’n Verkennende ondersoek na die ervaring van Suid-Afrikaanse universiteitstudente as lesers van Rut 2 aan die hand van Ignatiaanse meditasie

  • 0

Opsomming

Hierdie artikel beskryf ’n verkennende ondersoek na die belewenis van ’n groep teologiese studente van die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN) by die lees van Rut 2 aan die hand van Ignatius van Lojola se meditatiewe tegnieke. Dit ontleed die genderverwante aspekte van hulle ervaring met die doel om kernaspekte daarvan te bepaal. Dit tref ook ’n vergelyking tussen die belewenis van die manlike en die vroulike deelnemers aan die studie, en evalueer die uitwerking van die verskillende aspekte van die oefening op mans en vroue.

Trefwoorde: Ignatiaanse meditasie, meditasie oor Bybeltekste, aktiewe verbeelding, Rut 2, genderidentiteit, gebed

Abstract

The subjective experience of using Ignation meditation by male and female South African university students: An exploratory study

This study set out to explore the subjective experience of using the Ignatian method of meditation to reflect on and pray through Ruth 2. A group of male and female theology students from the University of KwaZulu-Natal (UKZN) were invited to reflect upon / pray through Ruth 2 using this method. Following this exercise, participants were invited to participate in a focus group in which they shared their experience of this exercise, focusing particularly on some of the gendered aspects of the experience. The transcribed focus group material was subjected to a critical thematic analysis in order to identify the reported subjective experiences and which aspects of the experience of using this method of meditation were responsible for these experiences. The analysis also included a comparison of the experience for men and women, and the differential effect of various aspects of the exercise on men and women.

Most of the participants reported that using the Ignatian meditation method allowed them to have a very direct, personal experience of the text through the characters involved. This was substantially different from their previous experience of meditation. They described how it was their “imagination of the situation” that produced most of their surprising subjective effects, rather simply reading the text objectively, as they might have done previously.

Most men expressed initial fear of using this method – they did not know in which direction it would take them – whereas the women did not. Nevertheless, it is clear that both men and women benefited by praying through the text in this way.

One of the most interesting findings was the gendered effects of using this method. Male participants reported that it gave them a better understanding of the text, especially by challenging gender stereotypes, enabling them to step into another’s shoes and see “what it was really like for Ruth”. At least one man saw that Boaz was not the hero of the tale and, putting himself in Ruth’s shoes, began to reflect on the undesirability of being owned by someone else. The insights the men gained were clearly important not only for their relation to and understanding of the text, but also for the way in which they relate to women. Significantly, they indicated that they were challenged concerning their traditional, gender-stereotypical approaches to women and had begun to feel embarrassed at the way men can treat women. These findings are especially significant within a highly religious African context where tradition and patriarchal biblical interpretations have often formed a double bind which restricts women’s growth and development (Nadar 2006:78-80). Clearly, an aspect of personal transformation had already begun to take place within the individual men and it was made all the more urgent by the sense of divine assignment.

Female participants felt spurred on towards greater agency in terms of accepting themselves for who they are, becoming more proactive (taking the initiative), or seeing gaps in the social fabric which they could begin to fill. The importance of these insights cannot be understated. Clearly, the women, too experienced a sense of personal transformation, which for them led directly to a desire to transform the society in which they live.

The subjective effects which both men and women experienced during this exercise are crucial first steps in their own personal transformation. If sustained and allowed to be developed, these transformations may well trigger positive transformations in the South African churches and society. As intimated above, tradition and patriarchal interpretation of Scripture still keep many women subservient to their menfolk, despite South Africa’s overtly egalitarian Constitution. If praying through one small portion of Ruth can cause men to question their traditional-patriarchal treatment of women, and spur women on to greater personal agency, then there is hope. There is hope that continued prayer and meditation through the remainder of Ruth, Esther, Judith, and Susanna – a larger project that will begin in the second half of 2013, DV - will propagate greater and deeper personal transformations which have the potential to transform a still highly patriarchal church and South African society as a whole.

Keywords: Ignatian meditation, active imagination, Ruth 2, subjective psychological effect, gendered identity, prayer, students

 

1. Inleiding

In die afgelope paar dekades was daar ’n bestendige toename in publikasies oor sielkundige interpretasies van Bybelse tekste (Efthimiadis-Keith 2012:1–2), maar die sielkundige impak en effek van meditasie op lesers van Bybeltekste is nog selde beskryf. Hierdie verkennende studie2, wat geïnspireer is deur Jung se gebruik van aktiewe verbeelding en Ignatius van Lojola se meditatiewe tegnieke, hoop om ’n bydrae in hierdie verband te lewer.

Aktiewe verbeelding is ’n metode van die analitiese sielkundige Carl Jung, waardeur individue tydens berading aangemoedig word om aktief met hul droombeelde en ander subjektiewe bronne in gesprek te tree. Die individu beleef en ondervra dié beelde en wag dan op antwoorde (Adams 2004:6) sonder om sy/haar bewustelike beelde/denke op die droombeelde af te dwing. Volgens Jung se analitiese sielkunde kry die beelde wat uit beide die persoonlike en die gemeenskaplike onbewuste opkom, sodoende die kans op vrye uitdrukking sodat hul inhoud tot die bewussyn kan deursyfer. Dit word dan in die bewustelike psige geïntegreer en gee aanleiding tot verskeie vlakke van persoonlike omvorming (Adams 2004:5, 15–9).3

Ignatiaanse meditasie is die meditatiewe benadering van Ignatius van Lojola (1491–1556), en kan as ’n Christelike vorm van meditasie beskou word. Ignatius, wat die Jesuïete-orde in die 16de eeu gestig het, het ná sy bekering in 1522 sy Skrifgebaseerde vorm van meditasie ontwikkel om mense se verhouding met God te versterk en hulle te help om God se wil vir hul lewe te onderskei. Ignatius het sy bekende geestelike oefeninge (“spiritual exercises”) saamgestel met die oog op ’n dertig dae lange afsonderingsgeleentheid.

Hierdie Christelik-meditatiewe benadering vereis dat deelnemers, deur hul verbeelding te gebruik, aktief betrokke raak by Bybeltekste, in so ’n mate dat hulle as ’t ware deel word van die gekose verhaal of teks (Paulin-Campbell 2008:1, 14). Soos dit die geval is met Jung se aktiewe verbeelding, verg ook Ignatiaanse meditasie dat deelnemers hulself spontaan oorgee aan die onbewuste beelde wat by hulle opkom. Dit moet verstaan word teen die agtergrond van Jung se oortuiging dat die Christelike Bybel, wat ’n bewuste uitdrukking van die gemeenskaplike onderbewussyn is (Jung 2010:xvi; Efthimiadis-Keith 2010:57, 61), die individu toegang tot die inhoud van sy/haar onderbewussyn gee. So ’n meditasie oor Bybelgedeeltes kan deelnemers dus help om tekste beter te verstaan en om dieper persoonlike insigte en betekenisse van tekste te ontdek. Laasgenoemde lei dan tot ’n proses van persoonlike omvorming. Literatuur bevestig dan ook dat die langtermyngevolge van Ignatiaanse meditasie verskillende grade van persoonlike verandering kan insluit (kyk bv. Dyckman, Garvin en Liebert 2001; Ruffing 2000; Paulin-Campbell 2008:108–161).

Tydens die huidige ondersoek is Ignatiaanse meditasie gebruik om lesers se subjektiewe ervarings tydens hul biddende lees van ’n teks op te teken. Die persoonlike en moontlik sosiale omvorming waartoe dit aanleiding gegee het, is ontleed om vas te stel watter elemente die grootste bydrae tot die gerapporteerde transformasie gelewer het. Verder wou die ondersoek die genderaspekte van hierdie subjektiewe belewenisse nagaan deur die vraag te stel of mans en vroue se ervaring verskil het, veral wanneer daar oor duidelike genderkwessies in Bybelse tekste gemediteer is. Gegewe die opvallend androsentriese vooroordele van verskeie Bybeldele, wou hierdie studie ook vasstel of en hoe hierdie tekste moontlikhede bied tot die positiewe omvorming van die patriargale Suid-Afrikaanse gemeenskap. Dit is aangepak omdat Bybelse tekste, histories gesien, ’n belangrike rol gespeel het in sowel die onderdrukking as die bevryding van mense op grond van hul ras en geslag (sien bv. Nadar 2006:79–80; West 1999:9).

Aangesien die ondersoek gedeeltelik op gender fokus, is ’n teks gekies wat lesers se subjektiewe ervarings van gender sou kon beïnvloed. Hiervoor was Rut4 baie geskik, weens die karakter Rut se lewendige geaardheid en die manier waarop sy tradisioneel verkeerdelik verstaan is as die voorbeeldige, onderdanige en gedienstige vrou (Efthimiadis 1995:58, 73–6). Na deeglike oorweging is die deelnemers versoek om op Rut 2 te fokus, om die volgende redes:

a. Rut 2 bevat die meeste van Rut se taalkundige onduidelikhede. Wanneer sulke onduidelike uitsprake op ’n alternatiewe manier vertaal word, skep dit ’n beeld van ’n minder gedweë en meer moedige Bybelse heldin (Efthimiadis 1995:62-73).

b. Hoofstuk 2 is ’n keerpunt in die geskiedenis van Naomi en Rut, wanneer Rut die leiding neem om in Boas se lande agter die graansnyers te gaan are optel. Só begin ’n kettingreaksie waardeur die twee vroue se krisis beëindig word.

