soos die volkslied en die landswapen, weerspieël nie, maar ook in nuwe simboliese ruimtes en monumente. So herinner die voorkoms van Vryheidspark in Pretoria sterk aan ’n ander belangrike simbool van Pan-Afrikanisme, die Zimbabwe-ruïnes (Labuschagne 2010:120–1).

Nasiebou in Suid-Afrika word egter vanuit verskeie oorde skerp gekritiseer. Dit is veral die taalbeleid van die regering wat onder skoot kom. Alhoewel die Grondwet van 1996, 11 amptelike tale erken, het die koloniale taal Engels – soos in baie ander postkoloniale bedelings in Afrika – die taal van nasionale eenheid geword (Venter 1998:22–39). Alexander (2008:3) spreek hom veral sterk uit teen die laissez faire-hantering van taalsake deur die huidige regering wat tot die oorheersing van Engels bydra, terwyl inheemse tale in baie opsigte die kreeftegang gaan. Die filosoof Johan Degenaar het egter reeds in 1994 geskryf dat die term nasiebou nie eens in ’n heterogene en diverse land soos Suid-Afrika genoem behoort te word nie (Degenaar 1994:23–30). In plaas daarvan om nasiebehou te propageer, behoort diversiteit volgens Degenaar erkenning en respek te geniet. Diskoerse oor nasiebou dien slegs om die aandag af te lei van die moeilike taak om ’n demokratiese kultuur in ’n diep verdeelde samelewing te vestig. Boyze (1999:232) voer verder aan dat die nasiebouprojek in Suid-Afrika in wese ’n projek van die politieke elite is, waarby min mense op grondvlak werklik aanklank vind. Blaser (2004:189) wys ook daarop dat die Afrikanistiese wending in die nasieboudiskoers in werklikheid die afdwing van kulturele hegemonie in ’n multikulturele werklikheid impliseer.

Verskeie ontwikkelings dui daarop dat die "nuwe" Suid-Afrika nie veel van die res van Afrika en ander heterogene samelewings verskil nie. Die nuwe politieke elite het hulle waarskynlik ook misgis met die vermoë van etnisiteit om voort te bestaan en selfs sterker te word ten spyte van gelykmakingstrategieë wat met nasiebou verband hou (Boyze 1999:233). Navorsing toon byvoorbeeld dat die aanbreek van ’n demokratiese politieke bedeling, asook ’n sterk klem op nasiebou, nie daartoe gelei het dat etniese en kultuurgroepe in Suid-Afrika verdwyn het nie (Bornman 2013:79). Inteendeel, in die geval van byvoorbeeld Afrikaners het die teenoorgestelde eerder geblyk. Dit wil voorkom of Afrikaners nou selfs sterker met hul etniese groep identifiseer (Bornman 2010:251).

Daar is ook toenemend tekens dat die eenheid wat in die nasiebouprojek nagestreef word, inderdaad ’n eliteprojek is eerder as iets wat tot alle Suid-Afrikaners in alle groepe spreek (Boyze 1999:232). Dit blyk veral uit die polemiek wat losgebars het nadat die Afrikaanse sanger Steve Hofmeyr “Die Stem” by ’n kunstefees gesing en 45 000 lede van die gehoor lustig saamgesing het. Terwyl sommige ontleders en Afrikaanse kultuurinstansies, soos die Federasie vir Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), pleit vir die herlewing van die voormalige volkslied en erkenning van “Die Stem” as ’n kultuursimbool naas die huidige nasionale simbole, is die Economic Freedom Fighters (EFF) van mening dat alle dele van “Die Stem” uit die huidige nasionale volkslied geskrap moet word (Schreiber 2014). Volgens Schreiber dui albei hierdie standpunte – hoe teenstellend hulle ook al mag lyk – op 'n diep ontnugtering met inklusiewe nasiebou en 'n gevoel dat versoening misluk het. Schreiber skryf albei hierdie standpunte toe aan “nasionalistiese radikalisering” aan albei kante van die politieke spektrum, en volgens hom hou dit 'n ernstige bedreiging vir ’n inklusiewe toekoms vir almal in 'n demokratiese Suid-Afrika in.

