’n Visie vir Afrikaans

  • 6

Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns het onlangs hul bekronings vir 2017 bekendgemaak. Die Erepenning vir ’n Afrikaanse Radiodrama is op 11 Mei by die WAT in Stellenbosch aan Marita van der Vyver toegeken vir haar radiohoorspel Genade. Andries Visagie het by die geleentheid ’n toespraak gelewer oor ’n visie vir Afrikaans. Hier is sy volledige toespraak.

1. Inleiding

Vir hierdie visie vir Afrikaans benader ek my onderwerp noodwendig vanuit my posisie as ’n Afrikaanse letterkundige, nie as ’n taalkundige wat ontwikkelinge in die taal met ’n fyn wetenskaplike oog dophou nie. Ek besef egter dat almal wat erns met Afrikaans maak, ’n bydrae kan lewer om saam te dink oor die pad vorentoe vir Afrikaans. My visie neem die onlangse woelinge op taalgebied as vertrekpunt en is grotendeels ’n persoonlike en baie tydsgebonde inskatting van die uitdagings en potensiële groeipunte vir Afrikaans. My argumente wil ek graag koppel aan die volgende paar sake: die energieë wat in die Afrikaanse taalgemeenskap aanwesig is, die rol van Afrikaanse instellings, die variëteite van Afrikaans en, onvermydelik, die status van Afrikaans as onderrigtaal by universiteite.

2. Twee komplementêre energieë in die Afrikaanse taalgemeenskap

In die Afrikaanssprekende gemeenskap is daar tans twee gelyklopende energieë aanwesig wat op die bevordering van Afrikaans gerig is. Aan die een kant is daar diegene wat met mening ’n strydvaardige houding inneem en nie skroom om op taalregte vir Afrikaans aan te dring nie, dikwels met gepaardgaande regsaksies. Hiervan is die bedrywighede van bewegings soos die Gelyke Kanse-inisiatief en Solidariteit goeie voorbeelde, veral rondom die regsaksies wat hulle tans oor die taalbeleide van verskillende universiteite aanvoer. Aan die ander kant is daar inisiatiewe wat veral op kultuurgebied belangrike werk doen om die Afrikaanse taal en kultuur uit te bou. Die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging, die Vriende van Afrikaans, die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) en die onderskeie kunstefeeste is enkele voorbeelde van instansies wat hierdie bevorderingstaak ernstig opneem. Wat egter jammer is, is dat hierdie twee energieë selde by mekaar kers opsteek om hulle eie werkstrategieë op te skerp en doelmatiger te maak. Die taalregtegroepe is geneig om soms ’n skril en vir sommige bevreemdende diskoers te voer, terwyl die taal- en kultuurbevorderingsgroepe soms vassteek in ’n naïewe oortuiging dat dit voldoende is om gewoon energiek Afrikaans te praat en geleenthede te skep vir kultuurbeoefening sonder dat hulle behoorlik rekening hou met magstryde wat dramatiese gevolge vir Afrikaans inhou. Dit is belangrik dat al hierdie instansies hulle gewaardeerde aktiwiteite voortsit, maar daar ontbreek tans ’n wenformule wat die bevordering van kulturele uitnemendheid sal kombineer met ’n verbeeldingryke veldtog om taalregte te verseker. Die twee energieë moet begin om sterker van mekaar kennis te neem om uiteindelik saam te vloei in ’n rigting wat daadwerklike resultate sal verseker. Taalstryders kan baie leer by die sjarme en entoesiasme waarmee iemand soos Marlene le Roux van die SBA haar werk konstruktief aanpak; kultuurgroepe kan weer gerus moeite doen om die grondige historiese kennis van iemand soos Hermann Giliomee en die regskundige dissipline van Jan Heunis of Danie Rossouw by hulle projekte in te bou.