Hierdie artikel bied eers ’n kort bespreking van die ooreenkomste en verskille tussen en die gebruik van aktiewe verbeelding en Ignatiaanse meditasie (afdeling 2). Dan volg ’n bespreking van die navorsingsdoelwitte, -ontwerp en -prosedures wat tydens die studie gevolg is (afdeling 3), voordat die bevindinge van die ondersoek bespreek word (afdeling 4). Ten slotte (afdeling 5) volg ’n bespreking van gevolgtrekkings uit die navorsing – insluitend tekortkomings daarin, en die pad vorentoe.

 

2. Aktiewe verbeelding en Ignatiaanse meditasie: ooreenkomste, verskille en gebruike

Hierdie afdeling bespreek kortliks Ignatiaanse meditasie en Jung se gebruik van aktiewe verbeelding. Dit skets van die ooreenkomste en verskille tussen die twee metodes en motiveer dan waarom Ignatiaanse meditasie vir hierdie ondersoek bo aktiewe verbeelding gekies is. Hierdie afdeling begin deur aktiewe verbeelding binne psigoanalitiese verband te plaas.

2.1 Aktiewe verbeelding

Die volgende aanhaling omskryf wat aktiewe verbeelding behels:

In order to define what an image essentially means, Jungian analysts employ three special techniques. Two of these are interpretative techniques: explication and amplification. The third is an experiential technique: active imagination. (Adams 2004:15, sy kursivering)

Met explication, oftewel uiteensetting, word verwys na die Jungiaanse benadering om drome en ander beelde of simbole in terme van hul wesenlike betekenis te verklaar, sodat dit wat implisiet is, eksplisiet gemaak word (Adams 2004:15). Deur amplification, of versterking, word ’n beeld of simbool verder ontgin deur vergelykings te tref tussen die betrokke beeld en/of soortgelyke beelde in mites, legendes, kulture, kuns en ander soortgelyke bronne.5 Dit word gedoen om die dieper betekenis van die beeld vas te stel. Pasiënte word aangemoedig om met aktiewe verbeelding ’n direkte en onmiddellike ervaring en omgang met hul onbewuste beelde te hê sonder om hul vooringenome bewustelike gedagtes en insigte daarop af te dwing. Soos Adams (2004:15–6) dit stel: aktiewe verbeelding is “wisselwerkende verbeelding” waarin die persoon nie verklaar wat die verbeelding bedoel nie, maar eerder ervaar wat die verbeelding bedoel. Aktiewe verbeelding is dus spontaan en skep die moontlikheid dat ’n nuwe ervaring geskep word wat die persoon in onverwagte rigtings kan stuur.

As voorbeeld vir die toepassing van hierdie tegniek bespreek Adams (2004:16) die droom van ’n 35-jarige vrou wat deur verskeie vertrekke en vlakke van ’n huis deur ’n skerpioen gejaag word. Haar kêrel kyk toe, maar bied min of geen hulp nie. In haar bewustelike uiteensetting interpreteer sy, in ooreenstemming met die vrees van die droom-ego, die skerpioen as ’n agterbakse, slinkse en giftige dier. In haar eerste toepassing van aktiewe verbeelding meld sy dat sy nie in wisselwerking kon tree met die beeld nie, maar tog die indruk gekry het dat die skerpioen haar nie wou seermaak nie (Adams 2004:17). In haar eerste toepassing van die tegniek van versterking maak sy gebruik van die kenmerke van ’n persoon met die Skerpioen as sterreteken. Dit gee haar effens meer insig as haar bewustelike uiteensetting: skerpioene is geheimsinnig en onpeilbaar. In haar tweede toepassing van versterking ondersoek sy ooreenkomste met die Griekse mitologie. Sy ontdek dat die skerpioen in dié mites bose magte voorstel wat oorlog teen Orion se leërmag van lig voer. Skerpioene word altyd as bose geeste geteken. Hierdie versterking laat haar die skerpioen in haar droom sien as ’n beeld van haar nie-ego of skadu, waarvan sy haar hele lewe lank gevlug het (Adams 2004:17). Na haar tweede toepassing van aktiewe verbeelding, waarin sy wel met die skerpioenbeeld in interaksie kon tree, is die vrou bemagtig om die dele van haar nie-ego wat sy en ander voorheen probeer onderdruk het, tot ’n geheel te integreer. Sy kon vir haarself sê: “Ek hoef nie altyd gaaf te wees nie. Ek kan myself laat geld. Ek kan myself verdedig wanneer dit nodig raak. Ek kan myself toelaat om te wees wat ek wil wees en om dit nie te onderdruk nie”6 (Adams 2004:18). Hierna kon sy ’n ornament van ‘n skerpioen wat sy gekoop het, maar vir haar eie beskerming in ’n sak weggesteek het, uithaal en uitstal in die kamer wat sy met haar kêrel gedeel het. Sy het later ook die beeld gereeld besigtig (Adams 2004:18). Dit is duidelik dat sy deur haar verbeeldingryke omgang met die onbewuste beeld haar oorspronklike bewustelike vrees vir die skerpioen en wat dit verteenwoordig, verander het namate sy self verander het.

Twee punte uit die voorafgaande afdeling (afdeling 2.1) oor Jungiaanse aktiewe verbeelding, naamlik die manier waarop ’n mens se verbeelding werklikheid kan skep, en die krag tot omvorming wat voortkom uit aktiewe wisselwerking met die verbeelding,7 lei nou tot ’n besinning oor Ignatiaanse meditasie.

2.2 Ignatiaanse meditasie

Daar bestaan verskillende vorme van Ignatiaanse meditasie. Die mees basiese vorm, wat ook in die profielvorm vir hierdie ondersoek opgeneem is (afdeling 3.2), vra dat deelnemers ’n kort rukkie – hoogstens ’n uur of twee – by ’n Bybelteks betrokke raak. Soos reeds aangedui (afdeling 1), raak deelnemers deur hulle verbeelding aktief by die Bybelverhaal betrokke. Op dié manier beleef hulle spontaan die situasie of gebeure van die storie asof dit in hulle teenwoordigheid plaasvind. Hulle neem waar en tree in wisselwerking met die deelnemers of elemente van die Bybelse verhaal. Daar word ook ruimte gelaat vir enige spontane, nuwe beelde wat na vore mag kom. Die deelnemers leef hulle so veel as moontlik in die toneel in sonder om enige begeertes, gedagtes of betekenis daarop af te dwing. Die doel van hierdie interaksie is om te hoor wat God dalk aan hulle mag sê deur middel van die teks, om die storie aktief te ervaar asof dit met hulle self gebeur, en om nader aan God te kom. Dit is dus geen verrassing nie, soos die resultate van die studie ook aantoon (afdeling 4), dat die bereiking van al dié doelwitte deelnemers help om hulself en ander beter te verstaan, om hul rol(le) en handelinge in die gemeenskap beter te begryp, en om hulle te bemagtig om dit te bly doen. Met ander woorde, die potensiaal tot omvorming wat (selfs kortliks) deur die verbeelding loskom, begin ’n proses van persoonlike transformasie.

Hierdie persoonlike verandering vind sterker plaas by deelnemers wat langer deelneem aan die beoefening van Ignatiaanse meditasie. Dié deelname kan die vorm aanneem van ’n dertig dae lange afsonderingsgeleentheid wat bekend staan as “geestelike oefeninge” (Paulin-Campbell 2008:14, 24). Dit kan egter ook bestaan uit daaglikse meditasie oor ’n periode van nege tot vyftien maande wat bekend staan as “volle oefeninge in die daaglikse lewe” (Paulin-Campbell 2008:26–7).8 Terwyl daar voor- en nadele verbonde is aan beide vorme (Paulin-Campbell 2008:25–8), bly die doel van die oefeninge dieselfde: toenemende bevryding van, onder meer, vorige sondes, houdings, gesindhede, gemoedsingesteldhede en gewoontes, asook ’n verbintenis met die diepste begeertes wat deur God in die mens geplant is as God se wil vir die mens (Paulin-Campbell 2008:18). Navorsing toon dat hierdie oefeninge (in beide vorme) lei tot ’n dieper verhouding met God. Dié verhouding spruit voort uit ’n nuwe ervaring van God, wat verskil van die beelde en idees wat mense voorheen van God gehad het. Die oefeninge lei ook tot die genesing van ou wonde, vergifnis, groter selfliefde en groter sekerheid van God se liefde vir almal (Paulin-Campbell 2008:19, 22). Persoonlike verandering vind dus weer eens plaas, maar op ’n dieper en meer langdurige vlak as wat bereik kan word deur die basiese oefening wat hier bo beskryf is.

