'n Volk se ontwaking?

  • 2

Foto: Huffington Post

Gay-regte is die afgelope tyd weer in die nuus met die vergrootglas wat op pres Putin se planne vir verdrukkende Russiese wetgewing met die Olimpiese Spele in Sochi was, maar ook met pres Museveni wat drakoniese antigay-wetgewing in Uganda geteken het. Laurie Gaum kyk na die verband tussen, en ontwikkeling van, regte in die Suid-Afrikaanse konteks.

Wit Afrikaners is die afgelope 20 jaar op ’n “crash course” gesit oor geregtigheid. Ons moes vinnig leer om aan te pas in die Suid-Afrika wat rondom ons aan die gebeur was. Sommige het vinniger geleer as ander. Hulle oë het geskok oopgegaan dat hulle aan die verkeerde kant van die apartheidskonflik gestaan het. Die meeste is gekonfronteer met die disinformasie waarmee hulle gevoed is en ’n mens moes, soos die wêreld om ons aan die oopgaan was, met die ongemak van jou disposisie leer saamleef.

Met die Mandela-begrafnis het jy dit weer gevoel. As Afrikaner is jy beslis déél van dié storie. Die storie sou nie sonder die Afrikaner geskryf kon word nie – maar as die antagonis in die verhaal. Terwyl die wêreld se oë met die begrafnis op ons was, moes ek weer met hierdie muishond-gevoel in myself worstel en iets sinvols daarmee doen.

En dis dan die belangrike kwessie: om eerstens hierdie ongemak te erken en die spanning daarrondom te ervaar en dan ’n sinvolle reaksie daarop te vind.

Tog het baie van ons nie heeltemal gesnap wat met die val van apartheid gebeur het nie. Natuurlik was dit gegrond op ’n onderhandelde skikking en afhanklik van die insig en visie van leiers soos FW de Klerk en ander wat besef het hulle moet mag prysgee. Somtyds word nog vergeet dat die apartheidstelsel op die morele bankrotskap van onreg, ongelykheid en uitsluiting gegrond was.

Foto: Press TV

Dit het geweld gekos om hierdie onreg in stand te hou. Hier kry ons nie altyd die kloutjie by die oor nie. As jy as die morele verloorder uit die stryd tree, wat nou? Jou selfbeeld en -verstaan het ’n knou gekry. Aan die een kant sou jy in skuld kon verval, maar dit kan ’n emosie wees wat jou gevange en onaktief hou. Indien dit jou egter met energie vul om tot aksie oor te gaan, kan dit ’n positiewe emosie wees.

Die gewaarwording dat jy aan die verkeerde kant van ’n konflik staan, behoort mens tot introspeksie te lei. Van die fantastiese waardes van die Afrikaner het nog altyd gasvryheid en openheid ingesluit sowel as eenvoud en verbondenheid aan die Afrika-grond en die aardse. Maar waar het dinge skeefgeloop dat hierdie gasvryheid en openheid eksklusief op ons eie (wit) volk gerig was en nie die inheemse mense van die kontinent kon insluit nie? Van die antwoorde hierop moet natuurlik histories gesoek word, maar tog het ons as volk op ’n stadium vasgesteek en is ons vasgehou deur vrees. Waar het ons rassisme die oorhand gekry sodat ons so uiters diskriminerend was?

Ons moes op die harde manier leer dat ons onsself op ’n stadium verkeerdelik met die volk van God verwar het. ’n Onverantwoordelike lees en interpretasie van die Bybel lê onder meer aan die wortel van laasgenoemde. En dan volg die ongemaklike vraag: Indien ’n mens die Bybel op hierdie belangrike punt kon misverstaan, op watter ander punte is daar verdere misverstand? ’n Ongemaklike vraag wanneer jy onsekerheid as gevolg van snelle verandering om jou ervaar en eerder na vaste (Bybelse) sekerhede gryp. Maar ook ’n vraag waarby van die antwoorde vir die NG Kerk se verlies aan lidmate die afgelope jare lê.

Teen die laat tagtigs van die vorige eeu het ons reeds die Bybel begin anders lees oor die posisie van vroue, nie net wat die kerk betref nie, maar ook die samelewing. Eers is vroue as diakens in die NG Kerk toegelaat en toe (in 1990) as ouderlinge en selfs dominees. Terselfdertyd kom die hele apartheidsding wat die matjie behoorlik onder ’n mens se self- en Godsverstaan uitruk.

En dan wil die gay-ding deesdae ook nie gaan lê nie. Eers het ons gedink dis omdat “hulle” deesdae net so in your face is, maar nou torring “hulle” verder aan ons Bybel, waar dit tog swart op wit staan dat dit ’n abomination is.“Hulle” demand om dieselfde pad as vroue as diakens en ouderlinge en uiteindelik dominees te stap …

Kan dit wees dat ons die Bybel ook hiér verkeerd verstaan het?

Baie dinge het darem in 20 jaar verander! Dit was boonop skielike verandering. Waar die Amerikaners nou skaars by dieselfde-geslag-huwelike uitkom, het Suid-Afrika sommer oornag ’n progressiewe grondwet gekry wat diskriminasie ook op grond van seksuele oriëntasie verbied.

Ons het ’n amper wrede wake-up call oor geregtigheid gekry. Ons het hopelik in die proses geleer oor die “soomloosheid” van geregtigheid. Een stryd om geregtigheid is verbind aan die ander; hulle is onverdeelbaar. Omdat wit Afrikaners geleer het dat hulle in hulle vroomheid dinge verkeerd kon hê deur die Bybel fundamentalisties te lees, kan hulle oë begin oopgaan om onreg in soortgelyke situasies raak te sien en daarteen op te staan.

Wit Afrikaners is in die besonder sensitief gemaak vir geregtigheid omdat hulle op die moeilike manier moes uitvind dat hulle vir lank aan die verkeerde kant daarvan gestaan het. Dis dié dat jy mense die land oor vind wat hulself aktief beywer vir geregtigheid op vele terreine. Hierdie nuwe disposisie wat al deur baie omhels is, behoort ons sensitief te maak vir ander kwessies wat roep om geregtigheid. Watch this space vir ’n volk se ontwaking – mense wat hulself nie meer apart hoef te definieer nie, maar inhaak by die stryd om regverdigheid en menswaardigheid vir almal.

  • 2

Kommentaar

  • Ralph Barnard

    Die soort "evangelie" wat verkondig is ('n kaartjie hemel toe) het veroorsaak dat  Afrikaanses nie 'n sosiale gewete ontwikkel het voor die teologiese vernuwing sedert die 1980's nie. In die gereformeerde geledere word nog gesukkel om konsekwent eties vernuwend te dink. 
    Puik artikel, Laurie!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top