3. Die belang van Afrikaanse instellings

Met hierdie opmerkings raak ek reeds aan ’n verdere saak wat aandag verdien indien ’n mens oor ’n visie vir Afrikaans praat. Miskien steek daar waarheid in die digter en vertaler Daniel Hugo se opmerking by die Tuin van Digtersfees in 2016 dat die infrastruktuur van Afrikaans besig is om van bo af in duie te stort. Ek vermoed hy het hier veral die situasie by universiteite soos Stellenbosch, Pretoria, die Vrystaat en Unisa in gedagte wat vir jare lank deel was van hierdie infrastruktuur wat Afrikaans in haar hoër funksies help bevorder het, maar met nuwe pro-Engelse taalbeleide daarvoor gesorg het dat 2016 in sommige kringe as ’n krisisjaar vir Afrikaans bekend geword het. Die infrastruktuur van Afrikaans sluit egter ook die verskillende instellings in wat toegewy is aan die handhawing en bevordering van Afrikaans. Dit sluit uiteenlopende institusies soos die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, die Afrikaanse Taalraad, die Afrikaanse media, sekerlik ook die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, geloofsgemeenskappe en die verskillende kultuurorganisasies soos die SBA, die ATKV en die FAK in. Met die politieke toneel in Suid-Afrika wat tans besonder onstabiel is met rommelstatusse wat oral rommel, korrupsie en wanbestuur wat gedy en befondsing wat in elke denkbare kruik opdroog, is dit noodsaaklik dat die skade wat hierdeur ook aan Afrikaans berokken word, gestuit word deur die versterking en vernuwing van die institusies wat oor baie jare heen tot stand gekom het om na die belange van Afrikaans om te sien. Indien die instellings wat aan Afrikaans toegewy is, verstewig word, kan dit ook lei tot verbeterde kohesie in die breër Suid-Afrikaanse samelewing en kan dit bydra tot groter stabiliteit en welvaart landswyd. As jong student tydens ’n uitwisselingsbesoek aan Frankryk is ek by geleentheid deur my gashere saamgesleep na ’n lesing oor “Les institutions de France” waarvan ek destyds min gesnap het, maar wat vir my in die huidige klimaat toenemend sin maak. In roerige tye is dit belangrik om na die welsyn van gevestigde instellings om te sien om te verhoed dat vinnige verval en demoralisering intree.

Die Afrikaanse instellings verdien dus groter steun en koestering, al is dit waar dat hulle dikwels sterk vergrysend en stowwerig voorkom. ’n Stewige eetlepel sprankel à la Bibi Slippers, HemelBesem of Marita van der Vyver sal byvoorbeeld die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se stram litte baie losser kan maak. Ek dink hier aan die jaarlikse bekroningsgeleenthede van die Akademie wat gewoonlik maar saai en ouderwets verloop. Baie kan geleer word by die verbeeldingryke manier waarop NB-uitgewers byvoorbeeld hulle bekroningsgeleenthede aanpak. Seremoniemeesters word van buite gewerf om met woema die verrigtinge te lei en die gehoor word getrakteer op commendatio’s wat nie almal voorspelbaar op die verhoog voorgelees word nie, maar ook deur middel van vooraf verfilmde insetsels op ’n skerm vertoon word. Uiteraard is daar ook baie ander moontlikhede om vernuwing te bewerkstellig sonder om aan die waardigheid van die Akademiegeleenthede afbreuk te doen. Dit is egter belangrik dat jonger akademici en kultuurwoelgeeste vir Afrikaans op maniere betrek word wat hulle uitdaag én met begeestering vervul. En die beste manier om hierdie doelwit te bereik, is om hulle aktief in te sluit by verrigtinge op ’n manier wat jeugdige energie met die gewig van jare lange tradisies en volgehoue prestasies kombineer.