Die volgehoue voortbestaan van etniese en ander verdelings in 'n demokratiese Suid-Afrika is egter reeds in 1991 deur Donald Horowitz (1991:85–6), een van die wêreldkenners van etnisiteit, voorspel. Horowitz waarsku teen die ideologie van nierassigheid as grondbeginsel in die bestuur van die Suid-Afrikaanse samelewing. Alhoewel hy begrip toon vir die beklemtoning van nierassigheid as ’n reaksie teen apartheid, voorspel hy dat die Suid-Afrikaanse samelewing in die nuwe bedeling heterogeen en diep verdeeld sal bly. Hy grond hierdie siening op die geskiedenis van ander Afrikalande en lande in Asië. Gedurende die koloniale bestel is etnisiteit en etniese verskille dikwels onderbeklemtoon, omdat die klem op die stryd teen die koloniale mag gerig was. Ná onafhanklikheid het etniese en kultuurgroeperinge nie alleen bly voortbestaan nie, maar het etniese bewustheid dikwels in die meer gelyke demokratiese omgewing opgevlam en sterker geword.

Dit is waarskynlik so dat die "probleem" van nasionale eenheid in Suid-Afrika nie toegeskryf kan word aan radikale nasionalisme en/of die onwilligheid van minderhede om by die meerderheid in te val nie. Dit is eerder die geval dat groepe en minderhede nie voldoende beskerm word nie, en die feit dat daar nie gelyke geleenthede vir almal is om hul aspirasies as beide individue en as groepe te vervul nie.

9. Gevolgtrekking

Uit die inhoud van hierdie artikel kan die gevolgtrekking gemaak word dat daar in die res van die wêreld ’n gesofistikeerde debat oor groepregte gevoer word. Die meeste kenners is dit ook eens dat die toekenning van groepregte ’n onontbeerlike uitbreiding van die liberale tradisie in die snel veranderende globale omgewing geword het, waarin ál meer state worstel met die probleme verbonde aan heterogene en diep verdeelde samelewings. Uit die uitsprake van Dlamini-Zuma en Jacob Zuma blyk dit egter dat denke oor hierdie saak onder Suid-Afrikaanse leiers nog uiters oppervlakkig en simplisties is. Dit wil ook voorkom asof hulle nie enigsins tred hou met die aard van gebeure wat daagliks in Afrika en Suid-Afrika afspeel nie. Die argeloosheid van uitsprake herinner eerder aan ’n volstruistaktiek wat weier om die werklikheid in die oë te kyk. Net soos baie ander Afrikaleiers bly hulle hardnekkig vasklou aan idees oor nasiebou in ’n unitêre eenheidstaat. Die vraag kan tereg gevra word wat nog meer moet gebeur alvorens Suid-Afrikaanse en Afrikaleiers met alle erns sal begin soek na alternatiewe modelle om die behoeftes en aspirasies van diverse groepe te akkommodeer.

Die goeie nuus is dat die moeilike grondwerk reeds in heterogene state in ander dele van die wêreld gedoen is. Alternatiewe modelle – waarvan dié van Kymlicka waarskynlik die bekendste is – bestaan reeds. Daar word ook steeds indringend oor hierdie modelle gedebatteer ten einde die akkommodasie van diversiteit te verfyn om vir diep diversiteit – dit wil sê vir samelewings waar ’n wye spektrum groepe met verskillende behoeftes en omstandighede teenwoordig is – voorsiening te maak. Kanada en Switserland is maar enkele voorbeelde van suksesvolle state wat verskillende maatreëls implementeer om ’n verskeidenheid groepe te akkommodeer. ’n Belangrike stap om denke in Afrika te verander is waarskynlik om eerstens ’n meer genuanseerde diskoers aan die gang te kry as dié wat gewoonlik op berade oor nasionale eenheid gevoer word.