As voorbeeld hiervan kan verwys word na die terugvoering van iemand wat deelgeneem het aan ’n ondersoek na die geestelike groei van vroue. Sy vertel hoe sy aanvanklik met haar meditasie oor die verhaal van Jesus en die Samaritaanse vrou by die put moeite gehad het om ’n diepgaande verhouding met God te ervaar. Later het sy egter deur die gebruik van hiérdie metode van meditasie ervaar dat Jesus spontaan vir haar ’n vrou geword het, as gevolg waarvan sy nader aan God gevoel het (Paulin-Campbell 2013, persoonlike kommunikasie met die tweede skrywer van hierdie artikel).

2.3 Aktiewe verbeelding en Ignatiaanse meditasie: ooreenkomste en verskille

Wanneer bogenoemde twee metodes vergelyk word, is daar duidelike ooreenkomste. Eerstens gaan deelnemers doelbewus in hul verbeelding ’n ruimte binne waar hulle beelde ervaar wat spontaan opkom en waarmee hulle in gesprek tree. Tweedens bly deelnemers besig met hul verbeelding, maar gee hulle dan oor aan die indrukke wat spontaan na vore kom, eerder as wat hulle probeer om die meditasie aktief in ‘n bepaalde rigting te stuur. Hulle gee hulle daarmee oor aan onbewuste handelinge wat met beelde/simbole vereenselwig word sonder om dit bewustelik te probeer beïnvloed. Hierdie proses is duidelik aanwesig in bogenoemde voorbeeld van ’n vrou se meditasie oor Jesus se ontmoeting met die Samaritaanse vrou. By dié geleentheid het Jesus vir haar van ’n man na ’n vrou verander, wat uitgeloop het op verandering van haar verhouding met God.

Daar is egter ook verskille tussen die twee metodes. Hoewel beide tegnieke met voorafbestaande beelde/simbole werk, tree deelnemers tydens Jung se aktiewe verbeelding in interaksie met beelde/simbole uit hul eie onderbewussyn wat in hul drome, fantasieë of ander spontane sielkundige verskynsels na vore gekom het. Tydens Ignatiaanse meditasie gaan deelnemers egter om met die onderbewussyn deur middel van onbewuste beelde uit antieke Bybeltekste of -verhale. Tog is Jung (1940:53; 1956:52, 109) van mening dat die bron van hierdie beelde/simbole wesenlik dieselfde is, ten spyte van die verskille. Dit gaan volgens hom om die gemeenskaplike onderbewussyn.

Jung glo ook dat alhoewel beide aktiewe verbeelding en Ignatiaanse meditasie aanleiding gee tot verskeie grade van persoonlike omvorming, die Self – die oertipe van heelheid – deur medium van die aktiewe verbeelding tot groter integrasie en sodoende tot groter persoonlike verandering lei (Efthimiadis-Keith 2004:47–8). In Ignatiaanse meditasie word enige beduidende verandering of ervaring van God en die Heilige Gees egter toegeskryf aan die ervaring of veranderingsproses wat die beoefenaar lei tot ’n dieper verhouding met God/Christus, groter vryheid, en ’n beter begrip van sy/haar Godgegewe begeertes (Duns 2008; Paulin-Campbell 2008:17:23). Hierdie metode van meditasie is dus ontvankliker vir die teologiese aard van die Bybelse boodskap. Nietemin beskryf Jung (1959b:36-71) Christus as dié volledigste Westerse simbool van die Self, waardeur ’n wesenlike parallel tussen hierdie twee metodes.

Op grond van bogenoemde verskille is Ignatiaanse meditasie gekies as medium vir die huidige ondersoek na die subjektief-sielkundige uitwerking van meditasie aan die hand van Rut 2.

 

3. Die doelwitte, ontwerp en prosedure van die navorsingsondersoek

Na voorgaande kort bespreking van aktiewe verbeelding en Ignatiaanse meditasie en die ooreenkomste en verskille tussen hulle, word die doelwitte en beperkinge van die huidige ondersoek nou aan die orde gestel.

3.1 Navorsingsdoelwitte

Soos aangedui in die inleiding tot hierdie artikel, is hierdie navorsing ’n voorlopige, verkennende studie wat as ’n proeflopie dien vir ’n groter navorsingsprojek oor die subjektief-sielkundige uitwerking van Ignatiaanse meditasie. Die doelwitte van dié voorlopige navorsing kan soos volg gestel word:

a. Om die subjektief-sielkundige ervaring van nadenke en gebed deur middel van Ignatiaanse meditasie rondom Bybelse tekste onder ’n groep universiteitstudente te ondersoek.9

b. Om die spesifieke gendergebonde ervarings van deelnemers aan Ignatiaanse meditasie oor Bybelse tekste waarin duidelike genderkwessies voorkom, te ondersoek, asook die genderbeïnvloeding op die ervaring van sowel mans as vroue.

c. Om enige subjektiewe gevolge van die gebruik van Ignatiaanse meditasie te ondersoek en te bepaal watter aspekte daarvan verandering(e) veroorsaak het.

d. Om die uitdagings van die gebruik van Ignatiaanse meditasie te ondersoek.

3.2 Navorsingsontwerp en -prosedure 

Aangesien hierdie navorsingstuk fokus op subjektiewe ervarings en op die deelnemers se terugvoering oor die gevolge daarvan, word ’n kwalitatiewe, verkennende metode gebruik.

Omdat die studie spesifiek gemoeid is met die genderervarings wat uit Ignatiaanse meditasie voortspruit, is Rut 2 as teks gekies (sien afdeling 1).

Deelnemers is gevra om biddend en teen hul eie pas deur Rut 2 te lees en hul ervarings te beskryf aan die hand van ’n basiese profielvorm vir Ignatiaanse meditasie (soos aangepas uit Duns 2008). Die volgende is van hulle gevra:

  1. Vind ’n stil plek om te bid.
     
  2. Skep ’n gevoel van innerlike stilte en vrede.
     
  3. Neem ’n tydjie om, terwyl jy in God se teenwoordigheid rustig raak, met die Here te praat. Vra God om deur sy genade vir jou te wys wat sy wil vir jou is.
     
  4. Lees Rut 2 stadig deur. Kry ’n gevoel van die konteks en vloei daarvan. Is daar iets wat jou opval?
     
  5. Lees dit weer. Is daar iets in die besonder wat jou hart raak – hetsy dit nuwe lewe in jou skep, of jou bang maak?
     
  6. Stel jou voor jy is ’n kind: verplaas jou nou in die toneel wat in die teks afspeel. Is jy ’n hoofkarakter? Is jy ’n toeskouer? Dink na oor die volgende: 

6.1 Hoe is jy aangetrek?

6.2 Wat sien jy? Reuke? Teksture? Klanke?

6.3 Wat gebeur in die toneel rondom jou?

6.4 Wie anders is daar? Herken jy die mense rondom jou?

  1. Gee jouself oor aan die verhaal. Laat die Gees jou lei terwyl jy praat en omgaan met mense in die verhaal.
  1. Moenie probeer om jou gebed te beheer nie. Laat die Gees jou lei.
  1. Hoe voel jy? Is jy begeesterd en opgewonde?
  1. Neem ’n paar oomblikke, terwyl jy die gebed afsluit, om met die Here te praat oor  jou ondervinding. Wees eerlik – vertel God wat/hoe jy gevoel het.
  1. Maak notas van jou ervaring en woon die bespreking van die fokusgroep by met die bereidwilligheid om jou ervaring met die groep te deel sover dit vir jou moontlik is.

3.3 Steekproef

Die steekproef vir hierdie studie is bekom deur e-pos-uitnodigings aan personeel en nagraadse studente van die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN) se Skool van Godsdiens, Filosofie en Klassieke Studies, asook mondelinge uitnodigings aan teologiestudente en nagraadse studente in die module sielkunde en spiritualiteit.10 Vyftien studente (ses mans en nege vroue) het aanvanklik hul belangstelling aangedui. Die studie, asook die basiese stappe van Ignatiaanse meditasie, is tydens ’n vergadering aan hulle verduidelik. Die studente is genooi om in hulle eie tyd deur Rut 2 te bid aan die hand van riglyne oor die basiese Ignatiaanse meditasie, om hul ervarings aan te teken en om bereid te wees om dit tydens ’n bespreking in ’n fokusgroep te deel.

Alle deelnemers is genooi om na twee weke so ’n fokusgroep by te woon. Daar is besluit om dié groep volgens geslag te verdeel om spontane uitdrukking te bevorder – veral ter wille van vroue wat steeds geneig is om bedreig te voel of stil te bly in die teenwoordigheid van mans.

Sewe studente het uiteindelik aan die fokusgroepe deelgeneem: drie mans en vier vroue.11 Onderstaande tabel dui die ouderdom, geslag, vakgebied, studievlak en vorige meditasie-ervarings van elke student.