4. Die krag van taalvariasie

Die Afrikaanse taalgemeenskap kan nie nalaat om historiese en voortslepende verdeeldheid in eie geledere met erns hoog op die agenda te plaas nie. Ek voel hier bemoedig deur die suksesse van die ATKV, die Afrikaanse Taalraad, die Vriende van Afrikaans, die SBA en meer onlangs ook Afrikaans.com om erkenning aan diversiteit te gee, ook al klink diversiteit soms na ’n begrip wat los en vas benut word en soms gebruik word om vingers na belangegroepe te wys wat op die bevordering van sterk omlynde doelwitte ingestel is. Ek sien uit na die dag dat wit, bruin en swart Afrikaanssprekendes met vanselfsprekendheid eienaarskap van hul taal sal neem en dat bruin sprekers van Afrikaans pogings om hulle taalvariante as tweederangs voor te stel met die nodige minagting sal bejeën. Die kragtige stemme wat tans in Kaaps opklink, vind ek besonder opwindend. As ’n mens luister na die Kaaps in ’n film soos Noem my skollie of in ’n drama soos Amy Jephta se uitstekende Kristalvlakte, besef jy hoe absurd dit is om Kaaps as ’n “joke taal” af te kam. Erns, verfyning en ’n sterk intellektuele ingesteldheid spreek uit hierdie twee belangrike kunswerke in Kaaps. Diegene wat ’n sterker vastrapplek vir Kaaps bepleit, verdien elke geleentheid om dit te doen en dit sal ons almal baat indien ons met belangstelling en daadwerklike ondersteuning ruimtes soek vir Kaaps om gehoor te word in forums waar dit vir te lank uitgesluit was. Laat woorde soos kwaailappies, dala (redeneer of doen) en haraam (verbode) meer algemeen op radio en televisie gehoor word. Dit is vanselfsprekend dat Kaaps nie as die enigste taal van bruin Suid-Afrikaners in die verskillende uithoeke van Suid-Afrika en Namibië beskou moet word nie, maar die energie waarmee daar tans in Kaaps gewoeker word, is seker een van die opwindendste ontwikkelinge op taalgebied tans. Dit is tyd dat ons die woorde van die digter Shirmoney Rhode met erns bejeën wanneer sy opmerk dat die kinders by die skool waar sy Afrikaans gee, geneig is om eerder Engels te praat omdat hulle binne die meer formele konteks van die skoolgronde geïnhibeer voel om Kaaps met vrymoedigheid te praat. Dit open opnuut die debat oor die wenslikheid van die herstandaardisering van Afrikaans om die grootste variëteit van Afrikaans ’n betekenisvolle plek binne Standaardafrikaans te gee. Of sou dit as ’n daad van koöptering beskou word om Afrikaans uit ’n moeilike fase van sy bestaan te help red? Oor die ingewikkelde saak van herstandaardisering kan die doktorale navorsing van Gerda Odendaal van die WAT ongetwyfeld beter lig werp as wat ek as letterkundige kan doen.

Wat vir my egter vas staan, is dat historiese onreg en verdeeldheid sover moontlik ongedaan gemaak moet word deur middel van Afrikaans as ’n deur tot nuwe geleenthede en as versoeningstaal. Uitreikaksies na ander taalgemeenskappe kan die vorm aanneem van die oprigting van ’n Afrikaanse taalsentrum op die patroon van die Duitse Goethe-Instituut of die Alliance Française in ’n stad soos Durban waar die reeds beperkte uitstraling van Afrikaans onlangs verder ingekort is met die skrapping van Afrikaans as vak by die Universiteit van KwaZulu-Natal. Taalkursusse en kultuurgeleenthede wat die samekoms van Afrikaanse kunstenaars met eweknieë uit die verskillende taalgemeenskappe in KwaZulu-Natal fasiliteer, mag berge versit in die proses van versoening in hierdie provinsie met die tweede grootste bevolking in Suid-Afrika. Die implikasies van die Afrikaanse spreekwoord “onbekend maak onbemind” behoort in ’n belangrike provinsie soos KwaZulu-Natal aktief teengewerk word.