Ongelukkig word so ’n debat in Suid-Afrika nog steeds deur die apartheidsgeskiedenis gekortwiek en word gesprekke in hierdie verband dikwels as ondersteuning vir apartheid of as nieu-apartheid afgemaak. Kymlicka (2009:385) waarsku egter dat daar nie toegelaat moet word dat gesprekke oor diversiteit gesmoor word deur mites van ’n postetniese staat wat die inherente heterogeniteit en die samelewing en die behoeftes en aspirasies van groepe ignoreer nie. In Suid-Afrika – asook in die res van Afrika – het so ’n gesprek krities noodsaaklik geword. Hierdie noodsaak word soos volg deur Breyten Breytenbach (2009) verwoord:

Dit beteken dat gesprekke, aangevuur deur ’n morele en praktiese verbeeldingsvermoë, rondom die noodsaak van ’n opnuut geformuleerde Suid-Afrika – gegrond in ’n bestel van funksionerende federale deelstate, met dieselfde regte en moontlikhede vir almal – op alle vlakke aan die orde van die dag moet kom. (So nié, is dit nag.)


Bibliografie

ANC (African National Congress). 1997. All power to the people! Building on the foundation for a better life. http:/www.anc.org.za/ancdocs/discussion/strat97.html (20 Mei 2005 geraadpleeg).

—. s.j. Aims and objectives. http://www.anc.org.za/show.php?id=172# (14 Julie 2014 geraadpleeg).

Alexander, N. 2001. The state of nation-building in the new South Africa. Pretexts: Literary and Cultural Studies, 10(1):83–91.

—. 2008. An African renaissance without African languages? Social Dynamics: A Journal of African Studies, 25(1):1–12.

Austin, W.G. en S. Worchell (reds.). 1997. The social psychology of intergroup relations. Monterey: Brooks/Cole Publishing Company.

Bell, C. 2007. “Liberal multiculturalism” and the limits of international law. Ethnopolitics, 6(4):599–602.

Berger, P.L., B. Berger en H. Kellner. 1981. The homeless mind. Middlesex: Penguin.

Berman, B., D. Eyoh en W. Kymlicka (reds.). 2004. Ethnicity and democracy in Africa. Oxford: James Currey.

Berry, J.W. 2011/2012. Intercultural relations in plural societies: Research derived from Canadian multiculturalism policy. Canadian Ethnic Studies, 43/44(3/1):5–18.

Blaser, T. 2004. A new South African imagery: Nation-building and Afrikaners in post-apartheid South Africa. South African Historical Journal, 51:179–98.

Bornman, E. 2010. Emerging patterns of social identification in post-apartheid South Africa. Journal of Social Issues, 66(2):237–54.

—. 2013. The rainbow nation versus the colours of the rainbow: Nation-building and group identification in post-apartheid South Africa. In Wolhuter (red.) 2013.

Boyze, B.P. Nation-building discourse in a democracy. In Palmberg (red.) 1999.

Brewer, M.B. 2007. The importance of being we: Human nature and intergroup relations. American Psychologist, November, ble. 728−39.

Breytenbach, B. 2009. Die reënboog is ’n spieël aan skerwe. Rapport, 5 Desember. http://www.rapport.co.za/Weekliks/Nuus/Die-reenboog-is-n-spieel-aan-skerwe-20091205 (10 Februarie 2014 geraadpleeg).

Brock, G. 2005. Can Kymlicka help us mediate cultural claims? International Journal on Minority and Group Rights, 12:269–96.

Capotorti, F. 1991. Study on the rights of persons belonging to ethnic, religious and linguistic minorities. Geneva: Centre for Human Rights, United Nations.

Carens, J.H. 1997. Liberalism and culture. Constellations,4(1):35–47.

Cassatella, A. 2006. Multicultural justice: Will Kymlicka and cultural recognition. Ratio Juris,19(1):80–100.

Claude, I. 1995. National minorities: An international problem. Cambridge: Harvard University Press.

Degenaar, J. 1994. Beware of nation-building discourse. In Rhoodie en Liebenberg (reds.) 1994.

Deng, T.M. 1997. Ethnicity – an African predicament. The Brookings Review, 28:28.