Deelnemer

Ouderdom

Geslag

Vakgebied en studievlak

Vorige ervaring van meditasie oor Bybelse tekste

1

41

Manlik

MA (Teologie met ’n verhandeling), eerste jaar van MA

Geen

2

36

Manlik

Sielkunde en spiritualiteit (SMMS)

Geen

3

30

Manlik

MTh (kursuswerk), eerste jaar van MTh

Geen

4

20

Vroulik

BTh, eerste jaar

Geen

5

58

Vroulik

BTh, derde jaar

Ignatiaanse meditasie – kort kennismaking tydens ‘n geestelike kamp lank gelede

6

19

Vroulik

BTh, eerste jaar

Geen

7

39

Vroulik

BTh, derde jaar

Ignatiaanse meditasie – geestelike kamp en persoonlike beoefening tot en met aanvang van formele teologiese studie

’n Lys oop vrae, of vrae wat verdere ondersoek aanmoedig, is vooraf opgestel en vir bespreking binne die fokusgroep gebruik. Hierdie vrae verskyn in Bylae A. Hoewel hierdie vrae gebruik is om die bespreking te begin en aan die gang te hou, is ruimte gelaat vir spontane ontwikkeling van die gesprek, sodat verskillende tipes materiaal in elk van die twee groepe na vore kon kom.

Die vrouegroep is gelei deur Helen Efthimiadis-Keith, ’n welbekende vroulike akademikus en kenner van Rut, wat uitgebreide ervaring het van die raakvlak tussen sielkunde en die interpretasie van die Bybel. Die tweede groep is gelei deur die tweede skrywer van hierdie artikel, ’n ervare manlike kliniese sielkundige en navorser met uitgebreide blootstelling aan onderhoude met individue en groepe. Elke groepleier het ’n assistent van dieselfde geslag gehad. Dié persoon het gedurende die besprekings aantekeninge gemaak en dit na afloop van die byeenkoms aan die groeplede beskikbaar gestel. Klankopnames is van die besprekings gemaak.

3.4 Ontleding van data

Ná die besprekings in die fokusgroep het die navorsers die onderhoude wat met die groepe gevoer is, neergeskryf.

Aanvanklik het hulle met Braun en Clark (2006) se metode ‘n tematiese ontleding van elke stel van die geskrewe data onafhanklik gedoen. Elke oorgeskrewe stuk is ook deurgewerk aan die hand van die klankopnames. Die stukke is afsonderlik deurgewerk vir elk van die navorsingsdoelstellings/-vrae. Verskillende kodes is aan die data toegeken ooreenkomstig die onderskeie temas wat vorendag gekom het en wat met elke vraag verbind is. Toepaslike uittreksels is dan vir elke tema geïdentifiseer. ’n Kort vertelling is vir elke tema uitgeskryf. Die assistente se aantekeninge is gebruik om onduidelikhede in die klankopname uit te klaar. Na afloop van die tematiese verslag het die twee navorsers hul bevindinge met mekaar vergelyk en, waar daar onduidelikheid of meningsverskil oor temas was, is dit bespreek om tot ’n vergelyk te kom. Hulle het daarna elkeen die lys temas gebruik om die ander een se teks te lees, waarna enige meningsverskille of onduidelikheid weer bespreek is. Laastens is daar ’n kritiese vergelyking getref tussen die bevindinge van die manlike en vroulike groep, sodat ooreenkomste of verskille geïdentifiseer kon word.

3.5 Etiek

’n Aansoek in verband met navorsingsetiek is by die etiese komitee van die universiteit se Kollege van Geesteswetenskappe ingedien en is goedgekeur. Hierdie vorm het die navorsers se kontakbesonderhede, departementele inligting en professionele kwalifikasies ingesluit. Dit het ook ’n breedvoerige beskrywing bevat van die projek en van verskeie etiese kwessies, soos die navorsingsinstrument wat gebruik sou word en die toestemmingsvorm wat deur al die deelnemers geteken moes word. Hierdie vorms het onder meer die naamloosheid van alle deelnemers, die veilige bewaring van data en die beskikbaarheid van professionele sielkundige berading vir enige deelnemer wat onnodige spanning tydens die oefening ervaar, verseker.12

3.6 Die deeglikheid van die studie

In die sosiale wetenskappe maak kwantitatiewe navorsing gebruik van die beginsels van geldigheid en betroubaarheid om die deeglikheid van ’n studie te verseker. Alhoewel die beginsels van hierdie ondersoek gewoonlik nie in die sosiale wetenskappe toegepas word nie, is daar tog ander maniere as kwantitatiewe navorsing om die deeglikheid en betroubaarheid van ‘n ondersoek en bevindinge te verseker.

Eerstens is die studie vooraf noukeurig aan die deelnemers verduidelik. Al is gebed en meditasie ’n baie persoonlike of private ervaring, is daar aan die deelnemers verduidelik dat nadenke oor die gebruik van dié metode moontlike maniere kon ondersoek waardeur gebed vir ander sinvol gemaak kan word. Alle deelnemers was óf teologiestudente en studente vir die bediening, óf studente van die module spiritualiteit en sielkunde (aangebied deur die tweede navorser). Die navorsers en hulle betroubaarheid was dus bekend aan die deelnemers, wat dit hopelik vir hulle makliker gemaak het om tydens die fokusgroep se gesprek minder terughoudend te wees. Baie van die deelnemers het mekaar ook goed geken.

Tweedens het die navorsers dieselfde voorafopgestelde lys van semigestruktureerde vrae gebruik, waardeur konsekwentheid tussen die twee fokusgroepe verseker is. Terselfdertyd was daar ook geleentheid vir spontane bespreking, wat beteken dat sekere kwessies in een groep vorendag gekom het wat nie noodwendig in die ander groep teenwoordig sou wees nie. Dit sou die ideaal wees indien hierdie sake ook na die ander groep geneem kon word met die oog op ’n opvolgbespreking, maar dit het nie gebeur nie. Daar is verder ook bevind dat persoonlike ervarings en voorbeelde (wat die bespreking in ’n onverwagte rigtings kon stuur) die betroubaarheid van die bevindinge verhoog het (De Vos 2005:346).

Derdens, ten einde die betroubaarheid van die data-ontleding nog verder te verbeter, het die twee navorsersonafhanklik van mekaar aan die ontleding van die data gewerk voordat hulle later hul bevindinge met mekaar vergelyk het.

Vierdens het een navorser nagegaan dat die uittreksels uit gesprekke wat deur die ander een gekies is, by die tema sou pas.

Een van die kommerwekkende aspekte van die navorsing was dat slegs 50% van die studente wat die oorspronklike vergadering bygewoon het, die besprekings in die fokusgroep bygewoon het, waardeur die bevindinge van die studie moontlik bevraagteken kan word. Die waarskynlikste verklaring vir genoemde afwesigheid is dat die besprekings van die fokusgroepe na aan die eksamenperiode plaasgevind het. Dit kon studente ontmoedig het om die opvolgbesprekings by te woon. Omdat daar om etiese redes aan die deelnemers verduidelik is dat hulle te eniger tyd en sonder motivering hul deelname kon staak, is dié kwessie nie verder ondersoek nie.

 

4. Bevindinge

Die bevindinge van die ondersoek word aangebied in ooreenstemming met die doelwitte van die studie en volgens ander kwessies wat spontaan na vore getree het tydens die fokusgroep se besprekings.13

4.1 Hoe mense gewoonlik oor so ’n teks bid

Alhoewel dit nie deel was van die semigestruktureerde vrae vir die fokusgroep nie, het die wyse waarop deelnemers oor Bybeltekste bid, spontaan ’n gespreksonderwerp geword. Die bespreking het aangedui dat deelnemers op verskillende wyses oor Bybeltekste bid of nadink. Hulle het aangedui dat hulle gewoonlik die teks nadenkend lees om te probeer vasstel wat God vir hulle sê, of dat hulle ’n woordeboek of konkordansie gebruik om die teks beter te verstaan. Verder word hulle benadering tot ‘n teks dikwels bepaal deur die pastorale gebruik daarvan waaraan hulle blootgestel was – hetsy in ’n preek, vir ’n begrafnis, of as vertroosting vir iemand wat rou.

Sommige deelnemers het die teks ’n paar dae in hul gedagtes te laat broei om uit te vind watter betekenis hulle daaruit kry. Een van die mans het gesê: “Ek laat die teks eenvoudig toe om te praat”14 en “Ek laat myself toe om deur die teks geroer te word, eerder as om namens die teks te praat.”15 Daar was ook baie ander kreatiewe en uitsonderlike wyses waarop die teks benader is. Een persoon het selfs beskryf dat hy op verskillende maniere deur die teks gesíng het, en daarvan gesê: “So laat ek toe dat die teks my in verskillende rigtings neem.”16

Hoewel twee vroue vertel het dat hulle voorheen tydens ’n geestelike kamp kennis gemaak het met gefasiliteerde Skrifmeditasie (sien die tabel in afdeling 3.3), het een van hulle laat blyk dat dié metode nie tipies geword het van haar benadering tot Bybelse tekste nie. Die ander een het aangedui dat sy hierdie intuïtiewe benadering gestaak het nadat sy “meer kognitiewe”17 opleiding in teologie ontvang het.