5. Afrikaans as onderrigtaal by universiteite

So kort ná die seisoen van inkrimping en verlies waartydens Afrikaans by ’n aantal Afrikaanse universiteite drasties ingekort is, is dit moeilik om met visioenêre gedagtes oor die mistroostige situasie vorendag te kom. Hofstryde woed nog hier en daar voort, maar dit wil voorkom asof die Suid-Afrikaanse Grondwet onvoldoende is om betekenisvolle gelyke regte vir tale te verseker, selfs in streke waar Afrikaans sterk verteenwoordig word. Die Universiteit Stellenbosch, wat tot onlangs nog die enigste oorblywende universiteit was wat Afrikaans as onderrigtaal benut het in die Wes-Kaap, waar feitlik 50% van die totale bevolking Afrikaans as huistaal het, het bes gegee en besluit om in ’n nuwe taalbeleid eerder alle regte vir Engels as onderrigtaal te verseker. Die enigste waarborge vir Afrikaans wat oorbly, is kursusraamwerke in Afrikaans, Afrikaanse tutoriale, die reg om vrae in Afrikaans te stel en om skriftelike werk in Afrikaans in te lewer. Afrikaans wat vir dekades lank as ’n aanwins en as ’n saak van konstruktiewe ontwikkeling beskou is, word nou ’n lastigheid en as ’n struikelblok vir transformasie beskou.

Ek ontvang berigte van Stellenbosse studente wat kla dat hulle tydens hul Engelstalige lesings van dosente opmerkings moet aanhoor soos: “Afrikaanse studente is julle ook by?” Afrikaanse agterossies moet ook in die kraal kom, maar dalk moet ek verkieslik agrariese beeldspraak soos hierdie vermy en sê: “Afrikaans students should also be brought into the fold of the English language consensus.” Daar is naamlik gekies vir die sussende gerief van die Engelstalige konsensus ten koste van die intellektuele skerpheid wat ’n akademiese gesprek in Afrikaans kan bydra. Dit is ’n oorblyfsel van ’n gekoloniseerde mentaliteit om op eie tale, tradisies en prestasies neer te kyk en om konsekwent die voormalige koloniale heersers na te kwaak.

Ek is terdeë bewus van die kompleksiteite rondom hierdie saak en dat selfs universiteite in Nederland deesdae sukkel om onderrig in Nederlands voort te sit te midde van die aandrang op internasionalisering met Engels as voertaal. Die probleem is egter toenemend dat kiesers oral in die wêreld hulle bedenkinge uitdruk oor die waarde van ongebreidelde internasionalisering en al hoe meer beskermend word oor die koestering van hul eie belange en eie kontekste. Met die krisis in hoër onderwys in Suid-Afrika weens gebrekkige befondsing is dit ook onduidelik of internasionale mededingendheid werklik haalbaar gaan bly. Dit is waarskynlik dat die plaaslike konteks al hoe belangriker vir universiteite gaan word. Die Universiteit Stellenbosch kan nie werklik bekostig om die Afrikaanssprekende gemeenskap verder te vervreem nie, want dit is goed moontlik dat juis hierdie gemeenskap in die hoofsaaklik Afrikaanssprekende Boland sal moet inspring om die universiteit deur ’n moeilike finansiële tyd te dra.

Ek het my bedenkinge daaroor of Engels uiteindelik voldoende sal blyk om vernuwende navorsing en akademiese uitnemendheid globaal te verseker. Engels word soms as die nuwe Latyn voorgehou, maar dit verwys terug na ’n tyd in die Middeleeue toe Latyn die funksie van die universele akademiese taal beklee het. Soos ons uit die geskiedenis weet, was dit eers met die Renaissance en die gepaardgaande oplewing in plaaslike tale dat ontwikkeling met rasse skrede in Europa begin versnel het. Latyn kon nie voldoen aan die eise vir vernuwende denke en die ontwikkeling van nuwe kennis nie. Hopelik sal die wêreldwye verskuiwing na Engels in die hoër onderwys nie tot afstomping en stagnasie lei nie. Gelukkig is Engels immers, ander as Latyn, ’n springlewendige taal met groot soepelheid en ’n sterk uitstralingsvermoë.

By die onlangse Woordfees in Stellenbosch was daar ’n interessante interaksie tussen ’n groep besorgde Afrikaanse studente en oudregter Albie Sachs wat sy gehoor probeer paai het oor die kwynende status van Afrikaans in die hoër onderwys. Hy het hoog opgegee oor die prestasies van die Suid-Afrikaanse Grondwet, maar uiteindelik laat blyk dat Afrikaanssprekendes dalk maar eerder hulle reg moet opeis om deur middel van private inisiatiewe aan Afrikaanse onderrig te laat gestalte gee. Private inisiatiewe is sekerlik waardevol, maar dit is nietemin ’n redelike verwagting vir Afrikaanssprekende belastingbetalers dat die staat ook vir hul taalbehoeftes voorsiening moet maak.