Dersso, S.A. 2008. Constitutional accommodation of ethno-cultural diversity in the post-colonial African state. South African Journal on Human Rights, 24(3):565–92.

Eaton, L. 2002. South African national identity: A research agenda for social psychologists. South African Journal of Psychology, 32:45–53.

Ejobowah, J.B. 2004. Liberal multiculturalism and the problems of institutional instability. In Berman e.a. (reds.) 2004.

Fanon, F. 1961. The wretched of the earth. New York: Grove Weidenfeld.

Geldenhuys, D. en D. Kriek. s.j. Die staatkundige akkommodasie van nasionale minderhede: ’n Voorstel vir kulturele outonomie in Suid-Afrika. http://www.fak.org.za/wp-content/uploads/2014/02/Kulturele-outonomie_1CN.pdf?f49404 (17 Julie 2014 geraadpleeg).

Glazer, N. 1983. Ethnic dilemmas: 1964–1982. Cambridge: Harvard University Press.

Grondwet van Suid-Afrika. 1996. http://www.constitutionnet.org/files/AFRIKAAN.PDF (25 Oktober 2013 geraadpleeg).

Guiraudon, G. 2007. Multicultural odysseus: The role of international institutions and legal norms. Ethnopolitics, 6(4):603–6.

Gurr, T.R. 2005. Minorities at risk: A global view of ethnopolitical conflicts. Washington: United States Institute of Peace Press.

Horowitz, D.L. 1985. Ethnic groups in conflict. Berkeley: University of California Press.

—. 1991. A democratic South Africa? Constitutional engineering in a divided society. Berkeley: University of California Press.

Joppke, C. 1996. Multiculturalism and immigration: A comparison of the United States, Germany, and Great Britain. Theory and Society, 25(4):449–500.

Keating, M. 2007. Identifying the nation. Ethnopolitics, 6(4):607–11.

Knight, C. 2004. Liberal multiculturalism reconsidered. Politics,24(3):189–97.

Kymlicka, W. 1995. Multicultural citizenship: A liberal theory of minority rights. Oxford: Clarendon.

?. 2003. Multicultural states and intercultural citizens. Theory and Research in Education, 1(2):147–69.

?. 2007a. National cultural autonomy and international minority rights norms. Ethnopolitics, 6(3):379?93.

?. 2007b. Liberal multiculturalism and minority rights: A reply to Bell, Guiraudon, Keating and Schmidtke. Ethnopolitics, 6(4):619–23.

—. 2007c. Multicultural odysseus. Ethnopolitics, 6(4):585–97.

?. 2009. Categorizing groups, categorizing states: Theorizing minority rights in a world of deep diversity. Ethics & International Affairs, 23(4):371–88.

Labuschagne, P. 2010. Monument(al) meaning making in the "new" South Africa: Freedom Park as a symbol of a new identity and freedom? South African Journal of Art History, 25(2):112–24.

Le Cordeur, M. 2012. Die beraad oor nasionale samehorigheid. Nuusbrief van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, 50(2):11–2.

Mandela, N. 1964. I am prepared to die. Nelson Mandela’s statement from dock at the opening of the defence case in the Rivonia Trial in the Pretoria Supreme Court on 30 April 1964. http://www.anc.org.za/show.php?id=34300 (7 Desember 2011 geraadpleeg).

Møller, V., H. Dickow en M. Harris. 1999. South Africs’s “Rainbow people”, national pride and happiness. Social Indicators Research, 47:245–80.

Moyo, T. 2003. Language loss and language decay of Malawi’s indigenous languages. South African Linguistics and Applied Language Studies, 21(3):127–39.

Naudé, C.-P. 2010. Wat nou met nasiebou? http://www.beeld.com/Rubrieke/Gasrubriekskrywers/wat-nu-met-nasiebou-20100406 (30 Junie 2010 geraadpleeg; nie meer beskikbaar nie).

O'Connor, M. 2014. JZ, by wyse van spreke. Beeld, 6 Januarie, bl. 11.