Oor die algemeen het deelnemers aangedui dat hulle Bybelse tekste gewoonlik objektief of gedistansieerd lees om te probeer verstaan wat dit vir hulself of vir ander beteken. In die mansgroep was daar min aanduiding dat hulle die teks voorheen toegelaat het om hulle op enige manier te raak of te boei.

4.2 Deelnemers se ervaring van die gebruik van Ignatiaanse meditasie met Rut 2

Alle deelnemers het die oefening as ’n positiewe ervaring beskryf. Die meeste was aangenaam verras oor hoe dit verskil het van hul gewone ervaring wanneer hulle oor of deur ’n Bybelgedeelte gebid het. Die meeste deelnemers het getuig dat Ignatiaanse meditasie hulle in verrassende rigtings geneem het, sodat hulle dikwels die teks op ’n ander manier as vroeër gesien en beleef het. Een van die mans het gesê: “Ek was verras oor wat in my opgekom het; ’n mens het nie nodig om na al die kommentaarboeke te gaan nie; die teks self spreek jou aan.”18 Dit staan in opvallende kontras met hul algemene ervaring van vroeëre omgang met die teks.

Baie deelnemers het beskryf hoe die ervaring hulle ’n duideliker begrip van die teks gegee het, aangesien dit gebaseer was op ’n direkte ervaring van Rut en haar omstandighede. Een van die mans het gesê: “Om deel te word van die karakters in die storie het vir my nuwe begrip gegee. Die metode laat jou toe om in die skoene van die Bybelse karakters te staan en hulle en hul stryd in ’n nuwe lig te sien, dikwels heeltemal anders as voorheen, sodat jy baie meer van die besonderhede van die teks verstaan.”19 Een van die deelnemers het gesê: “Ek het my in Rut se skoene geplaas en haar ervaring self beleef.”20

Gebruik van hierdie metode is ook beskryf as “’n volmaakter ervaring van die teks”21 wat die diep menslike omvang van die karakters in die teks ontsluit en jou toelaat om dit “met jou hart en siel te hoor”.22 Een persoon het byvoorbeeld insig gekry in hoe dit moet voel om nie kos te hê nie en die sukkelbestaan van ’n weduwee te voer. Ander het beskryf hoe die Ignatiaanse meditasie hulle gehelp het om “die ander kant van ’n Bybelse verhaal te sien, wat ek gewoonlik nie sal raaksien nie en dit help my om in ander mense se skoene te staan”. 23

Etlike deelnemers het vertel hoe verras hulle was met die gebruik van hierdie metode. Een persoon het gesê: “Ek kon ’n stem in die teks hoor wat ek nie gewoonlik sou hoor nie; deur Rut se stryd teen armoede in my verbeelding te beleef het ek nuwe perspektief verkry.” En: “Hierdie metode het my toegelaat om te voel hoe dit moet wees om ’n vreemdeling in ’n vreemde land te wees.”24 Veral die mans beskryf hoe verras hulle was deur hul ervaring van hierdie metode: “Om die teks as man te lees het by my die verwagting gewek dat mans die helde sal wees; maar hierdie lesing laat ‘n mens toe om vroue as die helde te sien. Ek was verras oor hoe maklik ek aanklank by Rut kon vind.”25

In teenstelling met die welkome ervaring van verrassing by sommige mans het van die ander manlike deelnemers die Ignatiaanse meditasiemetode beskryf as “bedreigend en skrikaanjaend omdat jy nie weet waarheen dit jou sal lei nie”.26 Aan die een kant was die ervaring dat ’n mens “deur die Gees gelei word”,27 dus uitdagend en opwindend vir die mans, maar aan die ander kant het dit angs veroorsaak, omdat dit hulle in onverwagte rigtings gelei het. Dit is interessant dat nie een van die vroulike deelnemers deur die benadering beangs of bedreig gevoel het nie.

Al hierdie deelnemers se beskrywings is gekenmerk deur melding van ’n baie persoonlike band wat deur hierdie metode tussen die deelnemers en die teks gevorm is. Dit verskil beduidend van die meer objektiewe of kognitiewe benadering, wat die meer algemene wyse is waarop so ’n teks gehanteer word.

4.3 Genderverwante ervarings van Ignatiaanse meditasie

Die ondersoek was ook gemoeid met genderverwante aspekte van die gebruik van Ignatiaanse meditasie by die lees van Rut 2. Dié teks is spesifiek gekies omdat dit so geskik is vir die verkenning van genderverwante aspekte (sien afdeling 1). Manlike deelnemers het opgemerk dat hulle soortgelyke tekste dikwels lees vanuit die perspektief van reeds bestaande genderstereotipes. Deur hul inleef in hierdie teks met behulp van Ignatiaanse meditasie is hierdie stereotipes egter bevraagteken. Hulle het trouens ’n beter en verrassende insig verkry in Rut se ervaring as vrou. Een van die mans het gesê: “Ek sou waarskynlik op Boas gefokus het as die held, maar ek het dit anders begin sien; ek het nie van die gevoel gehou om dalk deur ’n ander besit te word nie.”28 Van die mans het erken dat hulle skaam begin voel het oor die wyse waarop mans vroue behandel. “Ek het gevoel asof God wou hê ek moet die ander kant van die prentjie sien: hoe dit vir vroue moet wees.”29 Die mans is spesifiek ook aangeraak deur Rut se pleidooi en haar verbreking van bestaande tradisies deur in Boas se landerye te gaan are optel.

Baie van die vroulike deelnemers het beskryf hoe die gebruik van hierdie meditasiemetode genderverwante aspekte van hulle eie ervaring na vore gebring het, veral wat betref die onderdrukkende patriargale kerkstelsel. Een vrou het gesê: “Ek het in hierdie verhaal patriargie gesien en was geïrriteerd. Dit is ’n tipiese sprokiesverhaal oor ’n man wat ’n vrou red.”30 Dit het vir dié deelnemer haar eie ervaring na vore gebring: die rassevooroordeel by haar instelling; die patriargie in die kerk; die feit dat sy gespot word omdat sy sogenaamd ’n feminis is en op 40-jarige ouderdom nog nie getroud is nie – is daar dalk iets met haar verkeerd? Benewens hierdie negatiewe gewaarwordings het sy egter ook die positiewe uitwerking van die Ignatiaanse metode beskryf: “Toe besef ek dat dit nie ’n geval was van ’n man wat ’n vrou red nie, maar Rut se goedhartigheid waarop daar gereageer word. Die verandering het vir my gekom met die lees van Rut 2:11 … Ek het besluit om nie meer bang te wees om myself as ’n feminis te verklaar nie.”31

Heelwat mans het gevoel dat hulle hul genderstereotipes – die manier waarop hulle gewoonlik die vroulike werklikheid benader – deur dié metode in ’n ander lig begin sien het. Ook sommige vroue het uitgedaag gevoel om voortaan anders oor hulself as vroue te dink. Een vrou het byvoorbeeld gesê: “Dit het my geleer dat ek myself kan toelaat om myself te aanvaar.”32 Die gebruik van die Ignatiaanse metode het vrouedeelnemers ook aangemoedig om anders te begin optree. ’n Tweede vrou se opmerking was: “In my gemeenskap word hardwerkende vroue as huweliksmaats uitgesoek. Ek voel egter ’n persoon moet jou liefhê vir wie jy is. In hierdie storie sien ek ’n ander soort persoon as in my gemeenskap: Boas het Rut nie gejag nie; sý het die inisiatief geneem. Vroue moet leer om meer dikwels die inisiatief te neem.”33 Hierdie siening het weerklank gevind by nog ’n vrou: “Ek moet leer om meer dikwels die inisiatief te neem.”34 ’n Vierde vrou se reaksie op Rut 2 was: “Ek het van my eie vaardighede raakgesien. Ek wil hê dat jong mense saam moet optree teen verkragting en molestering. Ek het ook geleer wat dit beteken om ’n skoondogter te wees en wat die verantwoordelikhede binne ’n huwelik is.”35

4.4 Die subjektiewe uitwerking van Ignatiaanse meditasie

Die meeste van die deelnemers het gevoel dat die gebruik van hierdie metode hulle gehelp het om deur die karakters in die Rut-verhaal ’n direkte en persoonlike ervaring van die teks te hê. Deelnemers het beskryf dat hulle inleef in die situasie deur hul verbeelding36 die grootste uitwerking op hulle gehad het en nie die voorlees van die teks self nie. Dié gebruik van verbeelding staan in teenstelling met die meer objektiewe metodes wat hulle in die verlede gebruik het.