Tans is daar in baie oorde ’n gelate tevredenheid oor die lewenskragtigheid van die Afrikaanse media, die florende Afrikaanse boekemark en kunstefeeste met talle Afrikaanse produksies van gehalte. Ek hoop van harte dat dit so sal voortduur, maar indien die hoër funksies van Afrikaans toenemend gekniehalter word, sal dit sekerlik ’n uitkringeffek hê na die breër kulturele veld. Om hierdie gevaar teen te werk, is dit belangrik om die volgende riglyn paraat te hou: streef daarna om op alle gebiede gehalte in Afrikaans na te streef. As prestasie en uitnemendheid die kenmerk van Afrikaans bly, sal dit nie misgekyk word nie. Belangrik is egter dat hierdie uitnemendheid met groter oorgawe as ooit vantevore gedeel moet word met landgenote vir wie Afrikaans dikwels ’n geslote boek bly.

6. ’n Laaste gedagte

Die gebeure van 2016 rondom Afrikaans het weer eens bevestig dat Afrikaans binne die Suid-Afrikaanse samelewing, net soos tydens die Soweto-opstande 40 jaar gelede, steeds as krisisgeleier geld. As dinge êrens begin borrel en kook oor Afrikaans, is dit maar te dikwels ’n aanduiding van ’n aanstormende groter krisis. By universiteite was uitdagings oor die status van Afrikaans as onderrigtaal eintlik maar net die openingsalvo in die groter #FeesMustFall-veldtog wat sommige universiteite vir maande lank lamgelê het en in werklikheid die groter probleme in die regerende party help ontbloot het. Dalk kan ’n mens selfs praat van Afrikaans as ’n geliefde krisisgeleier in Suid-Afrika en is dit interessant dat dit die geneigdheid het om die fokuspunt van soveel onstuimigheid te wees. Op ’n aweregse manier erken Suid-Afrikaners die stemvurkfunksie van Afrikaans binne die breër samelewing wanneer spanninge na Afrikaans gedeflekteer word. Dit is egter ’n las vir die taal om as fokuspunt vir al hierdie strydpunte te dien.

Ter samevatting wil ek beklemtoon wat die toekomsvooruitsigte vir Afrikaans sal verstewig. Indien die bestaande energieë in taal- en kultuurbewegings met groter naatloosheid gekombineer kan word om bevorderingswerk op kultuurgebied met ’n aktivistiese ingesteldheid aan te vul en om aan taalaktivisme terselfdertyd ’n aantreklike en konstruktiewe vonk te verleen, is baie al gewen. Ek het verder ’n pleidooi gelewer vir die verstewiging van Afrikaanse instellings deur vernuwende inisiatiewe om hulle voor te berei vir ’n meer leidende rol in die Afrikaanse gemeenskap. Ek het ook verwys na die sterk ontluikende kragte binne Kaaps wat aanmoediging verdien; en as dit sou gebeur dat Kaaps aan die deur van Standaardafrikaans kom klop vir groter invloed, is dit ’n proses wat die geleentheid gegun moet word om sy loop te neem. Die gevoel van verlies oor die kwynende plek vir Afrikaans in die hoër onderwys moet eerder die wyk neem voor ’n nuwe vasberadenheid om kwaliteit in Afrikaans te lewer, nie net om te verseker dat die taal vir sy sprekers aantreklik bly nie, maar ook om deur prestasie sprekers uit ander tale te besiel om in Afrikaans nuwe geleenthede aan te gryp.

