'n Vlieg

  • 3

'n Vlieg is natuurlik 'n baie lastige ding, veral as jy op 'n Sondagmiddag bietjie op die bed wil gaan lê en indut. Gou is daar 'n vlieg by wat op jou kaal been gaan sit. Dit irriteer jou en jy jaag hom weg, maar hy vlieg net 'n kort draai voor hy weer kom sit. 

Nou goed, gooi dan maar 'n babakombersie oor jou bene. Dit help nie, want die vlieg se aandag verskuif nou na jou gesig, en dit is nou wraggies éérs hinderlik. Gelukkig het ek 'n blikkie Doom wat ek by die kerk gekoop het vir die verdrywing van bose geeste. En 'n vlieg is mos so 'n bose gees, as daar dan bose geeste is. 

So lê ek een middag met my wapen in my hand en wag. Toe die vlieg sy verskyning maak spuit ek en hy val neer. Ek kon toe darem indut, maar toe ek later opstaan sien ek daar lê 'n tweede vlieg dood. Seker dood aan 'n gebroke hart weens sy vriend wat ek doodgespuit het ...

Let ook maar op as jy weer 'n donkie sien wei. Daar is altyd 'n klompie vlieë wat om sy kop vlieg soos satelliete om die aarde wentel. Hy skud gereeld sy kop sodat sy ore die vlieë wegjaag, maar hulle kom maar weer.  Aan sy agterkant is daar gewoonlik ook vlieë, wat hy met sy stert probeer verjaag.  

Nou sien daai donkie dalk 'n mooi merrie daar oorkant wei en na 'n kort rukkie van haar aanstaar, raak hy so rasend dat hy op haar afstorm, so vinnig dat die vlieë nie kan byhou nie. 

'n By is natuurlik 'n heel ander ding. As jy aan sy vlerke se vibrasies agterkom daar is 'n by in jou kamer, moet jy liewers versigtig opstaan en vasstel waar hy is. Anders kan hy dalk langs jou kom land en, onbewus daarvan, skuif jy jou arm of iets oor hom. Tot jou groot ontsteltenis en pyn as hy jou dan steek.

Groete,

Tiens

 

  • 3

Kommentaar

  • Die beste wapen teen vlieë, muggies, muskiete, bye en alerhande goggas wat jou wil aanval , is 'n Zapemded raket. Veral as jy nog 'n kranige tennisspeler is, stuur jy hierdie gediertes met 'n bliksemstraalknal die ewigheid in. Moet net nie aan die ding se snare raak terwyl jy sy knoppie druk nie; jy mag dalk die goggas volg.

    • The housefly wrecks more human constitutions and destroys more human lives than all God's multitude of misery messengers and death-agents put together.
      — Mark Twain

  • Angus, daar stem ek nou wragtag in my lewe saam met jou. Ek het ook 'n Zapper. Dit is 'n meerdoelige instrument. Die vlieg klap hy net. Die muskiet is moer toe. Ek het al gesien dit werk ook op lastige Great Dane honde. Het myself ook al gepiets. Die vlieg se naam moet verander na die Sit toe.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top