Sommige van die manlike deelnemers is veral diep geraak deur die wyse waarop Rut die tradisie rondom die insameling van koringare op die landerye verbreek het. Veral Rut se aankoms daar as behoeftige, honger vreemdeling en haar twyfel of sy aanvaar sou word, het ’n indruk op hulle gemaak. Een van die vroue het haar voorgestel dat sy deel was van die groep vroue wat besig was om te oes en dat sy gehoor het hoe die werksters oor Rut skinder. Dit het haar laat jammer voel vir Rut. ’n Ander vrou het geskryf: “Ek het die sprokiesverhaal laat vaar”; daarná kon sy Rut waardeer vir wie sy was.

Soos voorheen genoem, het die meeste mans skaam gevoel oor hul patriargale houding en gedrag teenoor vroue. Die vroulike deelnemers het op hulle beurt beskryf dat hulle ’n wye spektrum emosies ervaar het. Een vrou het gesê: “Aan die begin het ek geïrriteerd gevoel weens my siening van die teks as die patriargale, sprokiesverhaal-aspek van die teks (waarin ’n man tot ’n vrou se redding kom), maar toe word ek gemakliker. Ek het ná die tyd lig en vry gevoel; die meditasie het direk tot my omstandighede gespreek: God sal my beloon. Ek moet egter nie die goeie punte wat ek behaal, sien as die resultaat van rassebevoordeling nie, maar as ’n geestelike deur.”37

’n Tweede vrou was “geskok deur die goedhartigheid wat aan Rut bewys is. Dit illustreer aan ons hoe mense buitelanders behoort te behandel in hierdie tye van vreemdelingehaat. Ek is ook gelaat met die gevoel dat dit belangrik is om gebed by die jeug aan te wakker. Boas en Naomi was bewus van die gevaar van molestering en het niks daaraan gedoen nie. Ons moet anders wees. Ons moet bid en onsself organiseer. Ek is uiteindelik met wonderlike jongmeisie-gevoelens gelaat.”38

’n Derde vrou het verklaar: “Ek was aan die begin gespanne namens Rut, maar is later tevrede gelaat. Hoofstuk 2 handel oor die oplossing van die spanning. Vir my is dit ’n liefdesverhaal, iets soos ’n Aspoestertjie-verhaal.”39

Nog ’n vrou het opgemerk: “Aan die begin het ek jammer gevoel vir Rut – toe die vroue van haar geskinder het terwyl sy werk. Toe hulle vir ete aansit, was die mans en vroue apart, soos dit in my eie konteks gebeur. Aan die einde was ek egter saam met haar gelukkig.”40

As gevolg van die meditasie het een vrou onderneem om voortaan albei huweliksmaats aan te moedig om onderdanig aan mekaar te wees, terwyl ’n ander gevoel het dat dit haar plig is om gebed in jongmense aan te wakker en om “onsself te organiseer” om die hoë voorkoms van verkragting en molestering onder meisies en vroue hok te slaan.

4.5 Uitdagings met die gebruik van Ignatiaanse meditasie

Die meeste deelnemers het spontaan beskryf dat hulle dié metode verbasend waardevol gevind het om oor ’n Bybelse teks na te dink. Hulle het egter opgemerk dat dit meer veeleisend is as ander metodes wat hulle gebruik het, aangesien dit ’n private ruimte, tyd en konsentrasie verg. Een van die mans het gesê: “Hierdie metode verg konsentrasie en dat ’n mens optimaal moet funksioneer, omdat dit van ’n mens ’n wisselwerking met die teks vereis.”41

Daar is ook ander uitdagings en probleme ervaar met die gebruik van hierdie metode. Dit het ingesluit die tydrowendheid van die metode, aangesien dit nie haastig gedoen kan word nie; dwalende gedagtes wat die fokus op die verhaal belemmer het; en oorbekendheid met die verhaal, as gevolg waarvan voortydige gevolgtrekkings gemaak kan word. Sommige mans het gevind dat die metode vir hulle moeilik geword het sodra hulle gevra is om die oefening “soos ’n kind” te benader. Slegs een vrou het ’n soortgelyke ervaring vermeld.

Soos voorheen aangedui, het sommige van die mans ook gevoel dat Ignatiaanse meditasie angswekkend of bedreigend is, omdat dit vir hulle gevoel het asof hulle beheer verloor het en nie die uiteinde kon voorspel nie.

Al die deelnemers het egter saamgestem dat hierdie metode verbasend waardevol was en dat hulle dit beslis weer sou gebruik. Veral die vroulike deelnemers het vrywillig erken dat die metode hulle geïnspireer het om in die toekoms meer gereeld te mediteer, eerder as om te wag totdat ander hulle daartoe aanspoor. Die vroue het verder aangedui dat hulle graag weer sou wou byeenkom en ander vrouens sou wou uitnooi om ook die groep by te woon. Op ‘n voorstel van die navorsers het die vroue besluit om die volgende week op dieselfde tyd te ontmoet nadat hulle deur middel van Ignatiaanse meditasie oor Rut 1 gebid en gedink het.

 

5. Gevolgtrekkings, beperkings en die pad vorentoe

5.1 Gevolgtrekkings

Soos hier bo aangedui, het die meeste deelnemers gevoel dat Ignatiaanse meditasie oor Rut 2 hulle ’n baie direkte en persoonlike ervaring van die teks laat beleef het. Dit het beduidend verskil van hul vorige ervarings met meditasie. Hulle het beskryf hoe dit hulle lees van die teks met hul “verbeelding van die situasie”42 was wat vir die meeste van hulle verrassende subjektiewe gevolge geskep het. Toe hulle vroeër die teks net objektief deurgelees het, was dit nie die geval nie.

Soos reeds opgemerk, het die meeste mans aanvanklik vrese ervaar aangaande die gebruik van hierdie metode, omdat hulle nie geweet het waarheen dit sou lei nie. Vroue het nie hierdie kwelling gehad nie. Ten spyte van mans se voorbehoude, is dit egter duidelik dat sowel mans as vroue uiteindelik ’n duidelike voordeel beleef het nadat hulle met hierdie metode deur die teks gebid het.

Een van die interessantste bevindinge was die genderverwante uitwerking wat die Ignatiaanse meditasiemetode op die deelnemers gehad het. Manlike deelnemers het gevoel dat hulle ‘n beter begrip van die teks ontwikkel het en dat manlike stereotipes aangespreek is. Sodoende kon hulle in ’n ander se skoene staan en self sien “hoe Rut dinge werklik ervaar het”.43 Minstens een manlike deelnemer het ingesien dat Boas nie die held van die verhaal is nie. Deur hom in Rut se situasie in te dink het hy begin beleef hoe onaanvaarbaar dit is om deur ’n ander besit te word. Die insigte wat die mans verkry het, was duidelik nie net belangrik vir hulle begrip van die teks nie, maar ook vir die wyse waarop hulle teenoor vroue optree. Dit is betekenisvol dat hulle aangedui het dat hulle geïnspireer is om hulle tradisionele, genderstereotiepe benadering tot vroue te bevraagteken, en dat hulle skaam gevoel het oor die manier waarop mans vroue kan behandel. Hulle is in die besonder geraak deur Rut se nood en beïndruk dat sy weggebreek het van die tradisie deur koringare in Boas se lande op te tel. Een van die mans het verklaar: ‘‘Ek het gevoel asof God wou hê ek moet die ander kant sien: hoe dit vir ’n vrou voel.”44 Laasgenoemde is ’n besonder betekenisvolle stelling in ’n hoogs godsdienstige Afrika-konteks, waar tradisie en patriargale Bybel-interpretasie dikwels ’n dubbele beperking plaas op vroue se groei en ontwikkeling (Nadar 2006:78–80). Dit is duidelik dat ’n mate van persoonlike omvorming reeds by die manlike individue begin het en aangemoedig is deur ’n sterk gevoel dat God by dié proses betrokke is.

Vroulike deelnemers het aangemoedig gevoel om hulself beter te hanteer deur byvoorbeeld groter selfaanvaarding; deur meer die inisiatief te neem; en deur leemtes in die samelewing te identifiseer en te help oplos. In laasgenoemde opsig het een vrou onderneem om huweliksmaats aan te beveel om aan mekáár onderdanig te wees, terwyl ‘n ander een verplig gevoel het om gebed onder die jeug te bevorder en die gemeenskap te organiseer ten einde die hoë voorkoms van verkragting en molestering van vroue en meisies in Suid-Afrikaanse gemeenskappe teen te werk.

Die belangrikheid van bogenoemde insigte kan nie genoeg benadruk word nie. Die vroue het duidelik ’n gevoel van persoonlike omvorming ervaar wat hulle gemotiveer het om hul gemeenskappe te help ophef en verander.