Engelse weergawe: A vision for Afrikaans

  • 6

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Vir my was die verstommendste aspek van die US-taalstryd seker die skynbare onbetrokkenheid van die Afrikaansdosente. Ek herinner my 'n enkele brief in Die Burger waarin Visagie vir Afrikaans in die bres getree het en toe was dit eintlik reeds te laat. Onlangs het die departementshoof tydens 'n openbare byeenkoms eerder voorbrand vir meertaligheid (dus ook vir Engels) as vir Afrikaans gemaak. Ek vra my af: Waarom bevorder Afrikaansdosente en ander Afrikaanssprekendes ander tale terwyl nie-Afrikaanssprekendes (feitlik) nooit die saak van Afrikaans bepleit nie? 'n Hoogleraar in Afrikaans het jare lank (tydens die rektorskap van Chris Brink en Russel Botman en tot in Wim de Villiers se termyn) uit die Taalsentrum en talle taalkomitees vertel hoe fantasties goed taal aan die US bestuur word, gevolglik was dit glo onnodig om oor Afrikaans bekommerd te wees. Pieter Kapp het gesaghebbend oor hierdie gebeure in sy boek, Maties en Afrikaans (Pretoria: Protea Boekhuis, 2013), geskryf. Het daar al ooit 'n teregwysing hieroor uit die Departement Afrikaans opgeklink? Was die rol wat die dosente in hierdie departement in die US-taalstryd gespeel het enigsins vergelykbaar met die positiewe invloed wat daar van 'n enkele persoon, die historikus Hermann Giliomee, uitgegaan het? Wanneer die rektor in sy intreerede sê "Stellenbosch is nie 'n Afrikaanse universiteit nie" en hierdie stelling in daaropvolgende toesprake herhaal en dit kort daarna letterlik die waarheid probeer maak, het daar telkens luide beswaar uit die US se Departement Afrikaans opgeklink of was daar dawerende stilte? Almal wat erns met Afrikaans maak, kan volgens Visagie 'n bydrae lewer. Het die US se Departement Afrikaans rede om trots op sy bydrae tot die US-taalstryd te wees of behoort daar veel eerder verootmoediging en skaamte te wees?
    Visagie se rede word gekenmerk deur politieke byderwetsheid. Hy prys die pro-Afrikaanse rol van instansies soos die ATKV, ATR, VVA en SBA. Hulle almal gee myns insiens voorkeur aan Afrikaansvariëteite, meertaligheid en 'n politieke ideaal, versoening, bo die heil van Standaardafrikaans. Soos hulle wil Visagie van Afrikaans 'n versoeningstaal maak. Soos hierdie instansies vind hy Kaaps opwindend en as iets wat bevorder moet word. Soos die genoemde vier instansies rep hy polities byderwets nie 'n woord oor taalsuiwerheid nie. Terselfdertyd verskaf hy egter (en tereg) hierdie riglyn: "Streef daarna om op alle gebiede gehalte in Afrikaans na te streef;" ook "uitnemendheid" en "'n nuwe vasberadenheid om kwaliteit in Afrikaans te lewer." Hy bepleit ook groter erkenning van variëteite soos Kaaps in Standaardafrikaans. Ek het nie beswaar as die drie Kaapswoorde wat hy as voorbeelde noem as Standaardafrikaans erken word nie. Maar dit kan gerus onomwonde gestel word dat Kaaps in soverre dit met onnodige Engelse woorde besoedel is, absoluut onaanvaarbaar is; dat Kaaps in daardie opsig nie aan Visagie se gehalteriglyn voldoen nie; dat Kaaps 'n wesenlike bedreiging inhou vir die voortbestaan van Afrikaans as 'n taal wat duidelik van Engels onderskeibaar is. Visagie noem ook die SA Akademie en die FAK. Hierdie twee instansies het myns insiens 'n meer sinvolle benadering tot Afrikaans as die vier waarna ek hier bo verwys het.
    Daar is 'n lakmoestoets wat ons gerus in hierdie konteks kan toepas, deur Engels met Afrikaans te vergelyk. Word geradbraakte Engels aangemoedig of word korrekte Engels nagestreef? Waarom geld laasgenoemde nie deurgaans vir Afrikaans nie? Word die bestaan van Engelsvariëteite voortdurend beklemtoon en bevorder of word daar eerder in Standaardengels berus? Waarom dan nie eerder 'n enkele evolueerende Standaardafrikaans ondersteun wat die doeltreffendste skans teen verswelging deur Engels bied nie? Waarom word daar grootliks sonder beswaar doelbewus met Afrikaans gemors maar nie met Engels nie? Myns insiens enersyds om Afrikaanssprekende blankes te tart. Andersyds doen sommige Afrikaanssprekende blankes lustig hieraan mee omdat hulle hulle selfrespek verloor het. Daar is in werklikheid baie dinge waarop Afrikaanssprekende blankes trots kan wees en Standaardafrikaans is ongetwyfeld een hiervan. Visagie noem dat skoolkinders nie die vrymoedigheid het om Kaaps te praat nie en daarom voorkeur aan Engels gee. Die oplossing is nie om Kaaps in sy geradbraakte vorm holus-bolus in Standaardafrikaans te inkorporeer nie maar om Kaaps van onnodige Engels te suiwer, dus dat tussen Standaardafrikaans en Standaardengels gekies moet word.