Palmberg, M. (red.). 1999. National identity and democracy in Africa. Pretoria: Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing van Suid-Afrika (RGN), die Mayibuye-sentrum van die Universiteit van die Wes-Kaap en die Nordiese Afrika-instituut.

Piper, L. 2012. Do I need ethnic culture to be free? A critique of Will Kymlicka’s liberal nationalism. South African Journal of Philosophy, 21(3):180–9.

Poppe, I. 1995. Rechtsociologisch en juridisch pluralisme: De rechten van culturele minderheidsgroepen. Tijdschrift voor Sociale Wetenschappen, 40(3):241–67.

Raad van Europa. 1995. Framework convention for the protection of national minorities. http://www.coe.int/t/dghl/monitoring/minorities/1_AtGlance/PDF_H(95)10_FCNM_ExplanReport_en.pdf (17 Julie 2014 geraadpleeg).

Ramsamy, E. 2007. Between non-racialism and multiculturalism: Indian identity and nation-building in South Africa. Tijdschrift voor Economische en Sociale Geografie, 98(4):468–80.

Rawls, J. 1993. Political liberalism. New York: Columbia University Press.

Reidel, L. 2010. What are cultural rights? Protecting groups with individual rights. Journal of Human Rights, 9:65–80.

Rhoodie, N. en I. Liebenberg(reds.). 1994. Democratic nation-building in South Africa. Pretoria: RGN.

Schmidtke, O. 2007. Bound by national categories? The promises and limitations of Kymlicka’s Multicultural Odysseus. Ethnopolitics, 6(4):613–7.

Schreiber, L. 2014. Linkses en regses saam in 'n kamp. http://www.beeld.com/opinie/2014-07-17-linkses-en-regses-saam-in-n-kamp (29 Julie 2014 geraadpleeg).

Simeon, R. en C. Murray. 2004. Multi-level governance in South Africa. In Berman e.a. (reds.) 2004.

Simpson, M. 1994. The experience of nation-building: Some lessons for South Africa. Journal of Southern African Studies, 20(3):463–74.

Singh, M. 1997. Identity in the making. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Wysbegeerte, 16(3):120–3.

Stjernvelt, F. 2012. Liberal multiculturalism as political philosophy: Will Kymlicka. The Monist, 95(1):49–71.

Tagore, R. 1902. The message of Indian history. Visva-Bharati Quarterly, 22:110.

Tajfel, H. en J. Turner. 1979. An integrative theory of intergroup conflict. In Austin en Worchel (reds.) 1997.

Taylor, C. 1991. The ethics of authenticity. Cambridge: Harvard University Press.

—. 1992. Multiculturalism and the politics of recognition. Princeton: Princeton University Press.

UNESCO. s.j. The Hague recommendations regarding the educational rights of national minorities. http://www.unesco.org/most/ln2pol6.htm (25 Julie 2014 geraadpleeg).

Venter, D. 1998. Silencing Babel? Language preference in voluntary associations – evidence from multi-cultural congregations. Society in Transition, 29(1-2):22–39.

Verenigde Nasies. 1992. Declaration on the rights of persons belonging to national or ethnic, religious and linguistic minorities. http://www.un.org/documents/ga/res/47/a47r135.htm (22 Julie 2014 geraadpleeg).

—. s.j. International covenant on civil and political rights. http://www.hrweb.org/legal/cpr.html (18 Julie 2014 geraadpleeg).

Whitehead, E. 2013. Stig dit af, stig dit af. By, 7 Desember, bl. 4.

Young, I.M. 1997. A multicultural continuum: A critique of Will Kymlicka’s ethnic-nation dichotomy. Constellations, 4(1):48–53.

Zimmermann-Steinhart, P. en Y. Bekele. 2012. The implications of federalism and decentralisation on socio-economics in Ethiopia. Potchefstroomse Elektroniese Regsblad,15(2). http://www.scielo.org.za/scielo.php?pid=S1727-37812012000200006&script=sci_arttext (21 Augustus 2014 geraadpleeg).



 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top