Die subjektiewe ervarings van beide die mans en die vroue tydens hierdie oefening was vir hulle die eerste noodsaaklike treë tot persoonlike groei en verandering. Indien hierdie persoonlike omvorming voortgesit en verder gestimuleer word, kan dit lei tot die positiewe transformasie van die Suid-Afrikaanse gemeenskap en kerke. Soos hier bo aangedui, veroorsaak tradisie en ’n patriargale vertolking van die Bybel dat baie vroue steeds volledig aan mans onderdanig is, ten spyte van die Suid-Afrikaanse grondwet wat openlike gendergelykheid bevorder.

Indien gebed oor een klein deel van Rut tot gevolg gehad het dat mans die tradisioneel patriargale behandeling van vroue bevraagteken, en dit vroue kon aanspoor tot ‘n beter, meer positiewe hantering van hulleself, is daar hoop. Dié hoop sluit in dat volgehoue gebed en meditasie oor die res van Rut, Ester, Judit en Susanna ’n meer omvattende en dieper persoonlike omvorming teweeg sal bring wat moontlik sal lei tot transformasie van die steeds sterk patriargale kerke en die Suid-Afrikaanse gemeenskap in die geheel.

5.2 Beperkings van die studie

Ten spyte van die interessante en positiewe bevindinge van hierdie verkennende ondersoek is daar in dié navorsing duidelik nog ’n aantal beperkings. Eerstens was dit die eerste keer dat die meeste van die deelnemers ingelig is oor en gebruik gemaak het van Ignatiaanse meditasie. Dit is dus onwaarskynlik dat hulle enige noemenswaardige vaardigheid in die metode bereik het. Tweedens, en baie nou verwant aan eersgenoemde, is die feit dat die navorsers nie sonder noukeuriger waarneming, terugvoering en toesig met sekerheid kan sê dat al die deelnemers, of die meeste van hulle, die metode volkome verstaan en korrek gebruik het nie. Derdens was die steekproef redelik klein, wat veralgemening moeilik maak. Die steekproef was ook spesifiek gerig op teologiese studente en studente vir die bediening. Hier is dit egter van belang om in ag te neem dat dit ’n kwalitatiewe ondersoek was. Kwalitatiewe navorsing is meer gemoeid met die identifisering van patrone en betekenisse wat deur ’n opvolgstudie nagevors kan word. Vierdens is daar die feit dat slegs die helfte van die oorspronklike steekproef deelgeneem het aan die fokusgroep se bespreking. Die rede vir hierdie verskynsel is onbekend, en omdat die deelnemers hulle vrylik op enige stadium aan die projek kon onttrek, was ons as navorsers huiwerig om die kwessie op te volg. Dit kan egter wees dat hulle die metode te moeilik of onaanvaarbaar gevind het, of nie van die uitwerking daarvan gehou het nie. Vyfdens is Rut 2 spesifiek gekies as gevolg van die navorsers se belangstelling in die genderverwante gevolge van die Ignatiaanse metode. Maar omdat die genderperspektief sentraal was aan hierdie teks, het dit enige ander persoonlike effek wat die teks op die deelnemers kon gehad het, oorskadu. Die teks het die deelnemers op genderkwessies laat fokus – ten koste van ander sake wat by hulle na vore sou kon gekom het.

5.3 Die pad vorentoe

Hierdie artikel het reeds verskeie kere na hierdie ondersoek verwys as ’n verkennende studie wat deel vorm van ’n groter navorsingsprojek wat die subjektief-sielkundige uitwerking sal aanteken wanneer daar volgens die Ignatiaanse metode oor die hele Rut, Ester, Susanna en uitgesoekte tekste uit Judit gebid en gemediteer word. Die keuse van hierdie boeke hou verband met hul heldinne en die genderkwessies wat daarin na vore kom. Hier word gedink aan byvoorbeeld die patriargale, genderstereotiperende uitbeelding van vroue; die vroulike karakters se samewerking met óf ondermyning van patriargale strukture en houdings; die moraliteit van hul aksies as mense en spesifiek as vroue en as gevolg daarvan ook hul geskiktheid as rolmodelle vir feministies-georiënteerde vroue (kyk bv. Brenner 1995; Efthimiadis 1995; Nadar 2002; Jordaan 2009; Efthimiadis-Keith 2010 en 2012).

’n Vanselfsprekende pad vorentoe sal wees om deelnemers te versoek om deur middel van Ignatiaanse meditasie oor hierdie tekste te bid/mediteer; om boek te hou van hulle ervaringe; en om die inligting beskikbaar te stel vir kritiese ontleding. Daar word voorsien dat dié langer projek minstens ses tot nege maande sal duur, wat dus ’n beter geleentheid sal bied om die doeltreffendheid en volhoubaarheid van die vermelde subjektief-sielkundige veranderinge te bepaal. Die langer studie sal ten doel hê om die beperkings van die huidige ondersoek soos volg te probeer uitskakel:

  1. Dit sal langer en deegliker opleiding in die metode aan deelnemers gee en voorsiening maak vir terugvoering en toesig, ten einde groter vaardigheid in die gebruik van dié metode te bevorder.
  1. Deelnemers sal versoek word om oor ’n spektrum tekste te mediteer, sodat ook die subjektiewe gevolge wat onverwant is aan gender, verken kan word.
  1. ’n Groter en meer uiteenlopende steekproef sal gebruik word om veralgemening moontlik te maak.
  1. Opvolg van deelnemers sal oor ’n langer tydperk geskied, sodat beter vasgestel kan word of die gevolge oor tyd volhoubaar was, en of meer ervaring met die metode meer volhoubare gevolge tot gevolg sou hê.
  1. Metodes wat hoër vlakke van volgehoue deelname aan die studie kan verseker, veral deelname in fokusgroepe, sal aangewend word.
  1. Ná toepassing van die oefening op elke Bybelboek, byvoorbeeld aan die einde van gebed oor Rut 1–4, sal elke fokusgroep ontleed word. Dit sal weer ná voltooiing van die projek as geheel weer gedoen word.

 

Bibliografie

Adams, M.V. 2004. The fantasy principle: psychoanalysis of the imagination. Hove en New York: Brunner Routledge.

Andreescu, A. 2011. Rethinking prayer and health research: an exploratory inquiry on prayer’s psychological dimension. International Journal of Transpersonal Studies, 30(1–2):23–47. http://ssrn.com/abstract=1992323 (28 November 2012 geraadpleeg).

Brenner, A. (red.). 1995. A feminist companion to Esther, Judith and Susanna. The feminist companion to the Bible, 7. Sheffield: Sheffield Academic Press.

De Vos, A.S. 2005. Qualitative data analysis and interpretation. In De Vos, Strydom, Fouché en Delport (reds.) 2005.

De Vos, A.S., H. Strydom, C.B. Fouché en C.S.L. Delport (reds.). 2005. Research at grass roots. Pretoria: Van Schaik.

Duns, R.G. 2008. Ignatian meditation for dummies. http://ryandunssj.blogspot.com/2008/01/ignatian-mediation-for-dummies.html (21 September 2012 geraadpleeg).

Efthimiadis, H. 1995. Woman to woman: countering patriarchal stereotypes in the book of Ruth. Journal for Semitics, 7(1):57–78.

Efthimiadis-Keith, H. 2004. The Enemy is within: A Jungian Psychoanalytic Approach to the Book of Judith. Biblical Interpretation Series, Volume 67. Boston: Brill Academic Publishers, Inc.

—. 2010. Genesis 2:18–25 from a Jungian and Feminist-Deconstructionist Point of View. Old Testament Essays, 23(1):44–65.

—. 2012. Women, Jung, and the Old Testament: an evaluation of Jungian Old Testament interpretation by way of the book of Ruth. Ongepubliseerde referaat gelewer by die Joint Conference for Religion and Theology, Pietermaritzburg, RSA, 18–22.

Jordaan, P.J. 2009. The pendulum is never static. Jesus Sira to Jesus Christ on Women in the light of Judith, Susanna and LXX Esther. Hervormde Teologiese Studies, 65(1):1–6.

Jung, C.G. 2010. Answer to Job (from vol. 11 of the Collected Works of C.G. Jung). Vertaal deur R.F.C. Hull. Princeton: Princeton University Press. Adobe DRM-uitgawe.

Nadar, S. 2002. Gender, power, sexuality and suffering bodies in the Book of Esther: Reading the characters of Esther and Vashti for the purpose of social transformation. Old Testament Essays, 15(1):113–30.

—. 2006. Texts of terror? The conspiracy of rape in the Bible, church and society: The case of Esther 2:1–18. In Phiri en Nadar (reds.) 2006.

Paulin-Campbell, A.R. 2008. The impact of the imaginal and dialogical (relational) processes in the Spiritual Exercises, on image of self and image of God in women making the Nineteenth Annotation Retreat. Ongepubliseerde doktorale verhandeling, Universiteit van KwaZulu-Natal.

Phiri, I. en S. Nadar (reds.). 2006. African women, religion and health: essays in honor of Mercy Amba Ewudziwa Oduyoye. Maryknoll, New York: Orbis Books.

Potgieter, A.Y. 2013. Persoonlike gesprek met eerste navorser.