  • Hans Richardt

    Die Kaapse kabaal oor Afrikaans ...
    Ek dink ons gewone ouens, wat nie in akademiese roomkoeke sit nie, spekuleer nie oor Afrikaans nie, ons gebruik dit. Ons ondersteun ook Orania en glo dat Afrikaans daar sal oorleef ook as akademiese taal.
    Ek weet dat vele wie spekuleer oor Afrikaans aan universiteite, meer bekommerd is oor hul eie inkomste, as oor die taal. Daarom dat ek nie veel bekommerd is oor die taal nie. Afrikaans leef bv aan Moskouse staatsuniversiteit as taal en daar is studente daar.

  • Hans Richardt

    Amalgamasie is teenpool van apartheid. Ongelukkig is onkunde tans grootste probleem in SA. So, laat ons dan Afrikaanse Akademia vinniger ontwikkel. Vele Afrikaanse dosente in ander vakgebiede moet ook nou oorskakel na Engels ... daarom die krisis in media oor Afrikaans. Universiteite is nie eienaar van Afrikaans nie, so min as WAT eienaarskap kan opeis. Ek dink Kaaps is dialek op eie, wat nou Kaaps-woordeboek benodig van Afrikaans na Kaaps.

  • André Badenhorst

    Uitstekende insigte, baie dankie!
    Ek het die afgelope tyd bewus geword van die politieke korrektheid by akademiese instellings as 'n wêreldwye verskynsel. So byvoorbeeld hoor ek by die http://schoolsucksproject.com : "Moenie dink dit gebeur net hier in Amerika nie." Die verval van die akademie as instelling, betoog hulle, is juis as gevolg van die absurde dog selfvernietigende uitkoms daarvan onafwendbaar.
    Die sogenaamde "Snowflake generation" (kruidjie-roer-my-nie) van "Social Justice Warriors" word gevoed deur die hoogs skynheilige en uitgediende liberalisme van - kwaliteitsgewys -kwynende leermeesters: die rede (as grondslag van die akademie) word daardeur opgeoffer vir populistiese groepdenke.
    En dit alles in die konteks van die bedreiging van die akademie as instelling deur 'n opkomende tydsgees waar kennis gedematerialiseer (digitaliseer/gedemokratiseer) word en tot algehele ontwrigting van die universiteit as kennisvennoot (let wel Stellenbosch!) sal lei en die universiteitswese gekonsolideer sal word in slegs enkele topklas wêreld-universiteite. Droomslaap gerus futiel voort, Alma-mater-al-hoe-kwater!
    Nou wonder ek, na baie woede en trane, oor dit wat die sotte met Afrikaans laat gebeur het by die tersiêre instellings. Was dit dalk, alles in aggenome, nie tóg 'n bedekte seën nie? Is Afrikaans nie daardeur dalkies juis bevry nie? Dis nou mits iemand of iets, buite die verstokte regime, die - tot dusver - verskuilde, maar enorme moontlikhede wat die nuwe wêreld bied, raaksien en benut.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top