Taylor, B.C. 2005. Changing your mind: contemplative prayer and personal transformation. Swanee Theological Review, 48(2):182–97.

Wade, G.H. 1998. A concept analysis of personal transformation. Journal of Advanced Nursing, 28(4):713–19.

West, G.O. 1999. The academy of the poor: towards a dialogical reading of the Bible. Sheffield: Academic Press.

 

 

Bylae A

Die doel van die fokusgroep is om deelnemers se persoonlike ervarings van die Ignatiaanse meditasiemetode te bepaal. Besprekings is nie gestruktureer nie. Deelnemers sal toegelaat word om hul antwoorde in ’n tuimelaksie op mekaar te laat volg. Hoewel dit moeilik is om ’n presiese skedule van onderhoude op te stel, is die volgende vrae gebruik om die bespreking aan die gang te kry:

· Beskryf asseblief u ervaring van u meditasie oor Rut 2 – wat het u gesien, gehoor, ensovoorts?

· Watter teksgedeelte het u die meeste getref?

· Is dit die eerste keer dat u Ignatiaanse meditasie gebruik het?

· Hoe het u Ignatiaanse meditasie ervaar?

· Hoe het u die meditasie as ’n man / ’n vrou ervaar?

 

Eindnotas

1 Die oorspronklike referaat oor hierdie ondersoek is tydens die jaarlikse konferensie van die SBL (17–20 November 2012 in Chicago) aangebied. Die talle insiggewende opmerkings van persone wat die sessie tydens die konferensie bygewoon het, het die navorsers in staat gestel om die referaat te verbeter en in die huidige vorm vir publikasie aan te bied.

2 Hierdie voorlopige ondersoek is die eerste in 'n reeks studies wat in die tweede helfte van 2013 onderneem sal word. Die doel daarvan sal wees om die subjektief-sielkundige uitwerking van Ignatius se metode van meditasie op manlike en vroulike studente wat deur Rut, Ester, Susanna en uitgesoekte tekste uit Judit gebid het, te bepaal. Sien verder afdeling 5.3.

3 ”Persoonlike omvorming” kan breedweg gedefinieer word as ’n geïndividualiseerde, dinamiese proses wat uitbreiding van die bewuste behels. In dié proses word individue krities bewus van ou en nuwe wyses waarop hulle hulself beskou en kies hulle om hierdie sienings in ’n nuwe selfdefinisie te integreer (Wade 1998:713).

4Rut” (gekursiveer) verwys na die boek, terwyl “Rut” (ongekursiveer) verwys na die karakter met dieselfde naam, tensy dit gevolg word deur ’n syfer, in welke geval dit verwys na die hoofstuk en/of vers in die boek Rut (bv. Rut 2:5). Dieselfde onderskeiding is van toepassing op ander Bybelboeke wat ’n persoonsnaam as titel het.

5 In die konteks van Bybelstudie kan uiteensetting verwys na wat bewustelik bekend is van die Bybelse teks/tema/beeld, terwyl versterking soek na positiewe ooreenkomste tussen intertekstuele benaderings. Weens die verkennende aard van die huidige ondersoek en die feit dat dit nie per se ’n Jungiaanse ontleding is nie, sluit hierdie ondersoek beide uiteensetting en versterking uit. Dit gebruik eerder aktiewe verbeelding in die vorm van Ignatiaanse meditasie as Christelike uitvloeisel daarvan (kyk afd. 3).

6 “Not always having to be nice. Standing up for myself. Defending myself when necessary. Letting myself be who I want to be, not repressing that” (Adams 2004:18).

7 Volgens Adams (2008:16) is al drie tegnieke (uiteensetting, versterking, en aktiewe verbeelding) afhanklik van die beginsel van verbeelding, wat hy omskryf as die oortuiging dat verbeelding logies voor werklikheid moet bestaan; dat die psige of verbeelding werklikheid saamstel en dat die beelde wat daaruit voortspruit, getrou sê wat dit bedoel en bedoel wat dit sê.

8 Afsonderingsgeleenthede wissel in tydsduur. Een so ‘n geleentheid (wat in Mei 2013 by The Bluff gehou word) sal agt dae duur (Rakoczsy 2013, persoonlike kommunikasie met die eerste skrywer).

9 Die oorspronklike navorsing was gemik op die subjektief-sielkundige uitwerking van die oefening op personeel én studente van UKZN, maar aangesien slegs studente op die uitnodiging gereageer het (sien 4.2), is die doelwitte dienooreenkomstig aangepas.

10 Daar kon ongelukkig nie ten tye van die voorlegging van hierdie artikel vir publikasie betroubare statistiek rondom die gendersamestelling van die Skool van Godsdiens, Filosofie en Klassieke Studies se nagraadse studente en personeel verkry word nie. Die navorsers bedank me. Catherine Murugan vir bystand met e-pos-uitnodigings aan die skool se nagraadse studente, en vir prof. Sue Rakoczy vir bystand om die nagraadse studente van die Sielkunde en Spiritualiteit-module te kontak.

11 Drie van die ander agt studente wat ’n belangstelling in deelname getoon het, was nie beskikbaar vir die fokusgroep se besprekings nie, weens ‘n botsing met hul toetsrooster of onvoorsiene persoonlike omstandighede. Die oorblywende vyf kandidate het nie ‘n rede vir hulle afwesigheid verskaf nie.

12 Die vorms is op aanvraag verkrygbaar by die eerste navorser.

13 Aangesien die fokusgroep se besprekings in Engels plaasgevind het en die bevindinge in Afrikaans gepubliseer word, word die deelnemers se direkte antwoorde in Afrikaans vertaal. ’n Eindnota met die oorspronklike Engels sal egter telkens voorsien word.

14 “I just allow the text to speak.”

15 “[I] allow myself to be moved by the text rather than to speak for the text.”

16 “So I let the text take me in different directions.”

17 “… more cerebral …”

18 “I was amazed at what emerged; you don’t need to go to [Bible] commentaries; the text will speak to you for itself.”

19 “Becoming part of the characters in the story gave me a very different understanding. The method allows you to get into the shoes of the biblical characters and see them and their struggles in a new way, often a quite different way to previously, so you understand far more of the details of the text.”

20 “I put myself in Ruth’s shoes and felt her experience myself.”

21 “… a more fully human experience of the text …”

22 “.. hear it with your heart and psyche”

23 “.. other sides of a biblical story that I would not normally see, and helps one to get into other people’s shoes”

24 “I could hear a voice in the text I would not normally hear; imagining Ruth’s fight against poverty, I saw a new perspective.” “This method allowed me to see what it is like to be a foreigner in a foreign land.”

25 “Reading the text as a man, you expect the heroes to be men; but this reading makes you see women as the heroes [sic]. I was surprised at how easily I could relate to Ruth.”

26 “… quite threatening and scary because you do not know where it will take you”

27 “led by the Spirit”

28 “I probably would have focused on Boaz as the good guy, but I began to see it differently; I didn’t like the feeling that I might be owned by someone.”

29 “I felt as though God wanted me to see the other side: what it is like for women.”

30 “I saw patriarchy and got irritated: This is the typical fairy tale of a man saving a woman.”

31 “Then I saw that it wasn’t a case of a man saving a woman, but of Ruth’s kindness being responded to. The change for me came in verse 11 … I decided that I should not be scared to declare myself a feminist.”

32 “It taught me that I can allow me to accept me.”

33 “In my community hard-working women are sought out for marriage. I feel a person must love you for who you are. In this story I see a different kind of person from the one I see in the community: Boaz didn’t chase Ruth; she took the initiative. Women must learn to take the initiative more.”

34 “I must learn to take the initiative more.”

35 “I have seen some of my own abilities. I want young people to take action together against rape and molestation. I learned about being a daughter-in-law and the responsibilities of marriage.”

36 “… imagination of the situation …”

37 “I started off with a feeling of irritation because of what I saw as the patriarchal, fairy tale aspect of the text (a man saving a woman), but then I proceeded towards comfort. I felt light and free afterward; the meditation spoke directly into my situation: God will reward me. I must not see the good marks I get as being the result of racial favouritism, but as a spiritual door.”

38 “… shocked by the kindness expressed to Ruth. It shows us the way to treat foreigners in these xenophobic times. I was also left with a sense of the importance of instilling prayer in the youth. Boaz and Naomi were aware of the dangers of molestation but did nothing about it. We must be different. We need to pray and organise ourselves. I was left with a nice girly feeling at the end.”

39 “I started out feeling tense for Ruth and was then satisfied. Chapter 2 is about how they resolve the tension. For me it was a love story, like a Cinderella story.”

40 “I started out feeling pity for Ruth – with the women gossiping about her while she was working. When they sat to eat, men and women sat separately as it happens in my own context. However, I ended up happy with her.”

41 “This method calls for concentration, and needs you to be at an optimum level because it demands that you interact with the text.”

42 Sien eindnota 37.

43 “… what it was really like for Ruth.”

44 Sien eindnota 30.

 

 

 



  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top